STUDIE 11
Hartlikheid en gevoel
EMOSIE is ’n belangrike deel van die mens se lewe. Wanneer iemand sy emosies uitdruk, openbaar hy wat in sy hart is, die soort persoon wat hy innerlik is, hoe hy oor situasies en mense voel. Weens pynlike ondervindinge in mense se lewe—en soms weens kulturele invloede—steek baie mense hulle emosies weg. Maar Jehovah spoor ons aan om positiewe eienskappe in die innerlike mens aan te kweek en dan op ’n gepaste wyse uiting daaraan te gee.—Rom. 12:10; 1 Tess. 2:7, 8.
Wanneer ons praat, kan die woorde wat ons gebruik, emosies korrek identifiseer. Maar as ons nie met gepaste gevoel praat nie, sal dié wat na ons luister, moontlik aan ons opregtheid twyfel. As ons ons daarenteen met gepaste gevoel uitdruk, kan ons woorde so aangenaam en hartlik klink dat dit die harte van luisteraars kan raak.
Hoe om met hartlikheid te praat. Hartlike gevoelens kom dikwels by ons op wanneer ons aan mense dink. Wanneer ons dus oor Jehovah se liefdevolle eienskappe praat en ons waardering vir Jehovah se goedheid uitspreek, behoort ons stemtoon hartlik te wees (Jes. 63:7-9). En wanneer ons met ons medemens praat, behoort ons ook met aangename hartlikheid te praat.
’n Melaatse kom na Jesus en smeek om genees te word. Stel jou Jesus se stemtoon voor wanneer hy sê: “Ek wil. Word gereinig” (Mark. 1:40, 41). Stel jou ook voor hoe ’n vrou, wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het, Jesus ongemerk van agter af nader en aan die fraiings van sy bokleed raak. Wanneer die vrou besef dat sy nie ongemerk gebly het nie, kom sy bewend vorentoe, val voor Jesus neer en erken voor al die mense waarom sy aan Jesus se kleed geraak het en hoe sy gesond geword het. Dink aan die manier waarop Jesus vir haar sê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak; gaan in vrede” (Luk. 8:42b-48). Die hartlikheid wat Jesus by daardie geleenthede weerspieël het, raak ons harte tot vandag toe nog.
Wanneer ons, soos Jesus, medelye vir mense voel en hulle werklik wil help, word dit weerspieël in die manier waarop ons met hulle praat. Sulke hartlikheid is opreg, nie oordrewe nie. Ons hartlikheid kan ’n groot verskil maak in die manier waarop mense reageer. Die meeste van die dinge wat ons in die veldbediening sê, kan met hartlikheid en gevoel gesê word, veral wanneer ons met mense redeneer, hulle bemoedig, aanspoor en met hulle simpatiseer.
As jy ’n hartlike gevoel teenoor ander het, moet mense dit op jou gesig kan sien. Wanneer jy hartlik is, trek jy jou gehoor aan soos ’n vuur iemand op ’n koue aand aantrek. As hartlikheid nie op jou gesig gesien kan word nie, sal jou gehoor dalk nie daarvan oortuig wees dat jy werklik vir hulle omgee nie. Hartlikheid kan nie soos ’n masker gedra word nie—dit moet opreg wees.
Hartlikheid moet ook in jou stem gehoor kan word. As jy ’n harde, growwe stem het, sal dit dalk moeilik wees om hartlik te klink wanneer jy praat. Maar met tyd en doelbewuste inspanning kan jy dit doen. Iets wat jou uit ’n suiwer meganiese oogpunt kan help, is om te onthou dat kort, afgekapte klanke woorde hard laat klink. Leer om die sagter klanke in woorde uit te rek. Dit sal jou help om met groter hartlikheid te praat.
Maar waarop jy jou aandag toespits, is selfs belangriker. As jy werklik belangstel in die mense met wie jy praat en dit jou opregte begeerte is om iets aan hulle oor te dra wat hulle tot voordeel kan strek, sal daardie gevoel weerspieël word in die manier waarop jy praat.
’n Lewendige toespraak is motiverend, maar tere gevoel is ook nodig. Dit is nie altyd voldoende om die verstand te oortuig nie; ons moet ook die hart bereik.
Hoe om ander gevoelens uit te druk. Iemand wat in nood verkeer, sal dalk uiting gee aan emosies soos angs, vrees en terneergedruktheid. Vreugde is ’n emosie wat duidelik in ons lewe waarneembaar moet wees en waaraan ons vryelik uiting gee wanneer ons met ander praat. Aan die ander kant moet sommige emosies in toom gehou word. Dit strook nie met die Christelike persoonlikheid nie (Ef. 4:31, 32; Fil. 4:4). Allerhande emosies kan oorgedra word deur ons woordkeuse, ons stemtoon, die intensiteit waarmee ons praat, ons gesigsuitdrukking en gebare.
Die Bybel behandel die hele spektrum van menslike emosies. Soms word emosies bloot gemeld. Op ander plekke vertel dit van gebeure of haal dit woorde aan wat mense se emosies openbaar. Wanneer jy sulke materiaal hardop lees, sal dit ’n groter indruk maak op jou sowel as op diegene wat na jou luister, as jou stem daardie emosies oordra. Om dit te doen, moet jy jou in die plek stel van die karakters oor wie jy lees. Maar ’n toespraak is nie ’n toneelstuk nie, daarom moet jy versigtig wees om nie te oordryf nie. Laat die verse lewe in die verstande van dié wat luister.
Pas by die materiaal. Soos met entoesiasme, hang die hartlikheid waarmee jy praat en die ander emosies wat jy oordra, grootliks af van wat jy sê.
Blaai na Matteus 11:28-30, en let op wat dit sê. Lees dan Jesus se veroordeling van die skrifgeleerdes en Fariseërs, wat in Matteus hoofstuk 23 opgeteken is. Ons kan ons nie voorstel dat hy hierdie skerp woorde van veroordeling op ’n droë en lewelose manier sou sê nie.
Met watter soort gevoel dink jy moet ’n mens ’n verslag lees soos dié in Genesis hoofstuk 44 toe Juda vir sy broer Benjamin gepleit het? Let op die emosie wat in vers 13 weerspieël word, die aanduiding in vers 16 van hoe Juda oor die rede vir die ramp gevoel het en hoe Josef self gereageer het, soos in Genesis 45:1 opgeteken is.
As ons goeie lesers of sprekers wil wees, moet ons nie net aandag skenk aan woorde en idees nie, maar ook aan die gevoel wat daarby pas.