Hoofstuk veertien
Die twee konings se identiteit verander
1, 2. (a) Wat het daartoe gelei dat Antiogos IV hom aan Rome se eise onderwerp het? (b) Wanneer het Sirië ’n Romeinse provinsie geword?
DIE Siriese koning Antiogos IV val Egipte binne en maak homself koning. Op versoek van die Egiptiese koning Ptolemeus VI stuur Rome die ambassadeur Gajus Popilius Laenas na Egipte. Hy kom daar aan met ’n indrukwekkende vloot en die Romeinse Senaat se opdrag om Antiogos IV afstand te laat doen van sy koningskap van Egipte en uit die land terug te trek. By Eleusis, ’n voorstad van Aleksandrië, ontmoet die Siriese koning en die Romeinse ambassadeur mekaar. Antiogos IV vra tyd om sy raadgewers te raadpleeg, maar Laenas trek ’n sirkel om die koning en sê vir hom om te antwoord voordat hy oor die streep trap. So is Antiogos IV dan verneder, en hy onderwerp hom gevolglik aan Rome se eise en keer in 168 v.G.J. na Sirië terug. Op dié manier kom die konfrontasie tussen die Siriese koning van die Noorde en die Egiptiese koning van die Suide tot ’n einde.
2 Rome speel ’n belangrike rol in die aangeleenthede van die Midde-Ooste en skryf steeds aan Sirië voor. Al het ander konings uit die Seleukiede dinastie ná die dood van Antiogos IV in 163 v.G.J. oor Sirië geheers, was hulle egter nie “die koning van die Noorde” nie (Daniël 11:15). Sirië word eindelik in 64 v.G.J. ’n Romeinse provinsie.
3. Wanneer en hoe het Rome gesag oor Egipte verkry?
3 Die Ptolemeïese dinastie in Egipte beklee 130 jaar ná die dood van Antiogos IV nog steeds die posisie van “die koning van die Suide” (Daniël 11:14). Gedurende die slag by Actium, in 31 v.G.J., verslaan die Romeinse heerser Oktavianus die verenigde magte van die laaste Ptolemeïese koningin—Kleopatra VII—en haar Romeinse minnaar, Markus Antonius. Die daaropvolgende jaar pleeg Kleopatra selfmoord, en Egipte word daarna ook ’n Romeinse provinsie sodat dit nie meer die koning van die Suide is nie. Teen die jaar 30 v.G.J. is Sirië sowel as Egipte onder die gesag van Rome. Moet ons nou verwag dat ander moondhede die koning van die Noorde en die koning van die Suide sal word?
’N NUWE KONING STUUR “’N GELDINSAMELAAR” UIT
4. Waarom kan ons verwag dat ’n ander heerser die koning van die Noorde sou word?
4 In die lente van 33 G.J. het Jesus Christus vir sy dissipels gesê: “Wanneer julle dan die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, waarvan daar deur middel van Daniël, die profeet, gespreek is, in ’n heilige plek sien staan . . . , laat dié wat in Judea is dan na die berge begin vlug” (Matteus 24:15, 16). Jesus het uit Daniël 11:31 aangehaal en sy volgelinge gewaarsku teen ’n toekomstige “walglike ding wat verwoesting veroorsaak”. Hierdie profesie oor die koning van die Noorde is gegee sowat 195 jaar ná die dood van Antiogos IV, die laaste Siriese koning wat daardie posisie beklee het. ’n Ander heerser sou sekerlik die koning van die Noorde moes word. Wie sou dit wees?
5. Wie het as die koning van die Noorde opgetree en die posisie ingeneem wat vroeër deur Antiogos IV beklee is?
5 Jehovah God se engel het voorspel: “In sy plek [die plek van Antiogos IV] sal iemand optree wat ’n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie” (Daniël 11:20). Die een wat op hierdie manier ‘opgetree’ het, was die eerste Romeinse keiser, Oktavianus, wat as Caesar Augustus bekend gestaan het.—Sien “Een is vereer, die ander verag”, op bladsy 248.
6. (a) Wanneer is “’n geldinsamelaar” uitgestuur om deur “die pragtigste deel van die koninkryk” te gaan, en waarom was dit belangrik? (b) Waarom kan daar gesê word dat Augustus “nie deur toorn of deur oorlog” gesterf het nie? (c) Hoe het die identiteit van die koning van die Noorde verander?
6 “Die pragtigste deel van die koninkryk” van Augustus het “die Pragtige Land”—die Romeinse provinsie Judea—ingesluit (Daniël 11:16). In 2 v.G.J. het Augustus “’n geldinsamelaar” uitgestuur deur te beveel dat ’n registrasie, of sensus, gehou word, moontlik om vir belastingdoeleindes en diensplig die bevolkingstal vas te stel. Weens hierdie bevel het Josef en Maria na Betlehem gereis om geregistreer te word, wat tot gevolg gehad het dat Jesus daar gebore is, soos dit ook voorspel is (Miga 5:1; Matteus 2:1-12). In Augustus 14 G.J.—“binne enkele dae”, of nie lank nadat hy beveel het dat die registrasie moet plaasvind nie—het Augustus op 76-jarige leeftyd gesterf, nie “deur toorn” aan die hande van ’n sluipmoordenaar of “deur oorlog” nie, maar weens siekte. Die koning van die Noorde se identiteit het inderdaad verander! Hierdie koning was nou die Romeinse Ryk wat deur sy keisers verteenwoordig is.
‘DIE VERAGTELIKE TREE OP’
7, 8. (a) Wie het in Augustus se plek as die koning van die Noorde opgestaan? (b) Waarom is “die koninklike waardigheid” teësinnig aan Augustus Caesar se opvolger gegee?
7 Die engel het met die profesie voortgegaan en gesê: “Daarna sal ’n veragtelike in sy [Augustus se] plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig [“deur middel van vleiery verkry”, NW]. En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond.”—Daniël 11:21, 22.
8 Die “veragtelike” was Tiberius Caesar, die seun van Livia, Augustus se derde vrou. (Sien “Een is vereer, die ander verag”, op bladsy 248.) Augustus het hierdie stiefseun gehaat as gevolg van sy slegte eienskappe en wou nie hê dat hy die volgende Caesar moes word nie. “Die koninklike waardigheid” is teësinnig aan hom gegee eers nadat alle ander moontlike opvolgers gesterf het. Augustus het Tiberius in 4 G.J. aangeneem en hom die troonopvolger gemaak. Ná die dood van Augustus het die 54-jarige Tiberius—die veragtelike—‘opgetree’ deur mag as die Romeinse keiser en die koning van die Noorde te aanvaar.
9. Hoe het Tiberius “die koninkryk deur middel van vleiery verkry”?
9 “Tiberius”, sê The New Encyclopædia Britannica, “het die Senaat gemanipuleer en het dit amper ’n maand lank [ná Augustus se dood] nie toegelaat om hom tot keiser te verklaar nie.” Hy het vir die Senaat gesê dat net Augustus in staat was om die las te dra om oor die Romeinse Ryk te heers en het die senators gevra om die republiek weer in te stel deur daardie gesag eerder aan ’n groep manne as aan een man te gee. “Aangesien hulle dit nie kon waag om hom op sy woord te glo nie”, het die geskiedskrywer Will Durant geskryf, “het die Senaat en hy om die beurt voor mekaar geknip en gebuig totdat hy uiteindelik die bewind aanvaar het.” Durant het bygevoeg: “Albei spelers het hulle rol goed vertolk. Tiberius wou die keiserskap hê, anders sou hy die een of ander manier gevind het om dit te vermy; die Senaat het hom gevrees en gehaat, maar wou nie ’n republiek herinstel wat soos die oue op teoreties soewereine vergaderinge gebaseer is nie.” Sodoende het Tiberius “die koninkryk deur middel van vleiery verkry”.
10. Hoe is ‘die leërs van die instromende mag verbreek’?
10 Van “die leërs van die instromende mag”—die strydkragte van die omliggende koninkryke—het die engel gesê: ‘Hulle sal voor hom weggespoel en verbreek word.’ Toe Tiberius die koning van die Noorde geword het, was sy broerskind Germanikus Caesar die bevelvoerder van die Romeinse troepe by die Ryn. In 15 G.J. het Germanikus sy troepe met redelike sukses teen die Duitse held Arminius aangevoer. Maar die beperkte oorwinnings het ’n hoë koste gehad en Tiberius het daarna krygsverrigtinge in Duitsland gestaak. Hy het eerder probeer keer dat die Duitse stamme verenig deur burgeroorlog aan te stook. Tiberius het oor die algemeen ’n verdedigende buitelandse beleid gevolg en hom daarop toegelê om die grense te versterk. Hierdie benadering was betreklik suksesvol. Op dié manier is “die leërs van die instromende mag” beheer en “verbreek”.
11. Hoe is ‘die vors van die verbond verbreek’?
11 Ook “die vors van die verbond” wat Jehovah God met Abraham gesluit het en waarvolgens al die nasies van die aarde geseën sou word, is “verbreek”. Jesus Christus was die Saad van Abraham wat in daardie verbond belowe is (Genesis 22:18; Galasiërs 3:16). Op 14 Nisan 33 G.J. het Jesus voor Pontius Pilatus in die Romeinse goewerneur se paleis in Jerusalem gestaan. Die Joodse priesters het Jesus van verraad teen die keiser beskuldig. Maar Jesus het vir Pilatus gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. . . . My koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie.” Om te keer dat die Romeinse goewerneur die onskuldige Jesus vrylaat, het die Jode geskreeu: “As u hierdie man vrylaat, is u nie ’n vriend van Caesar nie. Elkeen wat homself ’n koning maak, spreek teen Caesar.” Nadat hulle daarop aangedring het dat Jesus tereggestel word, het hulle gesê: “Ons het geen koning behalwe Caesar nie.” Volgens die wet van “majesteitskennis”, wat deur Tiberius uitgebrei is totdat dit omtrent enige belediging teen Caesar ingesluit het, het Pilatus Jesus oorhandig om “verbreek”, of aan ’n folterpaal gehang, te word.—Johannes 18:36; 19:12-16; Markus 15:14-20.
’N TIRAN ‘BERAAM PLANNE’
12. (a) Wie het ’n bondgenootskap met Tiberius aangegaan? (b) Hoe het Tiberius ‘deur middel van ’n klein nasie sterk geword’?
12 Die engel het steeds oor Tiberius geprofeteer en gesê: “Sodra ’n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe [“deur middel van ’n klein nasie”, NW] sterk word” (Daniël 11:23). Lede van die Romeinse Senaat het grondwetlik “’n bondgenootskap met [Tiberius] aangegaan”, en hy was skynbaar van hulle afhanklik. Maar hy was slinks en het in der waarheid ‘deur middel van ’n klein nasie sterk geword’. Daardie klein nasie was die Romeinse pretoriaanse wag, wat naby Rome se mure gestasioneer was. Die feit dat hulle so naby was, het die Senaat geïntimideer en het Tiberius gehelp om enige opstand teen sy gesag onder die volksmenigte te bedwing. Tiberius het dus deur middel van sowat 10 000 wagte sterk gebly.
13. In watter opsig het Tiberius sy voorvaders oortref?
13 Die engel het profeties bygevoeg: “Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir ’n tyd” (Daniël 11:24). Tiberius was geweldig agterdogtig en sy bewind is gekenmerk deur moorde waarvoor hy die opdrag gegee het. Grootliks as gevolg van die invloed van Sejanus, die bevelvoerder van die pretoriaanse wag, was die laaste jare van sy heerskappy ’n skrikbewind. Uiteindelik het Sejanus ook onder verdenking gekom en is hy tereggestel. Tiberius het sy voorvaders oortref wat sy tirannie oor die volk betref.
14. (a) Hoe het Tiberius “roof en buit en goed” onder die Romeinse provinsies uitgestrooi? (b) Hoe is Tiberius beskou teen die tyd dat hy gesterf het?
14 Tiberius het egter “roof en buit en goed” onder die Romeinse provinsies uitgestrooi. Teen die tyd van sy dood het al die onderworpe volke voorspoed geniet. Belasting was lig, en hy was soms selfs vrygewig teenoor volke in tye van nood. As soldate of beamptes enigiemand verdruk het of onreëlmatig opgetree het in die manier waarop hulle sake hanteer het, kon hulle beslis verwag dat die keiser hulle daarvoor sou straf. ’n Stewige houvas op mag het die openbare veiligheid verseker, en ’n verbeterde kommunikasiestelsel het die handel aangehelp. Tiberius het gesorg dat sake binne en buite Rome regverdig en bestendig geadministreer is. Die wette is verbeter, en maatskaplike en sedelike standaarde is verhoog deur die hervormings wat Augustus Caesar ingestel het voort te sit. Maar Tiberius het bose “planne beraam”, sodat die Romeinse geskiedskrywer Tacitus hom beskryf het as ’n huigelagtige man wat goed daarmee was om valse indrukke te skep. Teen die tyd dat Tiberius in Maart 37 G.J. gesterf het, is hy as ’n tiran beskou.
15. Hoe het Rome laat in die eerste en vroeg in die tweede eeu G.J. gevaar?
15 Die opvolgers van Tiberius wat die koning van die Noorde was, was onder meer Gajus Caesar (Kaligula), Claudius I, Nero, Vespasianus, Titus, Domitianus, Nerva, Trajanus en Hadrianus. The New Encyclopædia Britannica sê: “Die opvolgers van Augustus het in die meeste gevalle voortgegaan met sy administratiewe beleid en bouprogram, al was dit met minder vindingrykheid en groter vertoon.” Dieselfde naslaanwerk sê verder: “Laat in die 1ste en vroeg in die 2de eeu was Rome op die hoogtepunt van sy glorie en bevolking.” Hoewel Rome gedurende hierdie tye probleme aan die grense van die ryk gehad het, het die eerste voorspelde konfrontasie met die koning van die Suide eers in die derde eeu G.J. plaasgevind.
TEEN DIE KONING VAN DIE SUIDE OPGEWEK
16, 17. (a) Wie het die koning van die Noorde geword wat inDaniël 11:25 genoem word? (b) Wie het die koning van die Suide geword, en hoe het dit gebeur?
16 God se engel het met die profesie voortgegaan en gesê: “Hy [die koning van die Noorde] sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met ’n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met ’n groot en baie sterk leër, maar hy [die koning van die Noorde] sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam. En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê.”—Daniël 11:25, 26.
17 Omtrent 300 jaar nadat Oktavianus Egipte ’n Romeinse provinsie gemaak het, het die Romeinse keiser Aurelianus die koning van die Noorde geword. Intussen het koningin Septimia Zenobia van die Romeinse kolonie Palmira die posisie van koning van die Suide beklee.a (Sien “Zenobia—die kryger-koningin van Palmira”, op bladsy 252.) Die Palmireense leër het Egipte in 269 G.J. binnegeval, onder die voorwendsel dat hulle dit vir Rome wou beveilig. Zenobia wou Palmira die vernaamste stad in die ooste maak en wou oor Rome se oostelike provinsies heers. Aurelianus is verontrus deur Zenobia se ambisie en het “sy krag en sy hart” opgewek om teen haar op te trek.
18. Wat was die uiteinde van die stryd tussen keiser Aurelianus, die koning van die Noorde, en koningin Zenobia, die koning van die Suide?
18 As die heersende entiteit wat deur Zenobia gelei is, het die koning van die Suide hom “met ’n groot en baie sterk leër” onder twee generaals, Sabdas en Sabbai, teen die koning van die Noorde “in die oorlog begewe”. Maar Aurelianus het Egipte ingeneem en toe ’n ekspedisie na Klein-Asië en Sirië onderneem. Zenobia is by Emesa (nou Homs) verslaan en het daarna na Palmira teruggetrek. Toe Aurelianus daardie stad beleër het, het Zenobia dit dapper verdedig, maar sonder sukses. Sy en haar seun het in die rigting van Persië gevlug, maar is by die Eufraatrivier deur die Romeine gevange geneem. Die Palmirene het hulle stad in 272 G.J. oorgegee. Aurelianus het Zenobia se lewe gespaar, en in 274 G.J. was sy die hooffiguur in sy triomftog deur Rome. Sy het die res van haar lewe as ’n Romeinse dame deurgebring.
19. Hoe het Aurelianus geval weens bose ‘planne wat teen hom beraam is’?
19 Aurelianus het self ‘nie standgehou nie, want hulle het planne teen hom beraam’. In 275 G.J. het hy op ’n veldtog teen die Perse uitgetrek. Terwyl hy in Trasië vir die geleentheid gewag het om die seestraat na Klein-Asië oor te steek, het dié wat ‘sy kos geëet het’ bose planne teen hom beraam en hom ‘te gronde gerig’. Hy was van plan om sy sekretaris Eros tot verantwoording te roep vir sekere onreëlmatighede. Maar Eros het ’n lys name versin van sekere offisiere wat vermoor sou word. Toe die offisiere hierdie lys sien, het hulle ’n komplot gesmee om Aurelianus te vermoor.
20. Hoe het die “leër” van die koning van die Noorde ‘weggevloei’?
20 Die koning van die Noorde het nie met die dood van keiser Aurelianus tot ’n einde gekom nie. Ander Romeinse heersers het op hom gevolg. Daar was ’n tyd lank ’n keiser in die weste en een in die ooste. Onder hierdie manne het die “leër” van die koning van die Noorde ‘weggevloei’, of “verstrooi geword”,b en baie het ‘gesneuwel’ weens die invalle van die Germaanse stamme uit die noorde. Gote het in die vierde eeu G.J. deur die Romeinse grens gebreek. Die een inval het op die ander gevolg. In 476 G.J. het die Duitse leier Odoaker die laaste keiser wat in Rome regeer het, verwyder. Teen die begin van die sesde eeu was die Romeinse Ryk in die weste verpletter, en Duitse konings het in Britannia, Gallië, Italië, Noord-Afrika en Spanje regeer. Die oostelike deel van die ryk het tot in die 15de eeu voortgeduur.
’N GROOT RYK WORD VERDEEL
21, 22. Watter veranderinge het Konstantyn in die vierde eeu G.J. teweeggebring?
21 Sonder om op onnodige besonderhede in te gaan oor die verbrokkeling van die Romeinse Ryk wat oor eeue gestrek het, het Jehovah se engel voortgegaan en verdere prestasies van die koning van die Noorde en die koning van die Suide voorspel. Maar ’n kort oorsig van sekere verwikkelinge in die Romeinse Ryk sal ons help om die twee mededingende konings in latere tye te identifiseer.
22 In die vierde eeu het die Romeinse keiser Konstantyn staatserkenning aan die afvallige Christelike godsdiens gegee. Hy het in 325 G.J. selfs ’n kerklike konsilie by Nicea, Klein-Asië, saamgeroep en self as voorsitter gedien. Later het Konstantyn die keiserlike woning van Rome na Bisantium, of Konstantinopel, verskuif en daardie stad sy nuwe hoofstad gemaak. Die Romeinse Ryk het onder die heerskappy van ’n enkele keiser voortgeduur tot die dood van keiser Teodosius I, op 17 Januarie 395 G.J.
23. (a) Hoe is die Romeinse Ryk ná die dood van Teodosius verdeel? (b) Wanneer het die Oostelike Ryk tot ’n einde gekom? (c) Wie het teen 1517 oor Egipte regeer?
23 Ná die dood van Teodosius is die Romeinse Ryk tussen sy seuns verdeel. Honorius het die westelike gedeelte gekry en Arkadius die oostelike gedeelte, wat Konstantinopel as sy hoofstad gehad het. Britannia, Gallië, Italië, Spanje en Noord-Afrika was onder die provinsies van die westelike gedeelte. Masedonië, Trasië, Klein-Asië, Sirië en Egipte was provinsies van die oostelike gedeelte. In 642 G.J. het die Egiptiese hoofstad, Aleksandrië, in die hande van die Sarasene (Arabiere) geval, en Egipte het ’n provinsie van die kaliefs geword. In Januarie 1449 het Konstantyn XI die laaste keiser van die ooste geword. Ottomaanse Turke onder sultan Mehmet II het Konstantinopel op 29 Mei 1453 ingeneem, wat die Oos-Romeinse Ryk tot ’n einde gebring het. Egipte het in 1517 ’n Turkse provinsie geword. Mettertyd sou hierdie land van die eertydse koning van die Suide onder die beheer van ’n ander ryk uit die weste kom.
24, 25. (a) Wat het volgens party geskiedskrywers die begin van die Heilige Romeinse Ryk aangekondig? (b) Wat het uiteindelik met die titel “keiser” van die Heilige Romeinse Ryk gebeur?
24 In die westelike gedeelte van die Romeinse Ryk het die Katolieke biskop van Rome opgestaan, in die besonder pous Leo I, wat daarvoor bekend geword het dat hy pouslike gesag in die vyfde eeu G.J. laat geld het. Mettertyd het die pous dit op hom geneem om die keiser van die westelike gedeelte te kroon. Dit het in Rome plaasgevind, op Kersdag 800 G.J., toe pous Leo III die Frankiese koning Karel (die Grote) as keiser van die nuwe Wes-Romeinse Ryk gekroon het. Hierdie kroning het die keiserskap weer in Rome herstel en het volgens sommige geskiedskrywers die begin van die Heilige Romeinse Ryk aangekondig. Van toe af was daar die Oos-Romeinse Ryk en die Heilige Romeinse Ryk in die weste, wat albei beweer het dat hulle Christelik was.
25 Met verloop van tyd het Karel die Grote se opvolgers getoon dat hulle onbekwame heersers was. ’n Tyd lank was daar nie eers ’n keiser nie. Intussen het die Duitse koning Otto I die beheer van groot dele van Noord- en Sentraal-Italië gekry. Hy het homself koning van Italië verklaar. Op 2 Februarie 962 G.J. het pous Johannes XII Otto I as die keiser van die Heilige Romeinse Ryk gekroon. Sy hoofstad was in Duitsland en die keisers was, soos die meeste van hulle onderdane, Duitsers. Vyf eeue later het die Oostenrykse huis van Habsburg die titel “keiser” verkry en dit vir die grootste gedeelte van die oorblywende jare van die Heilige Romeinse Ryk gebruik.
DIE TWEE KONINGS KOM WEER DUIDELIK NA VORE
26. (a) Wat kan van die einde van die Heilige Romeinse Ryk gesê word? (b) Wie het as die koning van die Noorde te voorskyn getree?
26 Napoleon I het die Heilige Romeinse Ryk ’n doodsteek gegee toe hy ná sy oorwinnings in Duitsland in 1805 geweier het om die bestaan daarvan te erken. Aangesien keiser Frans II nie sy kroon kon verdedig nie, het hy op 6 Augustus 1806 afstand gedoen van sy titel as keiser van die Romeinse Ryk en teruggetrek na sy nasionale regering as keiser van Oostenryk. Ná 1 006 jaar het die Heilige Romeinse Ryk—wat deur Leo III, ’n Rooms-Katolieke pous, en Karel die Grote, ’n Frankiese koning, gestig is—tot ’n einde gekom. In 1870 het Rome die hoofstad geword van die koninkryk Italië, wat onafhanklik van die Vatikaan was. Die daaropvolgende jaar het ’n Germaanse ryk begin met Wilhelm I wat tot keiser daaroor uitgeroep is. So het die nuwe koning van die Noorde—Duitsland—op die toneel verskyn.
27. (a) Hoe het Egipte ’n Britse protektoraat geword? (b) Wie het die posisie van die koning van die Suide beklee?
27 Maar wie was die nuwe koning van die Suide? Die geskiedenis toon dat Brittanje in die 17de eeu ’n imperiale mag geword het. Napoleon I het Egipte in 1798 verslaan in ’n poging om Britse handelsroetes te ontwrig. ’n Oorlog het gevolg en ’n Brits-Ottomaanse bondgenootskap het die Franse gedwing om hulle te onttrek uit Egipte, wat aan die begin van die stryd die koning van die Suide was. Gedurende die daaropvolgende eeu het die Britse invloed in Egipte toegeneem. Ná 1882 was Egipte in werklikheid ’n Britse besitting. Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, het Egipte aan Turkye behoort en is dit deur ’n khedive, of onderkoning, regeer. Nadat Turkye hom in daardie oorlog aan Duitsland se kant geskaar het, het Brittanje egter die khedive onttroon en Egipte tot ’n Britse protektoraat verklaar. Brittanje en die Verenigde State het geleidelik sterk bande gevorm en uiteindelik die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid geword. Saam het hulle die posisie van die koning van die Suide beklee.
[Voetnote]
a Aangesien die benamings “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” titels is, kan hulle na enige soort heerser verwys—’n koning, ’n koningin of ’n blok nasies.
b Sien die voetnoot oor Daniël 11:26 in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
WAT HET JY GELEER?
• Watter Romeinse keiser het eerste as die koning van die Noorde opgestaan, en wanneer het hy “’n geldinsamelaar” uitgestuur?
• Wie het ná Augustus die posisie van koning van die Noorde beklee, en hoe is ‘die vors van die verbond verbreek’?
• Wat was die uiteinde van die stryd tussen Aurelianus as die koning van die Noorde en Zenobia as die koning van die Suide?
• Wat het van die Romeinse Ryk geword, en watter moondhede het teen die einde van die 19de eeu die posisies van die twee konings beklee?
[Venster/Prent op bladsy 248-251]
EEN IS VEREER, DIE ANDER VERAG
DIE een het ’n republiek vol tweedrag in ’n wêreldryk omskep. Die ander het die rykdom daarvan in 23 jaar twintigvoudig vermeerder. Die een is vereer toe hy gesterf het, maar die ander is verag. Die heerskappye van hierdie twee keisers van Rome het met Jesus se lewe en bediening saamgeval. Wie was hulle? En waarom is die een vereer en die ander verag?
HY “HET ROME VAN BAKSTEEN GEVIND EN DIT VAN MARMER NAGELAAT”
In 44 v.G.J. toe Julius Caesar vermoor is, was sy suster se kleinseun Gajus Oktavius maar 18 jaar oud. Aangesien die jong Oktavianus, soos hy later genoem is, die aangenome seun van Julius Caesar en sy vernaamste erfgenaam was, het hy onmiddellik na Rome vertrek om sy erfenis op te eis. Daar het hy ’n gedugte teenstander teëgekom—Caesar se hoofluitenant, Markus Antonius, wat verwag het dat hý die hooferfgenaam sou wees. Die gevolglike politieke intrige en magstryd het 13 jaar geduur.
Eers nadat Oktavianus die gekombineerde magte van die Egiptiese koningin Kleopatra en haar minnaar Markus Antonius (in 31 v.G.J.) verslaan het, het hy die onbestrede heerser van die Romeinse Ryk geword. Die daaropvolgende jaar het Antonius en Kleopatra selfmoord gepleeg, en Oktavianus het Egipte geannekseer. Die laaste spoor van die Griekse Ryk is sodoende verwyder, en Rome het die wêreldmoondheid geword.
Oktavianus het onthou dat Julius Caesar se despotiese magsuitoefening daartoe gelei het dat hy vermoor is en was dus baie versigtig om nie dieselfde fout te begaan nie. Sodat hy nie Romeine wat ten gunste van ’n republiek was, sou aanstoot gee nie, het hy sy monargie ’n republikeinse voorkoms gegee. Hy het die titels “koning” en “diktator” van die hand gewys. Hy het ’n stap verder gegaan en aangekondig dat hy besluit het om die beheer van al die provinsies aan die Romeinse Senaat oor te dra en het aangebied om afstand te doen van die ampte wat hy beklee het. Hierdie taktiek was suksesvol. Die dankbare Senaat het Oktavianus aangespoor om sy posisies en die beheer oor party van die provinsies te behou.
Daarbenewens het die Senaat op 16 Januarie 27 v.G.J. die titel “Augustus”, wat “verhewe, heilig” beteken, aan Oktavianus toegeken. Oktavianus het nie net die titel aanvaar nie, maar het ook ’n maand na homself vernoem en ’n dag by Februarie geleen sodat Augustus net soveel dae sou hê soos Julie, die maand wat na Julius Caesar vernoem is. Oktavianus het dus die eerste keiser van Rome geword en het daarna bekend gestaan as Caesar Augustus of “die Augustus”. Later het hy ook die titel “pontifex maximus” (hoëpriester) aangeneem, en in 2 v.G.J.—die jaar toe Jesus gebore is—het die Senaat hom die titel Pater Patriae, “Vader van sy land”, gegee.
Daardie selfde jaar “het ’n verordening van Caesar Augustus uitgegaan dat die hele bewoonde aarde geregistreer moet word . . . en al die mense het op reis gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad” (Lukas 2:1-3). As gevolg van hierdie bevel is Jesus in Betlehem gebore, soos die Bybelprofesie voorspel het.—Daniël 11:20; Miga 5:1.
Onder Augustus was die regering gekenmerk deur ’n mate van eerlikheid en ’n sterk geldeenheid. Augustus het ook ’n doeltreffende posstelsel ingestel en paaie en brûe gebou. Hy het die leër herorganiseer, ’n permanente vloot op die been gebring, en ’n keurgroep keiserlike lyfwagte georganiseer wat as die pretoriaanse wag bekend gestaan het (Filippense 1:13). Onder sy beskerming het skrywers soos Vergilius en Horatius gefloreer, en beeldhouers het pragtige werke geskep in wat ons nou die klassieke styl noem. Augustus het geboue voltooi wat Julius Caesar onvoltooid gelaat het en het baie tempels herstel. Die Pax Romana (“Romeinse vrede”) wat hy ingestel het, het meer as 200 jaar lank geduur. Op 19 Augustus 14 G.J. het Augustus op 76-jarige ouderdom gesterf, en hy is daarna tot ’n god verklaar.
Augustus het gespog dat hy ‘Rome van baksteen gevind het en dit van marmer nagelaat het’. Hy wou nie hê dat Rome weer in die tweedrag van die vorige republiek moes verval nie en het gevolglik besluit om die volgende keiser op te lei. Maar hy het nie veel van ’n keuse gehad wat sy opvolger betref nie. Sy susterskind, twee kleinseuns, ’n skoonseun en ’n stiefseun het almal gesterf, en dit het net sy stiefseun Tiberius gelaat wat kon oorneem.
DIE “VERAGTELIKE”
Minder as ’n maand ná Augustus se dood het die Romeinse Senaat die 54-jarige Tiberius tot keiser verklaar. Tiberius het tot Maart 37 G.J. geleef en regeer. Hy was gevolglik gedurende Jesus se openbare bediening die keiser van Rome.
As keiser het Tiberius goeie en slegte eienskappe gehad. Onder sy goeie eienskappe was ’n teësinnigheid om geld aan luukses uit te gee. Gevolglik was die ryk voorspoedig en het hy ook fondse beskikbaar gehad om te help wanneer daar rampe en swaar tye was. Dit strek Tiberius tot eer dat hy hom as bloot ’n mens beskou het, dat hy baie eretitels van die hand gewys het en oor die algemeen keiseraanbidding eerder tot Augustus as tot homself gerig het. Hy het nie soos Augustus en Julius Caesar ’n kalendermaand na homself vernoem nie, en hy het ander ook nie toegelaat om hom so te vereer nie.
Tiberius se slegte eienskappe het egter sy deugde oorskadu. Hy was geweldig agterdogtig en geveins in sy optrede teenoor ander, en sy heerskappy is gekenmerk deur moorde waarvoor hy die opdrag gegee het—baie wat voorheen sy vriende was, het slagoffers daarvan geword. Hy het die wet van lèse majesté (majesteitskennis) uitgebrei totdat dit nie net oproerige dade ingesluit het nie, maar selfs net lasterlike woorde teen hom as persoon. Die Jode het vermoedelik op grond van hierdie wet druk op die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus uitgeoefen om Jesus te laat doodmaak.—Johannes 19:12-16.
Tiberius het die pretoriaanse wag naby Rome saamgetrek deur ’n versterkte kaserne noord van die mure van die stad te bou. Die Romeinse Senaat, wat ’n bedreiging vir sy mag ingehou het, is deur die teenwoordigheid van die wag geïntimideer, en dit het enige oproerigheid onder die volk in bedwang gehou. Tiberius het ook die informantestelsel gebruik, en die laaste jare van sy heerskappy was ’n skrikbewind.
Teen die tyd van Tiberius se dood is hy as ’n tiran beskou. Toe hy gesterf het, het die Romeine gejuig en die Senaat het geweier om hom tot ’n god te verklaar. Om hierdie en ander redes sien ons in Tiberius ’n vervulling van die profesie wat gesê het dat “’n veragtelike” as “die koning van die Noorde” sou opstaan.—Daniël 11:15, 21.
WAT HET JY GELEER?
• Hoe het Oktavianus die eerste keiser van Rome geword?
• Wat kan oor die prestasies van Augustus se regering gesê word?
• Wat was Tiberius se goeie en slegte eienskappe?
• Hoe is die profesie aangaande “’n veragtelike” in Tiberius vervul?
[Prent]
Tiberius
[Venster/Prente op bladsy 252-255]
ZENOBIA—DIE KRYGER-KONINGIN VAN PALMIRA
“SY WAS donker van gelaat . . . Haar tande was pêrelwit, en haar groot, swart oë het geglinster met ’n buitengewone lig wat deur die aantreklikste sjarme versag is. Haar stem was sterk en welluidend. Haar begrip, soos dié van ’n man, is deur studie verdiep en uitgebrei. Sy het ’n goeie kennis van Latyn gehad, en was net so vaardig in Grieks, Siries en Egipties.” So het die geskiedskrywer Edward Gibbon Zenobia—die kryger-koningin van die Siriese stad Palmira—se lof besing.
Zenobia se man was die Palmireense edelman Odenatus, wat in die jaar 258 G.J. die rang van konsul van Rome gekry het weens sy suksesvolle veldtog teen Persië namens die Romeinse Ryk. Twee jaar later het die Romeinse keiser Galliënus die titel corrector totius Orientis (goewerneur van die hele Ooste) aan Odenatus gegee. Dit was ter erkenning van sy oorwinning oor koning Sjapoer I van Persië. Odenatus het homself later die titel “koning van konings” gegee. Hierdie prestasies van Odenatus kon tot ’n groot mate toegeskryf word aan Zenobia se moed en verstandigheid.
ZENOBIA STREEF DAARNA OM ’N RYK TE SKEP
In 267 G.J., op die hoogtepunt van sy loopbaan, is Odenatus en sy erfgenaam vermoor. Zenobia het haar man se posisie oorgeneem, aangesien haar seun te jonk was. Sy was pragtig, ambisieus, ’n bekwame administrateur, gewoond daaraan om saam met haar man krygstogte te voer en kon verskeie tale vlot praat. Gevolglik het haar onderdane haar gerespekteer en ondersteun. Zenobia was leergierig en het altyd gesorg dat sy intellektuele om haar het. Een van haar raadgewers was die filosoof en redenaar Cassius Longinus—wat glo “’n lewende biblioteek en ’n wandelende museum” was. In die boek Palmyra and Its Empire—Zenobia’s Revolt Against Rome, sê die skrywer Richard Stoneman: “Gedurende die vyf jaar ná die dood van Odenatus . . . het Zenobia haar in die gedagtes van haar volk as koningin van die Ooste gevestig.”
Aan die een kant van Zenobia se gebied was Persië, wat deur haar en haar man lamgelê is, en aan die ander kant was die verbrokkelende Rome. Aangaande die toestande in die Romeinse Ryk op daardie tydstip sê die geskiedskrywer J. M. Roberts: “Die derde eeu was . . . ’n verskriklike tyd vir Rome aan die oostelike sowel as die westelike grens, terwyl daar tuis ’n nuwe tydperk van burgeroorlog en betwiste troonopvolgings begin het. Twee-en-twintig keisers (buiten aanspraakmakers) het gekom en gegaan.” Aan die ander kant was die Siriese koningin ’n goed gevestigde alleenheerser in haar ryk. “Aangesien sy die oorblyfsels van twee ryke [Persië en Rome] beheer het”, sê Stoneman, “kon sy daarna streef om ’n derde te skep wat hulle albei sou oorheers.”
In 269 G.J. het Zenobia die geleentheid gekry om haar koninklike mag uit te brei toe ’n aanspraakmaker wat die Romeinse heerskappy betwis het in Egipte verskyn het. Zenobia se leër het vinnig na Egipte opgetrek, die rebel onderdruk en die land in besit geneem. Sy het haarself tot koningin van Egipte verklaar en muntstukke in haar naam laat slaan. Haar koninkryk het nou van die Nyl tot by die Eufraat gestrek. Op hierdie tydstip in haar lewe het Zenobia die posisie van “die koning van die Suide” beklee.—Daniël 11:25, 26.
ZENOBIA SE HOOFSTAD
Zenobia het haar hoofstad, Palmira, in so ’n mate versterk en versier dat dit gelykgestaan het met die groter stede van die Romeinse wêreld. Die geraamde bevolking daarvan was meer as 150 000. Palmira was vol pragtige openbare geboue, tempels, tuine, pilare en monumente, en die mure om die stad was na bewering 21 kilometer in omtrek. ’n Pilaargang van Korintiese pilare wat oor die 15 meter hoog was—ongeveer 1 500 van hulle—het langs die hoofstraat gestaan. Oral in die stad was daar standbeelde en borsbeelde van helde en ryk weldoeners. In 271 G.J. het Zenobia standbeelde van haarself en haar oorlede man opgerig.
Die Tempel van die Son was een van die pragtigste geboue in Palmira en het ongetwyfeld die godsdienstoneel in die stad oorheers. Zenobia het self moontlik ’n god aanbid wat met die songod verband gehou het. Derde-eeuse Sirië was egter ’n land met baie godsdienste. In Zenobia se gebied was daar verklaarde Christene, Jode en aanbidders van die son en maan. Wat was haar gesindheid teenoor hierdie vorme van aanbidding? Die skrywer Stoneman sê: “’n Verstandige heerser sal geen gebruike verontagsaam wat vir haar volk gepas lyk nie. . . . Hulle het . . . gehoop dat die gode aan Palmira se kant was.” Zenobia was blykbaar verdraagsaam op godsdienstige gebied.
Met haar kleurryke persoonlikheid het Zenobia die bewondering van baie afgedwing. Die rol wat sy gespeel het deurdat sy ’n politieke entiteit verteenwoordig het wat in Daniël se profesie voorspel is, was van die grootste belang. Haar bewind het egter net vyf jaar geduur. Die Romeinse keiser Aurelianus het Zenobia in 272 G.J. verslaan en Palmira daarna onherstelbaar vernietig. Zenobia is begenadig. Sy het glo met ’n Romeinse senator getrou en vermoedelik die res van haar lewe in afsondering deurgebring.
WAT HET JY GELEER?
• Hoe is Zenobia se persoonlikheid beskryf?
• Wat was van Zenobia se prestasies?
• Wat was Zenobia se gesindheid teenoor godsdiens?
[Prent]
Koningin Zenobia spreek haar soldate toe
[Tabel/Prente op bladsy 246]
KONINGS IN DANIËL 11:20-26
Die koning Die koning
van die Noorde van die Suide
Daniël 11:20 Augustus
Daniël 11:21-24 Tiberius
Daniël 11:25, 26 Aurelianus Koningin Zenobia
Die voorspelde Die Germaanse Ryk Brittanje,
verbrokkeling van gevolg deur die
die Romeinse Ryk Anglo-Amerikaanse
lei tot die Wêreldmoondheid
vorming van
[Prent]
Tiberius
[Prent]
Aurelianus
[Prent]
Standbeeldjie van Karel die Grote
[Prent]
Augustus
[Prent]
17de-eeuse Britse oorlogskip
[Volbladillustrasie op bladsy 230]
[Prent op bladsy 233]
Augustus
[Prent op bladsy 234]
Tiberius
[Prent op bladsy 235]
As gevolg van Augustus se bevel het Josef en Maria na Betlehem gereis
[Prent op bladsy 237]
Soos voorspel is, is Jesus in die dood ‘verbreek’
[Prente op bladsy 245]
1. Karel die Grote 2. Napoleon I 3. Wilhelm I 4. Duitse soldate, Eerste Wêreldoorlog