STUDIE 31
Respek aan ander betoon
DIE Skrif sê vir ons om ‘alle soorte mense te eer’ en “om van niemand kwaad te spreek nie” (1 Pet. 2:17; Tit. 3:2). Almal wat ons ontmoet, het immers “‘na die gelykenis van God’ in aansyn gekom” (Jak. 3:9). Christus het vir elkeen gesterf (Joh. 3:16). En almal verdien om die goeie nuus te hoor sodat hulle in ooreenstemming daarmee kan optree en gered kan word (2 Pet. 3:9). Party mense het eienskappe of gesag wat hulle spesiale eerbied waardig maak.
Waarom probeer party mense hulle daarvan verskoon om aan ander die respek te betoon wat in die Bybel aangemoedig word? Die plaaslike kultuur bepaal dalk aan wie eer betoon moet word volgens kaste, kleur, geslag, gesondheid, ouderdom, rykdom of sosiale status. Wydverspreide korrupsie onder staatsamptenare het respek vir gesag ondermyn. In sommige lande is mense gegrief oor hulle lot in die lewe, moontlik omdat hulle lang ure werk om net die noodsaaklikste lewensbenodigdhede te bekom, en hulle word omring deur mense wat nie respek toon nie. Jongmense verkeer onder druk deur hulle portuurs om saam met hulle teen ongewilde onderwysers en ander gesagsfigure in opstand te kom. Baie word beïnvloed deur die manier waarop kinders op die televisie uitgebeeld word—hulle draai hulle ouers om hulle pinkie. Dit verg inspanning om te keer dat sulke vleeslike denke ons respek vir ander laat afneem. Maar wanneer ons mense met waardigheid behandel, bevorder dit ’n atmosfeer waarin idees makliker uitgewissel word.
Eerbiedige benadering. Daar word van iemand wat godsdienstige werk doen, verwag om respek te betoon deur ordentlik aan te trek en op te tree. Mense se beskouing van wat goeie maniere is, verskil van plek tot plek. Party beskou dit as oneerbiedig om iemand te nader wanneer jy ’n hoed op het of ’n hand in ’n broeksak het. Op ander plekke is dit dalk aanvaarbaar om dit te doen. Neem plaaslike gevoelens in ag sodat jy niemand aanstoot gee nie. Dit sal jou help om dinge te vermy wat afbreuk kan doen aan die doeltreffendheid waarmee jy die goeie nuus bekend maak.
Dit geld ook vir die manier waarop ons ander aanspreek, veral bejaardes. Dit word oor die algemeen as ongemanierd beskou vir jongmense om volwassenes op hulle voornaam te noem tensy die jongmense toestemming gekry het om dit te doen. Op party plekke kan volwassenes ook nie vreemdelinge sommer op hulle voornaam noem nie. Verder word ’n meervoudsvorm van die woord “jy”, of iets anders, in baie tale gebruik om respek vir iemand in gesag te betoon.
Eerbiedige erkenning. In kleiner gemeenskappe word daar verwag dat jy die teenwoordigheid van iemand wat jy teëkom, moet erken, hetsy op straat of wanneer jy in ’n vertrek inkom. Dit word gedoen deur ’n eenvoudige groet, ’n glimlag, met die kop te knik of selfs die wenkbroue te lig. Dit word as oneerbiedig beskou om iemand te ignoreer.
Maar party mense kan voel dat hulle geïgnoreer word, al erken jy hulle teenwoordigheid. Hoe so? Omdat hulle voel dat jy hulle nie as individue beskou nie. Dit is nie ongewoon dat mense weens ’n fisiese eienskap in ’n sekere kategorie geplaas word nie. Mense met gebreke en gesondheidsprobleme word dikwels vermy. Maar God se Woord toon hoe ons sulke mense met liefde en respek kan behandel (Matt. 8:2, 3). Ons oorgeërfde Adamitiese sonde het op die een of ander manier ’n uitwerking op ons almal. Sou jy voel dat jy gerespekteer word as ander jou altyd aan jou gebreke identifiseer? Sou jy nie eerder aan jou talle positiewe eienskappe geïdentifiseer wou word nie?
Respek behels ook die erkenning van hoofskap. Op sommige plekke moet ’n mens met die hoof van die huis praat voordat jy vir ander in die huis getuig. Hoewel ons opdrag om te getuig en te onderrig van Jehovah kom, besef ons dat God ouers die reg gegee het om hulle kinders op te voed, te dissiplineer en leiding te gee (Ef. 6:1-4). Wanneer jy ’n huis besoek, is dit dus gewoonlik gepas om eers met die ouers te praat voordat jy kinders in ’n lang bespreking betrek.
Met die ouderdom kom lewensondervinding wat gerespekteer moet word (Job 32:6, 7). Omdat ’n jong pioniersuster in Sri Lanka dit in ag geneem het toe sy ’n bejaarde man besoek het, het dit haar gehelp. Hy het eers beswaar gemaak teen haar besoek en gesê: “Hoe kan ’n kind soos jy vir my die Bybel leer?” Maar sy het geantwoord: “Ek het nie werklik gekom om vir Oom te leer nie, maar om vir Oom iets te vertel wat ek geleer het wat my so gelukkig gemaak het dat ek ander eenvoudig daarvan moet vertel.” Die pionier se eerbiedige antwoord het die man se belangstelling gewek. “Sê dan vir my, wat het jy geleer?” het hy gevra. “Ek het geleer hoe om vir ewig te lewe”, het sy gesê. Die bejaarde man het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Nie alle ouer persone sal sê dat hulle met soveel respek behandel wil word nie, maar die meeste sal dit waardeer.
Eerbetoning kan egter te ver gevoer word. Getuies op die eilande van die Stille Oseaan en elders gebruik op eerbiedige wyse die gebruiklike aanspreekvorm wanneer hulle hoofmanne van dorpe of stamhoofde nader, wat hulle kan help om ’n horende oor te kry en om ’n geleentheid te kry om met die hoofmanne en die mense onder hulle gesag te praat. Maar dit is nie nodig of gepas om mense te vlei nie (Spr. 29:5). ’n Taal kan ook beleefdheidsvorme as deel van sy grammatika hê, maar Christelike respek vereis nie dat dit oordryf word nie.
Eerbiedige voordrag. Die Bybel spoor ons aan om die rede vir ons hoop “met sagmoedigheid en diep respek” te verduidelik (1 Pet. 3:15). Dit is miskien vir ons maklik om die foute in iemand se beskouing bloot te lê, maar sal dit verstandig wees om dit op so ’n manier te doen dat ons hom sy waardigheid ontneem? Sal dit nie miskien beter wees om geduldig te luister en moontlik te vra waarom hy so voel, en om dan sy gevoelens in ag te neem terwyl ons uit die Skrif met hom redeneer nie?
Die respek wat ons toon wanneer ons met individue praat, moet ook waarneembaar wees wanneer ons ’n gehoor van die verhoog af toespreek. ’n Spreker wat sy gehoor respekteer, sal hulle nie op ’n ongevoelige wyse kritiseer of ’n gesindheid openbaar wat sê: “Julle kan dit doen as julle werklik wil” nie. Om so te praat, ontmoedig ander net. Hoeveel beter is dit tog om die gehoor as ’n groep mense te sien wat lief is vir Jehovah en hom wil dien! Ons moet, in navolging van Jesus, begrip toon wanneer ons met diegene praat wat moontlik geestelik swak is, minder ervare is of Bybelraad nie so vinnig toepas nie.
Die gehoor sal die spreker se respek vir hulle aanvoel as hy homself insluit onder dié wat God se Woord in groter mate moet toepas. Dit is derhalwe verstandig om die voortdurende gebruik van die persoonlike voornaamwoorde “jy” of “julle” te vermy wanneer tekste toegepas word. Let byvoorbeeld op die verskil tussen die vraag “Doen julle alles in julle vermoë?” en die verklaring “Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Doen ek alles in my vermoë?’” Albei vrae dra dieselfde gedagte oor, maar die eerste impliseer dat die spreker hom nie op dieselfde vlak as die gehoor stel nie. Die tweede spoor elkeen, insluitend die spreker, aan om sy eie situasie en sy eie beweegredes te ondersoek.
Weerstaan die versoeking om gevatte opmerkings te maak net sodat jy die gehoor kan laat lag. Dit doen afbreuk aan die waardigheid van die Bybel se boodskap. Ons moet ons weliswaar in ons diens aan God verbly. Daar kan selfs aspekte van ons toegewese materiaal wees wat ietwat humoristies is. Maar om ’n grap van ’n ernstige saak te maak, verraai ’n gebrek aan respek vir die gehoor en vir God.
Mag ons benadering, ons gedrag en ons spraak altyd toon dat ons ander beskou soos Jehovah ons geleer het om hulle te beskou.