Hoofstuk 22
Deel 1—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
Dit is die eerste van vyf dele in ’n hoofstuk wat verslag gee van hoe die bedrywighede van Jehovah se Getuies oor die hele aarde uitgebrei het. Deel 1, wat die tydperk van die 1870’s af tot 1914 dek, is op bladsye 404 tot 422. Die mensegemeenskap het nooit herstel van die beroeringe wat die Eerste Wêreldoorlog, wat in 1914 uitgebreek het, veroorsaak het nie. Dit was die jaar wat die Bybelstudente lank tevore reeds as die einde van die Heidense Tye geïdentifiseer het.
VOORDAT Jesus Christus na die hemel opgevaar het, het hy sy apostels die opdrag gegee: “Julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Hy het ook voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). Daardie werk is nie in die eerste eeu voltooi nie. ’n Groot deel daarvan word in ons tyd gedoen. En die verslag van hoe hierdie werk van die 1870’s af tot nou toe gedoen is, is werklik opwindend.
Hoewel Charles Taze Russell bekend geword het vir sy goed geadverteerde Bybeltoesprake het hy nie net in groot gehore belanggestel nie, maar in mense. Daarom het hy kort nadat hy Die Wagtoring (in Engels) in 1879 begin uitgee het baie begin rondreis om klein groepies van die tydskrif se lesers te besoek en die Skrif met hulle te bespreek.
C. T. Russell het diegene wat in die kosbare beloftes van God se Woord geglo het, aangespoor om ander daarvan te vertel. Diegene wie se hart diep geraak is deur wat hulle geleer het, het hierdie verkondiging met ware ywer gedoen. Gedrukte materiaal is voorsien om met die werk te help. Vroeg in 1881 is ’n aantal traktate uitgegee. Inligting in hierdie traktate is toe met bykomende inligting gekombineer en as die omvattender Food for Thinking Christians uitgegee, en 1 200 000 eksemplare hiervan is vir verspreiding gereed gekry. Maar hoe sou hierdie klein groepie Bybelstudente (toe maar ongeveer 100) dit alles kon versprei?
Kerkgangers word bereik
Party is onder familielede en vriende versprei. ’n Aantal koerante het ingestem om ’n eksemplaar aan elkeen van hulle intekenaars te stuur. (Daar is veral van weeklikse en maandelikse koerante gebruik gemaak sodat Food for Thinking Christians baie van die mense sou bereik wat op die platteland woon.) Maar ’n groot gedeelte van die verspreiding is op etlike agtereenvolgende Sondae voor kerke in die Verenigde State en Brittanje gedoen. Daar was nie genoeg Bybelstudente om dit alles self te doen nie, en daarom het hulle ander gehuur om hulle te help.
Broer Russell het twee metgeselle, J. C. Sunderlin en J. J. Bender, na Brittanje gestuur om oor die verspreiding van 300 000 eksemplare daar toesig te hou. Broer Sunderlin is na Londen toe, terwyl broer Bender noordwaarts tot in Skotland gegaan het en geleidelik suidwaarts gewerk het. Die verspreiding is hoofsaaklik in groter stede gedoen. Bekwame manne is deur middel van koerantadvertensies opgespoor en kontrakte is met hulle aangegaan om reëlings te tref vir genoeg helpers om hulle toegewese aantal eksemplare te versprei. Byna 500 verspreiders is in Londen alleen gewerf. Die werk is vinnig, op twee agtereenvolgende Sondae, gedoen.
Daardie selfde jaar is reëlings getref dat Bybelstudente wat die helfte of meer van hulle tyd uitsluitlik aan die Here se werk kon wy as kolporteurs dien en lektuur vir Bybelstudie versprei. Hierdie voorlopers van diegene wat vandag as pioniers bekend staan, het ’n waarlik merkwaardige taak met betrekking tot die verspreiding van die goeie nuus verrig.
Tydens die volgende dekade het broer Russell ’n verskeidenheid traktate voorberei wat maklik gebruik kon word om party van die belangrike Bybelwaarhede wat hulle geleer het bekend te maak. Hy het ook ’n hele paar dele van die Millennial Dawn (wat later as Studies in the Scriptures bekend gestaan het) geskryf. Daarna het hy persoonlike evangelisasiereise na ander lande begin onderneem.
Broer Russell reis na die buiteland
In 1891 het hy Kanada besoek, waar genoeg belangstelling sedert 1880 aangewakker is dat ’n byeenkoms wat deur 700 bygewoon is in Toronto gehou kon word. Hy het ook in 1891 na Europa gereis om te sien wat gedoen kon word om die verkondiging van die waarheid daar uit te brei. Op hierdie reis het hy Ierland, Skotland, Engeland, baie van die lande op die Europese Vasteland, Rusland (die gebied wat nou as Moldawië bekend staan) en die Midde-Ooste besoek.
Tot watter slotsom het hy ná sy besoeke op daardie reis gekom? “In Rusland het ons geen ontvanklikheid of gereedheid vir die waarheid teëgekom nie . . . Ons het niks in Italië of Turkye of Oostenryk of Duitsland gesien wat die hoop vir ’n oes in ons aangewakker het nie”, het hy gesê. “Maar die veld in Noorweë, Swede, Denemarke, Switserland en veral in Engeland, Ierland en Skotland is gereed om geoes te word. Dit is asof hierdie lande uitroep: Kom hierheen en help ons!” Dit was ’n tyd toe die Katolieke Kerk mense nog verbied het om die Bybel te lees, toe baie Protestante hulle kerk verlaat het en toe talle wat deur die kerke ontnugter is die Bybel heeltemal verwerp het.
Ná broer Russell se reis in 1891 is intensiewer pogings aangewend om lektuur in die Europese tale te vertaal sodat daardie mense wat geestelik honger was, gehelp kon word. Reëlings is ook getref om lektuur in Londen te druk en voorraad daar aan te hou sodat dit gouer beskikbaar sou wees vir gebruik in Brittanje. Die Britse veld was inderdaad gereed om geoes te word. Teen 1900 was daar reeds nege gemeentes en altesaam 138 Bybelstudente—waaronder ’n paar ywerige kolporteurs. Toe broer Russell Brittanje weer in 1903 besoek het, het duisend mense in Glasgow vergader om na sy toespraak “Verwagtinge en vooruitsigte met betrekking tot die Millennium” te luister, terwyl 800 in Londen en gehore van tussen 500 en 600 in ander dorpe vergader het.
