Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 6/1 bl. 5-7
  • ’n Glorieryke millennium ophande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Glorieryke millennium ophande
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verlore erfenis
  • Die erfgename—Christus se “kinders”
  • Dit sal Salomo se bewind oortref
  • Sal dit met die derde millennium saamval?
  • Die millennium—wat is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Wanneer begin die derde millennium?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Die nuwe Millennium—Wat hou die toekoms vir jou in?
    Die nuwe millennium—Wat hou die toekoms vir jou in?
  • Watter seëninge op aarde tydens die millennium?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 6/1 bl. 5-7

’n Glorieryke millennium ophande

“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.” “En God sal al die trane van [die mensdom se] oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 20:4; 21:4.

SO VOORSPEL die Bybel ’n naderende glorieryke millennium—die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus en ’n groep hemelse medekonings. Jy is miskien geneig om hierdie profesie as ’n blote illusie, ’n waanbeeld, te verwerp. Daar is nietemin voldoende rede waarom jy hierdie Millennium as ’n komende werklikheid kan aanvaar!

’n Studie van die Bybel sal, in die eerste plek, aan jou toon dat dit ’n merkwaardig betroubare boekstawing van die afgelope ses millenniums van die mens se geskiedenis is. Die Bybel is daarbenewens ’n boek van profesie, en ’n groot aantal van sy voorspellings, of profesieë, is reeds tot in die fynste besonderhede vervul.a Waarom sal die Bybel dan nie ook betroubaar wees in sy voorspelling van die naderende Millennium van Christus se bewind nie? Maar miskien wonder jy wat die Bybel ons aangaande daardie tydperk meedeel. Wat sal die doel daarvan wees? En van besondere belang vir jou: Hoe sal dit jou lewe raak?

’n Verlore erfenis

Die Bybel toon dat Christus se Duisendjarige Heerskappy sy manier is om ’n allerkosbaarste erfenis aan sy “kinders” oor te dra. Maar watter erfenis? En watter “kinders”? ’n Erfenis kan omskryf word as iets wat by ’n mens se dood aan jou kinders nagelaat word. Toe ons voorouer Adam ongehoorsaam aan God was, het hy vir hom en sy hele nageslag—die ganse mensdom—die reg op die ewige lewe in ’n aardse paradys verbeur. Adam het dus ’n erfenis van sonde, dood en ellende oor sy nageslag gebring.—Genesis 3:1-19; Romeine 5:12.

Jesus het in die vlees na die aarde toe gekom om die erfenis wat Adam verloor het vir die mensdom terug te win. Dit het hy gedoen deur aan Jehovah God getrou te bly en sy lewe gewillig ten behoewe van die mensdom op te offer (Johannes 3:16). Omdat Jesus ’n volmaakte, sondelose lewe gelei het, het hy die reg verkry op ewige volmaakte lewe in die Paradys op aarde—presies wat Adam verloor het. Jesus het egter nooit van daardie reg gebruik gemaak nie; en hy het dit ook nie verloor toe hy gesterf het en opgewek is tot hemelse lewe nie. Hy kon dit derhalwe gebruik as ’n kosbare erfenis om aan sy “kinders” te bemaak.—Romeine 5:18, 19.

Die erfgename—Christus se “kinders”

In Jesaja 9:5 word Jesus profeties “Ewige Vader” genoem. Hy word die Ewige Vader van die vrygekoopte mensdom, by magte om ’n erfenis aan hierdie vrygekooptes, of aangenome kinders, te gee. (Mattheüs 20:28; sien ook Psalm 37:18, 29.) Dit blyk duidelik uit sy belofte: “Kom, julle geseëndes van my Vader, erf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” Hy het ook gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”—Mattheüs 5:5; 25:34.

Maar die aarde kan alleen ’n waardige erfenis wees as toestande verander word—tot volmaaktheid gebring word! Dit moet ’n wêreld word waar volmaakte vrede en harmonie onder al God se skepsele heers (Jesaja 11:6-9). Alle spore van menslike onvolmaaktheid, selfs die dood, moet uitgewis word (1 Korinthiërs 15:25, 26). Dit beteken dat die dode, wat onder die vrygekoopte mensdom tel, opgewek moet word. Dit is die enigste manier waarop hulle die geleentheid sal kry om erfgename van Christus te word!—Johannes 5:28, 29.

Christus se Duisendjarige Heerskappy sal dus ’n vreugdevolle tydperk wees waartydens die mensdom geleidelik “vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid” en volmaaktheid sal bereik (Romeine 8:21). Dit is interessant dat selfs wêreldlike bronne erken dat dit die doel van ’n millennium is. Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary (1985-uitgawe) omskryf “millennium” as “’n tydperk van groot geluk of menslike volmaaktheid”.

Dit sal Salomo se bewind oortref

Hierdie glorieryke Millennium kan vergelyk word met koning Salomo se vreedsame en voorspoedige 40-jarige heerskappy oor eertydse Israel (1 Konings 4:24, 25, 29). Toe die koningin van Skeba koning Salomo besoek het, het sy gesê: “Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid; en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het. Gelukkig is u manne, gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan, wat u wysheid hoor.”—1 Konings 10:6-8.

As die vrede, voorspoed en wysheid van die 40-jarige bewind van aardse koning Salomo die groot verwagtinge van die koningin van Skeba oortref het—ja, dit meer as tweevoudig oortref het—dan sal die Duisendjarige Bewind van die groter, hemelse koning Salomo, Jesus Christus, beslis die mens se verbeelding ver oortref! Jesus is volgens sy eie woorde “meer as Salomo” (Mattheüs 12:42). Stel jou die gesondste, voorspoedigste, vreedsaamste, regverdigste en gelukkigste toestande voor, en jy sal nog nie eers naastenby ’n idee hê van wat Christus se Millennium sal bring nie.

Sal dit met die derde millennium saamval?

Wêreldgebeure sedert 1914 toon dat ons aan “die voleinding van die wêreld [“stelsel van dinge”, NW]” lewe. Jesus het ook gesê dat die geslag in wie se tyd hierdie voorspelde gebeure plaasvind ‘sekerlik nie sal verbygaan voor al hierdie dinge gebeur het nie’. Beteken dit dan dat Christus se Duisendjarige Bewind met die derde millennium sal saamval?—Mattheüs 24:3-21, 34.

Jesus het sy dissipels gewaarsku om nie hieroor te bespiegel nie. Hy het gesê: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:7). En Jesus het gesê dat net sy Vader, Jehovah God, alleen die presiese “dag en uur” weet wanneer hierdie dinge sal gebeur (Mattheüs 24:36). Die Bybel steun dus geensins enige van die tans toenemende aantal onheilsprofete en -bewegings wat sê dat die einde van die wêreld presies om middernag op die Oujaarsaand van 1999 sal kom nie.

Huidige wêreldgebeure toon egter duidelik dat die tyd van die einde van hierdie duistere, goddelose stelsel van dinge “ver gevorder” het en dat Christus se Millennium ‘naby gekom’ het (Romeine 13:12, vgl. NW). Dit is nou hoog tyd om kennis op te doen van God se vereistes vir oorlewing, eerder as om te bespiegel oor die presiese dag en uur wanneer hierdie millennium sal kom (Johannes 17:3). Sodoende kan jy leer om onder dié te wees aan wie Jesus sal sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheüs 25:34). Jehovah se Getuies is bereid en bevoeg om jou te help om onder dié te wees wat die seëninge van die komende glorieryke Millennium sal geniet.b

[Voetnote]

a Sien die publikasie Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

b ’n Gratis tuisbybelstudie kan gereël word deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.

[Lokteks op bladsy 6]

“Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel