Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dg deel 3 bl. 4-9
  • Hoe ons kan vasstel dat daar ’n God is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons kan vasstel dat daar ’n God is
  • Gee God werklik vir ons om?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons ontsagwekkende heelal
  • Die aarde is uniek ontwerp
  • Die verbasende lewende sel
  • Ons ongelooflike brein
  • Die unieke bloedsomloopstelsel
  • Ander wonders
  • Die Opperboumeester
  • Wie kan vir ons sê?
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Ontwerp om vir ewig te lewe
    Ontwaak!—1995
  • Skepping
    Redenering uit die Skrif
  • Is enige lewensvorm werklik eenvoudig?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
Sien nog
Gee God werklik vir ons om?
dg deel 3 bl. 4-9

Deel 3

Hoe ons kan vasstel dat daar ’n God is

1, 2. Watter beginsel help ons om vas te stel of daar ’n God is?

EEN manier waarop ons kan vasstel of daar ’n God is, is deur hierdie goed gevestigde beginsel toe te pas: Alles wat gemaak is, moet ’n maker hê. Hoe ingewikkelder die voorwerp, hoe bekwamer moet die maker wees.

2 Kyk byvoorbeeld in jou huis rond. Tafels, stoele, lessenaars, beddens, potte, panne, borde en eetgerei moes alles deur iemand gemaak word, en so ook mure, vloere en plafonne. Tog is hierdie dinge betreklik maklik om te maak. Aangesien eenvoudige dinge deur iemand gemaak moet word, is dit tog logies dat ingewikkelder dinge ook deur iemand gemaak moet word; iemand wat baie intelligenter is.

Ons ontsagwekkende heelal

3, 4. Hoe help die heelal ons om te weet dat God bestaan?

3 ’n Horlosie moet ’n horlosiemaker hê. Wat dan van ons oneindig ingewikkelder sonnestelsel met die Son en sy planete wat eeu ná eeu met sulke besondere presisie om hom wentel? Wat van die ontsagwekkende sterrestelsel waarin ons leef, die Melkweg, wat uit meer as 100 miljard sterre bestaan? Het jy al ooit in die nag na die Melkweg gestaan en kyk? Het dit jou beïndruk? Dink dan aan die onmeetlike heelal wat ontelbare miljarde sterrestelsels soos ons Melkweg bevat! Die hemelliggame se bewegings is ook eeu ná eeu so betroubaar dat hulle al met presisiehorlosies vergelyk is.

4 As ’n horlosie, wat relatief eenvoudig is, aandui dat ’n horlosiemaker bestaan, moet die baie ingewikkelder en ontsagwekkender heelal aandui dat ’n ontwerper en maker bestaan. Dit is waarom die Bybel ons nooi om ‘ons oë in die hoogte op te slaan en te kyk’, en dan vra dit: “Wie het hierdie dinge geskape?” Die antwoord: “Hy [God] laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie” (Jesaja 40:26). Die heelal het derhalwe sy bestaan te danke aan ’n onsigbare, intelligente mag wat alles beheer—God.

Die aarde is uniek ontwerp

5-7. Watter feite aangaande die aarde toon dat dit ’n Ontwerper gehad het?

5 Hoe meer wetenskaplikes die aarde bestudeer, hoe meer besef hulle dat dit uniek ontwerp is om deur die mens bewoon te word. Dit is net die regte afstand van die son af om die korrekte hoeveelheid lig en hitte te ontvang. Een keer per jaar wentel dit om die son, teen net die regte helling, om seisoensveranderinge in baie dele van die aarde moontlik te maak. Die aarde draai ook elke 24 uur om sy eie as, wat gereelde periodes van lig en duisternis voorsien. Dit het ’n atmosfeer wat uit net die regte mengsel gasse bestaan sodat ons kan asemhaal en sodat ons teen skadelike straling uit die ruimte beskerm kan word. Dit het ook water en grond wat onontbeerlik is om voedsel te kweek.

6 Lewe sou onmoontlik gewees het as al daardie en ander faktore nie saamgewerk het nie. Het dit alles per toeval gebeur? Science News sê: “Dit lyk asof sulke buitengewone en presiese toestande nouliks toevallig kon ontstaan het.” Nee, hulle kon nie. ’n Voortreflike Ontwerper het hulle met ’n doel ontwerp.

7 Tot watter slotsom sou jy kom as jy in ’n pragtige huis ingaan en vind dat die spens vol kos is, dat dit ’n uitstekende verhitting- en lugversorgingstelsel het en dat dit ’n goeie pypstelsel het om water te voorsien? Dat dit alles vanself tot stand gekom het? Nee, jy sou sekerlik tot die slotsom kom dat ’n intelligente persoon die huis ontwerp en met groot sorg gebou het. Die aarde is ook ontwerp en met groot sorg gemaak sodat dit in sy bewoners se behoeftes kan voorsien, en dit is baie ingewikkelder en baie beter toegerus as enige huis.

8. Watter ander dinge is daar aangaande die aarde wat God se liefdevolle sorgsaamheid vir ons toon?

8 Dink ook aan al die baie dinge wat die lewe verryk. Kyk na die groot verskeidenheid blommeprag met al hulle kleure en aangename geure wat aan die mens genot verskaf. Dan is daar die groot verskeidenheid voedselsoorte wat so heerlik smaak. Daar is woude, berge, mere en ander skeppingswerke wat ’n lus vir die oog is. En wat van die pragtige sonsondergange wat ons lewe genotvoller maak? En word ons nie in die diereryk vermaak deur die uitgelate en lieftallige kaperjolle van hondjies, katjies en ander jong diertjies nie? Die aarde voorsien dus talle genotvolle verrassings wat nie absoluut noodsaaklik is om die lewe te onderhou nie. Hierdie dinge toon dat die aarde met liefdevolle sorg en met die mens in gedagte ontwerp is sodat ons nie net sou bestaan nie, maar die lewe sou geniet.

9. Wie het die aarde gemaak, en waarom het hy dit gemaak?

9 Die redelike gevolgtrekking is dus dat ’n mens die Gewer van al hierdie dinge moet erken, soos die Bybelskrywer wat van Jehovah God gesê het: “U het die hemel en die aarde gemaak.” Met watter doel? Hy gee die antwoord deur God te beskryf as die een “wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word”.—Jesaja 37:16; 45:18.

Die verbasende lewende sel

10, 11. Waarom is ’n lewende sel so verbasend?

10 Wat van lewende dinge? Moes iemand hulle nie gemaak het nie? Beskou byvoorbeeld die verbasende eienskappe van ’n lewende sel. In sy boek Evolution: A Theory in Crisis sê molekulêre bioloog Michael Denton: “Selfs die eenvoudigste van alle lewende stelsels op aarde vandag, bakteriële selle, is uiters kompleks. Hoewel die kleinste bakteriële selle ongelooflik klein is, . . . is elkeen in werklikheid ’n ware mikrominiatuur-fabriek wat duisende voortreflik ontwerpte stukke ingewikkelde molukulêre masjinerie bevat . . . baie ingewikkelder as enige mensgemaakte masjien en absoluut sonder gelyke in die nie-lewende wêreld.”

11 Hy sê die volgende oor die genetiese kode in elke sel: “Die DNS se vermoë om inligting te bewaar oortref verreweg enige ander bekende stelsel; dit funksioneer so doeltreffend dat al die inligting wat nodig is om ’n organisme so kompleks soos die mens te spesifiseer minder as ’n paar duisendmiljoenstes van ’n gram weeg. . . . In vergelyking met die vindingrykheid en kompleksiteit van die molekulêre masjinerie van die lewe lyk selfs ons gevorderdste [produkte] lomp. Dit laat ons nederig voel.”

12. Wat het ’n wetenskaplike oor die oorsprong van die sel gesê?

12 Denton voeg by: “Die eenvoudigste soort sel wat aan die mens bekend is, is só kompleks dat dit onmoontlik is om te aanvaar dat so iets net skielik deur die een of ander buitengewone, gans onwaarskynlike gebeurtenis saamgeflans is.” Iemand moes dit ontwerp en gemaak het.

Ons ongelooflike brein

13, 14. Waarom is die brein selfs ongeloofliker as ’n lewende sel?

13 Hierdie wetenskaplike sê vervolgens: “Wat kompleksiteit betref, is ’n individuele sel niks in vergelyking met ’n stelsel soos die soogdierbrein nie. Die mensebrein bestaan uit ongeveer tienduisendmiljoen senuselle. Elke senusel stoot tussen ongeveer tienduisend en eenhonderdduisend verbindingsvesels uit waardeur dit met ander senuselle in die brein kontak maak. Die totale hoeveelheid verbindings in die mensebrein is naastenby . . . duisendbiljoen.”

14 Denton sê verder: “Selfs al was net een honderdste van die verbindings in die brein spesifiek georganiseer, sou dit steeds ’n stelsel verteenwoordig het wat baie meer spesifieke verbindings bevat as die hele kommunikasienetwerk op Aarde.” Dan vra hy: “Kon enige toevallige proses ooit sulke stelsels byeengebring het?” Die antwoord moet begryplikerwyse nee wees. Die brein moes ’n sorgsame Ontwerper en Maker gehad het.

15. Watter kommentare maak ander oor die brein?

15 Die mensebrein laat selfs die gevorderdste rekenaars primitief lyk. Wetenskapskrywer Morton Hunt het gesê: “Ons aktiewe geheue bevat etlike miljarde kere meer informasie as ’n groot hedendaagse navorsingsrekenaar.” Neurochirurg dr. Robert J. White het gevolglik tot hierdie slotsom gekom: “Ek het geen keuse nie as om die bestaan van ’n Hoër Intellek te erken wat verantwoordelik is vir die ontwerp en ontwikkeling van die ongelooflike verhouding tussen die brein en die verstand—iets wat die mens se begrip ver te bowe gaan. . . . Ek móét glo dat dit alles ’n intelligente begin gehad het, dat Iemand dit in aansyn geroep het.” Dit moes ook Iemand gewees het wat omgegee het.

Die unieke bloedsomloopstelsel

16-18. (a) In watter opsigte is die bloedsomloopstelsel uniek? (b) Tot watter slotsom moet ons kom?

16 Beskou ook die unieke bloedsomloopstelsel wat voedingstowwe en suurstof vervoer en die liggaam teen infeksie beskerm. Die boek ABC’s of the Human Body sê aangaande die rooi bloedselle, ’n hoofkomponent van hierdie stelsel: “’n Enkele druppel bloed bevat meer as 250 miljoen afsonderlike bloedselle . . . Die liggaam bevat moontlik 25 triljoen van hulle, genoeg om, as hulle langs mekaar uitgelê word, vier tennisbane vol te lê. . . . Nuwe selle vervang oues teen ’n tempo van 3 miljoen selle per sekonde.”

17 Dieselfde bron sê aangaande wit bloedselle, ’n ander unieke deel van die bloedsomloopstelsel: “Hoewel daar slegs een soort rooi sel is, kom wit bloedselle in ’n groot verskeidenheid voor, en elke soort kan die liggaam op ’n ander manier help veg. Een soort vernietig byvoorbeeld dooie selle. Ander soorte produseer teenliggaampies teen virusse, verwyder toksiene uit vreemde stowwe of eet en verteer bakterieë letterlik.”

18 Wat ’n ongelooflike en hoogs georganiseerde stelsel is dit tog! Enigiets wat so goed saamgestel is en sulke deeglike beskerming bied, het tog sekerlik ’n baie intelligente en sorgsame organiseerder—God.

Ander wonders

19. Hoe vergelyk die oog met mensgemaakte instrumente?

19 Daar word baie ander wonders in die menseliggaam aangetref. Een van hulle is die oog, wat so uniek ontwerp is dat geen kamera dit kan naboots nie. Sterrekundige Robert Jastrow het gesê: “Dit lyk of die oog ontwerp is; geen ontwerper van teleskope kon beter gevaar het nie.” En die tydskrif Popular Photography sê: “Die mens se oë sien ’n baie groter spektrum van besonderhede as wat op film vasgelê kan word. Hulle sien in drie dimensies, oor ’n ongelooflik wye gesigsveld, sonder enige visieversteuring, in voortdurende beweging . . . Om die kamera met die mens se oog te vergelyk, is nie ’n regverdige analogie nie. Die mens se oog is eerder soos ’n ongelooflik gevorderde superrekenaar met kunsmatige intelligensie, vermoëns om inligting te verwerk, snelhede en ander werkswyses wat enige mensgemaakte toerusting, of dit nou ’n rekenaar of ’n kamera is, ver oortref.”

20. Wat is sommige van die ander ongelooflike aspekte van die menseliggaam?

20 Dink ook aan die manier waarop al die ingewikkelde liggaamsorgane saamwerk sonder dat ons bewustelik iets doen. Ons neem byvoorbeeld ’n groot verskeidenheid voedselsoorte en vloeistowwe in, tog verteer die liggaam dit en produseer dan energie. Probeer jy ’n bietjie om soveel verskillende dinge in ’n motor se petroltenk te gooi en kyk hoe ver jy daarmee sal kan ry! Dan is daar die wonder van geboorte, waardeur ’n skatlike baba—’n weergawe van sy ouers—in net nege maande voortgebring word. En wat van die vermoë wat ’n kind van net ’n paar jaar het om ’n ingewikkelde taal te leer praat?

21. Wat sê redelike mense wanneer hulle oor die liggaam se wonders nadink?

21 Ja, die talle ongelooflike, ingewikkelde skeppingswerke waaruit die menseliggaam bestaan, vul ons met ontsag. Geen ingenieur kan hierdie dinge naboots nie. Is hulle maar net die eindproduk van blinde toeval? Beslis nie. Wanneer redelike mense oor al die wonderlike aspekte van die menseliggaam nadink, sê hulle eerder soos die psalmis: “Ek sal u [God] prys omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel baie goed weet.”—Psalm 139:14, NW.

Die Opperboumeester

22, 23. (a) Waarom moet ons die bestaan van die Skepper erken? (b) Wat sê die Bybel tereg oor God?

22 Die Bybel sê: “Dit spreek vanself dat elke huis deur iemand gebou word, maar God het alles gebou wat bestaan” (Hebreërs 3:4, The Jerusalem Bible). Aangesien enige huis, hoe eenvoudig dit ook al is, ’n bouer moet hê, moes die baie ingewikkelder heelal sowel as die ontsaglike verskeidenheid lewensvorme op aarde ook ’n bouer gehad het. En aangesien ons die bestaan van mense erken wat dinge soos vliegtuie, televisiestelle en rekenaars ontwerp het, moet ons tog sekerlik die bestaan van die Een erken wat die mens die verstand gegee het om sulke dinge te maak?

23 Die Bybel erken sy bestaan, en noem hom “Die ware God, Jehovah, . . . die Skepper van die hemele en die Grootse Uitspanner daarvan; die Een wat die aarde uitsprei met al sy opbrengs, die Een wat aan die volk daarop asem gee” (Jesaja 42:5, NW). Die Bybel sê tereg: “U is waardig, o [Jehovah], om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openbaring 4:11, vgl. NW.

24. Hoe kan ons vasstel dat daar ’n God is?

24 Ja, ons kan vasstel dat daar ’n God is deur die dinge wat hy gemaak het. “Want [God se] onsigbare hoedanighede word van die skepping van die wêreld af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word deur die dinge wat [God] gemaak het.”—Romeine 1:20, NW.

25, 26. Waarom beteken die feit dat iets misbruik word nie dat dit geen maker gehad het nie?

25 Die feit dat iets wat gemaak is, misbruik word, beteken nie dat dit geen maker gehad het nie. ’n Vliegtuig kan as ’n passasiersvliegtuig vir vreedsame doeleindes gebruik word. Maar as ’n bomwerper kan dit ook gebruik word om verwoesting te saai. Die feit dat dit op ’n dodelike wyse gebruik word, beteken nie dat dit geen maker gehad het nie.

26 Net so beteken die feit dat mense so dikwels sleg word nie dat hulle nie ’n Maker gehad het nie, dat daar geen God is nie. Daarom sê die Bybel tereg: “o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?”—Jesaja 29:16.

27. Waarom kan ons verwag dat God ons vrae oor lyding sal beantwoord?

27 Die Skepper het sy wysheid getoon deur die ongelooflike ingewikkeldheid van alles wat hy gemaak het. Hy het getoon dat hy werklik vir ons omgee deur die manier waarop hy die aarde net reg vir lewe gemaak het, deur die wonderlike wyse waarop hy ons liggame en verstande gemaak het en deur die talle goeie dinge wat hy vir ons genot gemaak het. Hy sal tog sekerlik soortgelyke wysheid en sorgsaamheid toon deur die antwoorde op vrae soos die volgende te voorsien: Waarom het God lyding toegelaat? Wat gaan hy daaromtrent doen?

[Prent op bladsy 5]

Die aarde met sy beskermende atmosfeer is ’n unieke tuiste wat deur ’n sorgsame God vir ons geskep is

[Prent op bladsy 6]

Die aarde is met liefdevolle sorg gemaak sodat ons die lewe ten volle kan geniet

[Prent op bladsy 7]

‘Een brein bevat meer verbindings as die hele kommunikasienetwerk op Aarde.’—Molekulêre bioloog

[Prent op bladsy 8]

“Dit lyk of die oog ontwerp is; geen ontwerper van teleskope kon beter gevaar het nie.”—Sterrekundige

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel