Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wt hfst. 16 bl. 144-150
  • ‘Julle moet intense liefde vir mekaar hê’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Julle moet intense liefde vir mekaar hê’
  • Aanbid die enigste ware God
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer probleme ontstaan
  • Soek maniere om ‘verruim te word’
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • ‘Bo alles moet julle intense liefde hê’
    Hou aan waak!
  • Hou aan om in broederliefde toe te neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hoe om ons liefde vir mekaar sterk te hou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Aanbid die enigste ware God
wt hfst. 16 bl. 144-150

Hoofstuk Sestien

‘Julle moet intense liefde vir mekaar hê’

1. Wat beïndruk nuwelinge dikwels by die vergaderinge van Jehovah se Getuies?

WANNEER mense vir die eerste keer na die vergaderinge van Jehovah se Getuies kom, word hulle dikwels beïndruk deur die liefde wat daar betoon word. Hulle sien dit in die verwelkoming wat hulle ontvang en in die hartlike omgang. Besoekers aan ons byeenkomste merk ook hierdie liefde op. ’n Verslaggewer het oor ’n byeenkoms geskryf: ‘Niemand is onder die invloed van dwelms of drank nie. Daar is geen geskreeu nie. Geen gestamp en gestoot nie. Niemand vloek nie. Daar is geen vuil grappe of vuil taal nie. Geen rookbesoedelde lug nie. Geen stelery nie. Niemand gooi blikkies op grasperke nie. Dit was werklik ongewoon.’ Al hierdie dinge is ’n blyk van liefde, die soort liefde wat ‘hom nie onwelvoeglik gedra nie, nie sy eie belang soek nie’.—1 Korintiërs 13:4-8.

2. (a) Wat moet mettertyd duidelik word met betrekking tot ons betoning van liefde? (b) Watter soort liefde moet ons in navolging van Christus aankweek?

2 Broederliefde is die kenmerk van ware Christene (Johannes 13:35). Namate ons geestelik groei, leer ons om liefde in groter mate te betoon. Die apostel Paulus het gebid dat die liefde van sy mede-Christene “steeds oorvloediger [sou] word” (Filippense 1:9). Die apostel Johannes het getoon dat ons liefde selfopofferend moet wees. Hy het geskryf: “Hieraan het ons die liefde leer ken, omdat [die Seun van God] vir ons van sy siel afstand gedoen het; en ons staan onder verpligting om vir ons broers van ons siele afstand te doen” (1 Johannes 3:16; Johannes 15:12, 13). Sal ons werklik ons lewe vir ons broers aflê? Hoewel die meeste situasies dit nie vereis nie, in watter mate doen ons moeite om hulle nou te help, selfs wanneer dit nie gerieflik is nie?

3. (a) Hoe kan ons ons liefde in groter mate betoon? (b) Waarom is dit noodsaaklik om nou intense liefde vir mekaar te hê?

3 Benewens ons dade wat ’n selfopofferende gees weerspieël, moet ons waarlik hartlike geneentheid vir ons broers hê. God se Woord spoor ons aan: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê” (Romeine 12:10). Ons voel almal so teenoor party mense. Maar kan ons leer om sulke geneentheid ook teenoor ander te voel? Namate die einde van hierdie ou stelsel nader kom, is dit noodsaaklik dat ons steeds nader aan ons mede-Christene kom. Die Bybel sê: “Die einde van alles het naby gekom. . . . Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes.”—1 Petrus 4:7, 8.

Wanneer probleme ontstaan

4. (a) Waarom kan daar probleme tussen gemeentelede ontstaan? (b) Watter goeie gevolg kan dit hê as ons die Bybel se raad toepas, al is ons nie altyd geneig om dit te doen nie?

4 Solank ons onvolmaak is, sal daar natuurlik tye wees wanneer ons dinge doen wat ander aanstoot gee. Ons broers sondig dalk ook op verskillende maniere teen ons (1 Johannes 1:8). Wat moet jy doen as jy jou in so ’n situasie bevind? Die Skrif voorsien die nodige riglyne. Maar wat dit sê, stem dalk nie ooreen met wat ons as onvolmaakte mense geneig is om te doen nie (Romeine 7:21-23). As ons nietemin die raad in die Bybel ywerig toepas, sal dit bewys lewer van ons opregte begeerte om Jehovah te behaag. Dit sal ook die gehalte van ons liefde vir ander verbeter.

5. Waarom moet ons nie iemand wat ons seermaak, in gelyke munt terugbetaal nie?

5 Wanneer mense seergemaak word, soek hulle soms na maniere om die een wat hulle te na gekom het, in gelyke munt terug te betaal. Maar dit vererger net die situasie. As vergelding nodig is, moet ons dit aan God oorlaat (Spreuke 24:29; Romeine 12:17-21). Ander probeer dalk om uit daardie persoon se pad te bly. Maar ons moet medeaanbidders nie so behandel nie, want ons aanbidding sal nie aanneemlik wees tensy ons ons broers liefhet nie (1 Johannes 4:20). Daarom het Paulus geskryf: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Kan jy dit doen?

6. (a) Hoe dikwels moet ons ons broer vergewe? (b) Watter besef sal ons help om ’n sonde teen ons te verwerk?

6 Sê nou iemand sondig herhaaldelik teen ons maar pleeg nie ernstige sondes waarvoor hy uit die gemeente gesit kan word nie? Vir sulke minder ernstige sondes het die apostel Petrus voorgestel dat ons “tot sewe keer” vergewe. Maar Jesus het gesê: “Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’.” Hy het die aandag gevestig op hoe ontsaglik ons skuld voor God is vergeleke met wat enige mens ons kan skuld (Matteus 18:21-35). Ons sondig elke dag op baie maniere teen God—soms deur ’n selfsugtige daad, deur wat ons sê of dink, of deur wat ons versuim om te doen—en besef nie eers dat ons sondig nie (Romeine 3:23). En tog hou God aan om barmhartigheid aan ons te bewys (Psalm 103:10-14; 130:3, 4). Hy vereis dat ons mekaar ook so behandel (Matteus 6:14, 15; Efesiërs 4:1-3). Dan sal ons die soort liefde beoefen wat ‘nie van die kwaad boekhou nie’.—1 Korintiërs 13:4, 5; 1 Petrus 3:8, 9.

7. Wat moet ons doen as ’n broer iets teen ons het?

7 Daar kan tye wees wanneer ons besef dat ons broer iets teen ons het, al koester ons geen kwade gevoelens teen hom nie. Ons kan besluit om dit ‘met liefde te bedek’, soos 1 Petrus 4:8 sê. Of ons kan die inisiatief neem en met hom praat en probeer om ’n vreedsame verhouding te herstel.—Matteus 5:23, 24.

8. Wat kan ons doen as ’n medegelowige iets doen wat ons ontstel?

8 ’n Medegelowige doen dalk iets wat nie net vir jou ontstel nie, maar ook vir ander. Sal dit nie goed wees om met hom te praat nie? Moontlik. As jy die probleem vriendelik aan hom verduidelik, kan dit goeie resultate hê. Maar eers moet jy jou afvra: ‘Doen hy werklik iets onskriftuurliks? Of bestaan die probleem hoofsaaklik omdat my agtergrond en opleiding van syne verskil?’ Wees versigtig dat jy nie jou eie standaarde stel en dan daarvolgens oordeel nie (Jakobus 4:11, 12). Jehovah neem mense uit allerhande agtergronde onpartydig aan en is geduldig met hulle terwyl hulle geestelik groei.

9. (a) Wie skenk aandag aan gevalle van ernstige oortreding in die gemeente? (b) Wanneer is dit die verantwoordelikheid van die een teen wie gesondig is, om eerste op te tree, en met watter doel?

9 As iemand in die gemeente by ernstige oortreding, soos onsedelikheid, betrokke raak, moet daar dadelik aandag aan geskenk word. Deur wie? Deur die ouer manne (Jakobus 5:14, 15). Maar as ’n sonde teen ’n persoon gepleeg is, moontlik in ’n sakeaangeleentheid of deur die skadelike misbruik van die tong, moet die een teen wie gesondig is, die oortreder eers self probeer nader (Matteus 18:15). As dit die saak nie oplos nie, moet verdere stappe gedoen word, soos in Matteus 18:16, 17 uiteengesit word. Liefde vir ons broer wat oortree het en ’n begeerte om hom te ‘wen’, sal ons help om dit op ’n manier te doen wat hopelik sy hart sal bereik.—Spreuke 16:23.

