Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • gt hfst. 44
  • Jesus maak ’n skrikwekkende storm stil

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus maak ’n skrikwekkende storm stil
  • Die grootste mens wat nog geleef het
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus stil ’n skrikwekkende storm
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Jesus laat ’n storm op die see bedaar
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Jesus kan ons beskerm
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Jesus loop op water
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Die grootste mens wat nog geleef het
gt hfst. 44

Hoofstuk 44

Jesus maak ’n skrikwekkende storm stil

JESUS het ’n besige dag gehad. Hy het onder meer die skare op die strand onderrig en daarna die illustrasies net aan sy dissipels verduidelik. Toe dit aand word, sê hy: “Laat ons oorvaar na die ander kant.”

Aan die oostelike oewer van die See van Galilea lê die gebied wat die Dekapolis genoem word. Die naam is afgelei van die Grieks deʹka, wat “tien” beteken, en poʹlis, wat “stad” beteken. Die stede van die Dekapolis is ’n sentrum van die Griekse kultuur, hoewel baie Jode ongetwyfeld ook daar woon. Jesus se bedrywigheid in die gebied is egter baie beperk. Soos ons later sal sien, kan hy selfs op hierdie besoek nie lank bly nie.

Wanneer Jesus vra dat hulle na die oorkant moet vaar, neem die dissipels hom in die skuit. Maar hulle vertrek bly nie geheim nie. Ander volg hulle kort daarna in hulle skuite. Die oorkantste oewer is nie baie ver nie. Die See van Galilea is in werklikheid net ’n groot meer wat ongeveer 21 kilometer lank en hoogstens 12 kilometer breed is.

Jesus is begryplikerwys moeg. Kort nadat hulle vertrek het, gaan lê hy dus agter in die skuit met sy kop op ’n kussing en raak aan die slaap. ’n Paar van die apostels is ervare seemanne wat al baie op die See van Galilea visgevang het. Hulle stuur dus die skuit.

Maar dit gaan nie ’n maklike oorvaart wees nie. As gevolg van die hoër temperatuur op die oppervlak van die meer, wat ongeveer 210 meter onder die seevlak is, en die kouer lug in die nabygeleë berge, steek sterk winde soms op en veroorsaak dit skielike, hewige windstorms op die meer. Dit gebeur nou. Die golwe slaan weldra teen die skuit sodat dit vol water word. Maar Jesus slaap nog altyd!

Die ervare seemanne spook om die skuit te stuur. Hulle het ongetwyfeld al voorheen storms deurgemaak. Maar hierdie keer is hulle raad-op. Uit vrees vir hulle lewe maak hulle Jesus wakker. ‘Meester, gee u dan nie om nie? Ons sink!’ roep hulle uit. ‘Red ons, ons gaan verdrink!’

Jesus staan op en bestraf die wind en die see: “Swyg, wees stil!” en die stormwind gaan lê en die see word kalm. Toe vra hy sy dissipels: ‘Waarom is julle so bang? Het julle dan nog geen geloof nie?’

’n Ongewone vrees oorval die dissipels. ‘Wie is hierdie man tog?’ vra hulle mekaar, ‘selfs die wind en die see gehoorsaam hom.’

Watter mag openbaar Jesus tog! Hoe gerusstellend is dit om te weet dat ons Koning mag het oor die natuurelemente en dat alle mense teen skrikwekkende natuurrampe gevrywaar sal wees wanneer hy gedurende sy Koninkryksheerskappy sy volle aandag aan ons aarde skenk!

Nadat die storm bedaar het, kom Jesus en sy dissipels veilig op die oostelike oewer aan. Die ander skuite het moontlik die ergste deel van die storm vrygespring en veilig teruggekeer. Markus 4:35–5:1; Mattheüs 8:18, 23-27; Lukas 8:22-26.

▪ Wat is die Dekapolis, en waar is dit geleë?

▪ Watter terreingesteldheid veroorsaak hewige storms op die See van Galilea?

▪ Wat doen die dissipels toe hulle seemansvernuf hulle nie kan red nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel