Aanhangsel
Jehovah se Getuies—Die chirurgiese/etiese uitdaging
Herdruk met die toestemming van die American Medical Association uit The Journal of the American Medical Association (JAMA), 27 November 1981, Deel 246, Nr. 21, bladsye 2471, 2472. Kopiereg 1981, American Medical Association.
Geneeshere kom voor ’n spesiale uitdaging te staan wanneer hulle Jehovah se Getuies behandel. Weens diepgesetelde godsdiensoortuigings aanvaar die lede van hierdie geloof nie homoloë of outoloë heelbloed, verpakte RBS’e [rooi bloedselle], WBS’e [wit bloedselle] of bloedplaatjies nie. Baie laat toe dat hulle behandel word met die hart-longmasjien (mits dit nie vooraf met bloed gevul word nie), dialise-apparaat of soortgelyke toerusting, indien die buiteliggaamlike sirkulasie nie onderbreek word nie. Mediese personeel hoef hulle nie oor aanspreeklikheid te bekommer nie, want die Getuies sal die nodige regstappe doen om ander van aanspreeklikheid te onthef in die geval van die Getuies se oorwoë besluit om bloed te weier. Hulle aanvaar bloedlose vervangingsvloeistowwe. Deur middel van hierdie en ander presisietegnieke voer geneeshere allerhande groot operasies op volwasse sowel as minderjarige Getuie-pasiënte uit. Daar is dus ’n behandelingswyse vir sulke pasiënte ontwikkel wat strook met die beginsel om die “hele mens” te behandel (JAMA 1981;246:2471-2472).
GENEESHERE kom te staan voor ’n toenemende uitdaging wat ’n groot gesondheidsgeskil is. In die Verenigde State is daar meer as ’n halfmiljoen Getuies van Jehovah wat nie bloedoortappings aanvaar nie. Die getal Getuies en diegene wat met hulle omgaan, neem toe. Hoewel baie geneeshere en hospitaalbeamptes die weiering van ’n oortapping vantevore as ’n regsprobleem beskou het en om hofbevele aansoek gedoen het om voort te gaan met behandeling wat volgens hulle medies raadsaam was, toon onlangse mediese lektuur dat ’n opmerklike gesindheidsverandering besig is om in te tree. Dit is moontlik as gevolg van meer chirurgiese ondervinding met pasiënte wat baie lae hemoglobienvlakke het en kan ook ’n weerspieëling wees van ’n groter bewustheid van die regsbeginsel rakende oorwoë toestemming.
Talle opsionele en ongevalle-operasies word nou sonder bloedoortappings op sowel volwasse as minderjarige Getuies uitgevoer. Onlangs het verteenwoordigers van Jehovah se Getuies saam met chirurgiese en bestuurspersoneel by ’n paar van die grootste mediese sentra in die land vergader. Hierdie vergaderinge het tot groter begrip gelei en gehelp om probleme in verband met bloedherwinning, oorplantings en die voorkoming van mediese/geregtelike konfrontasies op te los.
DIE GETUIES SE STANDPUNT TEN OPSIGTE VAN TERAPIE
Jehovah se Getuies aanvaar mediese behandeling en ondergaan operasies. Trouens, baie van hulle is geneeshere, selfs chirurge. Maar die Getuies is diep godsdienstige mense wat glo dat bloedoortappings verbied word deur Bybelse passassies soos: “Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Genesis 9:3, 4); “[Julle] moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak” (Levitikus 17:13, 14); en “Onthou [julle] . . . van hoerery en van wat verwurg is en van bloed” (Handelinge 15:19-21).1
Hoewel hierdie verse nie in mediese taal gestel is nie, meen die Getuies dat dit die oortapping van heelbloed, verpakte RBS’e en plasma, sowel as die toediening van WBS’e en bloedplaatjies uitskakel. Maar die Getuies se godsdiensbeskouing verbied nie voor die voet die gebruik van komponente soos albumien, immuunglobuliens en hemofilitiese preparate nie; elke Getuie moet self besluit of hy dit kan aanvaar of nie.2
Die Getuies glo dat bloed wat uit die liggaam verwyder is, weggedoen moet word, en daarom aanvaar hulle nie oortappings van hulle eie bloed wat vooraf uit hulle getap is nie. Tegnieke vir intraoperatiewe insameling van bloed of bloedverdunning wat behels dat bloed bewaar word, is nie vir hulle aanvaarbaar nie. Maar baie Getuies laat toe dat hulle behandel word met dialise- en hart-longtoerusting (mits dit nie vooraf met bloed gevul word nie) en laat intraoperatiewe herwinning toe waar die buiteliggaamlike sirkulasie nie onderbreek word nie; die geneesheer moet die individuele pasiënt raadpleeg om vas te stel wat sy gewete voorskryf.2
Die Getuies meen nie dat die Bybel hom regstreeks oor orgaanoorplantings uitspreek nie; gevolglik moet elke Getuie self oor horingvlies-, nier- of ander weefseloorplantings besluit.
GROOT OPERASIES MOONTLIK
Hoewel chirurge dikwels geweier het om Getuies te behandel omdat hulle standpunt oor die gebruik van bloedprodukte skynbaar “die dokter se hande afkap”, verkies baie geneeshere nou om die situasie te beskou as net nog ’n komplikasie wat ’n uitdaging aan hulle vaardigheid bied. Aangesien die Getuies geen beswaar teen kolloïdale of kristalloïdale vervangingsvloeistowwe, elektrokouterie, hipotensiewe narkose3 of hipotermie het nie, is dit al met welslae gebruik. Huidige en toekomstige gebruike van hetastarch,4 groot dosisse binneaarse ysterdekstran-inspuitings,5,6 en die “soniese skalpel”7 is belowend, en daar bestaan geen godsdiensbeswaar daarteen nie. En as ’n gefluorineerde bloedsubstituut (Fluosol-DA), wat onlangs ontwikkel is, veilig en doeltreffend is,8 sal die gebruik daarvan nie teen die Getuies se oortuigings indruis nie.
In 1977 het Ott en Cooley9 verslag gelewer oor 542 kardiovaskulêre operasies wat sonder bloedoortappings op Getuies gedoen is en tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie prosedure “met ’n aanneemlik lae risiko” gevolg kan word. Op ons versoek het Cooley onlangs ’n statistiese ontleding van 1 026 operasies, waarvan 22% op minderjariges was, uitgevoer en vasgestel “dat die risiko tydens operasies op pasiënte wat Jehovah se Getuies is nie wesenlik hoër is as dié vir ander nie”. Michael E. DeBakey, M.D., het ons eweneens meegedeel “dat in die oorgrote meerderheid situasies [waarby Getuies betrokke was] die risiko van die operasie sonder die gebruik van bloedoortappings nie groter is as die risiko in die geval van pasiënte aan wie ons bloedoortappings gee nie” (persoonlike mededeling, Maart 1981). Die lektuur vertel ook van geslaagde groot urologiese10 en ortopediese operasies.11 G. Dean MacEwen, M.D., en J. Richard Bowen, M.D., skryf dat posterior werwelhegting “met welslae uitgevoer is op 20 [Getuie]minderjariges” (ongepubliseerde data, Augustus 1981). Hulle voeg by: “Die chirurg moet ’n filosofie aanvaar van eerbied vir die pasiënt se reg om ’n bloedoortapping te weier, maar moet steeds operasies uitvoer op ’n wyse wat die pasiënt nie in gevaar stel nie.”
Herbsman12 berig dat hy welslae behaal het met gevalle van “ernstige bloedverlies na ongelukke”, selfs wanneer dit jongmense was. Hy erken dat “Getuies in ’n ietwat moeilike posisie verkeer waar dit kom by behandeling met bloed. Dit is nietemin baie duidelik dat ons bloed deur ander dinge kan vervang.” Hy meld dat talle chirurge huiwerig is om Getuies as pasiënte te aanvaar uit “vrees vir geregtelike gevolge”. Maar hy toon dat dit nie ’n gegronde rede tot kommer is nie.
REGSASPEKTE EN MINDERJARIGES
Getuies teken geredelik die vorm van die American Medical Association wat geneeshere en hospitale van aanspreeklikheid onthef,13 en die meeste Getuies dra ’n gedateerde Medical Alert-kaart wat deur getuies geteken is en voorberei is in samewerking met mediese en regsowerhede. Hierdie dokumente is bindend vir die pasiënt (of sy boedel) en beskerm geneeshere, want regter Warren Burger is van mening dat “dit wil voorkom of daar geen grond sou wees” vir ’n wanpraktykgeding waar so ’n verklaring van kwytskelding geteken is nie. Waar Paris14 hieroor kommentaar lewer in ’n ontleding van “verpligte mediese behandeling en godsdiensvryheid”, het hy geskryf: “Een kommentator wat die lektuur bestudeer het, het gesê: ‘Ek kon geen grond vind vir die verklaring dat die geneesheer . . . strafregtelike . . . aanspreeklikheid sal oploop as hy nie ’n oortapping aan ’n onwillige pasiënt opdwing nie.’ Dit lyk of die risiko eerder die produk van ’n vrugbare regsverbeelding as ’n realistiese moontlikheid is.”
Die behandeling van minderjariges skep die meeste probleme en lei dikwels tot regsgedinge teen ouers kragtens wette op kinderverwaarlosing. Maar sulke gedinge word bevraagteken deur talle geneeshere en prokureurs wat bekend is met Getuie-gevalle, want hulle glo dat Getuie-ouers goeie mediese behandeling vir hulle kinders probeer verkry. Omdat Getuies nie hulle ouerlike verantwoordelikheid wil ontduik of dit op ’n regter of ander derde party wil afskuif nie, versoek hulle dat die gesin se godsdiensbeginsels in aanmerking geneem moet word. Dr. A. D. Kelly, voormalige Sekretaris van die Canadian Medical Association, het geskryf15 dat “ouers van minderjariges en die naasbestaandes van bewustelose pasiënte die reg het om die wense van die pasiënt te vertolk. . . . Ek bewonder nie die verrigtinge van ’n skynhof wat om 2:00 vm. vergader om ’n kind uit die sorg van sy ouers te neem nie.”
Dit is aksiomaties dat ouers seggenskap oor die sorg van hulle kinders het, soos wanneer die risiko’s en voordele van ’n operasie, bestraling of chemoterapie teen mekaar opgeweeg moet word. Om morele redes wat swaarder weeg as die risiko van ’n oortapping,16 versoek Getuie-ouers dat terapieë gebruik moet word wat nie deur hulle godsdiens verbied word nie. Dit strook met die mediese beginsel dat “die hele mens” behandel moet word en dat oorweging geskenk word aan die psigososiale skade wat berokken kan word deur ’n skendende prosedure wat teen ’n gesin se fundamentele oortuigings indruis. Groot sentra oor die hele land wat al baie Getuies behandel het, laat nou dikwels toe dat pasiënte na hulle oorgeplaas word van inrigtings wat onwillig is om die Getuies te behandel, selfs al is dit pediatriese gevalle.
DIE UITDAGING VIR DIE GENEESHEER
Dit is te begrype dat die behandeling van Jehovah se Getuies oënskynlik ’n probleem skep vir die geneesheer wie se lewenstaak dit is om lewe en gesondheid te bewaar met al die tegnieke wat hy tot sy beskikking het. In die inleiding tot ’n reeks artikels oor groot operasies op Getuies het Harvey17 erken: “Opvattings wat inbreuk kan maak op my werk is vir my hinderlik.” Maar hy het bygevoeg: “Miskien vergeet ons te maklik dat chirurgie ’n kuns is wat afhang van die persoonlike tegniek van individue. Tegniek kan verbeter word.”
Professor Bolooki18 het kennis geneem van ’n onrusbarende berig dat een van die besigste ongevalle-hospitale in Dade County, Florida, “volstrek weier” om Getuies te behandel. Hy het daarop gewys dat die “meeste operasies op hierdie groep pasiënte ’n kleiner risiko as gewoonlik inhou”. Hy het bygevoeg: “Hoewel die chirurge moontlik meen dat hulle ’n instrument van die hedendaagse geneeskunde ontneem word . . . , is ek daarvan oortuig dat hulle baie sal leer as hulle op hierdie pasiënte opereer.”
In plaas daarvan om die Getuie-pasiënt as ’n probleemgeval te beskou, aanvaar al hoe meer geneeshere die situasie as ’n mediese uitdaging. Deur die uitdaging te aanvaar, het hulle ’n behandelingswyse vir hierdie groep pasiënte ontwikkel wat by talle mediese sentra oor die hele land aanvaar word. Hierdie geneeshere bied terselfdertyd behandeling wat in die belang van die pasiënt se algehele welsyn is. Soos Gardner en ander19 sê: “Wie sal daarby baat vind as die pasiënt se liggaamskwaal genees word, maar hy aan sy geestelike lewe met God, soos hy dit sien, skade ly, iets wat lei tot ’n lewe wat sinloos en moontlik erger as die dood self is?”
Die Getuies besef dat hulle vaste oortuiging uit ’n mediese oogpunt blykbaar die gevaar vergroot en hulle behandeling kan kompliseer. Gevolglik openbaar hulle gewoonlik buitengewoon groot waardering vir die behandeling wat hulle ontvang. Hulle besit nie alleen diepe geloof en ’n intense begeerte om te lewe nie, elemente wat onontbeerlik is, maar hulle werk ook met graagte met geneeshere en die mediese personeel saam. Die pasiënt en sy geneesheer aanvaar dus saam hierdie unieke uitdaging.
BRONNE
1. Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood. Brooklyn, NY, Watchtower Bible and Tract Society, 1977, bl. 1-64.
2. Die Wagtoring 1978;99 (1 September):29-31.
3. Hipotensiewe narkose vergemaklik heupoperasies, MEDIESE NUUS. JAMA 1978;239:181.
4. Hetastarch (Hespan)—’n nuwe plasma-uitdyer. Med Lett Drugs Ther 1981;23:16.
5. Hamstra RD, Block MH, Schocket AL:Binneaarse ysterdekstran in kliniese geneeskunde. JAMA 1980;243:1726-1731.
6. Lapin R: Groot operasies op Jehovah se Getuies. Contemp Orthop 1980;2:647-654.
7. Fuerst ML: ‘Soniese skalpel’ red bloedvate. Med Trib 1981;22:1,30.
8. Gonzáles ER: Die sage van ‘kunsbloed’: Fluosol is ’n besondere seën vir Jehovah se Getuies. JAMA 1980;243:719-724.
9. Ott DA, Cooley DA: Kardiovaskulêre chirurgie op Jehovah se Getuies. JAMA 1977;238:1256-1258.
10. Roen PR, Velcek F: Groot urologiese operasies sonder bloedoortappings. NY State J Med 1972;72:2524-2527.
11. Nelson CL, Martin K, Lawson N, e.a.: Algehele heupvervanging sonder oortappings. Contemp Orthop 1980;2:655-658.
12. Herbsman H: Die behandeling van Jehovah se Getuies. Emerg Med 1980;12:73-76.
13. Medicolegal Forms With Legal Analysis. Chicago, American Medical Association, 1976, bl. 83.
14. Paris JJ: Verpligte mediese behandeling en godsdiensvryheid: Watter wet sal seëvier? Univ San Francisco Law Rev 1975;10:1-35.
15. Kelly AD: Aequanimitas Can Med Assoc J 1967;96:432.
16. Kolins J: Sterftes weens bloedoortappings. JAMA 1981;245:1120.
17. Harvey JP: ’n Kwessie van vaardigheid. Contemp Orthop 1980;2:629.
18. Bolooki H: Die behandeling van Jehovah se Getuies: ’n Voorbeeld van goeie behandeling. Miami Med 1981;51:25-26.
19. Gardner B, Bivona J, Alfonso A, e.a.: Groot operasies op Jehovah se Getuies. NY State J Med 1976;76:765-766.