Aanhangsel
Bloed: Wie se keuse en wie se gewete?
deur J. Lowell Dixon, M.D.
Herdruk met vergunning van die New York State Journal of Medicine, 1988; 88:463-464, kopiereg voorbehou deur die Medical Society of the State of New York.
GENEESHERE is daartoe verbind om hulle kennis, vaardighede en ondervinding te gebruik in die stryd teen siekte en die dood. Maar gestel ’n pasiënt weier ’n aanbevole behandeling. Wat dan? Dit sal waarskynlik gebeur as die pasiënt ’n Getuie van Jehovah is en die behandeling heelbloed, verpakte rooi bloedselle, plasma of bloedplaatjies is.
Wat die gebruik van bloed betref, dink ’n geneesheer moontlik dat dit toegewyde mediese personeel se hande afkap as ’n pasiënt bloedlose behandeling verkies. ’n Mens moet nogtans nie vergeet dat ander pasiënte, wat nie van Jehovah se Getuies is nie, dikwels verkies om nie hulle dokter se aanbevelings te volg nie. Volgens Appelbaum en Roth1 weier 19% van die pasiënte by opleidingshospitale ten minste een behandeling of prosedure, al was 15% van sodanige weierings “potensieel lewensgevaarlik”.
Die algemene beskouing dat ‘die dokter die beste weet’, veroorsaak dat die meeste pasiënte hulle aan hulle dokter se vaardigheid en kennis onderwerp. Maar watter subtiele gevaar hou dit tog in as ’n geneesheer sou optree asof hierdie frase ’n wetenskaplike feit is en hy pasiënte dienooreenkomstig behandel. Ons mediese opleiding, registrasie en ondervinding gee ons weliswaar noemenswaardige voorregte op mediese gebied. Maar ons pasiënte het regte. En soos ons heel moontlik weet, heg die wet (selfs die Grondwet) groter gewig aan regte.
Die “Verklaring van die Pasiënt se Regte” kan teen die mure van die meeste hospitale gesien word. Een van hierdie regte is oorwoë toestemming, wat miskien akkurater oorwoë keuse genoem kan word. Nadat die pasiënt ingelig is oor die potensiële resultate van verskeie behandelings (of die versuim van behandeling) kan hy sy eie keuse maak. By die Albert Einstein-hospitaal in die Bronx, New York, het ’n beleidsvoorstel oor bloedoortappings en Jehovah se Getuies gesê: “Enige volwasse pasiënt wat daartoe in staat is, het die reg om behandeling te weier ongeag hoe nadelig sodanige weiering vir sy gesondheid kan wees.”2
Hoewel geneeshere moontlik kommer uitspreek oor etiek of aanspreeklikheid, het howe nadruk gelê op die oorwig van die pasiënt se keuse.3 Die New Yorkse Appèlhof het gesê dat “die pasiënt se reg om die beloop van sy eie behandeling te bepaal van die allergrootste belang [is] . . . Daar kan nie gesê word dat [’n] dokter sy wetlike of professionele plig versuim het wanneer hy ’n bevoegde, volwasse pasiënt se reg eerbiedig om mediese behandeling te weier nie.”4 Daardie hof het ook gesê dat “hoewel die etiese integriteit van die mediese beroep belangrik is, dit nie belangriker kan wees as die fundamentele individuele regte wat hier uitgeoefen word nie. Dit is die behoeftes en begeertes van die individu, nie die vereistes van die instelling nie, wat van die allergrootste belang is.”5
Wanneer ’n Getuie bloed weier, ondervind geneeshere moontlik gewetenswroeging weens die vooruitsig dat hulle skynbaar minder as die maksimum gaan doen. Die Getuie se versoek aan gewetensgetroue dokters is egter om die beste alternatiewe behandeling moontlik onder die omstandighede te gee. Ons moet dikwels ons terapie aanpas by omstandighede, soos hipertensie, hewige allergie vir antibiotika of die afwesigheid van sekere duur toerusting. In die geval van die Getuiepasiënt word geneeshere gevra om die mediese of chirurgiese probleem te behandel in ooreenstemming met die pasiënt se keuse en gewete, sy sedelike/godsdienstige besluit om hom van bloed te onthou.
Talle verslae van groot operasies op Getuiepasiënte toon dat baie geneeshere die versoek om nie bloed te gebruik nie met ’n rein gewete en met welslae kan toestaan. In 1981 het Cooley byvoorbeeld 1 026 kardiovaskulêre operasies ondersoek, waarvan 22% op minderjariges was. Hy het vasgestel “dat die risiko tydens operasies op pasiënte wat Jehovah se Getuies is nie wesenlik hoër is as dié vir ander nie”.6 Kambouris7 het verslag gedoen van groot operasies op Getuies, van wie party “dringende chirurgiese behandeling ontsê is omdat hulle geweier het om bloed te aanvaar”. Hy het gesê: “Alle pasiënte is voor behandeling verseker dat hulle godsdiensoortuigings gerespekteer sal word, ongeag die omstandighede in die operasiekamer. Hierdie beleid het geen ongunstige gevolge gehad nie.”
Wanneer ’n pasiënt ’n Getuie van Jehovah is, is die gewete, buiten die kwessie van keuse, by die saak betrokke. ’n Mens kan nie net aan die geneesheer se gewete dink nie. Wat van die pasiënt s’n? Jehovah se Getuies beskou lewe as ’n gawe van God wat deur bloed verteenwoordig word. Hulle glo die Bybel se gebod dat Christene ‘hulle van bloed moet onthou’ (Handelinge 15:28, 29).8 As ’n geneesheer dus sulke pasiënte se opregte en lank gehuldigde godsdiensoortuigings paternalisties skend, kan dit tragiese gevolge hê. Pous Johannes Paulus II het gesê dat as iemand gedwing word om sy gewete te skend “dit die swaarste slag is wat menswaardigheid toegedien kan word. In sekere sin is dit erger as om iemand fisies dood te maak.”9
Hoewel Jehovah se Getuies bloed om godsdiensredes weier, verkies al hoe meer pasiënte wat nie Getuies is nie om bloed te vermy weens risiko’s soos Vigs, nie-A/nie-B-hepatitis en immunologiese reaksies. Ons kan ons beskouing aan hulle voorlê oor waarom sulke risiko’s skynbaar gering is wanneer dit met die voordele vergelyk word. Maar soos die American Medical Association toon, is die pasiënt “die persoon wat die finale besluit moet neem of hy die kans gaan waag om die behandeling of operasie te ondergaan wat die dokter aanbeveel en of hy daarsonder sal lewe. Dit is die natuurlike reg van die individu, wat deur die wet erken word.”10
In hierdie verband het Macklin11 die risiko/voordeelgeskil aangeroer in die geval van ’n Getuie “wat gevaar geloop het om hom dood te bloei sonder ’n oortapping”. ’n Mediese student het gesê: “Hy was by sy volle positiewe. Wat doen jy wanneer godsdiensoortuigings die enigste behandeling teëgaan?” Macklin het gesê: “Ons glo miskien baie sterk daaraan dat hierdie man ’n fout maak. Maar Jehovah se Getuies glo dat om ’n oortapping te ontvang . . . tot ewige verdoemenis [kan] lei. Ons is opgelei om risiko-voordeelontledings in die geneeskunde te doen, maar as jy die ewige verdoemenis teenoor langer lewe op aarde stel, neem die ontleding ’n heeltemal ander voorkoms aan.”11
Vercillo en Duprey12 verwys in hierdie nommer van die Journal na In re Osborne om toe te lig van watter belang dit is om die sekuriteit van afhanklikes te verseker. Maar hoe het hierdie saak afgeloop? Die ernstig beseerde vader van twee minderjarige kinders was daarby betrokke. Die hof het vasgestel dat familielede materieel en geestelik vir sy kinders sal sorg indien hy sou sterf. Die hof het gevolglik, soos in ander onlangse gevalle,13 geen dringende staatsbelang gevind wat dit sou regverdig om die pasiënt se keuse van behandeling te ignoreer nie; regterlike tussenkoms om behandeling aan hom op te dwing wat vir hom absoluut onaanvaarbaar is, was ongegrond.14 Die pasiënt het met alternatiewe behandeling herstel en voortgegaan om vir sy gesin te sorg.
Is dit nie waar dat die oorgrote meerderheid van gevalle waarmee geneeshere te doen gehad het, of waarskynlik te doen sal kry, sonder bloed behandel kan word nie? Ons het mediese probleme bestudeer en ken dit die beste, maar pasiënte is mense wie se individuele waardes en doelstellings nie geïgnoreer kan word nie. Hulle ken hulle eie prioriteite, hulle eie sedes en gewete die beste—die dinge wat die lewe vir hulle betekenisvol maak.
Respek vir die godsdiensgewete van Getuiepasiënte beproef moontlik ons vaardigheid. Maar wanneer ons hierdie uitdaging aanvaar, beklemtoon ons waardevolle vryhede wat ons almal op prys stel. Soos John Stuart Mill gepas geskryf het: “Geen gemeenskap waarin hierdie vryhede nie oor die algemeen gerespekteer word, is vry nie, watter regeringsvorm ook al aan die bewind is . . . Elkeen is die regmatige bewaker van sy eie gesondheid, hetsy fisies, verstandelik of geestelik. Die mensdom trek groter voordeel daaruit wanneer hulle mekaar toelaat om te leef soos dit vir hulleself goed lyk as wanneer hulle mekaar dwing om te leef soos dit vir die res goed lyk.”15
[BRONNE]
1. Appelbaum PS, Roth LH: Pasiënte wat behandeling in mediese hospitale weier. JAMA 1983; 250:1296-1301.
2. Macklin R: Die werking van ’n etiekkomitee: Jongste saak oor Jehovah se Getuies. Hastings Cent Rep 1988; 18(1):15-20.
3. Bouvia v Superior Court, 179 Cal App 3d 1127, 225 Cal Rptr 297 (1986); In re Brown, 478 So 2d 1033 (Miss 1985).
4. In re Storar, 438 NYS 2d 266, 273, 420 NE 2d 64, 71 (NY 1981).
5. Rivers v Katz, 504 NYS 2d 74, 80 n 6, 495 NE 2d 337, 343 n 6 (NY 1986).
6. Dixon JL, Smalley MG: Jehovah se Getuies. Die chirurgiese/etiese uitdaging. JAMA 1981; 246:2471-2472.
7. Kambouris AA: Groot buikoperasies op Jehovah se Getuies. Am Surg 1987; 53:350-356.
8. Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood. Brooklyn, NY, Watchtower Bible and Tract Society, 1977, bl. 1-64.
9. Pous veroordeel Poolse ingryping. NY Times, 11 Januarie 1982, bl. A9.
10. Kantoor van die Algemene Raad: Medicolegal Forms with Legal Analysis. Chicago, American Medical Association, 1973, bl. 24.
11. Kleiman D: Hospitaalfilosoof staan voor besluite oor lewe. NY Times, 23 Januarie 1984, bl. B1, B3.
12. Vercillo AP, Duprey SV: Jehovah se Getuies en die oortapping van bloedprodukte. NY State J Med 1988; 88:493-494.
13. Wons v Public Health Trust, 500 So 2d 679 (Fla Dist Ct App) (1987); Randolph v City of New York, 117 AD 2d 44, 501 NYS 2d 837 (1986); Taft v Taft, 383 Mass 331, 446 NE 2d 395 (1983).
14. In re Osborne, 294 A 2d 372 (DC Ct App 1972).
15. Mill JS: Oor Vryheid, in Adler MJ (red): Great Books of the Western World. Chicago, Encyclopaedia Britannica, Inc, 1952, deel 43, bl. 273.