10. Wat sal ons help om die regte beskouing van die saak te hê wanneer ’n probleem opduik?

10 Wanneer ’n probleem opduik, of dit nou groot of klein is, help dit ons as ons probeer verstaan hoe Jehovah dit beskou. Hy keur geen sonde goed nie, en op sy bestemde tyd word mense wat growwe sonde onberouvol beoefen, uit sy organisasie verwyder. Maar laat ons nie vergeet dat ons almal in mindere mate sondig en sy lankmoedigheid en barmhartigheid nodig het nie. Jehovah stel dus ’n voorbeeld wat ons moet navolg wanneer ons voor die sondes van ander te staan kom. Wanneer ons barmhartig is, weerspieël ons sy liefde.—Efesiërs 5:1, 2.

Soek maniere om ‘verruim te word’

11. Waarom het Paulus die Korintiërs aangespoor om ‘verruim te word’?

11 Paulus het maande lank die gemeente in Korinte, Griekeland, opgebou. Hy het hard gewerk om die broers daar te help, en hy het hulle liefgehad. Maar party van hulle het nie hartlike geneentheid vir hom gehad nie. Hulle was baie krities. Hy het hulle aangespoor om ‘verruim te word’ in hulle betoning van liefde (2 Korintiërs 6:11-13; 12:15). Dit sal vir ons almal goed wees om te kyk in watter mate ons liefde aan ander betoon en om maniere te soek om verruim te word.—1 Johannes 3:14.

12. Hoe kan ons ons liefde vir almal in die gemeente laat toeneem?

12 Vind ons dit moeilik om na aan sommige in die gemeente te kom? As ons ons inspan om verby enige persoonlikheidsverskille te kyk—soos ons wil hê hulle vir ons moet doen—kan dit help om ’n hartliker verhouding tussen ons mee te bring. Ons gevoelens teenoor hulle kan ook verbeter as ons hulle goeie eienskappe soek en daarop konsentreer. Dit sal beslis ons liefde vir hulle laat toeneem.—Lukas 6:32, 33, 36.

13. Hoe kan ons verruim word in die betoning van liefde teenoor dié in ons gemeente?

13 Daar is weliswaar perke aan wat ons vir ander kan doen. Ons kan miskien nie almal by elke vergadering groet nie. Dit is dalk nie moontlik om almal in te sluit wanneer ons vriende vir ’n ete nooi nie. Maar kan ons verruim word deur net ’n paar minute te neem om iemand in ons gemeente beter te leer ken? Kan ons af en toe iemand wat ons nie goed ken nie, nooi om saam met ons aan die veldbediening deel te neem?

14. Hoe kan ons intense liefde vir mekaar toon wanneer ons tussen Christene is wat ons nog nooit ontmoet het nie?

14 Christenbyeenkomste gee ons uitstekende geleenthede om verruim te word in ons liefde. Duisende is moontlik teenwoordig. Ons kan hulle nie almal ontmoet nie, maar ons kan ons gedra op ’n manier wat toon dat ons hulle welsyn belangriker ag as ons eie gerief. Tussen sessies kan ons persoonlike belangstelling toon deur die inisiatief te neem om met van die mense om ons kennis te maak. Eendag sal almal wat op aarde lewe, broers en susters wees, verenig in die aanbidding van die ware God en Vader van almal. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om mekaar te leer ken! Intense liefde sal ons beweeg om dit te wil doen. Begin gerus nou al.

Hersieningsbespreking

• Hoe moet probleme wat tussen Christene ontstaan, opgelos word, en waarom?

• Hoe moet ons liefde toeneem namate ons geestelik groei?

• Hoe is dit moontlik om intense liefde vir meer as net ’n groepie boesemvriende te toon?

[Prent op bladsy 148]

Christelike liefde word op baie maniere betoon, soos by gemeentelike vergaderinge

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel