HOOFSTUK NEGE
Behandel ander soos God wil hê jy moet
1-3. (a) Waaraan laat eertydse Tirus baie Christene moontlik dink? (b) Beskryf party van die handelinge tussen koning Hiram en Israel. (c) Waarna wil ons kyk in verband met Tirus?
WAARAAN dink jy wanneer eertydse Tirus gemeld word? Baie Christene sal dink aan hoe profesieë vervul is toe Aleksander die Grote puin van die ruïnes van Tirus op die vasteland bymekaargemaak het, ’n verhoogde pad na die nuwer eilandstad Tirus gebou het en dit vernietig het (Esegiël 26:4, 12; Sagaria 9:3, 4). Maar sal die vermelding van Tirus jou laat dink aan hoe jy jou geestelike broers of ander moet behandel en nie moet behandel nie?
2 Waarom is Tirus vernietig? “Weens drie opstandige dade van Tirus, . . . omdat hulle ’n volledige groep ballinge aan Edom uitgelewer het, en omdat hulle nie aan die verbond van broers gedink het nie. En ek sal ’n vuur teen die muur van Tirus stuur” (Amos 1:9, 10). In vroeëre tye het koning Hiram van Tirus welwillendheid teenoor Dawid betoon en boumateriaal vir Salomo se tempel voorsien. Salomo het ’n verbond met Hiram gesluit en hom stede in Galilea gegee. Hiram het Salomo “my broer” genoem (1 Konings 5:1-18; 9:10-13, 26-28; 2 Samuel 5:11). Toe Tirus “nie aan die verbond van broers gedink het nie” en party van God se volk in slawerny verkoop het, het Jehovah gelet op Tirus se handelinge.
3 Watter les kan ons leer uit die feit dat God die Kanaäniete van Tirus veroordeel het omdat hulle hardvogtig teenoor sy volk opgetree het? ’n Belangrike les hou verband met hoe ons ons geestelike broers behandel. In vorige hoofstukke van hierdie boek het ons gekyk na raad van die 12 profete oor hoe ons ander moet behandel, soos om regverdig in ons sakegebruike en kuis in ons gedrag te wees. Maar hierdie 12 boeke bevat verdere aanduidings van hoe God wil hê dat ons ander moet behandel.
MOENIE BLY WEES OOR ’N ANDER SE PROBLEME NIE
4. In watter sin was die Edomiete Israel se “broers”, maar hoe het hulle hulle “broers” behandel?
4 Jy kan ’n les leer uit God se veroordeling van Edom, ’n land naby Israel: “Jy behoort nie te kyk na wat te sien is op die dag van jou broer, op die dag van sy teëspoed nie; en jy behoort nie bly te wees oor die kinders van Juda op die dag dat hulle omkom nie” (Obadja 12). Die Tiriërs was miskien “broers” wat handelsbedrywighede betref, maar die Edomiete was in ’n ware sin Israel se “broers”, want hulle was nakomelinge van Esau, Jakob se tweelingbroer. Selfs Jehovah het die Edomiete Israel se “broers” genoem (Deuteronomium 2:1-4). Dit was dus werklik haatlik van die Edomiete om bly te wees toe die Babiloniërs rampspoed oor die Jode gebring het.—Esegiël 25:12-14.
5. In watter situasies sal ons dalk ’n soortgelyke gesindheid as die Edomiete toon?
5 Dit is duidelik dat God nie die manier waarop die Edomiete hulle Joodse broers behandel het, goedgekeur het nie. Ons kan egter vra: ‘Wat sal God dink van die manier waarop ek my broers behandel?’ Iets waarop ons moet let, is hoe ons ’n broer beskou en behandel wanneer dinge nie glad verloop het nie. Byvoorbeeld, stel jou voor dat ’n Christen jou aanstoot gegee het of ’n probleem met een van jou familielede gehad het. Sal jy, as jy “rede tot klagte” het, ’n wrok koester en teësinnig wees om die aangeleentheid te vergeet of te probeer oplos? (Kolossense 3:13; Josua 22:9-30; Matteus 5:23, 24). Dit kan jou optrede teenoor die broer beïnvloed; jy behandel hom dalk kil en vermy sy geselskap of sê negatiewe dinge van hom. Om die voorbeeld verder te voer: Stel jou voor hierdie broer maak hom later skuldig aan ’n oortreding en het miskien selfs raad of teregwysing van die gemeentelike ouer manne nodig (Galasiërs 6:1). Sal jy die Edomiete se gesindheid weerspieël en bly wees oor jou broer se probleme? Hoe sal God wil hê dat jy moet optree?
6. Wat raai Miga 7:18 ons aan om te doen, in teenstelling met wat in Sagaria 7:10 gemeld word?
6 Jehovah het Sagaria laat melding maak van Sy wens dat ons ‘geen kwaad teen mekaar in ons hart moet beplan nie’ (Sagaria 7:9, 10; 8:17). Hierdie raad is van toepassing wanneer ons voel dat ’n broer ons seergemaak of iemand in ons familie veronreg het. In sulke gevalle is dit maklik om ‘kwaad in ons hart te beplan’ en dit dan in ons dade te weerspieël. Maar God wil eerder hê dat ons sy positiewe voorbeeld moet navolg. Onthou dat Miga geskryf het dat Jehovah “ongeregtigheid vergewe en die oortreding . . . oorsien” (Miga 7:18).a Hoe kan ons dit op praktiese maniere toepas?
7. Waarom sal ons moontlik verkies om ’n oortreding maar net te vergeet?
7 Ons voel dalk seergemaak oor wat aan ons of aan ons familielid gedoen is, maar hoe ernstig is dit werklik? Die Bybel sit stappe uiteen om geskille op te los, selfs in die geval van ’n sonde teen ’n broer. Dit is nietemin dikwels die beste om die fout of die onreg bloot te ignoreer, om ‘die oortreding oor te sien’. Vra jou af: ‘Is dit dalk een van die 77 keer dat ek hom moet vergewe? Waarom vergeet ek dit nie maar net nie?’ (Matteus 18:15-17, 21, 22). Selfs al lyk die oortreding nou belangrik, sal dit oor ’n duisend jaar nog die geval wees? Leer ’n basiese les uit die verklaring in Prediker 5:20 oor ’n werker wat voedsel en drank geniet: “Hy sal nie dikwels aan sy lewensdae dink nie, omdat die ware God hom besig hou met die blydskap van sy hart.” Wanneer daardie man hom vreugdevol toespits op die dinge wat hy op daardie tydstip geniet, is hy geneig om die probleme van sy daaglikse lewe te vergeet. Kan ons daardie gesindheid navolg? As ons ons op die vreugdes van ons Christenbroederskap toespits, sal ons moontlik geskille vergeet wat nie vir altyd belangrik sal wees nie, dié wat ons nie in die nuwe wêreld sal onthou nie. Dit is heeltemal anders as om bly te wees oor ’n ander se probleme of om oortredings te onthou.
Wat moet jy nie doen wanneer iemand jou aanstoot gegee het nie?
PRAAT DIE WAARHEID MET ANDER
8. Met watter uitdaging het ons te kampe wanneer dit daarby kom om die waarheid te praat?
8 Die 12 profetiese boeke beklemtoon ook hoe graag God wil hê dat ons eerlik in ons handelinge moet wees. Ons span ons natuurlik in om “die waarheid van dié goeie nuus” vir ander te vertel (Kolossense 1:5; 2 Korintiërs 4:2; 1 Timoteus 2:4, 7). Maar iets wat miskien ’n groter uitdaging bied, is om by die waarheid te bly in ons daaglikse gesprekke met ons gesin en geestelike broers, gesprekke wat ’n groot verskeidenheid onderwerpe en situasies dek. Waarom is dit moontlik die geval?
9. Wanneer kom ons moontlik in die versoeking om nie heeltemal die waarheid te praat nie, maar wat moet ons ons afvra?
9 Wie van ons het nie al iets onvriendeliks gesê of gedoen en is toe later daaroor gekonfronteer nie? Ons het waarskynlik verleë of ietwat skuldig gevoel. Sulke gevoelens kan veroorsaak dat ’n mens ’n fout ontken of ’n “verduideliking” gee wat die waarheid verdraai om die oortreding te verskoon of dit reg te laat lyk. Of in ’n ongemaklike situasie kom ons dalk in die versoeking om net sekere besonderhede te meld in ’n poging om die feite te verbloem. Gevolglik is wat ons sê, miskien tegnies waar, maar dit skep ’n heeltemal ander indruk. Ons vertel sodoende moontlik nie blatante leuens nie, iets wat vandag algemeen in die wêreld is, maar ‘praat ons werklik die waarheid met ons naaste’, of broer? (Efesiërs 4:15, 25; 1 Timoteus 4:1, 2). Hoe dink jy voel God wanneer ’n Christen dinge op ’n manier stel wat hy innerlik weet sy broers tot ’n verkeerde slotsom sal laat kom, hulle iets sal laat glo wat werklik nie waar, nie juis, is nie?
10. Hoe beskryf die profete gedrag wat algemeen in eertydse Israel en Juda was?
10 Die profete het besef dat selfs manne en vroue wat aan Jehovah toegewy is, soms ignoreer wat hy van hulle verwag. Hosea het God se gevoelens oor party in sy dag verwoord: “Laat hulle geplunder word, want hulle het teen my oortree! En ek het hulle verlos, maar hulle het leuens gespreek, ja, teen my.” Party het nie net direkte en onmiskenbare leuens teen Jehovah gespreek nie, maar het hulle ook skuldig gemaak aan “vervloekinge en bedrog”, miskien deur feite te verdraai om ander te mislei (Hosea 4:1, 2; 7:1-3, 13; 10:4; 12:1). Hosea het hierdie woorde in Samaria, die noordelike koninkryk, geskryf. Het dit beter gegaan in Juda? Miga sê vir ons: “Die stad se rykes het vol geweld geword, en sy inwoners het leuens gespreek, en hulle tong is bedrieglik in hulle mond” (Miga 6:12). Dit is goed dat ons bewus is van hoe daardie profete die “bedrog” sowel as diegene wie se ‘tong bedrieglik is in hulle mond’, veroordeel het. Gevolglik kan selfs Christene, wat beslis nie opsetlike leuens sal vertel nie, hulle afvra: ‘Maak ek my soms skuldig aan bedrog of het ek partykeer ’n bedrieglike tong in my mond? Wat verlang God van my in hierdie opsig?’
11. Wat openbaar die profete oor God se wil in verband met ons gesprekke?
11 Maar God het die profete ook gebruik om die goeie wat hy van ons verlang, duidelik uiteen te sit. Sagaria 8:16 sê: “Dít is die dinge wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar. Lewer julle regspraak met waarheid en met die oordeel van vrede in julle poorte.” In Sagaria se dag was die poorte openbare plekke waar ouer manne regterlike sake verhoor het (Rut 4:1; Nehemia 8:1). Sagaria het egter nie gesê dat dit die enigste situasie is waarin die waarheid gepraat moet word nie. Ons moet eerlik wees in formele situasies, maar ons word ook aangespoor: “Praat die waarheid met mekaar.” Dit beteken ook in die privaatheid van ons huis wanneer ons met ons huweliksmaat of met gesinslede praat. Dit geld ook vir ons alledaagse gesprekke met geestelike broers en susters, hetsy ons van aangesig tot aangesig of oor die telefoon praat of op ’n ander manier kommunikeer. Hulle het alle rede om te verwag dat wat ons sê, die waarheid is. Christenouers moet by hulle kinders inskerp hoe noodsaaklik dit is om leuens te vermy. Jongmense kan dan grootword met die besef dat God van hulle verwag om ’n bedrieglike tong te vermy en om werklik eerlik te wees in wat hulle sê.—Sefanja 3:13.
12. Watter waardevolle lesse kan ons uit die profetiese boeke leer?
12 ’n Jongmens of ’n volwassene wat altyd die waarheid praat, is dit eens met Sagaria se vermaning: “Julle [moet] waarheid en vrede liefhê” (Sagaria 8:19). En let op Maleagi se beskrywing van wat Jehovah in Sy Seun se lewe gesien het: “Die wet van waarheid was in sy mond, en geen onregverdigheid is op sy lippe gevind nie. In vrede en in regskapenheid het hy met my gewandel” (Maleagi 2:6). Sal Jehovah hoegenaamd minder van ons verlang? Onthou, ons het sy hele Woord tot ons beskikking, met inbegrip van die 12 profete met al die lesse wat ons daaruit kan leer.
VERMY GEWELD IN JOU HANDELINGE
13. Op watter ander probleem wat bestaan het, werp Miga 6:12 lig?
13 Een manier waarop God se eertydse volk ander mishandel het, was volgens Miga 6:12 dat ‘hulle leuens gespreek het en dat hulle tong bedrieglik was in hulle mond’. Maar hierdie vers het op nog ’n ernstige tekortkoming gewys. Dit het gemeld dat die ‘rykes vol geweld geword het’. In watter opsig was dit die geval, en watter les kan ons daaruit leer?
14, 15. Watter reputasie ten opsigte van geweld het nasies rondom God se volk gehad?
14 Dink aan die reputasie van party nasies wat naby God se volk gewoon het. In die noordooste was Assirië, met sy hoofstad, Nineve, waarvan Nahum geskryf het: “Wee die stad van bloedvergieting. Hy is deur en deur vol bedrog en roof. Die prooi wyk nie uit hom nie!” (Nahum 3:1). Die Assiriërs was bekend vir aggressiewe oorlogvoering en wreedheid teenoor krygsgevangenes—party gevangenes is lewendig verbrand of afgeslag, en ander is verblind of hulle neus, ore of vingers is afgesny. Die boek Gods, Graves, and Scholars sê: “Die indruk wat Nineve by die mens gelaat het, was van feitlik niks anders nie as moord, plundering, onderdrukking en geweldpleging teenoor die swakkes; van oorlog en allerhande vorme van liggaamlike geweld.” Ons het ’n ooggetuie van (en moontlike deelgenoot aan) hierdie geweld. Nadat die koning van Nineve Jona se boodskap gehoor het, het hy van sy volk gesê: “Laat hulle hulle met saklinne bedek, mens en mak dier; en laat hulle met alle mag tot God roep en terugkeer, elkeen van sy slegte weg en van die geweld wat in hulle hande was.”—Jona 3:6-8.b
15 Afgryslike geweld was nie tot Assirië beperk nie. Edom, suidoos van Juda, het ook vergelding in die gesig gestaar. Waarom? “Wat Edom betref, ’n verlate, woeste wildernis sal dit word, weens die geweld teenoor die kinders van Juda, in wie se land hulle onskuldige bloed vergiet het” (Joël 3:19). Het die Edomiete hierdie waarskuwing ter harte geneem en hulle gewelddadige weë stopgesit? Obadja het ongeveer twee eeue later geskryf: “Jou sterk manne sal verskrik word, o Teman [’n Edomitiese stad], . . . Weens die geweld teen jou broer Jakob . . . sal [jy] tot onbepaalde tyd uitgeroei moet word” (Obadja 9, 10). Maar wat van God se volk?
16. Amos en Habakuk gee ons insig in watter probleem wat in hulle dag bestaan het?
16 Amos het getoon wat die situasie was in Samaria, die hoofstad van die noordelike koninkryk: “‘Aanskou die baie oproere daarbinne en gevalle van bedrog daarin. En hulle het nie geweet hoe om te doen wat reg is nie’, is die woord van Jehovah, ‘dié wat geweld en plundering . . . opgaar’” (Amos 3:9, 10). ’n Mens sal dalk dink dat dinge anders sou wees in Juda, waar Jehovah se tempel geleë was. Maar Habakuk, wat in Juda gewoon het, het vir God gevra: “Hoe lank sal ek tot u om hulp roep teen geweld, sonder dat u red? Waarom laat u my sien wat skadelik is en hou u aan om te kyk na wat niks anders as moeite is nie? En waarom is plundering en geweld voor my?”—Habakuk 1:2, 3; 2:12.
17. Waarom het ’n neiging tot geweld moontlik onder God se volk ontstaan?
17 Het geweld dalk algemeen geword onder God se volk omdat hulle toegelaat het dat hulle beïnvloed word deur die gesindheid wat Assirië, Edom of ander nasies teenoor geweld gehad het? Salomo het oor so ’n moontlikheid gewaarsku: “Moenie afgunstig raak op die man van geweld nie, en moet ook nie enige van sy weë kies nie” (Spreuke 3:31; 24:1). Later was Jeremia spesifiek: “Só het Jehovah gesê: ‘Moenie die weg van die nasies leer nie.’”—Jeremia 10:2; Deuteronomium 18:9.
Baie tekenrolprente en videospeletjies mislei jongmense om te dink dat geweld aanvaarbaar is
18, 19. (a) Hoe sou Habakuk moontlik oor hedendaagse vorme van geweld gevoel het as hy vandag gelewe het? (b) Hoe voel jy oor die geweld van ons tyd?
18 Sou Habakuk, as hy nou gelewe het, nie ontsteld gewees het oor die geweld van ons tyd nie? Talle word van jongs af aan baie geweld blootgestel. Tekenrolprente wat seuns en meisies boei, is vol geweld—een karakter probeer ’n ander verpletter, opblaas of op ’n ander wyse vernietig. Kort voor lank gaan talle jongmense verder deur videospeletjies te speel waarin hulle wen deur teenstanders te skiet, op te blaas of te vermorsel. “Dit is net speletjies”, maak party dalk beswaar. Maar gewelddadige speletjies wat op ’n tuisrekenaar of in ’n videospeletjiearkade gespeel word, dompel spelers in geweld en vorm hulle gesindhede en reaksies. Hoe waar is die geïnspireerde raad tog: “’n Man van geweld sal sy naaste verlei en laat hom beslis op ’n weg gaan wat nie goed is nie”!—Spreuke 16:29.
19 Hoewel Habakuk genoodsaak was om aan te hou kyk na wat niks anders as moeite was nie en na die “geweld voor” hom, het dit hom bedroef. Jy kan jou nou afvra: ‘Sal hy op sy gemak voel om saam met my na die programme te sit en kyk waarna ek gereeld op die televisie kyk?’ Vra jou ook af: ‘Sal hy tyd opsysit om ’n toeskouer te wees by sogenaamde sportgeleenthede wat inherent gewelddadig is, waar spelers selfs ’n beskermende uitrusting soos dié van eertydse gladiators dra?’ Met sekere sportsoorte is dit die bakleiery op die baan of die veld of tussen waansinnige bewonderaars wat baie mense opwindend vind. In party kulture kyk baie mense na gewelddadige rolprente en video’s wat draai om oorlogvoering of die verweerkuns. Die verskoning word dalk aangevoer dat dit geskiedenis of ’n weergawe van die nasie se kulturele verlede is, maar maak dit die geweld aanvaarbaarder?—Spreuke 4:17.
20. Aangaande watter soort geweld het Maleagi Jehovah se beskouing gegee?
20 Maleagi meld ’n verwante aspek wanneer hy wys op Jehovah se beskouing van die verraderlikheid van party Jode teenoor hulle vrouens. “‘Hy het egskeiding gehaat’, het Jehovah, die God van Israel, gesê, ‘en die een wat sy kleed met geweld bedek het’” (Maleagi 2:16). Die Hebreeus wat weergegee word met “sy kleed met geweld bedek het”, is al op verskillende maniere verstaan. Party geleerdes meen dat dit verwys na iemand wat bloed op sy kleed kry wanneer hy iemand anders met geweld aanval. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat Maleagi huweliksgeweld veroordeel het. Ja, Maleagi het die kwessie van gesinsgeweld aangeroer en getoon dat God dit afkeur.
21. In watter situasies moet Christene geweld vermy?
21 Geweld, fisies of mondeling, in die privaatheid van ’n Christen se huis is net so onverskoonbaar soos geweld in die openbaar; God sien albei (Prediker 5:8). Hoewel Maleagi na geweld teen ’n vrou verwys het, is daar niks in die Bybel wat geweld minder afkeurenswaardig maak as ’n man dit teen kinders of bejaarde ouers rig nie. Dit is ook nie verskoonbaar wanneer ’n vrou dit teenoor haar man, kinders of ouers gebruik nie. Daar kan weliswaar in ’n gesin van onvolmaakte mense spanning ontstaan, wat irritasie en soms woede veroorsaak. Maar die Bybel maan ons: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie.”—Efesiërs 4:26; 6:4; Psalm 4:4; Kolossense 3:19.
22. Hoe weet ons dat dit moontlik is om nie gewelddadig te wees nie, al is baie mense om ons gewelddadig?
22 Party voer dalk verskonings aan vir hulle gewelddadige weë en sê: ‘Ek is so omdat ek in ’n gewelddadige gesin grootgeword het’, of: ‘Mense uit my omgewing of kultuur raak maar net gouer omgekrap, is eenvoudig opvlieënder.’ Maar toe Miga ‘rykes wat vol geweld geword het’, veroordeel het, het hy nie te kenne gegee dat hulle dit nie kon verhelp nie omdat hulle te midde van geweld grootgeword het (Miga 6:12). Noag het gelewe toe die aarde “vol geweld” was, en sy seuns het te midde daarvan grootgeword. Het hulle gewelddadig geword? Glad nie! “Noag het guns in die oë van Jehovah gevind”, en sy seuns het hom nagevolg en deur die Vloed heen behoue gebly.—Genesis 6:8, 11-13; Psalm 11:5.
23, 24. (a) Wat help ons om te voorkom dat ons as gewelddadige mense bekend staan? (b) Hoe voel Jehovah oor diegene wat ander behandel soos hy wil hê hulle moet?
23 Jehovah se Getuies is wêreldwyd daarvoor bekend dat hulle nie gewelddadig nie, maar vreedsaam is. Hulle respekteer en gehoorsaam die keiser se wette teen gewelddade (Romeine 13:1-4). Hulle het hulle daarop toegelê om “van hulle swaarde ploegskare [te] smee”, en hulle streef vrede na (Jesaja 2:4). Hulle probeer om hulle met “die nuwe persoonlikheid” te beklee, wat help om geweld te vermy (Efesiërs 4:22-26). En hulle let op die goeie voorbeeld van Christen- ouer manne, wat nie ‘slaners’ in woord of in daad mag wees nie.—1 Timoteus 3:3; Titus 1:7.
24 Ja, ons kan—en moet—ander behandel soos God wil hê ons moet. Hosea sê: “Wie is wys, sodat hy hierdie dinge kan verstaan? Verstandig, sodat hy dit kan weet? Want die weë van Jehovah is reg, en die regverdiges sal daarin wandel.”—Hosea 14:9.
a Aangaande die uitdrukking ‘die oortreding oorsien’, sê een geleerde dat die Hebreeuse metafoor “geneem is uit die gedrag van ’n reisiger wat voortreis sonder om ag te slaan op ’n voorwerp waaraan hy nie aandag wil skenk nie. Die idee [is nie dat God sonde nie opmerk nie], maar dat hy in sekere gevalle nie daarop let met die doel om straf uit te deel nie; dat hy nie straf nie, maar vergewe.”
b Sowat 35 kilometer suidoos van Nineve was Kalag (Nimroed), wat deur Assurnasirpal herbou is. Die Britse Museum vertoon muurpanele uit Kalag, waarvan ons lees: “Assurnasirpal het geen besonderheid uitgelaat oor die wreedheid en onmenslikheid waarmee hy sy veldtogte gevoer het nie. Gevangenes is by die mure van beleërde stede aan pale gehang of met pale deurboor . . . ; jong mans en meisies is lewendig afgeslag.”—Archaeology of the Bible.