Koninkryksnuus nr. 36
Die nuwe Millennium—Wat hou die toekoms vir jou in?
Die Nuwe Millennium—Die begin van ’n nuwe era?
OM MIDDERNAG, 31 Desember 1999, het die 20ste eeu tot ’n einde gekom.a Dit was ’n eeu vol beroeringe. Maar dit was ook ’n eeu van nuwe tegnologie, opspraakwekkende mediese vooruitgang, ’n inligtingsontploffing en ’n snelgroeiende globale ekonomie. Gevolglik het baie mense die nuwe millennium verwelkom as ’n simbool van hoop en verandering. Sal dit dalk die einde van oorlog, armoede, omgewingsbesoedeling en siekte wees?
Baie hoop so. Maar wat is die moontlikheid dat die nuwe millennium veranderinge sal teweegbring waarby jy baat sal vind—veranderinge wat die lewe vir jou en jou gesin veilig sal maak? Beskou byvoorbeeld die ontsaglike omvang van net ’n paar van die probleme waarvoor ons te staan kom.
Besoedeling
Nywerheidslande “doen wêreldwyd skade aan die omgewing en veroorsaak wydverspreide besoedeling en versteuring van ekosisteme”. As die huidige neigings voortduur, “sal die natuurlike omgewing onder al hoe groter druk verkeer”.—“Global Environment Outlook—2000”, Verenigde Nasies se Omgewingsprogram.
Siekte
“Teen die jaar 2020 sal nie-aansteeklike siektes na verwagting verantwoordelik wees vir sewe uit elke tien sterftes in ontwikkelende gebiede in vergelyking met minder as die helfte vandag.”—“The Global Burden of Disease”, Harvard University Press, 1996.
Sommige gesaghebbendes reken dat daar “66 miljoen minder mense teen 2010 [lewend sal wees] in die 23 lande waar die [vigs-]epidemie die ergste is”.—“Confronting AIDS: Evidence From the Developing World”, ’n verslag van die Europese Kommissie en die Wêreldbank.
Armoede
“Bykans 1,3 miljard mense moet met minder as ’n dollar [R6] per dag klaarkom, en ongeveer 1 miljard kan nie in hulle basiese voedselbehoeftes voorsien nie.”—“Human Development Report 1999”, Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram.
Oorlog
“Geweld in [verskeie lande] kan ongekende vlakke bereik. Hierdie geweld word deur etniese, stam- en godsdiens[verdeeldheid] veroorsaak, . . . en in die volgende kwarteeu sal dit die algemeenste soort konflik uitmaak . . . wat elke jaar die dood van honderdduisende mense veroorsaak.”—“New World Coming: American Security in the 21st Century”, die Amerikaanse Kommissie vir Nasionale Veiligheid/21ste Eeu.
Die ophef en opgewondenheid oor die nuwe millennium verberg dus die feit dat besoedeling, siekte, armoede en oorlog ’n groter bedreiging as ooit is. Die kern van hierdie probleme is hebsug, wantroue en selfsug—eienskappe wat nie bloot deur wetenskaplike navorsing, tegnologie of die politiek uitgewis kan word nie.
Die Millennium waartydens die mensdom geseën sal word
’NSKRYWER van die ou tyd het eenkeer gesê: “Ek weet . . . dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Dit is nie net dat die mens nie die vermoë het om oor die aarde te heers nie, hy het ook nie die reg nie. Slegs ons Maker, Jehovah God, het die reg en die kennis om die mensdom se probleme op te los.—Romeine 11:33-36; Openbaring 4:11.
Maar wanneer? Hoe? Daar is oorweldigende getuienis dat die einde van “die laaste dae” op hande is. Maak asseblief jou Bybel oop en lees 2 Timoteus 3:1-5. Dit is ’n duidelike beskrywing van die karaktertrekke wat mense gedurende hierdie “kritieke tye” sal openbaar. Matteus 24:3-14 en Lukas 21:10, 11 beskryf ook “die laaste dae”. Hier word die aandag gevestig op fisiese gebeure wat sedert 1914 plaasgevind het, soos oorloë in die hele wêreld, pessiektes en wydverspreide voedseltekorte.
“Die laaste dae” gaan binnekort tot ’n einde kom. Daniël 2:44 sê: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie. . . . Dit sal al daardie [aardse] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” So is voorspel dat God ’n Koninkryk, of regering, sal oprig om oor die aarde te heers. Volgens Openbaring 20:4 heers hierdie regering duisend jaar lank—’n millennium! Beskou net ’n paar van die maniere waarop lewensomstandighede vir die ganse mensdom gedurende hierdie glorieryke Millennium sal verbeter:
Ekonomie. “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie.”—Jesaja 65:21, 22.
Gesondheid. “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.” “En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.”—Jesaja 33:24; 35:5, 6.
Omgewing. God gaan “die verderwers van die aarde . . . verderf”.—Openbaring 11:18.
Menseverhoudings. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE.”—Jesaja 11:9.
Miljoene stel geloof in hierdie Bybelbeloftes en het dus ’n optimistiese, positiewe beskouing van die toekoms. Hulle is gevolglik beter toegerus om die druk en probleme in die lewe die hoof te bied. Hoe kan die Bybel ’n rigsnoer in jou lewe word?
Kennis wat tot die lewe lei!
DIE wetenskap en tegnologie kan soms baie indrukwekkend voorkom! Tog het mense se kennis nie die lewe vir die meeste mense veilig en gelukkig gemaak nie. Die enigste kennis wat dít kan teweegbring, word in die Bybel in Johannes 17:3 soos volg beskryf: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”
Hierdie kennis word in die bladsye van die Bybel gevind. Hoewel baie mense sterk opinies oor hierdie heilige boek uitspreek, het min dit al ooit self ondersoek. Wat van jou? Dit verg weliswaar groot inspanning om die Bybel te lees. Maar dit is die moeite werd. Die Bybel is die enigste boek wat ‘deur God geïnspireer is en nuttig is om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer’.—2 Timoteus 3:16.
Hoe kan jy dan begin om met die Bybel vertroud te raak? Aanvaar gerus die hulp van Jehovah se Getuies. Hulle voorsien gratis onderrigting aan miljoene mense in hulle eie huis. Om jou hiermee te help, gebruik hulle verskeie Bybelpublikasies, soos die brosjure Wat vereis God van ons? Dit gee bondige antwoorde op baie van die vrae wat jy moontlik oor die Bybel het, soos: Wie is God? Wat is God se voorneme met die aarde? Wat is die Koninkryk van God? Hoe kan die Bybel jou gesinslewe verbeter?
As jy wil hê dat een van Jehovah se Getuies jou tuis moet besoek, kan jy die koepon hieronder invul. Hulle sal graag vir jou meer inligting gee oor die glorieryke Duisendjarige Heerskappy van God se Koninkryk!
□ Ek sal graag die brosjure Wat vereis God van ons? wil ontvang
Dui taalvoorkeur aan
□ Kom asseblief met my in aanraking in verband met ’n gratis tuisbybelstudie
[Voetnoot]
a Ons verwys hier na gewilde Westerse beskouings aangaande die nuwe millennium. Tegnies gesproke begin die nuwe millennium op 1 Januarie 2001.