Bybelboek nommer 7—Rigters
Skrywer: Samuel
Waar geskryf: Israel
Geskrif voltooi: ca. 1100 v.G.J.
Beskrewe tydperk: ca. 1450–ca. 1120 v.G.J.
1. In watter opsigte was die tydperk van die rigters merkwaardig?
HIER is ’n bladsy van Israel se geskiedenis wat baie aksieryk is. Dit wissel tussen rampspoedige verstrikkinge in demongodsdiens en Jehovah se barmhartige bevrydings van sy berouvolle volk deur middel van goddelik aangestelde rigters. Die magtige dade van Otniël, Ehud, Samgar en die ander rigters na hulle is geloofinboesemend. Soos die skrywer van Hebreërs gesê het: “Die tyd sal my ontbreek as ek van Gideon, Barak, Simson en Jefta . . . sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, . . . krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het” (Hebr. 11:32-34). Om die 12 getroue rigters van hierdie tyd voltallig te maak, is daar ook Tola, Jaïr, Ebsan, Elon en Abdon. (Samuel word nie gewoonlik onder die rigters getel nie.) Jehovah het die rigters se veldslae vir hulle geveg, en die gees het hulle omhul wanneer hulle hulle dapper dade verrig het. Hulle het hulle God al die eer en heerlikheid gegee.
2. Waarom is die Hebreeuse naam van die boek Rigters gepas?
2 In die Septuagint word die boek Kri·taiʹ genoem, en in die Hebreeuse Bybel is dit Sjo·fetimʹ, wat as “Rigters” vertaal word. Sjo·fetimʹ kom van die werkwoord sja·fatʹ, wat “regspreek, verdedig, straf, regeer” beteken, wat die taak van hierdie teokraties aangesteldes van “God, die Regter van almal”, goed beskryf (Hebr. 12:23). Hulle was manne wat Jehovah by spesiale geleenthede verwek het om sy volk uit slawerny in die vreemde te verlos.
3. Wanneer is Rigters geskryf?
3 Wanneer is Rigters geskryf? Twee uitdrukkings in die boek help ons om die antwoord te vind. Die eerste lui: “Sodat die Jebusiete . . . in Jerusalem woon tot vandag toe” (Rigt. 1:21). Aangesien koning Dawid “die bergvesting Sion” van die Jebusiete in die agtste jaar van sy regering, of in 1070 v.G.J., ingeneem het, moes Rigters voor daardie tyd geskryf gewees het (2 Sam. 5:4-7). Die tweede uitdrukking kom vier keer voor: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie” (Rigt. 17:6; 18:1; 19:1; 21:25). Die verslag is gevolglik opgeteken in ’n tyd toe daar wel ’n “koning in Israel” was, dit wil sê, nadat Saul in 1117 v.G.J. die eerste koning geword het. Dit moet derhalwe uit die tydperk tussen 1117 en 1070 v.G.J. dateer.
4. Wie was die skrywer van Rigters?
4 Wie was die skrywer? Hy was ongetwyfeld ’n toegewyde kneg van Jehovah. In hierdie oorgangstydperk tussen die rigters en die konings is dit slegs Samuel wat hom onderskei as die vernaamste voorstander van Jehovah se aanbidding, en hy is ook die eerste van die lyn getroue profete. As sodanig sou Samuel die logiese een wees om die geskiedenis van die rigters op te teken.
5. Hoe kan die tydperk wat deur Rigters gedek word, bereken word?
5 Hoe lank is die tydperk wat Rigters dek? Dit kan bereken word aan die hand van 1 Konings 6:1, wat toon dat Salomo die huis van Jehovah in die vierde jaar van sy regering begin bou het, wat ook “die vierhonderd-en-tagtigste jaar ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland” was. (Aangesien “vierhonderd-en-tagtigste” ’n rangtelwoord is, verteenwoordig dit 479 vol jare.) Die bekende tydperke wat in die 479 jaar ingesluit is, is 40 jaar onder Moses in die woestyn (Deut. 8:2), 40 jaar van Saul se regering (Hand. 13:21), 40 jaar van Dawid se regering (2 Sam. 5:4, 5) en die eerste 3 vol jare van Salomo se regering. As ons hierdie totaal van 123 jaar van die 479 jaar van 1 Konings 6:1 aftrek, bly daar 356 jaar oor vir die tydperk tussen Israel se intog in Kanaän in en die begin van Saul se regering.a Die gebeure wat in die boek Rigters opgeteken is, strek hoofsaaklik van die dood van Josua tot die tyd van Samuel en dek nagenoeg 330 jaar van hierdie tydperk van 356 jaar.
6. Wat staaf die egtheid van Rigters?
6 Daar bestaan geen twyfel oor die egtheid van Rigters nie. Die Jode het dit nog altyd as ’n deel van die Bybelkanon erken. Skrywers van sowel die Hebreeuse as die Christelike Griekse Geskrifte het na Rigters se verslag verwys, soos in Psalm 83:10-19; Jesaja 9:3; 10:26 en Hebreërs 11:32-34. Dit is openhartig en verberg nie een van Israel se tekortkominge en hulle afvalligheid nie, terwyl dit terselfdertyd die oneindige liefderyke goedheid van Jehovah verheerlik. Dit is Jehovah, en nie ’n blote menserigter nie, wat die heerlikheid as Bevryder in Israel ontvang.
7. (a) Hoe bevestig die argeologie die verslag in Rigters? (b) Waarom het Jehovah tereg die uitwissing van Baälaanbidders gelas?
7 Daarbenewens bevestig argeologiese vondste die egtheid van Rigters. Die treffendste is dié oor die aard van die Baälgodsdiens van die Kanaäniete. Afgesien van die Bybelvermeldinge was daar min oor Baälaanbidding bekend totdat die eertydse Kanaänitiese stad Oegarit (die hedendaagse Ras Sjamra aan die Siriese kus oorkant die noordoostelike punt van die eiland Ciprus) in 1929 opgegrawe is. Hier het dit aan die lig gekom dat materialisme, fanatieke nasionalisme en seksaanbidding kenmerke van Baälaanbidding was. Elke Kanaänitiese stad het blykbaar sy Baältempel gehad, sowel as heiligdomme wat as hoogtes bekend gestaan het. In die heiligdomme was daar moontlik beelde van Baäl, en naby die altare buitekant is klippilare gevind—moontlik falliese simbole van Baäl. Verfoeilike menseoffers het hierdie heiligdomme met bloed deurdrenk. Toe die Israeliete met Baälaanbidding besoedel is, het hulle eweneens hulle seuns en dogters opgeoffer (Jer. 32:35). Daar was ’n heilige paal wat Baäl se moeder, Asjera, verteenwoordig het. Die vrugbaarheidsgodin, Astarte, Baäl se vrou, is met wellustige rites aanbid, terwyl mans en vroue as “gewyde” tempelprostitute aangehou is. Dit is geen wonder dat Jehovah beveel het dat Baälaanbidding en sy dierlike aanhangers uitgewis word nie. “Jou oog mag hulle nie verskoon nie, en jy mag hulle gode nie dien nie.”—Deut. 7:16.b
INHOUD VAN RIGTERS
8. In watter dele word Rigters logies verdeel?
8 Die boek word logies in drie dele verdeel. Die eerste twee hoofstukke beskryf die destydse toestande in Israel. Hoofstukke 3 tot 16 beskryf die bevrydinge deur die 12 rigters. Hoofstukke 17 tot 21 beskryf dan enkele gebeure in verband met interne tweedrag in Israel.
9. Watter agtergrond word deur die eerste twee hoofstukke van Rigters verskaf?
9 Toestande in Israel in die tyd van die rigters (1:1–2:23). Die stamme van Israel word beskryf terwyl hulle versprei om hulle in hul toegewese gebiede te vestig. Maar in plaas van die Kanaäniete heeltemal te verdryf, lê hulle baie van hulle dwangarbeid op en laat hulle hulle toe om onder die Israeliete te woon. Daarom sê Jehovah se engel: “Hulle [sal] vyande vir julle . . . wees, en hulle gode ’n strik vir julle” (2:3). Wanneer ’n nuwe geslag opstaan wat Jehovah of sy werke nie ken nie, verlaat die volk hom dus weldra om die Baäls en ander gode te dien. Omdat Jehovah se hand ten kwade teen hulle gerig is, raak hulle “in groot benoudheid”. Weens hulle hardnekkigheid en weiering om na selfs die rigters te luister, verdryf Jehovah nie een van die nasies wat hy oorgelaat het om Israel op die proef te stel nie. Hierdie agtergrond help ons om latere gebeure te verstaan.—2:15.
10. Deur watter krag rig Otniël, en met watter gevolg?
10 Rigter Otniël (3:1-11). Die kinders van Israel verkeer in benoudheid weens hul diensbaarheid aan die Kanaäniete en begin Jehovah om hulp roep. Eers verwek hy Otniël as rigter. Rig Otniël die nasie deur middel van menslike krag en wysheid? Nee, want ons lees: “Die Gees van die HERE het op hom gekom” om Israel se vyande te onderwerp. “Toe kry die land rus veertig jaar lank.”—3:10, 11.
11. Hoe gebruik Jehovah Ehud om Israel te bevry?
11 Rigter Ehud (3:12-30). Na die kinders van Israel 18 jaar lank aan koning Eglon van Moab onderworpe was, luister Jehovah weer na hulle geroep om hulp, en hy verwek rigter Ehud. Wanneer die koning hom ’n vertroulike oudiënsie verleen, ruk die linkshandige Ehud sy tuisgemaakte swaard van onder sy mantel uit en bring hy Eglon om die lewe deur die swaard diep in vet Eglon se maag in te steek. Israel skaar hulle gou aan Ehud se kant in die geveg teen Moab, en die land geniet weer godgegewe rus, 80 jaar lank.
12. Wat toon dat Samgar se oorwinning deur God se krag geskied?
12 Rigter Samgar (3:31). Samgar red Israel deur 600 Filistyne te verslaan. Die wapen wat hy gebruik—’n blote osdrywerstok—wys dat die oorwinning deur Jehovah se krag geskied.
13. Na watter dramatiese gebeure sing Barak en Debora ’n oorwinningslied?
13 Rigter Barak (4:1–5:31). Israel raak vervolgens onderworpe aan die Kanaänitiese koning Jabin en sy leërowerste Sisera, wat spog met 900 strydwaens met ystersense. Wanneer Israel Jehovah weer eens begin aanroep, verwek Hy rigter Barak wat op bekwame wyse deur die profetes Debora bygestaan word. Sodat Barak en sy leër geen rede tot roem sal hê nie, maak Debora bekend dat die stryd deur Jehovah gelei sal word en profeteer sy: “Die HERE sal Sisera in die hand van ’n vrou verkoop” (4:9). Barak roep manne van Naftali en Sebulon by die berg Tabor bymekaar. Sy leër van 10 000 trek dan af om Sisera die stryd aan te sê. Die oorwinning word deur sterk geloof behaal. ‘Jehovah bring Sisera en al sy waens en die hele leër in verwarring’ deur hulle met ’n skielike oorstroming in die dal Kison te oorweldig. “Daar het selfs nie een oorgebly nie” (4:15, 16). Jael, die vrou van Heber, die Keniet, na wie se tent Sisera vlug, bring die slagting tot ’n hoogtepunt deur Sisera se kop met ’n tentpen teen die grond te nael. ‘So het God Jabin onderwerp’ (4:23). Debora en Barak gee uiting aan hulle blydskap in ’n lied waarin hulle die onoorwinlike mag van Jehovah, wat selfs die sterre uit hulle bane teen Sisera laat veg het, verheerlik. Dit is waarlik ’n tyd om ‘Jehovah te prys’! (5:2). Daar volg veertig jaar van vrede.
14, 15. Watter teken ontvang Gideon dat Jehovah hom steun, en hoe word hierdie steun verder beklemtoon deur die uiteindelike neerlaag van die Midianiete?
14 Rigter Gideon (6:1–9:57). Die kinders van Israel doen weer wat verkeerd is, en die land word deur die stropende Midianiete verwoes. Jehovah stel Gideon deur middel van sy engel as rigter aan, en Jehovah self verseker hom met die woorde: “Ek sal met jou wees” (6:16). Gideon se eerste dapper daad is om die altaar van Baäl in sy tuisstad af te breek. Die verenigde leërs van die vyand val Jisreël nou in, en ‘die gees van Jehovah vervul Gideon’ wanneer hy Israel vir die geveg oproep (6:34). Deur as toets ’n vlies op die dorsvloer in die dou te laat lê, ontvang Gideon ’n dubbele teken dat God met hom is.
15 Jehovah sê vir Gideon dat sy leër van 32 000 te groot is en dat die grootte kan veroorsaak dat mense oor die oorwinning roem. Die vreesagtiges word eers huis toe gestuur, waarna net 10 000 oorbly (Rigt. 7:3; Deut. 20:8). Dan word almal behalwe 300 wakker en waaksame manne deur middel van die toets met die waterdrinkery uitgeskakel. Gideon bespied die Midianitiese laer in die nag en ontvang opnuut versekering wanneer hy ’n man ’n droom hoor uitlê en hom hoor sê: “Dit is niks anders nie as die swaard van Gideon . . . God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee” (Rigt. 7:14). Gideon aanbid God en stel dan sy manne in drie groepe rondom die Midianitiese laer op. Die kalmte van die nag word skielik verbreek deur horinggeskal, deur die verplettering van groot waterkruike, deur die fakkelligte en deur Gideon se 300 man wat skreeu: “Die swaard van die HERE en van Gideon!” (7:20). In die vyandelike laer breek pandemonium los. Die manne veg teen mekaar en slaan op die vlug. Die Israeliete sit hulle agterna, rig ’n slagting onder hulle aan en bring hulle vorste om die lewe. Die Israeliete vra Gideon nou om oor hulle te heers, maar hy weier en sê: “Die HERE sal oor julle heers” (8:23). Van die oorlogsbuit maak hy egter ’n efod, wat later oordrewe vereer word en gevolglik ’n strik vir Gideon en sy huis word. Die land rus 40 jaar gedurende Gideon se rigterskap.
16. Watter lot tref die eiemagtige Abimeleg?
16 Na Gideon se dood eien Abimeleg, een van Gideon se seuns by ’n byvrou, hom die mag toe en vermoor hy sy 70 halfbroers. Jotam, Gideon se jongste seun, is die enigste wat ontkom, en vanaf die berg Gerisim verkondig hy Abimeleg se ondergang. In hierdie gelykenis oor die bome vergelyk hy Abimeleg se “koningskap” met dié van ’n nietige steekdoring. Abimeleg raak weldra verwikkel in interne tweedrag in Sigem en word op vernederende wyse gedood deur ’n vrou wat ’n meulsteen vanuit die toring van Tebes met ’n voltreffer op hom gooi en sy skedel verbrysel.—Rigt. 9:53; 2 Sam. 11:21.
17. Wat deel die verslag ons mee oor rigters Tola en Jaïr?
17 Rigters Tola en Jaïr (10:1-5). Hulle is die volgende manne wat in Jehovah se krag bevrydinge bewerkstellig en onderskeidelik 23 en 22 jaar as rigters dien.
18. (a) Watter bevryding bewerkstellig Jefta? (b) Watter gelofte aan Jehovah doen Jefta getrou gestand? Hoe?
18 Rigter Jefta (10:6–12:7). Aangesien Israel voortdurend tot afgodery verval, ontvlam Jehovah se toorn weer teen die nasie. Die volk word nou deur die Ammoniete en die Filistyne verdruk. Jefta word uit ballingskap teruggeroep om Israel in die geveg aan te voer. Maar wie is die werklike rigter in hierdie geskil? Jefta se woorde verskaf die antwoord: “Mag die HERE, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon!” (11:27). Wanneer Jehovah se gees nou oor hom kom, doen hy ’n gelofte dat hy, as hy in vrede van Ammon terugkeer, die eerste een wat hom uit sy huis tegemoetkom aan Jehovah sal wy. Jefta oorwin Ammon met ’n groot slagting. Wanneer hy na sy huis in Mispa terugkeer, is dit sy eie dogter wat hom eerste tegemoethardloop, vol vreugde oor Jehovah se oorwinning. Jefta doen sy gelofte gestand—nee, nie deur ’n heidense menseoffer volgens Baälrites nie, maar deur sy enigste dogter tot lof van Jehovah aan die uitsluitlike diens in Sy huis af te staan.
19. Watter gebeure lei tot die “Sjibbolet”-toets?
19 Die manne van Efraim protesteer nou dat hulle nie geroep is om teen Ammon te veg nie en hulle bedreig Jefta, wat hulle noodgedwonge terugdryf. Altesaam 42 000 Efraimiete word gedood, baie van hulle by die Jordaan-driwwe waar hulle geïdentifiseer word omdat hulle nie die wagwoord “Sjibbolet” korrek uitspreek nie. Jefta rig Israel nog ses jaar.—12:6.
20. Watter drie rigters word vervolgens gemeld?
20 Rigters Ebsan, Elon en Abdon (12:8-15). Hoewel daar min oor hulle gemeld word, word die tydperke van hulle rigterskap aangegee as onderskeidelik sewe, tien en agt jaar.
21, 22. (a) Watter magtige dade verrig Simson, en deur watter krag? (b) Hoe word Simson deur die Filistyne oorweldig? (c) Watter gebeure bereik ’n hoogtepunt in Simson se grootste prestasie, en wie dink aan hom in hierdie uur?
21 Rigter Simson (13:1–16:31). Die Israeliete val weer eens in die hand van die Filistyne. Hierdie keer verwek Jehovah Simson as rigter. Sy ouers maak hom van sy geboorte af as ’n nasireër groot, en dit beteken dat geen skeermes ooit op sy hare mag kom nie. Namate hy grootword, seën Jehovah hom, en ‘die gees van Jehovah begin hom drywe’ (13:25). Die geheim van sy krag lê nie in menslike spiere nie, maar in die krag wat van Jehovah kom. Dit is wanneer ‘Jehovah se gees oor hom vaardig word’ dat hy in staat is om ’n leeu met sy kaal hande dood te maak en later die Filistyne se verraad te vergeld deur 30 Filistyne dood te slaan (14:6, 19). Aangesien die Filistyne verraderlik bly optree met betrekking tot Simson se huwelik met ’n Filistynse meisie, neem Simson 300 jakkalse en draai hy hulle stert teen stert, waarna hy fakkels tussen hulle sterte sit en hulle loslaat om die graanlande, wingerde en olyfboorde van die Filistyne aan die brand te steek. Dan rig hy ’n groot slagting onder die Filistyne aan, ‘waarin hy bene op dye stapel’ (15:8, NW). Die Filistyne oorreed sy mede-Israeliete, manne van Juda, om Simson vas te bind en aan hulle uit te lewer, maar weer ‘word Jehovah se gees oor hom vaardig’, en sy boeie smelt as ’t ware van sy hande af. Simson verslaan duisend Filistyne—“een klomp, twee klompe”! (15:14-16). Sy vernietigingswapen? ’n Nat eselskakebeen. Jehovah verkwik sy uitgeputte kneg deur ’n wonderbaarlike waterbron op die toneel van die stryd te laat verskyn.
22 Simson vertoef vervolgens ’n nag in ’n prostituut se huis in Gasa, waar die Filistyne hom stilletjies omsingel. Jehovah se gees is egter weer eens met hom wanneer hy teen middernag opstaan, die deure van die stadspoort en die deurposte uitruk en hulle al die pad tot bo-op ’n berg oorkant Hebron dra. Hierna raak hy verlief op die verraderlike Delila. As ’n gewillige werktuig van die Filistyne neul sy by hom totdat hy onthul dat sy toegewydheid aan Jehovah as nasireër, wat deur sy lang hare gesimboliseer word, die ware bron van sy groot krag is. Terwyl hy slaap, laat sy sy hare afknip. Hierdie keer word hy tevergeefs wakker om te veg, aangesien “die HERE van hom gewyk het” (16:20). Die Filistyne gryp hom, steek sy oë uit en laat hom as ’n slaaf in hulle gevangenis maal. Wanneer die tyd aanbreek vir ’n groot fees ter ere van hulle god Dagon, bring die Filistyne Simson uit om hulle te vermaak. Hulle heg geen waarde aan die feit dat sy hare weer eens welig groei nie en laat hom staan tussen die twee magtige pilare van die huis wat vir die aanbidding van Dagon gebruik word. Simson roep Jehovah aan: “Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer.” Jehovah dink wel aan hom. Simson gryp die pilare vas en ‘buig hom met krag’—Jehovah se krag—‘sodat die huis inval. So is dan die dooies wat hy by sy sterwe dood meer as die wat hy in sy lewe gedood het.’—16:28-30.
23. Watter gebeure word in hoofstukke 17 tot 21 verhaal, en wanneer het hulle plaasgevind?
23 Ons kom nou by hoofstukke 17 tot 21, wat van die interne tweedrag beskryf wat Israel ongelukkig gedurende hierdie tyd teister. Hierdie gebeure vind heel vroeg in die tydperk van die rigters plaas, soos blyk uit die feit dat Jonatan en Pinehas, kleinseuns van Moses en Aäron, gemeld word as persone wat nog lewe.
24. Hoe stig sommige Daniete ’n onafhanklike godsdiens?
24 Miga en die Daniete (17:1–18:31). Miga, ’n man van Efraim, rig sy eie onafhanklike huis van aanbidding op, ’n afgodiese “godshuis”, met ’n gesnede beeld en ’n Levitiese priester en al (17:5). Op pad om ’n erfdeel in die noorde te soek, kom lede van die stam van Dan daar langs. Hulle beroof Miga van sy godsdienstige voorwerpe en priester en trek ver noord om die niksvermoedende stad Lais te vernietig. Op sy plek bou hulle hulle eie stad, Dan, en rig hulle Miga se gesnede beeld op. Hulle volg derhalwe die godsdiens van hulle eie, onafhanklike keuse al die dae dat Jehovah se huis van ware aanbidding in Silo is.
25. Hoe bereik interne tweedrag in Israel ’n hoogtepunt by Gibea?
25 Benjamin se sonde by Gibea (19:1–21:25). Die volgende opgetekende gebeurtenis gee aanleiding tot Hosea se woorde later van tyd: “Sedert die dae van Gibea het jy gesondig, o Israel!” (Hos. 10:9). ’n Leviet van Efraim oornag op pad huis toe met sy byvrou by ’n ou man in Gibea van Benjamin. Slegte manne van die stad omsingel die huis en eis om met die Leviet omgang te hê. Hulle aanvaar egter sy byvrou pleks van hom en misbruik haar die hele nag. Sy word in die oggend dood op die drumpel aangetref. Die Leviet neem haar liggaam huis toe, sny dit in 12 stukke en stuur dit na alle dele van Israel. Die 12 stamme word so op die proef gestel. Sal hulle Gibea straf en sodoende die onsedelike toestand uit Israel verwyder? Benjamin vergoelik hierdie gemene misdaad. Die ander stamme vergader hulle voor Jehovah by Mispa, waar hulle besluit om volgens die lot teen Benjamin by Gibea op te trek. Na twee bloedige terugslae behaal die ander stamme ’n oorwinning deur ’n hinderlaag te stel en roei hulle die stam van Benjamin feitlik heeltemal uit—net 600 manne ontkom en vlug na die rots Rimmon. Later betreur Israel dit dat een stam afgesny is. Die geleentheid doen hom voor om die oorblywende Benjaminiete van vrouens te voorsien uit die dogters van Jabes in Gilead en van Silo. Hiermee sluit ’n verslag van tweedrag en intrige in Israel af. Soos die slotwoorde van Rigters herhaal: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.”—Rigt. 21:25.
WAAROM NUTTIG
26. Watter kragtige waarskuwings in Rigters is ook vandag van toepassing?
26 Die boek Rigters is lank nie net ’n verslag oor tweedrag en bloedvergieting nie, want dit verheerlik Jehovah as die groot Bevryder van sy volk. Dit toon hoe sy onvergelyklike barmhartigheid en lankmoedigheid teenoor sy naamvolk bewys word wanneer hulle hulle met berouvolle harte tot hom wend. Rigters is uiters nuttig in sy onomwonde verdediging van Jehovah se aanbidding en sy kragtige waarskuwings oor die dwaasheid van demongodsdiens, godsdiensvermenging en onsedelike betrekkinge. Jehovah se sterk veroordeling van Baälaanbidding moet ons beweeg om weg te bly van die hedendaagse ekwivalente, naamlik materialisme, nasionalisme en geslagsonsedelikheid.—2:11-18.
27. Hoe kan ons vandag by die goeie voorbeeld van die rigters baat vind?
27 ’n Ondersoek van die onbevreesde en moedige geloof van die rigters moet soortgelyke geloof in ons hart aanwakker. Geen wonder dat hulle met sulke geesdriftige goedkeuring in Hebreërs 11:32-34 vermeld word nie! Hulle was stryders vir die regverdiging van Jehovah se naam, maar nie in hulle eie krag nie. Hulle het geweet wat die bron van hulle krag is, Jehovah se gees, en hulle het dit nederig erken. Ons kan vandag eweneens “die swaard van die Gees”, God se Woord, opneem met die volle vertroue dat God ons net soos Barak, Gideon, Jefta, Simson en die ander krag sal gee. Ja, wanneer groot hindernisse te bowe gekom moet word, kan ons, met behulp van Jehovah se gees, geestelik so sterk wees soos Simson fisies was as ons maar net tot Jehovah bid en op hom steun.—Ef. 6:17, 18; Rigt. 16:28.
28. Hoe wys die boek Rigters vooruit na die regverdiging van Jehovah se naam deur die Koninkryksaad?
28 Die profeet Jesaja haal twee keer uit Rigters aan om te wys hoe Jehovah gewis die juk wat Sy vyande op sy volk plaas, sal verbreek, net soos hy in die dae van Midian gedoen het (Jes. 9:3; 10:26). Dit laat ons ook dink aan die lied van Debora en Barak, wat afsluit met die vurige gebed: “So moet al u vyande, HERE, omkom! Maar die wat Hom liefhet, is soos die opgang van die son in sy krag” (Rigt. 5:31). En wie is hierdie liefhebbers? Jesus Christus self toon dat hulle die Koninkrykserfgename is deur ’n soortgelyke uitdrukking in Mattheüs 13:43 te gebruik: “Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.” Die boek Rigters wys derhalwe vooruit na die tyd wanneer die regverdige Regter en Koninkryksaad, Jesus, mag sal uitoefen. Deur hom sal Jehovah Sy naam verheerlik en regverdig, ooreenkomstig die psalmis se gebed oor die vyande van God: “Maak met hulle soos met Midian, soos met Sisera, soos met Jabin by die spruit Kison . . . sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.”—Ps. 83:10, 19, vgl. NW; Rigt. 5:20, 21.
[Voetnote]
a Die meeste moderne vertalings bevestig dat die “omtrent vierhonderd-en-vyftig jaar” van Handelinge 13:20 nie ooreenkom met die tydperk van die Rigters nie, maar dit voorafgaan; dit dek blykbaar die tydperk van Isak se geboorte in 1918 v.G.J. tot die verdeling van die Beloofde Land in 1467 v.G.J. (Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 462). Die volgorde waarin die rigters in Hebreërs 11:32 gemeld word, verskil van dié in die boek Rigters, maar hierdie feit dui nie noodwendig daarop dat die gebeure in Rigters nie in chronologiese volgorde is nie, want Samuel was beslis nie ná Dawid nie.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 228-9, 948.