STUDIE 51
Akkurate tydreëling, gepaste indeling
HOEWEL die gehalte van jou onderrigting die belangrikste oorweging is, verdien die tydreëling van jou toesprake ook aandag. Ons vergaderinge is veronderstel om op vasgestelde tye te begin en te eindig. Dit vereis die samewerking van almal wat ’n deel op die program het.
In Bybeltye was mense se beskouing van die lewe anders as wat dit vandag in baie plekke is. Tyd is uitgedruk in benaderde terme soos “omstreeks die derde uur” of “omtrent die tiende uur” (Matt. 20:3-6; Joh. 1:39). Daar was selde rede om daaglikse bedrywighede volgens ’n presiese rooster te reël. Vandag bestaan daar ’n soortgelyke beskouing van tyd in party wêrelddele.
Maar al is mense weens die plaaslike gebruik of persoonlike voorkeur minder gesteld op tyd, kan ons daarby baat vind as ons leer om gepaste aandag daaraan te skenk. Wanneer verskeie persone dele op ’n program het, moet die toegewese tyd vir elke deel in ag geneem word. Die beginsel “laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied”, kan goed toegepas word op die tydreëling van ons vergaderingtoewysings.—1 Kor. 14:40.
Hoe om by die toegewese tyd te bly. Voorbereiding is die sleutel. Sprekers wat dit moeilik vind om by die tydreëling te bly, het gewoonlik nie goed genoeg voorberei nie. Hulle is miskien te selfversekerd. Of hulle stel hulle voorbereiding dalk tot op die nippertjie uit. Goeie tydreëling begin by waardering vir jou toewysing en ’n gewilligheid om goed voor te berei.
Het jy ’n leestoewysing? Hersien eers Studies 4 tot 7, wat oor vlotheid, pousering, regte beklemtoning asook die beklemtoning van hoofgedagtes handel. Pas dan daardie raad toe terwyl jy die toegewese materiaal hardop lees. Kyk hoe lank dit jou neem. Moet jy vinniger lees om binne die toegewese tyd te eindig? Lees vinniger by minder belangrike dele, maar jy moet nog steeds pouseer en stadiger lees om belangrike gedagtes te beklemtoon. Oefen dit oor en oor. Namate jou vlotheid verbeter, sal dit makliker wees om jou tyd te reguleer.
Gaan jy ’n skets gebruik? Jy hoef nie baie volledige aantekeninge—feitlik ’n manuskrip—te gebruik om te verseker dat jy by die tydreëling bly nie. Toe jy aan Studie 25 gewerk het, het jy ’n beter manier geleer. Hou hierdie vyf punte in gedagte: (1) Berei goeie materiaal voor, maar nie te veel nie. (2) Hou die hoofpunte duidelik in gedagte, maar moenie hele sinne memoriseer nie. (3) Merk op jou skets hoeveel tyd jy vir elke deel van jou toespraak wil gebruik of hoeveel tyd jy al moes gebruik het wanneer jy sekere plekke bereik. (4) Kyk terwyl jy voorberei watter besonderhede weggelaat kan word as jy vind dat die tyd jou begin inhaal. (5) Oefen jou voordrag.
Oefening is belangrik. Terwyl jy oefen, moet jy kyk hoe lank elke deel van jou toespraak is. Oefen jou toespraak oor en oor totdat jou hele toespraak in die toegewese tyd pas. Moenie te veel materiaal probeer dek nie. Gee jouself ’n bietjie speling, want dit sal dalk effens langer neem om jou toespraak voor ’n gehoor te hou as wanneer jy dit oefen.
Hoe om jou toespraak in te deel. Daar is ’n noue verband tussen goeie tydreëling en die gepaste indeling van jou toespraak. Die meeste van jou tyd moet aan die hoofdeel van jou toespraak gewy word. Dit is waar die belangrikste lesse is. Die inleiding moet net lank genoeg wees om die drie doelwitte te bereik wat in Studie 38 bespreek is. In ooreenstemming met Studie 39 moet die hoofdeel van jou toespraak nie so lank wees dat daar nie genoeg tyd is vir ’n doeltreffende slot nie.
Jou pogings om by die tydreëling te bly, sal die gehalte van jou toespraak verbeter en sal toon dat jy respek het vir die ander wat dele op die program het sowel as vir die hele gemeente.