Skepping
Definisie: Die skepping, soos dit in die Bybel verduidelik word, beteken dat die almagtige God die heelal, met inbegrip van ander geespersone en al die basiese lewensvorme op die aarde, ontwerp en in aansyn geroep het.
Is dit in hierdie moderne wetenskaplike wêreld redelik om aan die skepping te glo?
“Die natuurwette van die heelal is so presies dat dit vir ons geen probleem is om ’n ruimteskip te bou en maan toe te stuur en om die tydsberekening van die vlug sekuur tot ’n breukdeel van ’n sekonde te bepaal nie. Iemand moes hierdie wette daargestel het.”—Die woorde van Wernher von Braun, wat baie gehelp het om Amerikaanse ruimtevaarders na die maan te stuur.
Die fisiese heelal: Gestel jy het op ’n presisie-uurwerk afgekom. Sou jy dan die gevolgtrekking maak dat dit gevorm is toe ’n klomp stofdeeltjies toevallig bymekaar gewaai is? Dit is klaarblyklik deur iemand met intelligensie gemaak. Daar is ’n selfs wonderliker “uurwerk”. Die planete in ons sonnestelsel, asook die sterre in die heelal, beweeg met groter presisie as die meeste horlosies wat deur die mens ontwerp en gemaak is. Die melkweg waarin ons sonnestelsel geleë is, sluit meer as 100 miljard sterre in, en sterrekundiges skat dat daar 100 miljard sulke melkweë in die heelal is. As ’n horlosie bewys van intelligente ontwerp is, hoeveel te meer dan nie die oneindig groter en ingewikkelder heelal nie! Die Bybel beskryf die Ontwerper daarvan as “God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het”.—Jes. 42:5; 40:26; Ps. 19:2.
Die planeet Aarde: Sou jy, indien jy tydens ’n reis deur ’n dorre woestyn op ’n pragtige huis afkom wat in alle opsigte goed toegerus is en ’n groot kosvoorraad bevat, glo dat dit deur ’n toevallige ontploffing tot stand gekom het? Nee, jy sal besef dat iemand met baie wysheid dit gebou het. Wel, wetenskaplikes het nog nie lewe op enige van die planete van ons sonnestelsel behalwe die aarde gevind nie; die beskikbare getuienis dui daarop dat die ander dor en leweloos is. Hierdie planeet is, soos die boek The Earth dit stel, “die wonder van die heelal, ’n unieke sfeer” (New York, 1963, Arthur Beiser, bl. 10). Dit is net die regte afstand van die son af vir menselewe, en dit beweeg teen net die regte snelheid om in sy wentelbaan te bly. Die atmosfeer om die aarde is uniek en bestaan uit net die regte verhouding gasse om die lewe te onderhou. Lig van die son af, koolstofdioksied uit die lug, en water en minerale uit vrugbare grond kombineer op wonderlike wyse om voedsel vir die aarde se bewoners voort te bring. Is dit alles die gevolg van ’n onbeheerde ontploffing in die ruimte? Science News erken: “Dit wil voorkom of sulke besondere en eksakte toestande nouliks per toeval kon ontstaan het” (24 en 31 Augustus 1974, bl. 124). Die Bybel se gevolgtrekking is redelik wanneer dit sê: “Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.”—Hebr. 3:4.
Die mensebrein: Hedendaagse rekenaars is die produk van intensiewe navorsing en noukeurige ingenieurswerk. Hulle het nie sommer net “ontstaan” nie. Wat van die mensebrein? Anders as die brein van enige dier, verdriedubbel die brein van ’n baba gedurende die eerste jaar. Die werking daarvan is nog grootliks ’n raaisel vir wetenskaplikes. Mense het die inherente vermoë om ingewikkelde tale te leer, om skoonheid te waardeer, om musiek te komponeer, om die oorsprong en betekenis van die lewe te bepeins. Breinchirurg Robert White het gesê: “Ek het geen keuse nie as om die bestaan van ’n Hoër Intellek te erken wat verantwoordelik is vir die ontwerp en ontwikkeling van die ongelooflike verhouding tussen die brein en die verstand—wat die mens se begrip ver te bowe gaan” (The Reader’s Digest, September 1978, bl. 99). Hierdie wonder ontwikkel uit ’n klein bevrugte selletjie in die baarmoeder. Met merkwaardige insig het die Bybelskrywer Dawid vir Jehovah gesê: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.”—Ps. 139:14.
Die lewende sel: ’n Enkele lewende sel word soms ’n “eenvoudige” lewensvorm genoem. Maar ’n eensellige dier kan kos vang, dit verteer, van die afvalstowwe ontslae raak, vir homself ’n huis bou en voortplant. Elke sel van die menseliggaam is al met ’n ommuurde stad vergelyk, ’n stad met ’n sentrale bestuur om die orde te bewaar, ’n kragsentrale om energie op te wek, fabrieke om proteïene te produseer, ’n ingewikkelde vervoerstelsel, en wagte om te kontroleer wat mag inkom. En ’n enkele menseliggaam bestaan uit tot 100 biljoen selle. Hoe gepas tog die woorde van Psalm 104:24: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak”!
Strook die gedagte dat God evolusie gebruik het om die verskillende lewende dinge voort te bring met die Bybel?
Genesis 1:11, 12 sê dat die gras en bome gemaak is om “volgens hulle soorte” voort te bring. Verse 21, 24, 25 voeg by dat God die seediere, vlieënde skepsele en landdiere “volgens hulle soorte” geskep het. Dit strook glad nie met die leer dat een basiese soort tot ’n ander geëvolueer of daarin verander het nie.
Wat die mens betref, berig Genesis 1:26 dat God gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” Hy sou dus goddelike eienskappe hê, nie karaktertrekke wat bloot uit dié van ’n dier ontwikkel het nie. Genesis 2:7 voeg by: “Die HERE God het die mens geformeer [nie uit ’n bestaande lewensvorm nie, maar] uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.” Daar is geen sinspeling op evolusie hier nie; dit is eerder ’n beskrywing van ’n nuwe skepping.
Het God al die miljoene variëteite organismes geskep wat vandag op die aarde bestaan?
Genesis hoofstuk 1 sê eenvoudig dat God hulle “volgens hulle soorte” geskape het (Gen. 1:12, 21, 24, 25). Ter voorbereiding vir die Sondvloed in Noag se dag het God beveel dat eksemplare van elke “soort” landdier en vlieënde skepsel in die ark ingeneem moet word (Gen. 7:2, 3, 14). Elke “soort” besit die genetiese potensiaal vir groot verskeidenheid. Daar is gevolglik glo meer as 400 honderasse en meer as 250 rasse en tipes perde. Alle variëteite van enige dier wat mekaar kan bevrug, is net een Genesis-‘soort’. Alle variëteite mense—Oosterlinge, Afrikane, Kaukasiërs, die 2,1 meter lange Dinka in die Soedan en die 1,3 meter lange pigmeë—kom eweneens van een oorspronklike paar, Adam en Eva, af.—Gen. 1:27, 28; 3:20.
Wat verklaar die basiese ooreenkomste in die bou van lewende dinge?
“God . . . [het] alles geskape” (Ef. 3:9). Alles het dus dieselfde groot Ontwerper.
“Alle dinge het deur Hom [God se eniggebore Seun, wat Jesus Christus geword het toe hy op aarde was] ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Daar was dus een Meester-werker waardeur Jehovah sy skeppingswerk verrig het.—Spr. 8:22, 30, 31, NW.
Wat is die oorsprong van die grondstowwe waaruit die heelal bestaan?
Wetenskaplikes het geleer dat materie ’n gekonsentreerde vorm van energie is. Dit word toegelig deur die ontploffing van kernwapens. Astrofisikus Josip Kleczek het gesê: “Die meeste en moontlik alle elementêre partikels kan geskep word deur die verstofliking van energie.”—The Universe (Boston, 1976), Dl. 11, bl. 17.
Waar kon sulke energie vandaan kom? Nadat die Bybel gevra het: “Wie het hierdie dinge [die sterre en planete] geskape?”, sê dit aangaande Jehovah God: “Vanweë die grootheid van kragte [“dinamiese energie”, NW] en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie” (Jes. 40:26). God self is dus die Bron van al die “dinamiese energie” wat nodig was om die heelal te skep.
Is alle fisiese dinge êrens gedurende die afgelope 6 000 tot 10 000 jaar in net ses dae geskape?
Die feite strook nie met so ’n gevolgtrekking nie: (1) Lig vanaf die Andromeda-newel kan op ’n helder aand in die noordelike halfrond gesien word. Dit duur sowat 2 000 000 jaar vir daardie lig om die aarde te bereik, ’n feit wat daarop dui dat die heelal ten minste miljoene jare oud moet wees. (2) Die eindprodukte van radio-aktiewe verval in rotse in die aarde getuig dat sommige rotsformasies al duisendmiljoene jare lank ongesteurd lê.
Genesis 1:3-31 bespreek nie die oorspronklike skepping van materie of van die hemelliggame nie. Dit beskryf die voorbereiding van ’n aarde wat reeds bestaan het vir bewoning deur mense. Dit het die skepping van die basiese soorte plante, seediere, vlieënde skepsele, landdiere en die eerste mensepaar ingesluit. Dit het volgens die verslag oor ’n tydperk van ses “dae” plaasgevind. Maar die Hebreeuse woord wat met “dag” vertaal word, het ’n verskeidenheid betekenisse, onder meer ‘’n lang tyd; die tydsduur van ’n buitengewone gebeurtenis’ (Old Testament Word Studies, Grand Rapids, Mich.; 1978, W. Wilson, bl. 109). Die woord wat gebruik word, sluit nie die moontlikheid uit dat elke “dag” duisende jare lank kon wees nie.