Hoe om ’n skets op te stel
WANNEER mense ’n toespraak moet hou, skryf baie dit woord vir woord uit, van die inleiding af regdeur tot die slot. Voordat die toespraak klaar is, het hulle dit moontlik al verskeie kere uitgeskryf. Die proses kan ure neem.
Is dit hoe jy jou toesprake voorberei? Sal jy graag ’n makliker manier wil leer? As jy leer hoe om ’n skets voor te berei, sal jy nie meer alles hoef uit te skryf nie. Dit sal jou meer tyd gee om die toespraak te oefen. Jou toesprake sal nie net makliker wees om aan te bied nie, maar sal interessanter wees om na te luister en ’n groter aansporing vir jou gehoor wees.
’n Basiese skets word natuurlik voorsien vir openbare toesprake wat in die gemeente gehou word. Maar dit is nie die geval met die meeste ander toesprake nie. Jy word dalk net ’n onderwerp of ’n tema gegee. Of jy word moontlik gevra om spesifieke gepubliseerde materiaal te dek. Soms word jy slegs ’n paar instruksies gegee. Vir al hierdie soort toewysings, moet jy jou eie skets voorberei.
Die voorbeeld op bladsy 41 sal jou help om te sien hoe ’n kort skets uitgewerk kan word. Let op dat elke hoofgedagte teen die linkerkantruimte begin en in hoofletters geskryf is. Onder elke hoofgedagte staan die gedagtes wat dit staaf. Bykomende punte wat gebruik sal word om hierdie gedagtes te ontwikkel, staan onder hulle en is ’n paar spasies ingespring. Kyk goed na hierdie skets. Let op dat die twee hoofgedagtes direk met die tema verband hou. Jy sal ook opmerk dat die ondergeskikte punte nie bloot interessante gedagtes is nie. Elkeen staaf die hoofgedagte waaronder dit verskyn.
Wanneer jy ’n skets opstel, sal dit moontlik nie presies soos die voorbeeld lyk nie. Maar as jy die beginsels verstaan wat hier bespreek word, sal dit jou help om jou materiaal te organiseer en ’n goeie toespraak in ’n redelike tyd voor te berei. Hoe doen ’n mens dit?
Ontleed, kies en organiseer
Jy het ’n tema nodig. Jou tema is nie bloot ’n breë onderwerp wat deur ’n enkele woord opgesom kan word nie. Dit is die kerngedagte wat jy wil oordra, en dit dui aan uit watter hoek jy jou onderwerp wil benader. As jy ’n tema gegee word, moet jy elke hoofwoord noukeurig ontleed. As jy die tema wat jy gekry het, uit gepubliseerde materiaal moet ontwikkel, moet jy daardie materiaal met die tema in gedagte bestudeer. As jy slegs ’n onderwerp gegee word, dan sal jy die tema self moet kies. Maar voor jy daarby uitkom, sal jy dit nuttig vind om eers ’n bietjie navorsing te doen. As jy objektief bly, sal jy dikwels vars idees kry.
Terwyl jy hierdie riglyne volg, moet jy jou bly afvra: ‘Waarom is hierdie materiaal belangrik vir my gehoor? Wat is my doel?’ Dit moenie net wees om materiaal te dek of om ’n interessante toespraak te hou nie, maar om aan jou gehoor iets prakties mee te deel. Wanneer jy seker is van jou doel, moet jy dit neerskryf. Hou dit in gedagte terwyl jy voorberei.
Nadat jy vasgestel het wat jou doel is en ’n tema gekies het wat daarby pas (of ontleed het hoe die tema wat jy gekry het, by daardie doel aansluit), kan jy navorsing doen wat spesifiek daarmee verband hou. Soek na materiaal wat vir jou gehoor van besondere waarde sal wees. Moenie met algemene feite tevrede wees nie, maar soek na spesifieke punte wat leersaam en werklik nuttig is. Moenie te veel navorsing doen nie. In die meeste gevalle sal jy gou meer materiaal hê as wat jy kan gebruik, en daarom moet jy selektief wees.
Identifiseer die hoofgedagtes wat jy moet bespreek sodat jy jou tema kan ontwikkel en jou doel kan bereik. Dit sal jou raamwerk, jou basiese skets, word. Hoeveel hoofgedagtes moet daar wees? Twee is moontlik genoeg vir ’n kort bespreking, en gewoonlik is vyf heeltemal voldoende, selfs vir ’n toespraak van ’n uur. Hoe minder hoofgedagtes daar is, hoe waarskynliker is dit dat jou gehoor dit sal onthou.
Sodra jy jou tema en die hoofpunte in gedagte het, moet jy jou nagevorsde materiaal organiseer. Besluit wat regstreeks met jou hoofgedagtes verband hou. Kies besonderhede wat jou aanbieding vars sal maak. Wanneer jy tekste kies om die hoofgedagtes te staaf, moet jy op die uitkyk wees na gedagtes wat jou sal help om op ’n betekenisvolle manier oor daardie tekste te redeneer. Plaas elke punt onder die hoofgedagte waarby dit pas. As van die inligting nie by enige van jou hoofgedagtes pas nie, moet jy dit weglaat—selfs al is dit baie interessant—of dit in ’n lêer sit vir latere gebruik. Hou slegs die beste materiaal. As jy te veel probeer dek, sal jy te vinnig moet praat en die materiaal net oppervlakkig kan dek. Dit is beter om ’n paar punte oor te dra wat van ware nut vir die gehoor is en om dit goed te doen. Moenie die tydgrens oorskry nie.
Op hierdie stadium, indien nie vroeër nie, moet jy jou materiaal in ’n logiese volgorde rangskik. Die Evangelieskrywer Lukas het dit gedoen. Nadat hy ’n oorvloed feite oor sy onderwerp ingesamel het, het hy dit “in logiese volgorde” begin rangskik (Luk. 1:3). Jy kan jou materiaal chronologies of volgens onderwerp rangskik, moontlik volgens oorsaak en gevolg of probleem en oplossing, na gelang van wat die beste sal werk om jou doel te bereik. Jy moenie skielik van die een gedagte na die ander oorskakel nie. Jou gehoor moet maklik van die een gedagte na die ander geneem word, sonder enige gapings wat nie maklik oorbrug kan word nie. Bewyse wat voorgelê word, moet die gehoor help om logiese gevolgtrekkings te maak. Terwyl jy jou punte rangskik, moet jy dink hoe die aanbieding vir jou gehoor sal klink. Sal hulle jou gedagtegang maklik kan volg? Sal hulle beweeg word om te reageer op wat hulle hoor, in ooreenstemming met die doel wat jy in gedagte het?
Berei nou ’n inleiding voor wat belangstelling in jou onderwerp wek en wat aan jou gehoor toon dat jou bespreking van ware nut vir hulle sal wees. Dit sal dalk goed wees as jy jou eerste paar sinne uitskryf. Laastens moet jy ’n motiverende slot voorberei wat met jou doel strook.
As jy jou skets vroeg genoeg uitwerk, sal jy tyd hê om dit af te rond voordat jy jou toespraak hou. Jy sal dalk agterkom dat jy sekere idees met ’n paar syfers, ’n illustrasie of ’n ondervinding moet staaf. As jy ’n onlangse gebeurtenis of iets van plaaslike belang gebruik, kan dit jou gehoor help om te sien wat die praktiese waarde van die materiaal is. Terwyl jy die toespraak hersien, sal jy moontlik bewus word van meer geleenthede om die inligting by jou gehoor aan te pas. Die ontledings- en verfyningsproses is noodsaaklik om ’n doeltreffende toespraak uit goeie materiaal te ontwikkel.
Party sprekers het vollediger aantekeninge as ander nodig. Maar as jy jou materiaal onder slegs ’n paar hoofgedagtes organiseer, dié uitskakel wat nie werklik pas nie en jou gedagtes in ’n logiese volgorde rangskik, sal jy vind dat jy met ’n bietjie ondervinding nie meer alles hoef uit te skryf nie. Dink net aan die tyd wat dit jou kan spaar! En die gehalte van jou toesprake sal verbeter. Dit sal duidelik wees dat jy werklik baat vind by die opleiding in die Teokratiese Bedieningskool.