Maar in ooreenstemming met broer Russell se waarnemings het 17 jaar ná sy besoek verloop voordat die eerste gemeente van Bybelstudente in Italië, by Pinerolo, gestig is. En wat van Turkye? Gedurende die laat 1880’s het Basil Stephanoff in Macedonië, in wat toe Europese Turkye was, gepreek. Hoewel dit gelyk het of party belangstelling toon, het sekeres wat voorgegee het dat hulle broers is valse beskuldigings teen hom ingebring, wat tot sy gevangeneming gelei het. Eers in 1909 het ’n brief van ’n Griek in Smirna (nou Izmir), Turkye, gemeld dat ’n groep daar die Wagtoringpublikasies met waardering bestudeer. Wat Oostenryk betref, het broer Russell self in 1911 daarheen teruggekeer om ’n toespraak in Wenen te hou, maar die vergadering is deur ’n oproerige skare ontwrig. In Duitsland het dit ook lank geduur voordat mense met waardering op die boodskap gereageer het. Die Skandinawiërs was egter meer bewus van hulle geestelike behoefte.
Die Skandinawiërs help mekaar
Baie Swede het in Amerika gewoon. In 1883 is ’n proefeksemplaar van die Watch Tower wat in Sweeds vertaal is onder hulle versprei. Kort voor lank is hierdie eksemplare aan vriende en familie in Swede gepos. Geen Noorse lektuur was toe al beskikbaar nie. Maar in 1892, die jaar nadat broer Russell in Europa was, het Knud Pederson Hammer, ’n Noorweër wat die waarheid in Amerika geleer het, self na Noorweë teruggekeer om vir sy familie te getuig.
In 1894, toe lektuur vir die eerste keer in Deens-Noors gepubliseer is, is Sophus Winter, ’n 25-jarige Deense Amerikaner, met ’n voorraad daarvan na Denemarke gestuur om dit te versprei. Teen die volgende lente het hy reeds 500 dele van die Millennial Dawn versprei. Binne ’n kort tydjie het ’n paar ander wat daardie publikasies gelees het saam met hom aan die werk deelgeneem. Ongelukkig het hy later die waarde van sy kosbare voorreg uit die oog verloor; maar ander het die lig laat aanhou skyn.
Voordat Sophus Winter egter die diens verlaat het, het hy ’n rukkie kolporteurwerk in Swede gedoen. Kort daarna het August Lundborg, ’n jong kaptein in die Heilsleër, twee dele van die Millennial Dawn by ’n vriend se huis op Sturkö-eiland gesien. Hy het hulle geleen, hulle gretig gelees, uit die kerk bedank en vir ander begin vertel wat hy geleer het. Nog ’n jong man, P. J. Johansson, het die waarheid ingesien toe hy ’n traktaat gelees het wat hy op ’n bankie in ’n park opgetel het.
Toe die Sweedse groep groter begin word het, het party oorgegaan na Noorweë om Bybellektuur te versprei. Lektuur het toe reeds per pos van familielede in Amerika af in Noorweë aangekom. Dit is hoe Rasmus Blindheim Jehovah begin dien het. Theodor Simonsen, ’n leraar van die Vrye Sending, was onder diegene in Noorweë wat die waarheid gedurende daardie vroeë jare ontvang het. Hy het die helvuurleerstelling in sy preke by die Vrye Sending begin weerlê. Sy gehoor het opgespring uit opgewondenheid oor hierdie wonderlike nuus; toe dit egter bekend word dat hy met die “Millennial Dawn” kontak gehad het, is hy uit die kerk geskop. Maar hy het eenvoudig aangehou praat oor die goeie dinge wat hy geleer het. Nog ’n jong man wat van die lektuur ontvang het, was Andreas Øiseth. Toe hy oortuig was dat hy die waarheid het, het hy die familieplaas verlaat en kolporteurwerk begin doen. Hy het stelselmatig noordwaarts en toe suidwaarts al langs die fjords af gewerk sonder om ’n gemeenskap oor te slaan. In die winter het hy sy voorrade—kos, klere en lektuur—op ’n skopslee vervoer, en gasvrye mense het hom slaapplek gegee. Gedurende ’n reis wat agt jaar geduur het, het hy feitlik die hele land met die goeie nuus gedek.
August Lundborg se vrou, Ebba, het in 1906 van Swede na Finland oorgegaan om kolporteurwerk te doen. Om en by dieselfde tyd het manne wat van die Verenigde State af teruggekeer het Wagtoringlektuur saam met hulle teruggebring en met ander begin praat oor die dinge wat hulle geleer het. Binne ’n paar jaar het Emil Österman, wat na iets beters gesoek het as wat die kerke gebied het, dus in besit van The Divine Plan of the Ages gekom. Hy het sy vriend Kaarlo Harteva, wat ook na iets beters gesoek het, daarvan vertel. Toe hulle besef watter waardevolle inligting hulle het, het broer Harteva dit in Fins vertaal en, met broer Österman se geldelike hulp, gereël dat dit gedruk word. Hulle het saam die verspreiding daarvan aangepak. Hulle het ’n ware evangelisasiegees aan die dag gelê en met mense in openbare plekke gepraat, besoeke van huis tot huis gedoen en toesprake in groot ouditoriums gehou wat stampvol was. Nadat broer Harteva in Helsinki die Christendom se valse leerstellings aan die kaak gestel het, het hy die gehoor genooi om, as hulle kon, die leerstelling van die onsterflikheid van die siel uit die Bybel te bewys. Almal het hulle oë gerig op die geestelikes wat teenwoordig was. Niemand het ’n woord gesê nie; niemand kon teen die duidelike verklaring in Esegiël 18:4 stry nie. Party in die gehoor het gesê dat hulle daardie nag skaars kon slaap ná wat hulle gehoor het.
’n Nederige tuinier word ’n evangeliedienaar in Europa
Intussen het Adolf Weber Switserland op aansporing van ’n bejaarde Anabaptistiese vriend verlaat om ’n duideliker begrip van die Skrif in die Verenigde State te gaan soek. Daar het hy, in antwoord op ’n advertensie, ’n tuinier vir broer Russell geword. Met behulp van The Divine Plan of the Ages (wat toe in Duits beskikbaar was) en vergaderinge wat deur broer Russell gelei is, het Adolf die Bybelkennis opgedoen waarna hy gesoek het en is hy in 1890 gedoop. Die ‘oë van sy hart is verlig’ sodat hy tot ’n diep besef gekom het van wat ’n wonderlike geleentheid daar vir hom ontstaan het (Ef. 1:18, NW). Nadat hy ’n tyd lank ywerig aan die getuieniswerk in die Verenigde State deelgeneem het, het hy na sy geboorteland teruggekeer om daar “in die Here se wingerd” te gaan werk. Hy was dus teen die middel-1890’s terug in Switserland en besig om Bybelwaarheid aan mense met ontvanklike harte te verkondig.
Adolf het ’n bestaan gemaak as ’n tuinier en bosbouer, maar die evangelisasiewerk het die eerste plek in sy lewe beklee. Hy het getuig vir diegene saam met wie hy gewerk het, sowel as vir mense in nabygeleë Switserse dorpe en gehuggies. Hy kon verskeie tale praat, en hy het hierdie kennis gebruik om die Genootskap se publikasies in Frans te vertaal. Wanneer die winter aangebreek het, het hy sy rugsak vol Bybellektuur gepak en te voet in Frankryk ingegaan, en soms het hy in ’n noordwestelike rigting tot in België en suidwaarts tot in Italië gegaan.
Hy het advertensies in koerante en tydskrifte geplaas en die aandag op beskikbare Bybelstudielektuur gevestig sodat hy mense kon bereik met wie hy dalk nie persoonlik in aanraking sou kom nie. Elie Thérond, in Sentraal-Frankryk, het op een van die advertensies gereageer, besef dat wat hy gelees het die waarheid is en spoedig self die boodskap begin verkondig. In België het Jean-Baptiste Tilmant sr. in 1901 ook een van die advertensies gesien en twee dele van die Millennial Dawn bekom. Hoe opwindend was dit tog vir hom om Bybelwaarheid so duidelik uiteengesit te sien! Hoe kon hy stilbly en nie sy vriende daarvan vertel nie! Teen die volgende jaar het daar gereeld ’n studiegroep by sy huis bymekaargekom. Kort daarna het daardie groepie se bedrywighede selfs in Noord-Frankryk vrugte afgewerp. Broer Weber het kontak met hulle behou deur die groepies wat ontstaan het van tyd tot tyd te besoek, hulle geestelik op te bou en hulle riglyne te gee oor hoe hulle die goeie nuus aan ander kon verkondig.
Toe die goeie nuus Duitsland bereik het
Kort nadat sommige van die publikasies in die middel-1880’s in Duits begin verskyn het, het Duitse Amerikaners wat die publikasies waardeer het eksemplare aan familielede in hulle geboorteland begin stuur. ’n Verpleegster wat by ’n hospitaal in Hamburg gewerk het, het eksemplare van die Millennial Dawn vir ander by die hospitaal gegee. In 1896 het Adolf Weber, in Switserland, advertensies in koerante geplaas wat in Duits verskyn het en traktate aan mense in Duitsland gepos. Die volgende jaar is ’n lektuurdepot in Duitsland geopen om die verspreiding van die Duitse uitgawe van Die Wagtoring te vergemaklik, maar dit het nie gou resultate gelewer nie. In 1902 het Margarethe Demut, wat die waarheid in Switserland geleer het, egter na Tailfingen, oos van die Swart Woud, verhuis. Haar ywerige getuieniswerk het gehelp om die grondslag vir een van die eerste groepe Bybelstudente in Duitsland te lê. Samuel Lauper, van Switserland, het na die Bergisches Land, noordoos van Keulen, verhuis om die goeie nuus in daardie gebied te verkondig. Teen 1904 is vergaderinge daar in Wermelskirchen gehou. Onder diegene wat daar vergader het, was ’n 80-jarige man, Gottlieb Paas, wat na die waarheid gesoek het. Op sy sterfbed, nie lank nadat hulle daardie vergaderinge begin hou het nie, het Gottlieb Paas Die Wagtoring omhoog gehou en gesê: “Dit is die waarheid; hou daaraan vas.”
Die aantal mense wat in hierdie Bybelwaarhede belanggestel het, het gaandeweg toegeneem. Hoewel dit duur was, is reëlings getref om gratis eksemplare van Die Wagtoring in koerante in Duitsland te plaas. ’n Verslag wat in 1905 gepubliseer is, sê dat meer as 1 500 000 van hierdie gratis eksemplare van Die Wagtoring versprei is. Dit was ’n groot prestasie vir ’n baie klein groepie.
Nie al die Bybelstudente het gemeen dat dit genoeg is om net die mense in die onmiddellike omgewing te bereik nie. Reeds in 1907 het broer Erler, van Duitsland, reise na Boheme onderneem, in wat toe Oostenryk-Hongarye was (later ’n deel van Tsjeggo-Slowakye). Hy het lektuur versprei wat oor Armageddon gewaarsku het en vertel het van die seëninge wat die mensdom daarna sal geniet. Teen 1912 het ’n ander Bybelstudent Bybellektuur in die Memel-gebied versprei, in wat nou as Litaue bekend staan. Baie het geesdriftig op die boodskap gereageer, en heelparty redelike groot groepe Bybelstudente is kort voor lank daar gestig. Maar toe hulle verneem dat ware Christene ook getuies moet wees, het hulle getalle begin afneem. ’n Paar het nietemin getoon dat hulle ware navolgers van Christus, “die getroue en waaragtige Getuie”, is.—Openb. 3:14.
Toe Nikolaus von Tornow, ’n Duitse baron met groot eiendomme in Rusland, in omstreeks 1907 in Switserland was, het iemand vir hom een van die Wagtoringgenootskap se traktate gegee. Twee jaar later het hy by die Berlyn-gemeente in Duitsland opgedaag, uitgevat in sy beste klere en vergesel van sy lyfkneg. Dit het ’n ruk geduur voordat hy kon insien waarom God sulke kosbare waarhede aan sulke beskeie mense toevertrou, maar wat hy in 1 Korinthiërs 1:26-29 gelees het, het hom gehelp: “Let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; . . . sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” Oortuig dat hy die waarheid gevind het, het Nikolaus von Tornow sy eiendomme in Rusland verkoop en hom en sy geld daaraan gewy om die belange van ware aanbidding te bevorder.
In 1911, toe ’n jong Duitse egpaar, die Herkendells, in die huwelik getree het, het die bruid haar vader geld vir ’n ongewone wittebrood as bruidskat gevra. Sy en haar man wou ’n veeleisende reis onderneem wat baie maande sou duur. Hulle wittebrood was ’n predikingsreis na Rusland om Duitssprekendes daar te bereik. Só het allerhande mense op baie maniere die dinge wat hulle aangaande God se liefdevolle voorneme geleer het aan ander uitgedra.
Groei in die Britse veld
Ná die intensiewe verspreiding van lektuur in Brittanje in 1881 het sommige kerkgangers besef hoe noodsaaklik dit is om toe te pas wat hulle leer. Tom Hart van Islington, Londen, was een van dié wat getref is deur Die Wagtoring se skriftuurlike raad: “Gaan uit haar uit, my volk”—met ander woorde, gaan uit die Christendom se Babiloniese kerke uit en leef volgens Bybelleringe (Openb. 18:4). Hy het in 1884 uit die kerk bedank, en ’n hele paar het sy voorbeeld gevolg.
Baie wat met die studiegroepe omgegaan het, het bekwame evangeliedienaars geword. Party het Bybellektuur in Londen se parke aangebied, asook by ander plekke waar mense ontspan het. Ander het hulle op sakeondernemings toegespits. Die algemener metode was egter om besoeke van huis tot huis te doen.
Sarah Ferrie, ’n intekenaar op Die Wagtoring, het aan broer Russell geskryf en gesê dat sy en ’n paar vriende in Glasgow graag ’n aandeel aan die traktaatverspreiding wou hê. Hoe verbaas was sy tog toe ’n vragmotor by haar huis opdaag met 30 000 pamflette, wat almal gratis versprei moes word! Hulle het aan die werk gespring. Minnie Greenlees het, met ’n eenperdkar as vervoermiddel, hard saam met haar drie jong seuns gewerk om Bybellektuur ook op die Skotse platteland te versprei. Later het Alfred Greenlees en Alexander MacGillivray traktate per fiets deur ’n groot deel van Skotland versprei. Pleks van ander te betaal om die lektuur te versprei, het toegewyde vrywilligers nou die werk self gedoen.
Hulle hart het hulle beweeg
Jesus het in een van sy gelykenisse gesê dat mense wat ‘die woord van God in ’n edele en goeie hart hou nadat hulle dit gehoor het’ vrug sou dra. Opregte waardering vir God se liefdevolle voorsienings sou hulle beweeg om die goeie nuus aangaande God se Koninkryk aan ander te verkondig (Luk. 8:8, 11, 15). Hulle sou ’n manier vind om dit te doen, ongeag hulle omstandighede.
So het dit gekom dat ’n Argentynse reisiger ’n gedeelte van die traktaat Food for Thinking Christians by ’n Italiaanse matroos gekry het. Terwyl die skip in Peru in die hawe was, het die reisiger nog lektuur per brief aangevra, en met selfs groter belangstelling het hy weer in 1885 van Argentinië af aan die redakteur van Die Wagtoring geskryf en lektuur aangevra. Daardie selfde jaar het ’n lid van die Britse Vloot wat saam met sy artillerieafdeling na Singapoer gestuur is Die Wagtoring saam met hom geneem. Hy was verheug oor wat hy in die tydskrif geleer het en het dit vryelik daar gebruik om die Bybel se beskouing bekend te maak oor sake wat vir almal van belang was. In 1910 het ’n skip waarop twee Christenvroue gereis het die hawe in Colombo, Ceylon (nou Sri Lanka), aangedoen. Hulle het die geleentheid gebruik om vir mnr. Van Twest, die hawe se koopvaardymeester, te getuig. Hulle het hom ywerig vertel van die goeie dinge wat hulle in die boek The Divine Plan of the Ages geleer het. Gevolglik het mnr. Van Twest ’n Bybelstudent geword, en dit was die begin van die predikingswerk in Sri Lanka.
Selfs diegene wat nie kon reis nie, het na maniere gesoek om die hartverblydende Bybelwaarhede aan mense in ander lande te verkondig. Soos dit blyk uit ’n brief van waardering wat in 1905 gepubliseer is, het iemand in die Verenigde State The Divine Plan of the Ages aan ’n man in St. Thomas, in wat toe die Deens-Wes-Indiese Eilande was, gestuur. Nadat hierdie man dit gelees het, het hy op sy knieë gegaan en sy opregte begeerte uitgespreek om deur God gebruik te word om Sy wil te doen. In 1911 het Bellona Ferguson in Brasilië gesê dat haar geval “’n positiewe, sprekende bewys is dat niemand te ver weg is om [met die waters van waarheid] bereik te word nie”. Sy het die Genootskap se publikasies blykbaar reeds sedert 1899 per pos ontvang. Die een of ander tyd voor die Eerste Wêreldoorlog het ’n Duitse immigrant in Paraguay een van die Genootskap se traktate in sy posbus gekry. Hy het nog lektuur bestel en kort daarna sy bande met die Christendom se kerke verbreek. Daar was niemand anders in die land wat hom en sy swaer kon doop nie, en daarom het hulle besluit om mekaar te doop. ’n Getuienis is inderdaad tot aan die uiterste van die aarde gegee, en dit het vrugte afgewerp.
Ander Bybelstudente weer het hulle genoodsaak gevoel om na hulle of hulle ouers se geboorteplek te reis en vriende en familielede te vertel van Jehovah se wonderlike voorneme en hoe hulle daarin deel kan hê. Broer Oleszynski het dus in 1895 na Pole teruggekeer met goeie nuus oor die “losprys, die herstelling en die hoë roeping”; maar ongelukkig het hy nie in daardie diens volhard nie. In 1898 het ’n gewese professor, ’n Hongaar, Kanada verlaat om die Bybel se dringende boodskap in sy tuisland te verkondig. In 1905 het ’n man wat in Amerika ’n Bybelstudent geword het na Griekeland teruggekeer om die getuieniswerk te doen. En in 1913 het ’n jong man saad van Bybelwaarheid van New York af teruggeneem na sy familie se tuisdorp, Ramallah, naby Jerusalem.
Die werk word in die Karibiese gebied begin
Terwyl die aantal evangeliedienaars in die Verenigde State, Kanada en Europa toegeneem het, het Bybelwaarheid ook in Panama, Costa Rica, Nederlands-Guiana (nou Suriname) en Brits-Guiana (nou Guyana) begin ingang vind. Joseph Brathwaite, wat in Brits-Guiana was toe hy gehelp is om God se voorneme te verstaan, het in 1905 na Barbados vertrek om dit voltyds aan die mense daar te verkondig. Louis Facey en H. P. Clarke, wat die goeie nuus gehoor het toe hulle in Costa Rica werksaam was, het in 1897 na Jamaika teruggekeer om hulle nuutgevonde geloof onder hulle eie mense te verkondig. Diegene wat die waarheid daar aangeneem het, was ywerige werkers. In 1906 alleen het die groep in Jamaika ongeveer 1 200 000 traktate en ander stukke lektuur versprei. ’n Ander trekarbeider wat die waarheid in Panama geleer het, het die Bybel se boodskap van hoop na Grenada teruggeneem.
’n Revolusie in Mexiko in 1910-11 het ook ’n rol daarin gespeel dat die boodskap van God se Koninkryk na mense gebring is wat na die waarheid honger. Baie mense het noordwaarts na die Verenigde State gevlug. Daar het party van hulle die Bybelstudente teëgekom, gehoor van Jehovah se voorneme om blywende vrede vir die mensdom te bring en lektuur na Mexiko teruggestuur. Dit was egter nie die eerste keer dat Mexiko met hierdie boodskap bereik is nie. Reeds in 1893 het Die Wagtoring (in Engels) ’n brief gepubliseer van F. de P. Stephenson, van Mexiko, wat van die Wagtoringgenootskap se publikasies gelees het en nog publikasies wou hê om vir sy vriende in Mexiko en in Europa te gee.
Broer Russell het E. J. Coward in 1911 na Panama en toe na die eilande gestuur om die verkondiging van Bybelwaarheid na meer Karibiese lande uit te brei en gereelde vergaderinge vir studie te organiseer. Broer Coward was ’n kragtige en lewendige spreker, en gehore wat dikwels in die honderde getel het, het saamgestroom om na sy toesprake te luister waarin hy die leerstellings van die helse vuur en die onsterflikheid van die mensesiel weerlê het en ook van die glorieryke toekoms vir die aarde vertel het. Hy het van die een dorp na die ander gegaan en van die een eiland na die ander—St. Lucia, Dominica, St. Kitts, Barbados, Grenada en Trinidad—om soveel mense as moontlik te bereik. Hy het ook in Brits-Guiana toesprake gehou. Terwyl broer Coward in Panama was, het hy W. R. Brown ontmoet, ’n ywerige jong Jamaikaanse broer wat daarna op ’n hele paar Karibiese eilande saam met hom gedien het. Later het broer Brown baanbrekerswerk in nog ander lande gedoen.
In 1913 het broer Russell self in Panama, Kuba en Jamaika toesprake gehou. Vir ’n openbare toespraak wat hy in Kingston, Jamaika, gehou het, was twee ouditoriums stampvol en moes daar nog sowat 2 000 mense weggewys word. Toe die spreker niks oor geld gesê het en geen kollekte gehou is nie, het die pers daarvan kennis geneem.
Die lig van waarheid bereik Afrika
Die lig van waarheid het gedurende hierdie tydperk ook in Afrika begin skyn. ’n Brief wat in 1884 uit Liberië ontvang is, het aan die lig gebring dat ’n Bybelleser daar ’n eksemplaar van Food for Thinking Christians bekom het en nog eksemplare wou hê om vir ander te gee. ’n Paar jaar daarna is daar berig dat ’n geestelike in Liberië sy amp neergelê het sodat hy vry kon wees om Bybelwaarhede wat hy met behulp van Die Wagtoring geleer het aan ander te verkondig en dat gereelde vergaderinge daar deur ’n groep Bybelstudente gehou word.
’n Nederduitse Gereformeerde predikant van Holland het ’n paar van C. T. Russell se publikasies saamgeneem toe hy in 1902 na Suid-Afrika gestuur is. Hoewel hy nie blywende voordeel daaruit getrek het nie, het Frans Ebersohn en Stoffel Fourie, wat die lektuur in sy biblioteek gesien het, wel daarby baat gevind. ’n Paar jaar later is die geledere in daardie deel van die veld versterk toe twee ywerige Bybelstudente uit Skotland na Durban, Suid-Afrika, geëmigreer het.
Onder diegene wat lektuur bekom het wat deur broer Russell geskryf is en van die inligting dan aan ander geleer het, was daar ongelukkig ’n paar, soos Joseph Booth en Elliott Kamwana, wat hulle eie idees bygevoeg het, idees wat bedoel was om mense op te stook om veranderinge in die maatskaplike orde mee te bring. Vir sommige in Suid-Afrika en Njassaland (later Malawi) wat dit waargeneem het, het dit die identiteit van die ware Bybelstudente vertroebel. Daar was nietemin baie wat die boodskap, wat die aandag op God se Koninkryk as die enigste oplossing vir die mensdom se probleme gevestig het, gehoor het en waardering daarvoor getoon het.
Maar wat grootskaalse prediking in Afrika betref, dit sou tot later moes wag.
Na die Ooste en die eilande van die Stille Oseaan
Kort nadat Bybelpublikasies wat deur C. T. Russell geskryf is vir die eerste keer in Brittanje versprei is, het hulle ook die Ooste bereik. In 1883 het mej. C. B. Downing, ’n Presbiteriaanse sendeling in Tsjefoo (Jentai), China, ’n eksemplaar van Die Wagtoring ontvang. Sy het waardeer wat sy oor die herstelling geleer het en het die lektuur vir ander sendelinge, onder andere Horace Randle, wat aan die Baptiste-sendingraad verbonde was, gegee om te lees. Later is sy belangstelling verder gestimuleer deur ’n advertensie vir die Millennial Dawn wat in die Londense Times verskyn het, en daarna deur eksemplare van die boek self—een wat hy van mej. Downing ontvang het en nog een wat sy moeder in Engeland aan hom gestuur het. Aanvanklik was hy onthuts oor wat hy gelees het. Maar toe hy oortuig was dat die Drie-eenheid nie ’n Bybelse leerstelling is nie, het hy uit die Baptistekerk bedank en ander sendelinge gaan vertel wat hy geleer het. In 1900 het hy gerapporteer dat hy 2 324 briewe en sowat 5 000 traktate aan sendelinge in China, Japan, Korea en Siam (Thailand) gestuur het. Op daardie tydstip is daar in die Ooste hoofsaaklik vir die Christendom se sendelinge getuig.
Gedurende daardie selfde tydperk is saad van waarheid ook in Australië en Nieu-Seeland gesaai. Die eerste van hierdie “sade” wat in Australië aangekom het, is moontlik in 1884 of kort daarna soontoe geneem deur ’n man wat aanvanklik in ’n park in Engeland deur ’n Bybelstudent genader is. Ander “saad” het per pos van vriende en familielede in die buiteland gekom.
Binne ’n paar jaar nadat die Australiese Gemenebes in 1901 gestig is, was honderde mense daar intekenaars op Die Wagtoring. As gevolg van die bedrywighede van diegene wat die voorreg aangegryp het om die waarheid aan ander te verkondig, is duisende traktate aan mense gestuur wie se name op die kieserslyste was. Nog traktate is op straat versprei, en pakke daarvan is by treinvensters uitgegooi vir werkers en mense wat in afgesonderde huise in afgeleë gebiede langs die spoorlyne gewoon het. Die mense is verwittig van die naderende einde van die Heidense Tye in 1914. Arthur Williams sr. het met al die klante in sy winkel in Wes-Australië hieroor gepraat en belangstellendes na sy huis toe genooi vir verdere besprekings.
Niemand weet wie die Bybelwaarheid eerste na Nieu-Seeland geneem het nie. Maar teen 1898 het Andrew Anderson, wat in Nieu-Seeland gewoon het, genoeg van die Wagtoringgenootskap se publikasies gelees om hom te beweeg om die waarheid daar as ’n kolporteur te verkondig. Sy werk is in 1904 aangevul deur ander kolporteurs wat afkomstig was van Amerika en van die Genootskap se takkantoor wat daardie selfde jaar in Australië gestig is. Mev. Thomas Barry, in Christchurch, het ses dele van Studies in the Scriptures by een van die kolporteurs geneem. Haar seun Bill het hulle in 1909 tydens ’n ses weke lange bootreis na Engeland gelees en besef dat wat daarin geskryf is die waarheid is. Jare later het sy seun Lloyd ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geword.
Een van die ywerige werkers in daardie vroeë jare was Ed Nelson, wat, hoewel hy nie juis met veel takt begaaf was nie, 50 jaar lank voltyds die Koninkryksboodskap van die noordelike punt van Nieu-Seeland af tot in die suide verkondig het. Ná ’n paar jaar het Frank Grove, wat deur oefening ’n skerp geheue ontwikkel het om vir sy swak sig te vergoed en wat ook meer as 50 jaar, tot sy dood, as pionier gedien het, by hom aangesluit.
’n Wêreldreis om die verkondiging van die goeie nuus uit te brei
’n Verdere groot poging is in 1911-12 aangewend om mense in die Ooste te help. Die Internasionale Bybelstudente-vereniging het ’n komitee van sewe manne, gelei deur C. T. Russell, gestuur om die omstandighede daar persoonlik te ondersoek. Oral waar hulle gegaan het, het hulle toesprake gehou oor God se voorneme om vir die mensdom seëninge te bring deur middel van die Messiaanse Koninkryk. Soms was hulle gehoor klein, maar in die Filippyne en in Indië was daar duisende. Hulle het nie die kampanje om geld vir wêreldbekering in te samel, ’n kampanje wat destyds in die Christendom gewild was, goedgekeur nie. Hulle het opgemerk dat die Christendom se sendelinge hulle hoofsaaklik daarop toelê om sekulêre onderrig te bevorder. Maar broer Russell was oortuig dat die mense “die Evangelie van God se liefdevolle voorsiening van die Messias se komende Koninkryk” nodig het. Die Bybelstudente het nie verwag om die wêreld te bekeer nie, maar het eerder uit die Skrif verstaan dat ’n getuienis gegee moes word en dat dit sou lei tot die insameling van “’n gekose paar uit alle nasies, volke, stamme en tale om lede van [Christus se] Bruidsklas te wees—om gedurende die duisend jaar saam met Hom in Sy troon te sit en saam te werk om die mensdom in sy geheel te verhef”.a—Openb. 5:9, 10; 14:1-5.
Nadat die komiteelede tyd in Japan, China, die Filippyne en ander plekke deurgebring het, het hulle nog 6 400 kilometer in Indië afgelê. Sommige mense wat in Indië gewoon het, het reeds in 1887 die Genootskap se lektuur gelees en briewe van waardering geskryf. Daadwerklike getuieniswerk is ook sedert 1905 onder die Tamil-sprekendes gedoen deur ’n jong man wat broer Russell ontmoet en die waarheid geleer het toe hy ’n student in Amerika was. Hierdie jong man het gehelp om sowat 40 Bybelstudiegroepe in die suide van Indië tot stand te bring. Maar nadat hy vir ander gepreek het, het hy self verwerplik geword deur Christelike beginsels te laat vaar.—Vergelyk 1 Korinthiërs 9:26, 27.
Maar om en by dieselfde tyd is ’n boekdeel van Studies in the Scriptures aan A. J. Joseph, van Travancore (Kerala), gestuur, in antwoord op ’n navraag wat hy per brief aan ’n vooraanstaande Adventis gerig het. In hierdie boek het hy bevredigende skriftuurlike antwoorde op sy vrae oor die Drie-eenheid gekry. Kort voor lank het hy en ander familielede hulle nuutgevonde oortuigings aan mense in die ryslande en kokosneutplantasies in suidelike Indië gaan verkondig. Ná broer Russell se besoek in 1912 het broer Joseph die voltydse diens betree. Hy het per trein, oskar, vragskuit en te voet gereis om Bybellektuur te versprei. Wanneer hy openbare toesprake gehou het, is dit dikwels deur die geestelikes en hulle volgelinge ontwrig. Toe ’n “Christen”-geestelike sy volgelinge aangehits het om so ’n vergadering by Kundara te ontwrig en broer Joseph met mis te gooi, het ’n invloedryke Hindoe-man kom kyk waaroor al die geraas gaan. Hy het die geestelike gevra: ‘Is dit die voorbeeld wat Christus vir Christene gestel het om na te volg of gedra julle julle nou soos die Fariseërs van Jesus se tyd?’ Die geestelike het die aftog geblaas.
Voordat die IBSA-komitee hulle vier maande lange wêreldreis voltooi het, het broer Russell gereël dat R. R. Hollister die Genootskap se verteenwoordiger in die Ooste sou wees en die werk sou voortsit om die boodskap van God se liefdevolle voorsiening van die Messiaanse Koninkryk aan die mense daar te verkondig. Spesiale traktate is in tien tale voorberei en miljoene daarvan is in Indië, China, Japan en Korea deur plaaslike mense versprei. Daarna is boeke in vier van hierdie tale vertaal om nog geestelike voedsel aan diegene te voorsien wat belangstelling getoon het. Dit was ’n ontsaglike veld en daar was nog baie werk wat gedoen moes word. Tog was dit waarlik verbasend hoeveel werk tot op daardie tydstip gedoen is.
’n Merkwaardige getuienis is gelewer
Voordat die verwoesting van die Eerste Wêreldoorlog ontketen is, is ’n omvattende getuienis wêreldwyd gelewer. Broer Russell het na honderde stede in die Verenigde State en Kanada gereis om toesprake te hou, het verskeie kere na Europa gereis en het gehore in Panama, Jamaika en Kuba sowel as in vername stede in die Ooste toegespreek. Tienduisende mense het sy aangrypende Bybeltoesprake persoonlik gehoor en gesien hoe hy in die openbaar vrae uit die Skrif beantwoord wat deur sowel vriend as vyand geopper is. Baie belangstelling is op dié manier aangewakker, en duisende koerante in Amerika, Europa, Suid-Afrika en Australië het broer Russell se preke gereeld gepubliseer. Miljoene boeke sowel as honderdmiljoene traktate en ander stukke lektuur in 35 tale is deur die Bybelstudente versprei.
Hoewel broer Russell ’n besondere rol gespeel het, was hy nie die enigste wat die predikingswerk gedoen het nie. Ander wat oor die hele aarde versprei was, het ook hulle stemme as getuies van Jehovah en van sy Seun, Jesus Christus, verenig. Nie almal wat daaraan deelgeneem het, was openbare sprekers nie. Hulle was van alle stande en hulle het elke gepaste middel tot hulle beskikking gebruik om die goeie nuus te verkondig.
In Januarie 1914, minder as ’n jaar voor die einde van die Heidense Tye, is nog ’n intensiewe getuienisveldtog begin. Dit was die “Fotodrama van die Skepping”, wat God se voorneme met die aarde op ’n nuwe manier beklemtoon het. Dit is gedoen met behulp van pragtige handgeverfde kleurskyfies en rolprente wat met klank gesinchroniseer is. Die pers in die Verenigde State het berig dat dit oor die hele land elke week deur gehore van honderdduisende gesien is. Teen die einde van die eerste jaar het die totale bywoningsyfer in die Verenigde State en Kanada byna agtmiljoen bereik. In Londen, Engeland, het ontsaglike skares na die Operahuis en die Royal Albert-saal gestroom om hierdie aanbieding te sien, wat bestaan het uit vier dele van twee uur elk. Binne ses maande het meer as 1 226 000 hierdie aanbieding in 98 stede in die Britse Eilande bygewoon. In Duitsland en Switserland het gehore die beskikbare sale van hoek tot kant volgesit. Dit is ook deur groot gehore in Skandinawië en die Stille Suidsee gesien.
Wat ’n merkwaardige, intensiewe, wêreldwye getuienis is tog gedurende daardie vroeë dekades van die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies gelewer! Maar in werklikheid was dit maar net die begin van die werk.
Slegs ’n paar honderd het gedurende die vroeë 1880’s daadwerklik aan die verkondiging van Bybelwaarheid deelgeneem. Volgens beskikbare verslae was daar teen 1914 ongeveer 5 100 wat aan die werk deelgeneem het. Ander het moontlik af en toe traktate versprei. Die werkers was betreklik min.
Hierdie klein groepie evangeliedienaars het teen die einde van 1914 reeds op verskeie maniere hulle verkondiging van God se Koninkryk tot in 68 lande uitgebrei. En hulle werk as predikers en onderrigters van God se Woord is op ’n redelik bestendige grondslag in 30 van hierdie lande gevestig.
Miljoene boeke en honderdmiljoene traktate is voor die einde van die Heidense Tye versprei. Daarbenewens het tot 2 000 koerante teen 1913 gereeld preke gepubliseer wat deur C. T. Russell voorberei is, en in 1914 het gehore van altesaam meer as 9 000 000 mense op drie vastelande die “Fotodrama van die Skepping” gesien.
Waarlik, ’n merkwaardige getuienis is gelewer! Maar daar het nog baie werk voorgelê.
[Voetnoot]
a ’n Volledige verslag van hierdie wêreldreis verskyn in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 April 1912.
[Kaart/Prent op bladsy 405]
C. T. Russell self het Bybeltoesprake in meer as 300 stede (in die gebiede wat met kolletjies aangedui is) in Noord-Amerika en die Karibiese Eilande gehou—10 of 15 keer in baie van hulle
[Kaart]
(Sien publikasie)
[Kaart op bladsy 407]
(Sien publikasie)
Broer Russell se predikingsreise na Europa, gewoonlik via Engeland
1891
1903
1908
1909
1910 (twee keer)
1911 (twee keer)
1912 (twee keer)
1913
1914
[Kaart/Prent op bladsy 408]
Toe Andreas Øiseth oortuig was dat hy die waarheid gevind het, het hy Bybellektuur ywerig in byna elke deel van Noorweë versprei
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NOORWEË
Noordpoolsirkel
[Kaart/Prent op bladsy 409]
Adolf Weber, ’n nederige tuinier, het die goeie nuus van Switserland na ander lande in Europa geneem
[Kaart]
BELGIË
DUITSLAND
SWITSERLAND
ITALIË
FRANKRYK
[Kaart/Prent op bladsy 413]
Bellona Ferguson, in Brasilië—‘niemand is te ver weg om bereik te word nie’
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BRASILIË
[Kaart op bladsy 415]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ALASKA
KANADA
GROENLAND
ST. PIERRE & MIQUELON
VERENIGDE STATE VAN AMERIKA
BERMUDA
BAHAMAS
TURKS & CAICOS-EILANDE
KUBA
MEXIKO
BELIZE
JAMAIKA
HAÏTI
DOMINIKAANSE REPUBLIEK
PUERTO RICO
KAAIMANSEILANDE
GUATEMALA
EL SALVADOR
HONDURAS
NICARAGUA
COSTA RICA
PANAMA
VENEZUELA
GUYANA
SURINAME
FRANSGUIANA
COLOMBIA
ECUADOR
PERU
BRASILIË
BOLIVIA
PARAGUAY
CHILI
ARGENTINIË
URUGUAY
FALKLANDEILANDE
MAAGDEEILANDE (VSA)
MAAGDEEILANDE (BRITS)
ANGUILLA
ST. MAARTEN
SABA
ST. EUSTATIUS
ST. KITTS
NEVIS
ANTIGUA
MONTSERRAT
GUADELOUPE
DOMINICA
MARTINIQUE
ST. LUCIA
ST. VINCENT
BARBADOS
GRENADA
TRINIDAD
ARUBA
BONAIRE
CURAÇAO
ATLANTIESE OSEAAN
KARIBIESESEE
STILLE OSEAAN
[Kaart op bladsy 416, 417]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GROENLAND
SWEDE
YSLAND
NOORWEË
FAROËREILANDE
FINLAND
RUSLAND
ESTLAND
LETLAND
LITAUE
BELARUS
OEKRAÏNE
MOLDAWIË
GEORGIË
ARMENIË
ASERBAIDJAN
TOERKMENISTAN
OESBEKISTAN
KAZAKSTAN
TADJIKISTAN
KIRGIZSTAN
POLE
DUITSLAND
NEDERLAND
DENEMARKE
BRITTANJE
IERLAND
BELGIË
LUXEMBURG
LIECHTENSTEIN
SWITSERLAND
TSJEGGO-SLOWAKYE
OOSTENRYK
HONGARYE
ROEMENIË
JOEGO-SLAWIË
SLOWENIË
KROASIË
BOSNIË & HERZEGOWINA
BULGARYE
ALBANIË
ITALIË
GIBRALTAR
SPANJE
PORTUGAL
MADEIRA
MAROKKO
WESTELIKE SAHARA
SENEGAL
ALGERIË
LIBIË
EGIPTE
LIBANON
ISRAEL
CIPRUS
SIRIË
TURKYE
IRAK
IRAN
BAHREIN
KOEWEIT
JORDANIË
SAOEDIARABIË
KATAR
VERENIGDE ARABIESE EMIRATE
OMAN
JEMEN
DJIBOUTI
SOMALIË
ETHIOPIË
SOEDAN
TSJAAD
NIGER
MALI
MAURITANIË
GAMBIË
GUINEEBISSAU
SIERRA LEONE
LIBERIË
CÔTE D’IVOIRE
GHANA
TOGO
BENIN
EKWATORIAALGUINEE
ST. HELENA
GUINEE
BURKINA FASO
NIGERIË
SENTRAALAFRIKAANSE REPUBLIEK
KAMEROEN
SAO TOMÉ
KONGO
GABOEN
ZAÏRE
ANGOLA
ZAMBIË
NAMIBIË
BOTSWANA
SUIDAFRIKA
LESOTHO
SWAZILAND
MOSAMBIEK
MADAGASKAR
RÉUNION
MAURITIUS
RODRIGUEZ
ZIMBABWE
MAYOTTE
COMORE
SEYCHELLE
MALAWI
TANZANIË
BURUNDI
RWANDA
UGANDA
FRANKRYK
PAKISTAN
AFGANISTAN
NEPAL
BHUTAN
MYANMA
BANGLADESJ
INDIË
SRI LANKA
GRIEKELAND
MALTA
TUNISIË
KENIA
ATLANTIESE OSEAAN
INDIESE OSEAAN
ALASKA
MONGOLIË
DEMOKRATIESE VOLKSREPUBLIEK KOREA
JAPAN
REPUBLIEK VAN KOREA
CHINA
MACAO
TAIWAN
HONGKONG
LAOS
THAILAND
VIËTNAM
KAMBODJA
FILIPPYNE
BRUNEI
MALEISIË
SINGAPOER
INDONESIË
SAIPAN
ROTA
GUAM
JAP
BELAU
CHUUK
POHNPEI
KOSRAE
MARSHALLEILANDE
NAURU
PAPOEANIEU-GUINEE
AUSTRALIË
NIEU-SEELAND
NORFOLKEILAND
NIEUCALEDONIË
WALLIS & FUTUNAEILANDE
VANUATU
TUVALU
FIDJI
KIRIBATI
TOKELAU
HAWAII
WESTELIKE SAMOA
AMERIKAANSE SAMOA
NIUE
TONGA
COOKEILANDE
TAHITI
SALOMONEILANDE
STILLE OSEAAN
INDIESE OSEAAN
[Kaart/Prent op bladsy 421]
A. J. Joseph, van Indië, saam met sy dogter Gracie, wat as ’n Gileadopgeleide sendeling gedien het
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
INDIË
[Prent op bladsy 411]
Hermann Herkendell het saam met sy bruid ’n wittebroodsreis van baie maande onderneem om vir Duitssprekendes in Rusland te gaan preek
[Prente op bladsy 412]
Kolporteurs in Engeland en Skotland het probeer om almal die geleentheid te gee om ’n getuienis te ontvang; selfs hulle kinders het met die verspreiding van traktate gehelp
[Prent op bladsy 414]
E. J. Coward het Bybelwaarheid ywerig in die Karibiese gebied verkondig
[Prent op bladsy 418]
Frank Grove (links) en Ed Nelson (hier saam met hulle vrouens) het albei meer as 50 jaar lank die Koninkryksboodskap voltyds regdeur Nieu-Seeland verkondig
[Prente op bladsy 420]
C. T. Russell en ses metgeselle het in 1911-12 ’n reis om die wêreld onderneem om die verkondiging van die goeie nuus te bevorder