Hoofstuk 5
Die Here se wederkoms word verkondig (1870-1914)
“Die volgende geskiedverslag word nie gegee bloot omdat ek aangemoedig is om ’n oorsig te gee van God se leiding in die weg van die lig nie, maar veral omdat ek glo dat dit nodig is om die waarheid op ’n beskeie manier oor te dra, om misvattings en skadelike wanvoorstellings uit die weg te ruim en om ons lesers te help om te sien hoe die Here ons tot nou toe gehelp en gelei het.”a
MET hierdie woorde het Charles Taze Russell begin om ’n verduideliking te gee van gebeure wat daartoe gelei het dat hy Millennial Dawn (wat later Studies in the Scriptures genoem is) en Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence (nou bekend as Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan) begin uitgee het. Hierdie geskiedenis is van besondere belang vir Jehovah se Getuies. Waarom? Omdat hulle huidige begrip van Bybelwaarhede en hulle bedrywighede teruggevoer kan word tot die 1870’s en die werk van C. T. Russell en sy metgeselle, en daarvandaan tot by die Bybel en die vroeë Christelike godsdiens.
Wie was Charles Taze Russell? Lewer die geskiedenis van sy werk bewys van die Here se hulp en leiding?
’n Soeke na die waarheid
C. T. Russell is op 16 Februarie 1852 in die Verenigde State, in Allegheny (nou deel van Pittsburgh), Pennsilvanië, gebore. Hy was die tweede seun van Joseph L. en Ann Eliza (Birney) Russell, wat Presbiteriane van Skots-Ierse afkoms was. Charles se ma het gesterf toe hy net nege jaar oud was, maar Charles is van kleins af deur albei sy godsdienstige ouers beïnvloed. Soos ’n latere metgesel van C. T. Russell dit gestel het: “Hulle het die jong boompie gebuig; en hy het na die Here toe gegroei.” Hoewel hy as ’n Presbiteriaan grootgemaak is, het Charles later by die Kongregasionalistiese Kerk aangesluit omdat hy hulle opvattings verkies het.
Jong Charles was blykbaar ’n goeie sakeman. Toe hy net 11 jaar oud was, het hy sy vader se vennoot in ’n florerende mansklerewinkel geword. Charles het die onderneming uitgebrei en het mettertyd self ’n aantal winkels bestuur. Hoewel sy sakebedrywighede voorspoedig was, was hy baie bekommerd oor sy geestelike lewe. Waarom?
Charles se ouers het opreg in die geloofsbelydenisse van die Christendom se kerke geglo en het hom só grootgemaak dat hy dit ook sou aanneem. Jong Charles is dus geleer dat God liefde is, maar dat hy die mens inherent onsterflik gemaak het en ’n brandende plek geskep het waarin hy almal, behalwe dié wat gepredestineer is om gered te word, vir ewig sal pynig. So ’n gedagte was afstootlik vir die tienderjarige Charles wat opreg van hart was. Hy het geredeneer: “’n God wat sy krag gebruik om mense te skep wat hy vooruit weet vir ewig gepynig gaan word en tot daardie lot bestem, kan nie wys, regverdig of liefdevol wees nie. Sy standaard sal laer wees as dié van baie mense.”
Maar jong Russell was nie ’n ateïs nie; hy kon hom net nie met die algemeen aanvaarde leerstellings van die kerke vereenselwig nie. Hy het verduidelik: “Ek het mettertyd begin besef dat die geloofsbelydenisse as ’n geheel misleidend is en God se Woord weerspreek, hoewel daar ’n paar elemente van waarheid in elkeen is.” “Elemente van waarheid” is beslis in die geloofsbelydenisse van die kerke verberg onder ’n moeras van heidense leerstellings wat gedurende die eeue lange afvalligheid in die besmette Christelike godsdiens ingesypel het. Broer Russell het kerkgeloofsbelydenisse die rug toegekeer en in sy soeke na die waarheid ’n paar vername Oosterse godsdienste ondersoek, maar hulle nie bevredigend gevind nie.
Sy geloof word herstel
Maar die boompie is deur godvresende ouers gebuig; hy het “na die Here toe” geneig. Terwyl hy nog na die waarheid gesoek het, het iets een aand in 1869 gebeur wat Charles se wankelende geloof herstel het. Hy was naby die Russells se winkel in Federalstraat toe hy godsdiensliedere vanuit ’n keldersaal gehoor het. Dit is wat volgens hom plaasgevind het:
“Ek het een aand toevallig na ’n stowwerige, verwaarloosde saal gegaan, omdat ek gehoor het dat daar kerkdienste gehou word en wou sien of die handjievol mense wat daar vergader het my enigiets kon bied wat meer sin het as die geloofsbelydenisse van die groot kerke. Daar het ek vir die eerste keer iets gehoor omtrent die beskouings van die Second Adventists [Advent Christian Church], met mnr. Jonas Wendell as prediker . . . Daarom erken ek dat ek Adventiste sowel as ander denominasies dank verskuldig is. Hoewel sy uiteensetting van die Skrif nie heeltemal duidelik was nie, . . . was dit deur God se leiding voldoende om my wankelende geloof in die Goddelike inspirasie van die Bybel te herstel en om te toon dat die verslae van die apostels en profete onlosmaaklik met mekaar verbind is. Wat ek gehoor het, het my my Bybel met groter ywer en sorg as ooit tevore laat bestudeer, en ek sal die Here altyd vir daardie leiding dank; want hoewel Adventisme my nie na een spesifieke waarheid gelei het nie, het dit my baie gehelp om van dwaalbegrippe ontslae te raak en my sodoende op die Waarheid voorberei.”
Daardie vergadering het jong Russell weer versterk in sy voorneme om na skriftuurlike waarheid te soek. Hy het die Bybel met groter ywer as ooit tevore gaan bestudeer. Broer Russell het gou begin glo dat die tyd naby is dat diegene wat die Here dien tot ’n suiwer kennis van Sy voorneme moet kom. In 1870 het hy en ’n paar vriende in Pittsburgh en nabygeleë Allegheny dus met geesdrif bymekaargekom en ’n klas vir Bybelstudie gestig. Volgens ’n latere metgesel van broer Russell is die klein Bybelklas soos volg gehou: “Iemand het gewoonlik ’n vraag geopper. Hulle het dit dan bespreek. Hulle het alle tekste nageslaan wat met die gedagte verband hou, en dan, wanneer hulle tevrede was dat hierdie tekste in harmonie met mekaar is, het hulle ten slotte gesê wat hulle gevolgtrekking is en ’n aantekening daarvan gemaak.” Soos broer Russell later erken het, was die tydperk “vanaf 1870 tot 1875 ’n tyd van voortdurende groei in genade en kennis en liefde vir God en sy Woord”.
In hulle ondersoek van die Skrif het ’n paar dinge mettertyd vir hierdie opregte waarheidsoekers duideliker geword. Hulle het die skriftuurlike waarhede aangaande die sterflikheid van die mensesiel ingesien en besef dat onsterflikheid ’n gawe is wat verkry word deur diegene wat mede-erfgename van Christus in sy hemelse Koninkryk word (Eseg. 18:20; Rom. 2:6, 7). Hulle het die leerstelling oor die losprysoffer van Jesus Christus en die vooruitsig wat hierdie voorsiening vir die mensdom geskep het, begin verstaan (Matt. 20:28). Hulle het begin besef dat Jesus met sy wederkoms onsigbaar teenwoordig sou wees as ’n geespersoon, hoewel hy die eerste keer as ’n mens in die vlees aarde toe gekom het (Joh. 14:19). Hulle het ook geleer dat Jesus nie sou terugkeer om almal te vernietig nie, maar om die gehoorsame geslagte op die aarde te seën (Gal. 3:8). Broer Russell het geskryf: “Ons was diep bedroef oor die dwaalleer van die Second Adventists, wat Christus in die vlees verwag en leer dat die wêreld en almal daarin, behalwe die Second Adventists, verbrand sal word.”
Die skriftuurlike waarhede wat vir hierdie klein Bybelklas duidelik geword het, was beslis ’n afwyking van die heidense leerstellings wat gedurende die eeue lange afvalligheid in die Christelike godsdiens ingesypel het. Maar het broer Russell en sy geestelik gesinde metgeselle sonder die hulp van ander hierdie waarhede in die Bybel geleer?
Invloed van ander
Broer Russell het heel openlik verwys na die hulp wat hy in sy Bybelstudie van ander ontvang het. Hy het nie net erken dat hy aan Second Adventist Jonas Wendell dank verskuldig is nie, maar ook met geneentheid gepraat van twee ander mense wat hom in sy Bybelstudie gehelp het. Broer Russell het van hierdie twee mans gesê: “Die bestudering van God se Woord saam met hierdie dierbare broeders het my stap vir stap na groener weivelde gelei.” Die een, George W. Stetson, was ’n ernstige student van die Bybel en ’n pastoor van die Advent Christian Church in Edinboro, Pennsilvanië.
Die ander een, George Storrs, was die uitgewer van die tydskrif Bible Examiner in Brooklyn, New York. Broer Storrs, wat op 13 Desember 1796 gebore is, is aanvanklik aangemoedig om te ondersoek wat die Bybel sê oor die toestand van die dooies nadat hy iets gelees het wat deur ’n nougesette student van die Bybel, Henry Grew, van Philadelphia, Pennsilvanië, uitgegee is (hoewel dit destyds anoniem uitgegee is). Broer Storrs het ’n ywerige voorstander geword van wat voorwaardelike onsterflikheid genoem is—die leerstelling dat die siel sterflik is en dat onsterflikheid ’n gawe is wat deur getroue Christene verkry moet word. Hy het ook geredeneer dat daar geen ewige pyniging is nie, aangesien die goddeloses nie onsterflikheid besit nie. Broer Storrs het talle reise onderneem en lesings gehou oor die feit dat die goddeloses nie onsterflikheid het nie. Een van sy werke wat gepubliseer is, was die Six Sermons, waarvan 200 000 eksemplare uiteindelik versprei is. Broer Storrs se sterk Bybelse beskouings oor die sterflikheid van die siel, asook die versoening en herstelling (die herstelling van wat verloor is weens Adamitiese sonde; Handelinge 3:21, NW), het ’n groot, positiewe invloed op jong Charles T. Russell gehad.
Maar iemand anders wat ’n groot invloed op broer Russell se lewe gehad het, het veroorsaak dat sy lojaliteit teenoor skriftuurlike waarheid beproef word.
Tydprofesieë en die teenwoordigheid van die Here
Een oggend in Januarie 1876 het die 23-jarige Russell ’n eksemplaar van ’n godsdienstydskrif, Herald of the Morning, ontvang. Uit die prent op die voorblad kon hy sien dat dit met Adventisme verband hou. Die redakteur, Nelson H. Barbour, van Rochester, New York, het geglo dat Christus se wederkoms nie sou plaasvind om die geslagte van die aarde te vernietig nie, maar om hulle te seën en dat hy nie in die vlees nie, maar as ’n gees sou terugkeer. Dit het gestrook met wat broer Russell en sy metgeselle in Allegheny al ’n ruk lank geglo het!b Vreemd genoeg het mnr. Barbour uit Bybelse tydprofesieë geglo dat Christus reeds (onsigbaar) teenwoordig was en dat dit reeds tyd was vir die insameling van “die koring” (ware Christene wat die Koninkryksklas uitmaak).—Matt., hfst. 13.
Broer Russell het voorheen weggeskram van Bybelse tydprofesieë. Maar nou het hy gewonder: “Kan dit wees dat die tydprofesieë wat ek al so lank verag weens die Adventiste se misbruik daarvan, in werklikheid gegee is om te toon wanneer die Here onsigbaar teenwoordig sal wees om sy Koninkryk op te rig?” Met sy onlesbare dors na skriftuurlike waarheid móés broer Russell eenvoudig meer leer. Hy het dus gereël om mnr. Barbour in Philadelphia te ontmoet. Hierdie ontmoeting het bevestig dat hulle dit eens was oor etlike Bybelleerstellings en het hulle die geleentheid gebied om hulle beskouings met mekaar te bespreek. “Toe ons mekaar die eerste keer ontmoet het”, het broer Russell later gesê, “het hy baie by my geleer oor die omvang van die herstelling op grond van die toereikendheid van die losprys wat vir almal gegee is, en ek het baie by hom geleer oor tyd.” Mnr. Barbour het daarin geslaag om broer Russell te oortuig dat Christus se onsigbare teenwoordigheid in 1874 begin het.c
“Vasbeslote om ’n ywerige kampanje vir die Waarheid te voer”
C. T. Russell was ’n man met ’n positiewe oortuiging. Omdat hy daarvan oortuig was dat Christus se onsigbare teenwoordigheid begin het, was hy vasbeslote om dit aan ander te verkondig. Hy het later gesê: “Kennis van die feit dat ons reeds in die oestydperk was, het my aangemoedig om die Waarheid te versprei soos nog nooit tevore nie. Daarom was ek onmiddellik vasbeslote om ’n ywerige kampanje vir die Waarheid te voer.” Broer Russell het nou besluit om sy sakebelange te beperk sodat hy hom aan die predikingswerk kon wy.
Om verkeerde beskouings oor die Here se wederkoms die nek in te slaan, het broer Russell die pamflet The Object and Manner of Our Lord’s Return geskryf. Dit is in 1877 uitgegee. In daardie selfde jaar het mnr. Barbour en broer Russell saam Three Worlds, and the Harvest of This World uitgegee. Hierdie boek met 196 bladsye het die herstelling en Bybelse tydprofesieë bespreek. Hoewel albei onderwerpe al voorheen deur ander bespreek is, was hierdie boek na broer Russell se mening “die eerste een wat die gedagte van herstelling met tydprofesieë verbind het”. Dit het die beskouing uiteengesit dat Jesus Christus se onsigbare teenwoordigheid in die herfs van 1874 begin het.
Terwyl broer Russell rondgereis en gepreek het, het dit vir hom duidelik geword dat nog iets nodig was om die saad van waarheid wat hy gesaai het lewend te hou en nat te maak. Die antwoord? “’n Maandelikse tydskrif”, het broer Russell gesê. Hy en mnr. Barbour het dus besluit om die Herald, waarvan die publikasie weens gekanselleerde intekeninge en ’n tekort aan geld gestaak is, weer uit te gee. Broer Russell het uit sy eie sak bygedra om die tydskrif weer te begin uitgee en het ’n mederedakteur daarvan geword.
Dit het ’n rukkie lank goed gegaan—ten minste tot 1878 toe.
Broer Russell verbreek alle bande met mnr. Barbour
In die Herald of the Morning vir Augustus 1878 het ’n artikel deur mnr. Barbour verskyn wat die plaasvervangende lospryswaarde van Christus se dood ontken het. Broer Russell, wat byna 30 jaar jonger as mnr. Barbour was, kon sien dat dit in werklikheid ’n verloëning van die noodsaaklike deel van die losprysleerstelling was. Daarom het broer Russell in die volgende nommer (September 1878) die losprys in ’n artikel met die titel “Die Versoening” verdedig en mnr. Barbour se bewerings weerlê. Die polemiek het die volgende paar maande in die tydskrif voortgeduur. Uiteindelik het broer Russell besluit om alle bande met mnr. Barbour te verbreek en die Herald nie meer geldelik te ondersteun nie.
C. T. Russell het egter gemeen dat dit nie genoeg was om hom net aan die Herald te onttrek nie; die losprysleerstelling moes verdedig word en Christus se teenwoordigheid moes verkondig word. Daarom het broer Russell in Julie 1879 die Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence begin uitgee.d Broer Russell was die redakteur en uitgewer, bygestaan deur vyf ander wat oorspronklik as medewerkers van die tydskrif aangegee is. Die oplaag van die eerste uitgawe was 6 000. Teen 1914 was die oplaag vir elke uitgawe 50 000.
“Nie as iets nuuts nie, nie as iets wat aan ons behoort nie, maar as die Here s’n”
C. T. Russell het Die Wagtoring en ander publikasies gebruik om Bybelwaarhede te verdedig en om valse godsdiensleerstellings en mensefilosofieë wat die Bybel weerspreek het te weerlê. Hy het egter nie voorgegee dat hy nuwe waarhede ontdek het nie.
Van die middel van die 18de eeu af het baie geestelikes en Bybelgeleerdes die valse leerstellings oor die onsterflikheid van die siel en die ewige straf vir die goddeloses aan die kaak gestel. ’n Breedvoerige verslag van hierdie exposé het verskyn in die boek Bible Vs. Tradition, deur Aaron Ellis, wat oorspronklik in Engeland en toe in 1853 deur George Storrs in die Verenigde State uitgegee is. Maar niemand het destyds meer as C. T. Russell en sy metgeselle gedoen om hierdie waarheid bekend te maak nie.
Wat van ander Bybelleerstellings wat in Die Wagtoring en ander publikasies bespreek is? Het broer Russell hom al die eer vir die onthulling van hierdie kosbare waarhede toegeëien? Broer Russell het verduidelik: “Ons het gevind dat verskeie sektes en groepe deur die eeue heen die Bybelleerstellings onder hulle verdeel het en dit vermeng het met meer of minder mensebespiegeling en dwaling . . . Ons het gevind dat die belangrike leerstelling oor regverdigmaking deur die geloof en nie deur werke nie duidelik deur Luther en heel onlangs deur talle Christene uiteengesit is; dat Presbiteriane Goddelike geregtigheid en krag en wysheid sorgvuldig bewaar het, hoewel hulle dit nie duidelik verstaan het nie; dat Metodiste God se liefde en medelye gewaardeer en geprys het; dat Adventiste in die kosbare leerstelling oor die Here se wederkoms geglo het; dat Baptiste onder andere die leerstelling oor die doop in simboliese sin reg verstaan het, hoewel hulle die ware doop uit die oog verloor het; dat party Universaliste al lank ’n vae begrip het van sommige gedagtes in verband met die ‘herstelling’. En byna alle denominasies het dus bewys gelewer dat hulle stigters na die waarheid rondgetas het: maar dit is heel duidelik dat die groot Teenstander hulle beveg het en die Woord van God, wat hy nie heeltemal kon vernietig nie, verkeerd verdeel het.”
Aangaande die chronologie wat hy dikwels bespreek het, het broer Russell gesê: “Wanneer ons sê ‘ons’ chronologie bedoel ons bloot die chronologie wat ons gebruik, die Bybelchronologie, wat behoort aan al God se knegte wat dit aanvaar. Trouens, dit is lank voor ons tyd gebruik in wesenlik dieselfde vorm waarin ons dit uiteensit, net soos verskeie profesieë wat ons gebruik deur Adventiste vir ’n ander doel gebruik is, en net soos verskeie leerstellings waarin ons glo en wat so nuut en vars en anders lyk lank gelede in die een of ander vorm bely is: byvoorbeeld—die Uitverkiesing, Vrye Genade, Herstelling, Regverdigmaking, Heiligmaking, Verheerliking, Opstanding.”
Hoe het broer Russell dan die rol verstaan wat hy en sy metgeselle gespeel het om skriftuurlike waarhede te verkondig? Hy het verduidelik: “Dit was ons werk . . . om hierdie fragmente van waarheid wat al so lank verstrooi was, byeen te bring en aan die Here se volk te leer—nie as iets nuuts nie, nie as iets wat aan ons behoort nie, maar as die Here s’n. . . . Geen eer, selfs nie vir die feit dat die kosbare waarhede gevind en byeengebring is, kom ons toe nie.” Hy het verder gesê: “Die werk waarin die Here ons nederige talente met behae gebruik het, was nie soseer ’n werk om geestelike waarhede te skep nie, maar eerder om hulle te rekonstrueer, aan te pas en met mekaar te laat strook.”
Broer Russell was dus heel beskeie oor wat hy gedoen het. Nogtans was die ‘verstrooide fragmente van waarheid’ wat hy byeengebring en aan die Here se volk geleer het vry van godonterende heidense leerstellings, soos die Drie-eenheid en onsterflikheid van die siel, wat as gevolg van die groot afvalligheid in die Christendom se kerke ingewortel geraak het. Soos geen ander van hulle tydgenote nie het broer Russell en sy metgeselle die betekenis van die Here se wederkoms en van die Goddelike voorneme en wat daarby betrokke is oor die hele wêreld verkondig.
‘Bou mekaar op in die allerheiligste geloof’
Mense wat opreg van hart was, het gou gehoor gegee aan die bevrydende waarhede wat C. T. Russell en sy metgeselle deur middel van lektuur en in lesings verkondig het. Broer Russell, wat toe nog nie eers 30 jaar oud was nie, het gou besef dat dit vir die lesers van Die Wagtoring nodig was om medegelowiges te leer ken en mekaar aan te moedig. Die Bybelstudente in Pittsburgh het dit gedoen deur gereeld bymekaar te kom, maar wat kon gedoen word om lesers van Die Wagtoring op ander plekke te help?
Die antwoord het gekom in Die Wagtoring se (Engelse) nommers vir Mei en Junie 1880. Daarin het broer Russell aangekondig dat hy van plan is om ’n paar dorpe en stede in Pennsilvanië, New Jersey, Massachusetts en New York te besoek. Waarom? “Ons lesers”, het die aankondiging verduidelik, “is taamlik verspreid, op sommige plekke 2 en 3, en op ander plekke tot 50. Op talle plekke ken hulle mekaar glad nie, en hulle verloor gevolglik die medelye en vertroosting wat ons Vader wil hê na hulle toe moet kom deur ‘onderlinge byeenkomste soos sommige die gewoonte het’. Hy wil hê dat ons ‘mekaar moet bemoedig’ en mekaar moet opbou in die allerheiligste geloof. Ons hoop dat die beplande vergaderinge daartoe sal bydra dat ons mekaar persoonlik leer ken.”—Hebr. 10:24, 25.
Die “beplande vergaderinge” is gedurende broer Russell se reis gehou, en hulle was baie geslaagd; lesers van Die Wagtoring het nader aan mekaar gekom. Hierdie en ander reise om “klein wagtende groepies” te besoek, het spoedig daartoe gelei dat ’n aantal klasse, of ekklesias (wat later gemeentes genoem is), in die voormelde gebiede, asook in Ohio en Michigan, gestig is. Hierdie klasse is aangemoedig om gereelde vergaderinge te hou. Maar watter soort vergaderinge?
Die Pittsburgh-klas het die gewoonte ingestel om ten minste twee maal per week te vergader. Een vergadering van die Pittsburgh-klas het dikwels ’n lesing tot die hele ekklesia deur ’n bekwame spreker ingesluit, soms in ’n gehuurde saal. Maar by die ander vergaderinge, wat gewoonlik in privaat wonings gehou is, is die aanwesiges uitgenooi om ’n Bybel, konkordansie, papier en potlood saam te bring—en om aan die vergadering deel te neem.
Die hartlike geestelike kameraadskap by daardie gereelde, weeklikse vergaderinge was verkwikkend anders as die koue, onpersoonlike atmosfeer van die dienste in talle van die Christendom se kerke. Maar die idee van gereelde vergaderinge het nie by broer Russell en sy metgeselle ontstaan nie. Daardie gewoonte om bymekaar te kom, selfs in privaat wonings, is deur die eerste-eeuse Christene ingestel.—Rom. 16:3, 5; Kol. 4:15.
“Preek jy?”
C. T. Russell en sy metgeselle het vas geglo dat hulle in ’n oestyd lewe en dat mense die bevrydende waarheid moet hoor. Maar hulle was min. Die Wagtoring het in ’n belangrike behoefte voorsien, maar kon méér gedoen word? Broer Russell en sy metgeselle het so gedink. Gedurende 1880 het hulle begin om Bible Students’ Tracts (wat later ook Old Theology Quarterly genoem is) te druk, en dit is aan lesers van Die Wagtoring verskaf vir gratis verspreiding onder die publiek.
Ja, lesers van Die Wagtoring is aangemoedig om die kosbare waarhede wat hulle geleer het aan ander te vertel. “Preek jy?” was die vraag wat geopper is in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) se gekombineerde nommer vir Julie en Augustus 1881. Hoe belangrik was dit vir hulle om te preek? Die artikel het verder gesê: “Ons glo dat niemand behalwe predikers lede van die klein kuddetjie sal wees nie. . . . Ja, ons is geroep om saam met hom te ly en om daardie goeie nuus nou te verkondig sodat ons op die regte tyd verheerlik kan word en die dinge kan uitvoer wat nou verkondig word. Ons is nie geroep of gesalf om eer te ontvang en rykdom op te gaar nie, maar om al ons tyd en energie te gee en om die goeie nuus te verkondig.”
Dit is gepas dat dit vir daardie vroeë Bybelstudente ’n dringende saak was om die goeie nuus te verkondig. Trouens, die eerste-eeuse Christene het die opdrag gekry om te preek; dit is ’n verantwoordelikheid wat tot vandag toe op alle ware Christene rus (Matt. 24:14; 28:19; Hand. 1:8). Maar wat was die doel van die predikingswerk wat deur broer Russell en die vroeë lesers van Die Wagtoring gedoen is? Was dit bloot om die Bybellektuur te versprei of om kerkgangers van skriftuurlike waarhede bewus te maak?
‘Jy moet uit haar uitgaan’
“Gaan uit haar uit, my volk”, het die Bybel lank gelede gewaarsku. Uit wat uit? “Babilon [die Grote, NW] die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openb. 17:5; 18:4). Waarom moet ons uit Babilon uitgaan? “Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openb. 18:5). Wie is hierdie moederhoer van wie mense hulle moet afskei?
Martin Luther en ander leiers van die Hervorming het die Katolieke Kerk en sy pousdom as Babilon die Grote geïdentifiseer. Wat van die Protestantse kerke wat as gevolg van die Hervorming ontstaan het? Feit is dat sommige, benewens hulle verwerping van die pous se primaatskap, nie veel verskil het van Katolisisme in hulle kerkstruktuur nie en dat hulle onskriftuurlike leerstellings, soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en ewige pyniging, behou het. Daarom het sommige predikers mense aangemoedig om hulle nie net van die Katolieke Kerk los te maak nie, maar ook van die vernaamste Protestantse kerkstelsels.
C. T. Russell en sy metgeselle het ook besef dat hierdie skandelike hoer nie net die Katolieke Kerk is nie. Hoewel Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir November 1879 Babilon die Grote met die “Pousdom as ’n STELSEL” geïdentifiseer het, het die artikel derhalwe bygevoeg: “Ons moet verder gaan en ander kerke wat met die Ryke van die aarde verenig is (nie die individuele lidmate nie, maar die kerkstelsels) hierby insluit. Ons moet elke kerk wat beweer dat sy ’n rein maagd en Christus se bruid is, maar in werklikheid met die wêreld (dier) verenig is en daardeur ondersteun word, in die taal van die Skrif as ’n hoerkerk veroordeel.”
Wat is lesers van Die Wagtoring dus aangemoedig om te doen? Broer Russell het geskryf: “As die kerk waarvan jy ’n lidmaat is ’n owerspelige verbintenis met die wêreld het, moet jy, as jy jou klere wit wil hou, uit haar uitgaan.” Broer Russell en sy metgeselle het nie destyds verstaan hoe groot die invloed van Babilon die Grote is nie. Lesers van Die Wagtoring is nietemin aangespoor om hulle af te skei van kerkstelsels wat korrup en wêrelds is.—Joh. 18:36.
“Die waarhede daarin het my hart onmiddellik geraak”
In 1886 is ’n betekenisvolle stap vorentoe geneem in die publisering van Bybelwaarhede met die uitreiking van die eerste deel van ’n beloofde reeks boeke wat Millennial Dawn genoem en deur C. T. Russell geskryf is. Deel I is The Divine Plan of the Ages genoem. Dit het studies bevat oor 16 onderwerpe, soos “Die bestaan van ’n oppermagtige, intelligente Skepper word gestaaf”, “Die Bybel as ’n Goddelike openbaring word in die lig van rede beskou”, “Ons Here se wederkoms—met die herstelling van alle dinge ten doel” en “Die toelating van kwaad en hoe dit met God se plan verband hou”. C. T. Russell het mettertyd vyf ander boeke in die Millennial Dawn-reeks geskryf.e
Broer Russell het nie lank genoeg gelewe om ’n beplande sewende deel van die reeks te skryf nie, maar die wye verspreiding van die ses boeke wat hy wel voltooi het, het ’n gunstige reaksie uitgelok by mense wat opreg van hart was. “Ek het u boek MILLENNIAL DAWN verlede herfs gekry”, het ’n vrou in 1889 geskryf, “en dit was die eerste keer dat ek van so ’n werk gehoor het. Ek het dit op ’n Saterdagaand ontvang, dit onmiddellik begin lees en dit, behalwe wanneer ek nie anders kon nie, nooit weer neergesit totdat ek dit deurgelees het nie. Die waarhede daarin het my hart onmiddellik geraak; ek het my dadelik onttrek aan die Presbiteriaanse Kerk, waar ek al so lank in die duister rondgetas het op soek na die waarheid, maar dit nie gevind het nie.”
In daardie dae het dit ware moed geverg om jou aan jou kerk te onttrek. ’n Voorbeeld hiervan is dié van ’n vrou in Manitoba, Kanada, wat Millennial Dawn in 1897 gekry het. Sy het eers in haar kerk probeer bly en in plaaslike Sondagskole probeer onderrig gee. Toe, in 1903, het sy besluit om haar van die kerk los te maak. Sy het opgestaan en vir almal in die kerk vertel waarom sy dit nodig ag om haar van die kerk af te skei. Die naaste buurman (wat in daardie dae vir mense in klein gemeenskappies baie beteken het) het haar probeer oorreed om terug te gaan kerk toe. Maar sy het vasgestaan, hoewel daar geen Bybelstudentegemeente daar naby was nie. Soos haar seun haar situasie later beskryf het: “Geen studiekneg [ouere man] om die leiding te neem nie. Geen vergaderinge nie. ’n Berouvolle hart. ’n Verslete Bybel. Lang ure van gebed.”
Wat was dit omtrent Millennial Dawn, Die Wagtoring en ander publikasies van die Genootskap wat mense se harte geraak het en hulle beweeg het om so beslissend op te tree? C. T. Russell se benadering tot die verduideliking van Bybelleerstellings was baie anders as dié van talle skrywers van sy dag. Hy het geglo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is en dat die leerstellings daarin met mekaar moet strook. Daarom was hy van mening dat enige deel van die Bybel wat moeilik is om te verstaan deur ’n ander deel van die geïnspireerde Woord opgeklaar en geïnterpreteer moet word. Hy het nie die verduidelikings wat hy gegee het met die getuienis van teoloë van sy dag of met die beskouings van die sogenaamde vroeë kerkvaders probeer staaf nie. Soos hy in Deel I van Millennial Dawn geskryf het: “Ons meen dat dit ’n algemene fout in ons tyd en alle ander tye is dat mense aan sekere leerstellings glo omdat ander op wie hulle vertrou het dit geglo het. . . . Waarheidsoekers moet die modderige waters van tradisie uit hulle kruike gooi en dit by die fonteine van waarheid—God se Woord—vul.”
Namate al hoe meer sulke waarheidsoekers ag geslaan het op wat hulle in publikasies van die Wagtoringgenootskap gelees het, het ’n paar onverwagte veranderings in Allegheny nodig geword.
Hoofkwartier in die Bible House
Die Bybelstudente in Allegheny, wat betrokke was by die publisering van Die Wagtoring, is beskou as diegene met die meeste ervaring om die Here se werk te doen, en al die ekklesias, of gemeentes, het na hulle opgesien as diegene wat die leiding neem. Hulle het eers ’n hoofkantoor te Vyfdelaan 101, Pittsburgh, en later te Federalstraat 44, Allegheny, gehad. Maar in die laat 1880’s het uitbreiding noodsaaklik geword. Broer Russell het dus gereël dat groter fasiliteite gebou word. In 1889 is ’n baksteengebou met vier verdiepings te Archstraat 56-60, Allegheny, voltooi. Dit is gewaardeer teen $34 000 en was bekend as die Bible House. Dit was ongeveer 19 jaar lank die Genootskap se hoofkwartier.
Vanaf 1890 het die klein Bible House-gesin in die behoeftes van ’n paar honderd bedrywige lede van die Wagtoringgenootskap voorsien. Maar met die verloop van die dekade van die 1890’s het al hoe meer mense belangstelling getoon in wat hulle gedoen het. Trouens, die herdenking van Christus se dood is, volgens ’n onvolledige verslag wat in Die Wagtoring gedruk is, op 26 Maart 1899 by 339 afsonderlike vergaderinge gevier, met ’n opkoms van 2 501. Maar wat sou help om die groeiende getal Bybelstudente verenig te hou?
Eenheid onder die groeiende kudde
C. T. Russell het alle lesers van Die Wagtoring aangemoedig om, waar hulle ook al kon, bymekaar te kom om groepe te vorm, hetsy groot of klein, sodat hulle mekaar geestelik kon opbou. Skriftuurlike raad is deur middel van Die Wagtoring gegee. Reisende verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap is ook van die hoofkwartier af gestuur om met die verskillende groepe in aanraking te bly en om hulle geestelik op te bou.
Daar was ook van tyd tot tyd spesiale byeenkomste wat deur Bybelstudente van talle plekke bygewoon is. “Dit is ’n SPESIALE UITNODIGING aan elke leser wat kan kom”, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir Maart 1886 almal aangemoedig. Wat was die geleentheid? Die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal, wat op Sondag, 18 April 1886, in Allegheny gehou sou word. Maar dit was nie al nie: ’n reeks spesiale vergaderinge is vir die aande van die daaropvolgende week gereël. Die Bybelstudente in Allegheny het hulle huise—en hulle harte—gratis oopgestel vir die besoekende byeenkomsgangers. Gedurende die daaropvolgende paar jaar is daar tydens die herdenking van die Here se dood soortgelyke byeenkomste in Allegheny gehou.
In die laat 1890’s is byeenkomste in talle plekke gereël. C. T. Russell het dikwels tydens hierdie geleenthede ’n toespraak gehou. Hoe was dit om na hom te luister?
Ralph Leffler, wat C. T. Russell gehoor praat het, het vertel: “Wanneer hy voor ’n gehoor op die verhoog was, het hy altyd ’n lang swart baadjie en ’n wit knoopdas gedra. Hy het nie hard gepraat nie, en hy het nooit ’n mikrofoon of ’n luidspreker gebruik nie, want dit was toe nog nie uitgevind nie; maar op die een of ander manier kon sy stem altyd in elke hoekie van die ouditorium gehoor word. Hy kon die aandag van ’n groot gehoor nie net ’n uur lank nie maar soms twee of drie uur lank boei. Hy het sy lesing altyd begin met ’n buiginkie vir die gehoor. Terwyl hy gepraat het, het hy nie stilgestaan soos ’n standbeeld nie, maar altyd beweeg en met sy arms beduie en heen en weer of vorentoe en agtertoe getree. Ek het nooit gesien dat hy aantekeninge of ’n manuskrip in sy hande het nie—net die Bybel, wat hy baie dikwels gebruik het. Hy het uit sy hart en op ’n oortuigende wyse gepraat. In daardie dae was die enigste voorwerp op die verhoog gewoonlik ’n tafeltjie met ’n Bybel daarop en ’n beker water en ’n glas waaruit die spreker af en toe ’n slukkie water geneem het.”
Daardie vroeë byeenkomste was tye van hartlike omgang en geestelike verkwikking. Hulle het gehelp om die eenheid van al die Bybelstudente te versterk en om Bybelwaarhede bekend te maak. Namate die dekade van die 1890’s ten einde geloop het, het dit ook vir die Bybelstudente duidelik geword dat baie meer gedoen moes word om Bybelwaarhede te versprei. Maar hulle was steeds ’n betreklik klein groepie. Was daar ’n manier waarop hulle selfs miljoene meer kon bereik as wat hulle reeds bereik het met die metodes wat hulle toe gebruik het? Daar was beslis!
Die weg word gebaan vir “koerantevangelisasie”
Teen die einde van die 19de eeu was die wêreld een groot netwerk van telegraaflyne. Telegrafiese kommunikasie was goedkoop en vinnig; dit het die pers totaal hervorm. Nuus kon vinnig oor lang afstande gestuur en in koerante gedruk word. In die vroeë deel van die 20ste eeu het C. T. Russell en sy metgeselle koerante as ’n doeltreffende middel beskou om groot getalle mense te bereik. Broer Russell het later gesê: “Die koerant het die groot faktor in die daaglikse lewe van die beskaafde wêreld geword.”
Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Desember 1904 het aangekondig dat die preke van C. T. Russell in drie koerante sou verskyn. Die volgende nommer van Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het onder die opskrif “Koerantevangelisasie” berig: “Op hierdie manier is miljoene preke wyd en syd versprei; en ten minste party het ’n goeie uitwerking gehad. As dit die Here se wil is, sal ons bly wees om te sien dat hierdie ‘deur’ oopbly of dat dit selfs wyer oopgaan.” Die deur van “koerantevangelisasie” het wel wyer oopgegaan. Trouens, teen 1913 is daar geskat dat broer Russell se preke 15 000-000 lesers deur middel van 2 000 koerante bereik het!
Maar hoe het broer Russell dit reggekry om ’n weeklikse preek te laat druk selfs wanneer hy op reis was? Hy het elke week ’n preek (wat ongeveer twee kolomme in ’n koerant beslaan het) aan ’n koerantagentskap getelegrafeer. Die agentskap het dit op hulle beurt na koerante in die Verenigde State, Kanada en Europa getelegrafeer.
Broer Russell was oortuig dat die Here die deure om deur middel van koerante te preek wyd oopgemaak het. Gedurende die eerste dekade van die 20ste eeu het die Bybelboodskap wat broer Russell en sy metgeselle verkondig het, oral deur middel van sulke koerantpreke bekend geword. ’n Publikasie wat The Continent genoem is, het eenkeer aangaande broer Russell gesê: “Daar word gesê dat sy geskrifte elke week ’n groter koerantsirkulasie het as dié van enige ander lewende mens; ongetwyfeld ’n groter sirkulasie as die gesamentlike sirkulasie van die geskrifte van al die priesters en predikers in Noord-Amerika.”
Die trek na Brooklyn
Namate die koerantprediking toegeneem het, het die Bybelstudente ’n ander plek gesoek waarvandaan hulle die preke kon versprei. Waarom? Die Bible House in Allegheny het te klein geword. Daar is ook gemeen dat die preke in meer koerante gedruk sou kon word as broer Russell se preke van ’n groter, bekender stad afkomstig was. Maar watter stad? Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Desember 1908 het verduidelik: “Nadat ons Goddelike leiding gesoek het, het ons almal tot die slotsom gekom dat Brooklyn, N.Y., met ’n groot bevolking van die middelklas en bekend as ‘Die stad van kerke’, om hierdie redes ons geskikste sentrum sal wees vir die oeswerk gedurende die oorblywende paar jaar.”
In 1908 is etlike verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap, waaronder sy regsverteenwoordiger Joseph F. Rutherford, derhalwe na New York-stad toe gestuur. Hulle doelwit? Om eiendom te koop wat C. T. Russell tydens ’n vorige reis gevind het. Hulle het die ou “Plymouth Bethel” gekoop, wat te Hicksstraat 13-17, Brooklyn, geleë was. Dit was ’n gebou vir sendelinge van die nabygeleë Plymouth- Kongregasionalistiese Kerk, waar Henry Ward Beecher voorheen as pastoor gedien het. Die Genootskap se verteenwoordigers het ook Beecher se vorige woongebou, ’n bruinsteengebou met vier verdiepings te Columbia Heights 124, ’n paar blokke daarvandaan, gekoop.
Die Hicksstraat-gebou is omgebou en die Brooklyn Tabernacle genoem. Die Genootskap se kantore en ’n ouditorium was daar geleë. Na aansienlike herstelwerk het Beecher se vorige woongebou te Columbia Heights 124 die nuwe woning van die Genootskap se hoofkwartierpersoneel geword. Wat sou dit genoem word? Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1909 het verduidelik: “Ons sal die nuwe woning ‘Bethel’ [wat “Huis van God” beteken] noem.”f
“Koerantevangelisasie”, soos dit genoem is, het toegeneem ná die trek na Brooklyn toe. Maar dit was nie die enigste manier waarop groot menigtes mense bereik is nie.
Die verkondiging van die goeie nuus word uitgebrei
In 1912 het broer Russell en sy metgeselle ’n unieke opvoedkundige onderneming aangepak wat sy tyd ver vooruit was. Trouens, hulle het hierdeur miljoene mense oor die hele wêreld bereik. Dit was die “Fotodrama van die Skepping”—’n gekombineerde rolprent- en skyfievertoning, wat met musiekopnames en toesprake op grammofoonplate gesinchroniseer is. Dit was ongeveer agt uur lank en is in vier dele aangebied. Buiten die gewone “Fotodrama” is die “Eurekadrama”, wat uit óf die opnames van lesings en musiek óf die plate en skyfies bestaan het, ook beskikbaar gestel. Hoewel dit nie die rolprentvertoning ingesluit het nie, is dit met welslae aangebied in gebiede wat nie so dig bevolk was nie.
Stel jou die geskiedenistoneel voor: In Januarie 1914, gedurende die era van stilprente,g het ’n gehoor van 5 000 by The Temple, ’n gebou te Weststraat 63, in New York-stad, vergader. Talle mense moes omdraai. Die geleentheid? Die première in New York van die “Fotodrama van die Skepping”! Voor die gehoor was ’n groot rolprentskerm. Terwyl hulle gekyk—en geluister—het, het iets waarlik verstommends gebeur. C. T. Russell, toe in sy vroeë sestigerjare, het op die skerm verskyn. Sy lippe het begin beweeg, en sy woorde kon gehoor word! Tydens die vertoning is die gehoor—deur woorde, kleurprente en musiek—van die aarde se skepping tot by die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy geneem. Gedurende die aanbieding het hulle ook (deur middel van tydsverloopfotografie) ander dinge gesien wat hulle verstom het—hoe ’n blom oopmaak en ’n kuiken uitbroei. Hulle was waarlik beïndruk!
Teen die einde van 1914 is die “Fotodrama” reeds aan miljoene mense in Noord-Amerika, Europa, Nieu-Seeland en Australië vertoon. Die “Fotodrama” was beslis ’n doeltreffende manier om menigtes in ’n betreklik kort tydjie te bereik.
Wat het intussen in Oktober 1914 gebeur? Broer Russell en sy metgeselle het dekades lank verkondig dat die Heidense Tye in 1914 sou eindig. Hulle het in gespanne afwagting verkeer. C. T. Russell het krities gestaan teenoor diegene, soos William Miller en party groepe van die Second Adventists, wat verskeie datums vir die Here se wederkoms gestel het. Maar hy was sedert sy vroegste verbintenis met Nelson Barbour oortuig dat daar ’n akkurate Bybelse chronologie is en dat dit op 1914 as die einde van die Heidense Tye gedui het.
Toe daardie betekenisvolle jaar nader gekom het, was daar groot verwagtinge onder die Bybelstudente, maar nie alles wat hulle verwag het, is regstreeks in die Skrif gemeld nie. Wat sou gebeur?
[Voetnote]
a Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 15 Julie 1906, bl. 229.
b Mnr. Barbour en broer Russell was nie die eerstes wat die Here se wederkoms as ’n onsigbare teenwoordigheid verduidelik het nie. Sir Isaac Newton (1642-1727) het heelwat vroeër geskryf dat Christus met sy wederkoms en wanneer hy regeer “onsigbaar vir mense” sou wees. In 1856 het Joseph Seiss, ’n Lutheraanse leraar in Philadelphia, Pennsilvanië, geskryf oor ’n wederkoms in twee stadiums—’n onsigbare pa·rou·siʹa, of teenwoordigheid, gevolg deur ’n sigbare manifestasie. Toe, in 1864, het Benjamin Wilson sy Emphatic Diaglott uitgegee met die interlineêre lesing “teenwoordigheid”, nie “koms” nie, vir pa·rou·siʹa, en B. W. Keith, ’n metgesel van mnr. Barbour, het dit onder mnr. Barbour en sy metgeselle se aandag gebring.
c ’n Duideliker begrip van Bybelchronologie is in latere jare gepubliseer. Sien hoofstuk 10: “Toename in juiste kennis van die waarheid.”
d Die uitdrukking “Wagtoring” word nie uitsluitlik in broer Russell se geskrifte of deur Jehovah se Getuies gebruik nie. George Storrs het in die 1850’s ’n boek uitgegee met die titel The Watch Tower: Or, Man in Death; and the Hope for a Future Life. Die naam is ook opgeneem in die titels van verskeie godsdienstydskrifte. Dit spruit voort uit die gedagte dat ons op die uitkyk moet wees vir die vervulling van God se voornemens.—Jes. 21:8, 11, 12; Eseg. 3:17; Hab. 2:1.
e Hulle was: Deel II, The Time Is at Hand (1889); Deel III, Thy Kingdom Come (1891); Deel IV, The Day of Vengeance (1897; later The Battle of Armageddon genoem); Deel V, The At-one-ment Between God and Man (1899) en Deel VI, The New Creation (1904). Toe die Millennial Dawn-boeke later Studies in the Scriptures genoem is, het Deel I bekend gestaan as “Reeks I”, Deel II as “Reeks II”, ensovoorts. Die naam Studies in the Scriptures is vanaf omstreeks Oktober 1904 in ’n beperkte aantal uitgawes opgeneem en die nuwe naam is vanaf 1906 meer algemeen gebruik.
f Later is die eiendom langsaan, Columbia Heights 122, gekoop en sodoende is die Bethelhuis vergroot. En in 1911 is nog ’n gebou agter die Bethelhuis aangebou, wat nuwe huisvesting verskaf het.
g Hoewel daar vroeëre pogings was om rolprente met klank te maak, is die era van klankrolprente in Augustus 1926 ingelui met die uitreiking van Don Juan (met musiek maar geen dialoog nie), gevolg deur The Jazz Singer (met dialoog) in die herfs van 1927.
[Lokteks op bladsy 51]
‘Geroep om die goeie nuus te verkondig’
[Venster op bladsy 44]
“Laat altwee saam groei tot die oes toe”
Wat het ná die eerste eeu met die ware Christelike godsdiens gebeur? Jesus het in ’n gelykenis gewaarsku dat die Duiwel “onkruid”, naamchristene, onder “die koring”, ware Christene, “die kinders van die koninkryk”, sou saai. Albei sou saam groei tot “die oes” toe, die “voleinding van die stelsel van dinge” (“NW”) (Matt. 13:24-30, 36-43). Gedurende die groot afvalligheid wat ná die dood van die apostels ontwikkel het, was “die onkruid” etlike eeue lank in die meerderheid.
Maar wat van “die koring”? Wie was gedurende die eeue lange afvalligheid onder “die kinders van die koninkryk”? Ons kan nie met sekerheid sê nie. Die letterlike onkruid van Jesus se gelykenis word oor die algemeen beskou as raaigras, wat baie soos koring lyk totdat dit ryp is, wanneer ’n mens dit duidelik van koring kan onderskei aan sy kleiner swart saadjies. Net so sal ’n duidelike onderskeid tussen naamchristene en die ware “kinders van die koninkryk” slegs tydens “die oes” gemaak kan word. Nogtans het Jesus gesê: “Laat altwee saam groei tot die oes toe.” Die ware Christelike godsdiens is dus nooit heeltemal uitgewis nie.
Deur die eeue heen was daar altyd liefhebbers van waarheid. Om maar net ’n paar te noem: John Wycliffe (ca. 1330-1384) en William Tyndale (ca. 1494-1536) het Bybelvertaling bevorder selfs al het dit hulle lewe of vryheid in gevaar gestel. Wolfgang Fabricius Capito (1478-1541), Martin Cellarius (1499-1564), Johannes Campanus (ca. 1500-1575) en Thomas Emlyn (1663-ca. 1741) het die Bybel as God se Woord aanvaar en die Drie-eenheid verwerp. Henry Grew (1781-1862) en George Storrs (1796-1879) het nie net die Bybel aanvaar en die Drie-eenheid verwerp nie, maar het ook waardering vir die losprysoffer van Christus uitgespreek.
Hoewel ons sulke persone nie met sekerheid as “die koring” van Jesus se gelykenis kan identifiseer nie, ‘ken [Jehovah, “NW”] dié wat syne is’ beslis.—2 Tim. 2:19.
[Venster op bladsy 45]
George W. Stetson—“’n man met ’n besonderse vermoë”
C. T. Russell het die hulp wat hy by George W. Stetson, van Edinboro, Pennsilvanië, in sy studie van die Skrif gekry het met waardering erken. Broer Stetson het op 9 Oktober 1879 in die ouderdom van 64 gesterf. “Die Wagtoring” het die daaropvolgende maand ’n berig oor broer Stetson se dood bevat, wat die 27-jarige broer Russell se diep respek vir hom geopenbaar het. “Ons broer was ’n man met ’n besonderse vermoë”, het broer Russell geskryf, “en hy het gunstige vooruitsigte op wêreldse en politieke eer prysgegee sodat hy Christus kon verkondig.” Broer Stetson se sterwensversoek was dat C. T. Russell sy begrafnistoespraak hou; broer Russell het hierdie versoek eerbiedig. “Ongeveer twaalfhonderd mense het die begrafnisdiens bygewoon”, het broer Russell berig, “wat getuig het van die hoë agting wat hulle vir ons broer gehad het.”—“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe) vir November 1879.
[Venster/Prent op bladsy 46]
George Storrs—“’n vriend en broer”
C. T. Russell het gevoel dat hy George Storrs, wat sowat 56 jaar ouer as hy was, baie dank verskuldig was. Broer Russell het baie by broer Storrs geleer oor die sterflikheid van die siel. Toe broer Storrs in 1879 ernstig siek was, het broer Russell dus aangebied om ’n berig oor broer Storrs se toestand in “Die Wagtoring” te druk. “Ons broer”, het broer Russell geskryf, “wat so lank die redakteur van ‘The Bible Examiner’ was, is aan die meeste van ons lesers bekend; ook die feit dat hy weens ’n ernstige siekte verplig was om die publisering van sy blad te staak.” Volgens broer Russell het broer Storrs “baie rede gehad om God te dank vir die voorreg om so lank te lewe en ’n lewe te lei wat aan die Meester toegewy was”. Broer Storrs het op 28 Desember 1879, in die ouderdom van 83, gesterf. ’n Berig oor sy dood het in “Die Wagtoring” (Engelse uitgawe) vir Februarie 1880 verskyn, en dit het gelui: “Ons betreur die heengaan van ’n vriend en broer in Christus, nogtans ‘nie soos die ander wat geen hoop het nie’.”
[Prent]
George Storrs
[Venster/Prent op bladsy 48]
‘Ek laat die “Herald” aan jou oor’
In die lente van 1879 het C. T. Russell alle steun onttrek aan die tydskrif “Herald of the Morning”, waarvan hy ’n mede-uitgewer saam met N. H. Barbour was. In ’n brief aan mnr. Barbour gedateer 3 Mei 1879 het broer Russell sy rede verduidelik: “Daar het ’n meningsverskil tussen ons ontstaan oor die leerstelling in ons Vader se woord [oor die plaasvervangende waarde van die losprys], en hoewel ek toegee dat jy opreg en eerlik in jou beskouings is, wat ek ook is in my teenoorgestelde beskouing, moet ek nogtans gelei word deur my eie begrip van ons Vader se woord, en gevolglik meen ek dat jy dit mis het. . . . Die gedagtes waaroor ons verskil, is vir my so fundamenteel en belangrik dat die volkome kameraadskap en simpatie wat daar onder uitgewers en redakteurs van ’n blad of tydskrif moet wees nie meer tussen my en jou bestaan nie, en aangesien dit die geval is, meen ek dat ons verhouding beëindig moet word.”
In ’n daaropvolgende brief gedateer 22 Mei 1879 het broer Russell geskryf: “Nou laat ek die ‘Herald’ aan jou oor. Ek onttrek my geheel en al daaraan, en ek vra niks van jou nie . . . Maak asseblief in die volgende nr. van die ‘Herald’ ’n aankondiging van die ontbinding en skrap my naam.” Vanaf die nommer vir Junie 1879 het broer Russell se naam nie meer as ’n mederedakteur van die “Herald” verskyn nie.
Mnr. Barbour het tot in 1903 aangehou om die “Herald” te druk, toe dit, volgens beskikbare biblioteekverslae, die laaste keer uitgegee is. Mnr. Barbour het ’n paar jaar later, in 1906, gesterf.
[Prent]
Nelson H. Barbour
[Venster op bladsy 54]
Waarom hy pastor genoem is
Charles Taze Russell se metgeselle het hom pastor Russell genoem. Waarom? As gevolg van sy bedrywighede as herder van die kudde van God. Efesiërs 4:11 sê dat Christus sommige as “pastore” (“KJ”), of “herders”, aan sy gemeente sou gee. Broer Russell het beslis as ’n geestelike herder in die Christengemeente gedien.
Met die oog op die herderswerk wat hy onder die vernaamste Herder, Jesus Christus, gedoen het, het sekere gemeentes hom deur stemming as hulle pastor erken. Dit was nie ’n titel wat hy homself toegeëien het nie. Die eerste groep wat hom as hulle pastor gekies het, was die gemeente in Pittsburgh, Pennsilvanië, in 1882. Daarna het ongeveer 500 ander gemeentes, in die Verenigde State en Brittanje, hom deur stemming as pastor verkies.
Destyds was dit die gewoonte dat gemeentes elke jaar diegene ingestem het wat onder hulle die leiding sou neem. Vandag word Christen- ouere manne onder Jehovah se Getuies nie deur plaaslike gemeentes tot hulle amp verkies nie, maar hulle word deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies aangestel. Ons is ook versigtig om nie uitdrukkings soos “pastor” of “ouere man” as titels te gebruik nie.
[Venster/Prent op bladsy 56, 57]
Die “Fotodrama van die Skepping”
Die “Fotodrama van die Skepping” het rolprente en ’n skyfievertoning gekombineer, wat met klank gesinchroniseer is. Hierdie treffende aanbieding het die gehoor van die tyd van die skepping tot die einde van die Millennium geneem.
Ten minste 20 vierdelige stelle is gemaak, wat dit moontlik gemaak het om elke dag ’n gedeelte van die “Fotodrama” in 80 verskillende stede te vertoon. Dit was ’n ware uitdaging om daardie 80 afsprake na te kom. Treinroosters was nie altyd gerieflik nie. Gemeentes kon nie altyd plekke vir vertonings op die verlangde datums huur nie. Nogtans is die “Fotodrama” teen die einde van 1914 aan gehore van altesaam meer as 9 000 000 in Noord-Amerika, Europa en Australië vertoon.
[Prente]
“Draaiboek” van die “Fotodrama” met die lesings en talle illustrasies
Teaters wat voltyds gebruik is om die “Fotodrama” te vertoon
Chicago
New York
Rolprentprojektor
Skyfie-projektor
Grammofoonplate
Skyfies uit die “Fotodrama”
Advertensievoubiljet
[Venster op bladsy 60]
“Wees op die uitkyk vir 1914!”
Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het “The World”, wat destyds ’n vername koerant in New York-stad was, in sy tydskrifgedeelte gesê: “Die verskriklike oorlog wat in Europa uitgebreek het, het ’n buitengewone profesie vervul. . . . ‘Wees op die uitkyk vir 1914!’ was die waarskuwing van honderde reisende evangeliste, wat, as verteenwoordigers van hierdie eienaardige geloof [wat met Russell vereenselwig is], die land deurreis het om die leerstelling dat ‘die Koninkryk van God naby is’ te verkondig.”—“The World Magazine”, 30 Augustus 1914.
[Prent op bladsy 42]
Charles Taze Russell
[Prent op bladsy 43]
Joseph L. Russell, Charles se vader, was tot sy dood in 1897 ’n lid van die Allegheny-Bybelstudieklas en ’n intieme metgesel van sy seun in die bedrywighede van die Wagtoringgenootskap
[Prent op bladsy 50]
Die Bybelstudente het tienmiljoene traktate versprei wat godsdiensdwaling aan die kaak gestel, skriftuurlike waarhede verduidelik en die betekenisvolle jaar 1914 verkondig het
[Prent op bladsy 52]
C. T. Russell het oor ’n tydperk van ongeveer 37 jaar ses boekdele van “Millennial Dawn” (1886 tot 1904) asook traktate, boekies en “Wagtoring”-artikels geskryf
[Prent op bladsy 53]
Wanneer hy openbare lesings gehou het, het broer Russell geen aantekeninge gebruik nie en het hy altyd beweeg—hy het met sy arms beduie en heen en weer op die verhoog getree
[Prent op bladsy 58]
Daar is geskat dat C. T. Russell se preke een jaar 15 000 000 lesers deur middel van 2 000 koerante bereik het