STUDIE 26
Logiese ontwikkeling van materiaal
VOORDAT materiaal op ’n logiese manier gerangskik kan word, moet jy weet wat jou doel is. Is jou oogmerk eenvoudig om ander oor ’n sekere onderwerp—’n opvatting, ’n gesindheid, ’n eienskap, ’n gedragswyse of ’n lewenswyse—in te lig? Wil jy ’n sekere gedagte bewys of weerlê? Is jou doel om waardering vir iets op te bou of om ander tot optrede aan te spoor? As jy dit wil doen, moet jy in ag neem wat jou gehoor reeds oor die onderwerp weet en hoe hulle daaroor voel, hetsy jy jou materiaal met ’n individu of met ’n groter gehoor gaan bespreek. Nadat jy dit gedoen het, kan jy jou materiaal op ’n manier rangskik wat jou sal help om jou doel te bereik.
Aangaande Saulus (Paulus) se bediening in Damaskus sê Handelinge 9:22 dat hy “die Jode wat in Damaskus gewoon het, oorbluf [het], aangesien hy logies bewys het dat dit die Christus is”. Wat het daardie logiese bewyse ingesluit? Soos die verslag van Paulus se latere bediening in Antiogië en Tessalonika toon, het hy eers voortgebou op die feit dat die Jode die Hebreeuse Geskrifte aanvaar het en dat hulle gesê het hulle glo wat dit oor die Messias sê. Daarna het Paulus dele uit daardie Geskrifte gekies wat oor die lewe en bediening van die Messias handel. Hy het dit aangehaal en vergelyk met wat in verband met Jesus gebeur het. Ten slotte het hy sy gehoor gelei tot die voor die hand liggende gevolgtrekking, naamlik dat Jesus die Christus, of Messias, is (Hand. 13:16-41; 17:2, 3). As jy ook Bybelwaarheid logies verduidelik, kan dit ander oortuig.
Hoe om die aanbieding te organiseer. Materiaal kan op verskillende logiese maniere gerangskik word. As jy dit nuttig vind, kan jy ’n kombinasie van metodes gebruik. Kyk na ’n paar van die moontlikhede.
Rangskikking volgens onderwerp. Dit beteken dat jy jou materiaal in onderafdelings rangskik, wat elk tot jou doel bydra. Die onderafdelings kan hoofpunte wees wat nodig is om jou onderwerp te verstaan. Dit kan spesifieke redenasies wees wat iets bewys of weerlê. Sekere punte, al hou dit met jou onderwerp verband, kan na gelang van jou gehoor of jou doel bygevoeg of weggelaat word.
Kom ons kyk na ’n voorbeeld van rangskikking volgens onderwerp. ’n Kort aanbieding oor die naam van God kan insluit (1) waarom dit belangrik is om God se naam te ken, (2) wat God se naam is en (3) hoe ons daardie naam kan eer.
Ons kan baie oor hierdie soort rangskikking van materiaal leer deur die publikasies te ondersoek wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien is vir gebruik tydens tuisbybelstudies (Matt. 24:45). Hierdie publikasies sluit gewoonlik ’n aantal onderwerpe in wat studente kan help om ’n geheelbeeld van basiese Bybelwaarhede te kry. Groter publikasies gebruik onderhofies om elke hoofstuk te verdeel. Elke onderwerp berei die student voor vir materiaal wat volg en dra tot die geheelbeeld by.
Oorsaak en gevolg. Nog ’n metode om inligting op ’n logiese manier aan te bied, is om van oorsaak na gevolg te redeneer.
As jy met ’n groep of met individue praat wat ernstiger moet nadink oor die gevolg van iets wat hulle doen of beplan om te doen, kan hierdie benadering doeltreffend wees. Spreuke hoofstuk 7 is ’n uitstekende voorbeeld hiervan. Dit beskryf hoe ’n onervare jong man wat “nie ’n verstandige hart het nie” (die oorsaak), by ’n prostituut ingaan en die wrange vrugte daarvan pluk (die gevolg).—Spr. 7:7.
As jy die gedagte verder wil beklemtoon, kan jy die slegte gevolge wat oor mense kom wat nie in Jehovah se weë wandel nie, stel teenoor die goeie resultate wat mense geniet wat wel na Jehovah luister. Moses is deur Jehovah se gees beweeg om dit te doen toe hy met die nasie Israel gepraat het voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het.—Deut., hfst. 28.
In party gevalle is dit beter om jou bespreking te begin deur ’n situasie (die gevolg) te identifiseer en dan bewyse te gee van wat daartoe aanleiding gegee het (die oorsaak). Dit behels dikwels ’n probleem-en-oplossing-formaat.
Probleem en oplossing. Wanneer jy in die veldbediening ’n probleem bespreek wat mense kwel en toon dat daar ’n bevredigende oplossing is, kan dit mense beweeg om te luister. Dit kan ’n probleem wees wat jy noem of iets wat die ander persoon meld.
Miskien is dit die feit dat mense oud word en sterf, dat misdaad baie algemeen is of dat ongeregtigheid wydverspreid is. Jy hoef nie ’n lang bespreking te hou om te toon dat so ’n probleem bestaan nie, want dit is voor die hand liggend. Begin eenvoudig deur daarna te verwys, en verduidelik dan die Bybel se oplossing.
Aan die ander kant kan die probleem baie persoonlik wees—die uitdagings waarmee ’n enkelouer te kampe het, moedeloosheid weens ernstige siekte of die probleme wat iemand ondervind weens liefdelose behandeling deur iemand anders. Om die beste resultate te verkry, moet jy eers ’n goeie luisteraar wees. Die Bybel voorsien waardevolle inligting oor al hierdie probleme. Maar dit moet met onderskeidingsvermoë gebruik word. Jou bespreking sal slegs van ware nut vir die ander persoon wees as jy realisties is. Sê duidelik wat jy gaan bespreek: ’n permanente oplossing, korttermynverligting of eenvoudig hoe die persoon kan saamleef met ’n situasie wat nie in hierdie stelsel van dinge gaan verander nie. Met ander woorde, maak seker dat jou skriftuurlike redenasie die gevolgtrekkings wat jy daaruit aflei, ondersteun. Anders sal die oplossing wat jy gee, dalk glad nie vir die ander persoon logies klink nie.
Chronologiese volgorde. Sekere inligting kan volgens die volgorde van gebeure aangebied word. In die boek Eksodus word die Tien Plae byvoorbeeld uiteengesit in die volgorde waarin dit plaasgevind het. In Hebreërs hoofstuk 11 is die apostel Paulus se lys van manne en vroue wat voorbeelde van geloof was, chronologies gerangskik.
As jy gebeure van die verlede in chronologiese volgorde bespreek, kan dit jou gehoor help om te verstaan hoe sekere situasies ontstaan het. Dit geld vir hedendaagse geskiedenis sowel as gebeure van Bybeltye. Sodoende kan jy gebeure in chronologiese volgorde uiteensit en terselfdertyd ’n oorsaak-en-gevolg-redenasie gebruik. As jy die gebeure wil bespreek wat volgens die Bybel in die toekoms sal plaasvind, sal jou gehoor waarskynlik ’n chronologiese aanbieding die maklikste volg en onthou.
Jy hoef nie altyd voor te begin as jy ’n chronologiese benadering gebruik nie. Soms is dit beter om ’n vertelling op ’n dramatiese plek in die verhaal te begin. Wanneer jy byvoorbeeld ’n ondervinding vertel, kan jy van ’n geleentheid vertel toe iemand se onkreukbaarheid teenoor God op die proef gestel is. Nadat jy met daardie deel van die vertelling belangstelling gewek het, kan jy in chronologiese volgorde vertel wat daartoe gelei het.
Gebruik slegs tersaaklike materiaal. Ongeag hoe jy jou materiaal rangskik, sorg dat jy slegs dit gebruik wat tersaaklik is. Die tema van jou toespraak moet bepaal wat jy kies. Jy moet ook in ag neem uit wie jou gehoor bestaan. Vir een gehoor is ’n sekere punt dalk noodsaaklik, terwyl dit vir ’n ander groep onnodig is. Jy moet ook seker maak dat al jou materiaal jou sal help om jou doel te bereik. Anders sal jou toespraak, al is dit ook interessant, moontlik nie doeltreffend wees nie.
Wanneer jy navorsing doen, sal jy moontlik heelwat interessante materiaal oor jou onderwerp vind. Hoeveel daarvan moet jy gebruik? As jy die gehoor met te veel materiaal oorlaai, kan jy jou doel verydel. ’n Paar goed ontwikkelde hoofgedagtes sal makliker onthou word as ’n stortvloed gedagtes wat oorhaastig gedek word. Dit beteken nie dat interessante aanvullende inligting nooit ingesluit moet word nie. Maar moenie toelaat dat dit jou doel oorskadu nie. Let op hoe sulke besonderhede oordeelkundig in die Bybel in Markus 7:3, 4 en Johannes 4:1-3, 7-9 ingesluit is.
Wanneer jy van een punt na die volgende oorgaan, moet jy versigtig wees dat jy dit nie so skielik doen dat jou gehoor die gedagtegang verloor nie. As jy wil hê dat die gedagtes goed by mekaar moet aansluit, sal jy dalk gedagtes aan mekaar moet skakel. Die skakel kan ’n frase of ’n volledige sin wees wat toon hoe die gedagtes met mekaar verband hou. In baie tale kan eenvoudige voegwoorde of oorgangsfrases gebruik word om die verband tussen ’n nuwe gedagte en die vorige een te toon.
As jy slegs tersaaklike materiaal gebruik en dit in ’n logiese volgorde rangskik, sal dit jou help om jou doel te bereik.