Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 1/15 bl. 28-31
  • “Die donkerkopkoningin van die Siriese wildernis”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die donkerkopkoningin van die Siriese wildernis”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Stad aan die rand van ’n woestyn
  • Zenobia streef daarna om ’n ryk te skep
  • ’n Keiser ‘wek sy hart op’ teen Zenobia
  • Die woestynstad word vernietig
  • Die twee konings se identiteit verander
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Sirië—Spore van ’n interessante verlede
    Ontwaak!—2003
  • Deel 6—Die sesde wêreldmoondheid—Rome
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Die koning van die noorde” in die tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 1/15 bl. 28-31

“Die donkerkopkoningin van die Siriese wildernis”

HAAR gelaatskleur was olyfkleurig, haar tande wit soos pêrels, haar oë swart en glinsterend. Sy was geleerd en goed in tale. Hierdie stryderkoningin was glo intelligenter as Kleopatra en was dalk net so mooi. Omdat sy dit gewaag het om teen die heersende wêreldmoondheid van haar dag in opstand te kom, het sy ’n profetiese rol in ’n skriftuurlike drama vervul. Lank ná haar dood het skrywers haar geloof en het skilders haar geïdealiseer. ’n Digter van die 19de eeu het haar as “die donkerkopkoningin van die Siriese wildernis” beskryf. Die vrou wat so hoog geprys is, was Zenobia—koningin van die Siriese stad Palmira.

Hoe het Zenobia vernaamheid verwerf? Wat het daartoe gelei dat sy aan die bewind gekom het? Wat kan van haar geaardheid gesê word? En watter profetiese rol het hierdie koningin vervul? Kyk eers na die geografiese agtergrond waarteen hierdie drama afspeel.

’n Stad aan die rand van ’n woestyn

Zenobia se stad, Palmira, was ongeveer 210 kilometer noordoos van Damaskus geleë, aan die noordelike rand van die Siriese Woestyn waar die Anti-Libanonberge afloop na die vlakte toe. Hierdie oasestad was ongeveer halfpad tussen die Middellandse See in die weste en die Eufraatrivier in die ooste. Koning Salomo het dit moontlik as Tadmor geken, ’n plek wat om twee redes uiters belangrik was vir sy koninkryk se welvaart: as ’n garnisoen om die noordgrens te verdedig en as ’n belangrike skakel in die ketting van dorpe op ’n karavaanroete. Gevolglik het Salomo “Tadmor in die woestyn opgebou”.—2 Kronieke 8:4.

Die geskiedenis van die duisend jaar ná koning Salomo se bewind sê niks oor Tadmor nie. As dit werklik Palmira was, het dit eers vernaam begin word nadat Sirië in 64 v.G.J. ’n provinsie van die Romeinse Ryk geword het. “Palmira was op twee gebiede vir Rome belangrik: ekonomies en militêr”, sê Richard Stoneman in sy boek Palmyra and Its Empire—Zenobia’s Revolt Against Rome. Aangesien hierdie stad van palms op ’n vername handelsroete was wat Rome met Mesopotamië en die Ooste verbind het, het die kommersiële rykdom van die antieke wêreld daardeur gegaan—speserye van Oos-Indië, sy van China en ander goedere van Persië, Benede-Mesopotamië en die Mediterreense lande. Rome het staatgemaak op die invoer van hierdie goedere.

Op militêre gebied was die provinsie Sirië ’n buffersone tussen die mededingende magte van Rome en Persië. Gedurende die eerste 250 jaar van ons Gewone Jaartelling het die Eufraatrivier Rome van sy oostelike buurstaat geskei. Palmira was net aan die ander kant van die woestyn, wes van die stad Dura-Europos aan die Eufraat. Romeinse keisers soos Hadrianus en Valerianus het besef hoe belangrik Palmira se ligging was en het dit besoek. Hadrianus het tot die argitektoniese prag daarvan bygedra en talle milddadige bydraes gemaak. Valerianus het ’n Palmireense edelman met die naam Odenatus—Zenobia se man—beloon deur hom, in 258 G.J., tot die rang van konsul van Rome te verhef omdat hy ’n suksesvolle krygstog teen Persië gevoer het en die grens van die Romeinse Ryk tot in Mesopotamië uitgebrei het. Zenobia het ’n belangrike rol daarin gespeel dat haar man mag verkry het. Die geskiedskrywer Edward Gibbon het geskryf: “Die sukses van Odenatus kon in ’n groot mate toegeskryf word aan haar [Zenobia se] onvergelyklike verstandigheid en vasberadenheid.”

Intussen het koning Sjapoer van Persië besluit om die Romeinse oppermag uit te daag en sy soewereiniteit oor al die voormalige provinsies van Persië te laat geld. Met ’n gedugte leër het hy weswaarts opgetrek, die Romeinse garnisoenstede Nisibis en Carrhae (Haran) verower en noordelike Sirië en Silisië verwoes. Keiser Valerianus het persoonlik gekom om sy magte teen die aanvallers aan te voer, maar is deur die Perse oorwin en gevange geneem.

Odenatus het besluit dat dit ’n goeie tyd was om kosbare geskenke en ’n vredesboodskap aan die Persiese koning te stuur. Koning Sjapoer het hoogmoedig beveel dat die geskenke in die Eufraat gegooi word en geëis dat Odenatus in die rol van gevange smekeling voor hom verskyn. In antwoord daarop het die Palmirene ’n leër van woestynnomade en die oorblywendes van die Romeinse magte bymekaargebring en die Perse wat besig was om terug te trek, begin aanval. Sjapoer se magte—uitgeput ná die krygstog en swaar belaai met buit—kon hulle nie teen die verrassingsaanvalle van die woestynkrygsmanne verdedig nie, en hulle moes vlug.

Ter erkenning van Odenatus se oorwinning oor Sjapoer het Valerianus se seun en opvolger, Galliënus, hom die titel corrector totius Orientis (goewerneur van die hele Ooste) gegee. Na verloop van tyd het Odenatus homself die titel “koning van konings” gegee.

Zenobia streef daarna om ’n ryk te skep

In 267 G.J., op die hoogtepunt van sy loopbaan, is Odenatus en sy erfgenaam vermoedelik deur sy wraaksugtige neef vermoor. Zenobia het haar man se posisie oorgeneem, aangesien haar seun te jonk was. Sy was pragtig, ambisieus, ’n bekwame administrateur, gewoond daaraan om saam met haar oorlede man krygstogte te voer en kon verskeie tale vlot praat. Sy het gevolglik daarin geslaag om die respek en steun van haar onderdane te verkry—beslis nie ’n maklike prestasie onder die Bedoeïene nie. Zenobia was leergierig en het gesorg dat sy altyd intellektuele om haar het. Een van haar raadgewers was die filosoof en redenaar Cassius Longinus—wat glo “’n lewende biblioteek en ’n wandelende museum” was. Die skrywer Stoneman sê: “Gedurende die vyf jaar ná die dood van Odenatus . . . het Zenobia haar in die gedagtes van haar volk as koningin van die Ooste gevestig.”

Aan die een kant van Zenobia se gebied was Persië, wat deur haar en haar man lamgelê is, en aan die ander kant was verbrokkelende Rome. Aangaande die toestande in die Romeinse Ryk op daardie tydstip sê die geskiedskrywer J. M. Roberts: “Die derde eeu was . . . ’n verskriklike tyd vir Rome op die oos- sowel as die wesgrens, terwyl daar tuis ’n nuwe tydperk van burgeroorlog en betwiste troonopvolgings begin het. Twee-en-twintig keisers (buiten aanspraakmakers) het gekom en gegaan.” Aan die ander kant was die Siriese koningin ’n goed gevestigde alleenheerser in haar ryk. “Aangesien sy die oorblyfsels van twee ryke [Persiese en Romeinse] beheer het”, sê Stoneman, “kon sy daarna streef om ’n derde te skep wat hulle albei sou oorheers.”

In 269 G.J. was daar ’n geleentheid vir Zenobia om haar koninklike mag uit te brei, toe ’n aanspraakmaker wat die Romeinse heerskappy betwis het in Egipte verskyn het. Zenobia se leër het vinnig na Egipte opgetrek, die rebel onderdruk en die land in besit geneem. Sy het haarself tot koningin van Egipte verklaar en muntstukke in haar naam laat slaan. Haar koninkryk het nou van die Nyl tot by die Eufraat gestrek. Op hierdie tydstip in haar lewe het sy die posisie van “die koning van die Suide” beklee wat in die Bybelprofesie van Daniël gemeld word, aangesien haar koninkryk toe die gebied suid van Daniël se vaderland oorheers het (Daniël 11:25, 26). Sy het ook die grootste gedeelte van Klein-Asië verower.

Zenobia het haar hoofstad, Palmira, in so ’n mate versterk en versier dat dit gelykgestaan het met die groter stede van die Romeinse wêreld. Die geraamde bevolking daarvan was meer as 150 000. Die stad was vol pragtige openbare geboue, tempels, tuine, pilare en monumente, en die mure om die stad was volgens bewering 21 kilometer in omtrek. Kolonnades wat gevorm is uit rye Korintiese pilare van oor die 15 meter hoog—ongeveer 1 500 van hulle—het langs die hoofstraat gestaan. Oral in die stad was daar standbeelde en borsbeelde van helde en welgestelde weldoeners. In 271 G.J. het Zenobia twee standbeelde opgerig, van haarself en haar oorlede man. Aan die rand van die woestyn het Palmira soos ’n juweel geglinster.

Die Tempel van die Son was een van die pragtigste geboue in Palmira en het ongetwyfeld die godsdienstoneel in die stad oorheers. Zenobia het waarskynlik ook ’n godheid aanbid wat met die songod verband gehou het. Derde-eeuse Sirië was egter ’n land met baie godsdienste. In Zenobia se gebied was daar verklaarde Christene, Jode, sterrewiggelaars en aanbidders van die son en maan. Wat was haar gesindheid teenoor die verskillende maniere van aanbidding in haar ryk? Die skrywer Stoneman sê: “’n Verstandige heerser sal geen gebruike nalaat wat vir haar volk gepas lyk nie. . . . Hulle het . . . gehoop dat die gode aan Palmira se kant was.” Zenobia was blykbaar verdraagsaam op godsdienstige gebied. Maar was die gode werklik “aan Palmira se kant”? Wat was aan die kom vir Palmira en sy “verstandige heerser”?

’n Keiser ‘wek sy hart op’ teen Zenobia

Gedurende die jaar 270 G.J. het Aurelianus keiser van Rome geword. Sy legioene het die barbare uit die noorde met welslae teruggedryf en onderwerp. In 271 G.J. het Aurelianus—wat toe “die koning van die Noorde” van Daniël se profesie verteenwoordig het—‘sy krag en sy hart opgewek teen die koning van die Suide’, wat deur Zenobia verteenwoordig is (Daniël 11:25a). Aurelianus het van sy magte direk na Egipte toe uitgestuur en sy hoofleër ooswaarts deur Klein-Asië gelei.

Die koning van die suide—die heersende entiteit wat deur Zenobia gelei is—het hom “met ’n groot en baie sterk leër” onder twee generaals, Zabdas en Zabbai “in die oorlog begewe” teen Aurelianus (Daniël 11:25b). Maar Aurelianus het Egipte verower en toe ’n veldtog in Klein-Asië en Sirië onderneem. Zenobia is by Emesa (nou Homs) verslaan, en sy het na Palmira teruggetrek.

Toe Aurelianus Palmira beleër het, het Zenobia saam met haar seun na Persië gevlug, in die hoop dat sy hulp sou kry, maar sy is by die Eufraatrivier deur die Romeine gevange geneem. Die Palmirene het hulle stad in 272 G.J. oorgegee. Aurelianus het die inwoners daarvan grootmoedig behandel, ’n ontsaglike hoeveelheid buit versamel, onder andere die afgod uit die Tempel van die Son, en na Rome vertrek. Die Romeinse keiser het Zenobia se lewe gespaar en haar as die vernaamste persoon in sy triomftog deur Rome in 274 G.J. ten toon gestel. Sy het die res van haar lewe as ’n Romeinse dame deurgebring.

Die woestynstad word vernietig

’n Paar maande nadat Aurelianus Palmira verower het, het die Palmirene die Romeinse garnisoen wat hy agtergelaat het, uitgemoor. Toe die nuus van hierdie opstand Aurelianus bereik het, het hy onmiddellik sy soldate beveel om terug te gaan, en hierdie keer het hulle hulle op wreedaardige wyse op die bevolking gewreek. Diegene wat aan die wrede slagting ontkom het, is in slawerny weggevoer. Die trotse stad is geplunder en onherstelbaar vernietig. Die bedrywige hoofstad het dus weer geword wat dit voorheen was—“Tadmor in die woestyn”.

Toe Zenobia in opstand gekom het teen Rome, het sy en keiser Aurelianus onwetend hulle rolle as “die koning van die Suide” en “die koning van die Noorde” gespeel en ’n deel van ’n profesie vervul wat ongeveer 800 jaar vroeër in die fynste besonderhede deur Jehovah se profeet opgeteken is (Daniël, hoofstuk 11). Met haar kleurryke persoonlikheid het Zenobia die bewondering van baie afgedwing. Maar van die grootste belang was die rol wat sy gespeel het deur ’n politieke entiteit te verteenwoordig wat in Daniël se profesie voorspel is. Haar bewind het maar vyf jaar geduur. Palmira, die hoofstad van Zenobia se koninkryk, is vandag niks meer as ’n dorpie nie. Selfs die magtige Romeinse Ryk het lank gelede al verdwyn en plek gemaak vir moderne koninkryke. Wat sal die toekoms vir hierdie magte inhou? Hulle lot word ook deur die sekere vervulling van Bybelprofesie beheer.—Daniël 2:44.

[Venster op bladsy 29]

Zenobia se nalatenskap

Toe keiser Aurelianus na Rome teruggekeer het nadat hy Zenobia, die koningin van Palmira, verslaan het, het hy ’n tempel vir die son gebou. Daarin het hy die beelde van die songod gesit wat hy van haar stad af teruggebring het. Die tydskrif History Today lewer kommentaar oor verdere ontwikkelings en sê: “Die blywendste van al Aurelianus se dade is seker die vestiging, in 274 AD, van ’n jaarlikse sonfees wat op die wintersonstilstand, 25 Desember, val. Toe die ryk Christelik geword het, is die geboorte van Christus na hierdie datum verskuif om die nuwe godsdiens meer aanvaarbaar te maak vir diegene wat die feestelikhede van die oue geniet het. Dit is ’n eienaardige gedagte dat dit weens die keiserin Zenobia is dat . . . [mense] ons Kersfees vier.”

[Kaart/Prent op bladsy 28, 29]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MIDDELLANDSE SEE

SIRIË

Antiogië

Emesa (Homs)

PALMIRA

Damaskus

MESOPOTAMIË

Eufraat

Carrhae (Haran)

Nisibis

Dura-Europos

[Erkennings]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

Kolonnade: Michael Nicholson/Corbis

[Prent op bladsy 29]

Romeinse muntstuk wat moontlik Aurelianus uitbeeld

[Prent op bladsy 30]

Tempel van die son in Palmira

[Erkenning]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

[Prent op bladsy 31]

Koningin Zenobia spreek haar soldate toe

[Erkenning]

Giovanni Battista Tiepolo, Queen Zenobia Addressing Her Soldiers, Samuel H. Kress Collection, Photograph © Board of Trustees, National Gallery of Art, Washington

[Foto-erkenning op bladsy 28]

Detail van: Giovanni Battista Tiepolo, Queen Zenobia Addressing Her Soldiers, Samuel H. Kress Collection, Photograph © Board of Trustees, National Gallery of Art, Washington

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel