Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 1/15 bl. 24-bl. 27 par. 11
  • Glanspunte uit die boek Rigters

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glanspunte uit die boek Rigters
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAAROM WAS RIGTERS NODIG?
  • (Rigters 1:1–3:6)
  • JEHOVAH VERWEK RIGTERS
  • (Rigters 3:7–16:31)
  • ANDER OORTREDINGS IN ISRAEL
  • (Rigters 17:1–21:25)
  • Die komende redding
  • Bybelboek nommer 7—Rigters
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Laat die rigters jou geloof versterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Oorsig van Rigters
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Deur geloof het Barak ’n magtige leër op die vlug gejaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 1/15 bl. 24-bl. 27 par. 11

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Rigters

HOE reageer Jehovah wanneer sy eie volk hulle rug op hom draai en valse gode begin aanbid? Sê nou hulle word keer op keer afvallig en roep hom net om hulp aan wanneer hulle in die moeilikheid is? Voorsien Jehovah selfs dan vir hulle ontkoming? Die boek Rigters beantwoord hierdie sowel as ander belangrike vrae. Die profeet Samuel het dit teen ongeveer 1100 v.G.J. voltooi, en dit dek gebeure wat oor sowat 330 jaar strek—van die dood van Josua tot die kroning van Israel se eerste koning.

As ’n deel van God se lewende woord, of boodskap, is die boek Rigters van groot waarde vir ons (Hebreërs 4:12). Die opwindende verslae wat daarin opgeteken is, gee ons insig in God se persoonlikheid. Die lesse wat ons daaruit leer, versterk ons geloof en help ons om ’n stewige houvas op “die werklike lewe” te kry, die ewige lewe in God se beloofde nuwe wêreld (1 Timoteus 6:12, 19; 2 Petrus 3:13). Die reddingsdade wat Jehovah ten behoewe van sy volk verrig, gee ’n voorskou van die groter verlossing deur sy Seun, Jesus Christus, in die toekoms.

WAAROM WAS RIGTERS NODIG?

(Rigters 1:1–3:6)

Nadat die konings van die land Kanaän onder die leierskap van Josua verslaan is, gaan die individuele stamme van Israel na hulle erfdele en neem hulle die land in besit. Die Israeliete verdryf egter nie die inwoners van die land nie. Hierdie versuim word vir Israel ’n ware strik.

Die geslag wat ná die dae van Josua kom, ‘ken nie Jehovah of die werk wat hy vir Israel gedoen het nie’ (Rigters 2:10). Daarbenewens vorm die volk huweliksverbintenisse met die Kanaäniete en dien hulle hulle gode. Om daardie rede gee Jehovah die Israeliete in die hand van hulle vyande. Maar wanneer die onderdrukking swaar word, roep die kinders van Israel die ware God om hulp aan. In hierdie godsdienstige, maatskaplike en politieke klimaat ontvou die verslag van ’n opeenvolging van rigters wat deur Jehovah verwek word om sy volk van hulle vyande te red.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:2, 4—Waarom word Juda genoem as die eerste stam om besit te neem van die land wat daaraan toegeken is? Normaalweg sou die stam Ruben, Jakob se eersgeborene, hierdie voorreg gekry het. Maar in sy sterfbedprofesie het Jakob voorspel dat Ruben nie sou uitmunt nie, aangesien hy sy eersgeboortereg verbeur het. Simeon en Levi, wat wreed gehandel het, sou in Israel verstrooi word (Genesis 49:3-5, 7). Gevolglik was Juda, die vierde seun van Jakob, die volgende een wat vir hierdie voorreg in aanmerking sou kom. Simeon, wat saam met Juda opgetrek het, het klein gebiede gekry wat in die groot gebied van Juda versprei is.a—Josua 19:9.

1:6, 7—Waarom is die verslane konings se duime en groottone afgesny? Iemand wat sy duime en groottone verloor het, kon blykbaar nie in militêre optrede gebruik word nie. Hoe kon ’n soldaat sonder duime ’n swaard of spies hanteer? En sonder groottone kan ’n mens jou balans nie behoorlik hou nie.

Lesse vir ons:

2:10-12. Ons moet ’n gereelde Bybelstudieprogram hê sodat ons ‘nie Jehovah se dade vergeet nie’ (Psalm 103:2). Ouers moet die waarheid van God se Woord in hulle kinders se harte inskerp.—Deuteronomium 6:6-9.

2:14, 21, 22. Jehovah laat met ’n doel toe dat slegte dinge met sy ongehoorsame volk gebeur—om hulle te tug, te louter en te beweeg om tot hom terug te keer.

JEHOVAH VERWEK RIGTERS

(Rigters 3:7–16:31)

Die opwindende verslag van die heldedade van die rigters begin met die verhaal van Otniël wat ’n einde maak aan Israel se agt jaar van oorheersing deur ’n Mesopotamiese koning. Rigter Ehud maak van ’n moedige strategie gebruik om die vet Moabitiese koning Eglon dood te maak. Die dapper Samgar maak 600 Filistyne manalleen met ’n veedrywerstok dood. Met die aanmoediging van Debora, wat as ’n profetes dien, en met Jehovah se ondersteuning, verslaan Barak en sy swak toegeruste leër van tienduisend man die magtige leër van Sisera. Jehovah stel Gideon aan en gee hom en sy 300 man die oorwinning oor die Midianiete.

