Jesus se lewe en bediening
Jesus stil ’n skrikwekkende storm
JESUS het ’n besige dag gehad. Hy het onder meer die skare op die strand onderrig en die illustrasies daarna afsonderlik aan sy dissipels verduidelik. Toe dit aand word, sê hy: “Laat ons oorvaar na die anderkant.”
Aan die oostelike oewer van die See van Galilea lê die gebied bekend as die Dekápolis. Die naam is afgelei van die Grieks deʹka, wat “tien” beteken, en poʹlis, wat “stad” beteken. Die stede van die Dekápolis is ’n sentrum van die Griekse kultuur hoewel baie Jode ongetwyfeld ook daarin woon. Jesus se bedrywigheid in dié gebied is egter baie beperk. Soos ons later sal sien, word hy selfs op hierdie besoek verhinder om lank te vertoef.
Wanneer Jesus vra dat hulle na die oorkant moet vaar, neem die dissipels hom in die skuit. Maar hulle vertrek nie onbemerk nie. Ander volg hulle weldra in hulle skuite. Die oorkantste oewer is nie baie ver nie, Die See van Galilea is in werklikheid net ’n groot meer wat ongeveer 21 kilometer lank en hoogstens 12 kilometer breed is.
Jesus is begryplikerwys moeg. Kort nadat hulle vertrek het, gaan lê hy dus agter in die skuit met sy kop op ’n kussing en raak hy aan die slaap. ’n Paar van die apostels is ervare matrose wat al baie op die See van Galilea visgevang het. Hulle stuur dus die skuit.
Maar dit gaan nie ’n maklike oorvaart wees nie. As gevolg van die hoër temperatuur op die oppervlak van die meer, wat ongeveer 210 meter onder seevlak is, en die kouer lug in die nabygeleë berge, steek sterk winde soms op en veroorsaak skielike, hewige windstorms op die meer. Dit gebeur nou. Die golwe slaan weldra in die skuit sodat dit vol water word. Maar Jesus slaap steeds!
Die ervare matrose spook om die skuit te stuur. Hulle het ongetwyfeld al voorheen storms deurgemaak. Maar hierdie keer is hulle raad-op. Uit vrees vir hulle lewe maak hulle Jesus wakker. ‘Meester, gee u dan nie om nie? Ons sink!’ roep hulle uit. ‘Red ons, ons gaan verdrink!’
Jesus staan op en bestraf die wind en die see: ‘Swyg, wees still’ En die stormwind gaan lê en die see word kalm. Toe vra hy sy dissipels: ‘Waarom is julle so bang? Het julle dan geen geloof nie?’
’n Ongewone vrees oorval die dissipels. ‘Wie is hierdie man tog?’ vra hulle mekaar. ‘Selfs die wind en die see gehoorsaam hom.’
Watter mag openbaar Jesus tog! Hoe gerusstellend is dit om te weet dat ons Koning mag het oor die natuurelemente en dat almal teen skrikwekkende natuurrampe gevrywaar sal wees wanneer hy gedurende sy Koninkryksheerskappy sy volle aandag aan ons aarde skenk!
Nadat die storm bedaar het, kom Jesus en sy dissipels veilig op die oostelike oewer aan. Die ander skuite is moontlik die intensiteit van die storm bespaar en het veilig teruggekeer. Markus 4:35–5:2; Mattheüs 8:18, 23-28; Lukas 8:22-27.
◆ Wat is die Dekápolis, en waar is dit geleë?
◆ Watter terreingesteldhede veroorsaak hewige storms op die See van Galilea?
◆ Wat doen die dissipels wanneer hulle seemansvernuf hulle nie kan red nie?
[Volbladillustrasie op bladsy 8]