Deur Jefta verlos Jehovah Israel van die Ammoniete. Tola, Jaïr, Ibsan, Elon en Abdon is ook onder die 12 manne wat rigters oor Israel is. Die tydperk van die rigters eindig met Simson, wat teen die Filistyne veg.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

4:8—Waarom het Barak daarop aangedring dat die profetes Debora saam met hom na die slagveld gaan? Barak het blykbaar onbevoeg gevoel om alleen teen Sisera se leër op te trek. As die profetes saam met hom sou gaan, sou dit hom en sy manne die versekering gee dat hulle God se leiding het en sou dit hulle selfvertroue gegee. Die feit dat Barak daarop aangedring het dat Debora saam met hom gaan, was dus nie ’n teken van swakheid nie, maar van sterk geloof.

5:20—Hoe het die sterre uit die hemel vir Barak geveg? Die Bybel sê nie of dit verwys na engelehulp, ’n meteoorreën wat deur Sisera se wyse manne as ’n slegte voorteken geïnterpreteer is of moontlik astrologiese voorspellings wat vir Sisera gemaak is en nie waar geword het nie. Maar God het ongetwyfeld op die een of ander manier ingegryp.

7:1-3; 8:10—Waarom het Jehovah gesê dat Gideon se 32 000 man te veel was teen die vyandelike mag van 135 000? Dit was omdat Jehovah vir Gideon en sy manne die oorwinning sou gee. God wou nie hê dat hulle moes dink dat hulle die Midianiete in hulle eie krag oorwin het nie.

11:30, 31—Het Jefta ’n menseoffer in gedagte gehad toe hy sy gelofte gedoen het? So ’n gedagte sou nooit by Jefta opgekom het nie, want die Wet het bepaal: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat gaan . . . nie” (Deuteronomium 18:10). Jefta het egter ’n mens in gedagte gehad en nie ’n dier nie. Die Israeliete het nie diere wat as offers gebring kon word, gewoonlik in hulle huise aangehou nie. En om ’n dier te offer, sou niks besonders gewees het nie. Jefta het geweet dat die een wat hom uit sy huis sou tegemoetkom, heel moontlik sy dogter sou wees. Hierdie persoon sou “as ’n brandoffer” geoffer word deurdat die persoon gewy sou word tot uitsluitlike diens aan Jehovah by sy heiligdom.

Lesse vir ons:

3:10. Sukses in geestelike strewes hang nie van mensewysheid af nie, maar van Jehovah se gees.—Psalm 127:1.

3:21. Ehud het sy swaard behendig en moedig gebruik. Ons moet leer om “die swaard van die gees, dit is God se woord”, vaardig te hanteer. Dit beteken dat ons die Skrif moedig in ons bediening moet gebruik.—Efesiërs 6:17; 2 Timoteus 2:15.

6:11-15; 8:1-3, 22, 23. Gideon se beskeidenheid leer ons drie belangrike lesse: (1) Wanneer ons ’n diensvoorreg gegee word, moet ons eerder nadink oor die verantwoordelikheid wat dit meebring as om te veel te dink aan die vernaamheid of status wat daarmee gepaardgaan. (2) Wanneer ons te doen kry met mense wat wil rusie maak, is dit die weg van wysheid om beskeidenheid aan die dag te lê. (3) Beskeidenheid keer dat ons behep raak met posisie.

6:17-22, 36-40. Ons moet ook versigtig wees en nie “elke geïnspireerde uiting glo nie”. Ons moet eerder “die geïnspireerde uitinge op die proef [stel] om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1). Dit sal verstandig wees as ’n nuwe Christen- ouer man ’n meer ervare ouer man raadpleeg om seker te maak dat die raad wat hy wil gee, stewig op God se Woord gegrond is.

6:25-27. Gideon het oordeelkundig opgetree sodat hy nie sy teenstanders onnodig sou kwaad maak nie. Wanneer ons die goeie nuus verkondig, moet ons versigtig wees om mense nie onnodig aanstoot te gee deur die manier waarop ons praat nie.

7:6. Wanneer dit by diens aan Jehovah kom, moet ons soos Gideon se 300 man wees—gereed en wakker.

9:8-15. Hoe dwaas is dit tog om op ’n trotse manier op te tree en posisie of mag na te streef!

11:35-37. Die goeie voorbeeld van Jefta het sy dogter ongetwyfeld baie gehelp om sterk geloof en ’n selfopofferende gees aan te kweek. Ouers kan vandag so ’n voorbeeld vir hulle kinders stel.

11:40. As iemand wat ’n gewillige gees in Jehovah se diens aan die dag lê, geprys word, is dit vir hom aanmoedigend.

13:8. Wanneer ouers hulle kinders leer, moet hulle tot Jehovah bid vir leiding en sy riglyne volg.—2 Timoteus 3:16.

14:16, 17; 16:16. Dit kan ’n verhouding skade berokken as ’n mens druk uitoefen deur te huil en te neul.—Spreuke 19:13; 21:19.

ANDER OORTREDINGS IN ISRAEL

(Rigters 17:1–21:25)

Die laaste deel van die boek Rigters bevat twee besondere verslae. Die eerste een handel oor ’n man met die naam Miga, wat ’n afgod in sy huis sit en ’n Leviet kry om vir hom as priester op te tree. Nadat die Daniete die stad Laïs, of Lesem, vernietig het, bou hulle hulle eie stad en noem hulle dit Dan. Hulle gebruik Miga se afgod en sy priester en stel ’n ander vorm van aanbidding daar in. Blykbaar word Laïs voor Josua se dood verower.—Josua 19:47.

Die tweede gebeurtenis vind nie lank ná die dood van Josua plaas nie. Van die manne in die Benjaminitiese stad Gibea pleeg saam ’n seksmisdaad en veroorsaak dat die hele stam Benjamin byna uitgewis word—net 600 manne oorleef. Maar ’n praktiese reëling maak dit vir hulle moontlik om vrouens te kry, en hulle getalle neem toe totdat hulle teen die tyd van Dawid se heerskappy byna 60 000 soldate het.—1 Kronieke 7:6-11.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

17:6; 21:25—As ‘elkeen gewoond was om te doen wat reg was in sy eie oë’, het dit aanleiding gegee tot anargie? Nie noodwendig nie, want Jehovah het meer as genoeg reëlings getref om sy volk te rig. Hy het hulle die Wet en die priesterdom gegee om hulle in sy weg te leer. Die hoëpriester kon God deur middel van die Urim en die Tummim oor belangrike sake raadpleeg (Eksodus 28:30). Elke stad het ook ouer manne gehad wat goeie raad kon gee. Wanneer ’n Israeliet van hierdie voorsienings gebruik gemaak het, het hy ’n goeie gids vir sy gewete gehad. As hy op hierdie manier gedoen het “wat reg was in sy eie oë”, het dit goeie gevolge gehad. Aan die ander kant, as iemand die Wet geïgnoreer het en sy eie besluite oor gedrag en aanbidding geneem het, het dit slegte gevolge gehad.

20:17-48—Waarom het Jehovah die Benjaminiete twee keer toegelaat om die ander stamme te verslaan, al moes die Benjaminiete gestraf word? Deur die getroue stamme toe te laat om aanvanklik groot verliese te ly, het Jehovah hulle vasbeslotenheid getoets om boosheid uit Israel uit te roei.

Lesse vir ons:

19:14, 15. Die onwilligheid van die mense van Gibea om gasvryheid te betoon, was ’n aanduiding van ’n sedelike tekortkoming. Christene word gemaan om ‘die weg van gasvryheid te volg’.—Romeine 12:13.

Die komende redding

God se Koninkryk in die hande van Christus Jesus gaan binnekort die goddelose wêreld vernietig en sal ’n groot verlossing vir die regskapenes en onberispelikes bring (Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44). ‘Al Jehovah se vyande sal dan vergaan, en dié wat hom liefhet, sal wees soos wanneer die son in sy mag opgaan’ (Rigters 5:31). Mag ons onder diegene wees wat Jehovah liefhet deur toe te pas wat ons in die boek Rigters geleer het.

Die fundamentele waarheid wat keer op keer in die verslae van die rigters na vore kom, is dit: Gehoorsaamheid aan Jehovah lei tot ryk seëninge; ongehoorsaamheid het rampspoedige gevolge (Deuteronomium 11:26-28). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons “uit die hart gehoorsaam” word aan die geopenbaarde wil van God!—Romeine 6:17; 1 Johannes 2:17.

[Voetnoot]

a Die Leviete is nie ’n erfdeel in die Beloofde Land gegee nie, buiten 48 stede wat deur die hele Israel versprei is.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

“Jehovah [het] rigters verwek, en dié het hulle uit die hand van hulle plunderaars gered.”—Rigters 2:16

RIGTERS

1. Othniel (Stam van Manasse)

2. Ehud (Stam van Juda)

3. Shamgar (Stam van Juda)

4. Barak (Stam van Naftali)

5. Gideon (Stam van Issaskar)

6. Tola (Stam van Manasse)

7. Jair (Stam van Manasse)

8. Jephthah (Stam van Gad)

9. Ibzan (Stam van Aser)

10. Elon (Stam van Sebulon)

11. Abdon (Stam van Efraim)

12. Samson (Stam van Juda)

DAN

MANASSE

NAFTALI

ASER

SEBULON

ISSASKAR

MANASSE

GAD

EFRAIM

DAN

BENJAMIN

RUBEN

JUDA

[Prent op bladsy 26]

Watter les het jy geleer uit die feit dat Barak daarop aangedring het dat Debora saam met hom na die slagveld gaan?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel