HOOFSTUK ELF
Jehovah wil hê dat mense die lewe moet kry—Is dit wat jy wil hê?
1, 2. (a) Wat kan ons leer uit Jona se reaksie op Jehovah se besluit oor Nineve? (b) Waarom moet ons God se barmhartigheid en sy beskouing van lewe ondersoek?
JEHOVAH was bly. Die profeet was swaarmoedig. God het uit barmhartigheid die lewe van duisende mense gespaar. Jona sou hulle laat omkom het! Jehovah het verkies om mense wat sy volk se vyande was, te vergewe en behoue te laat bly.
Selfs God se knegte begryp soms nie die omvang van sy barmhartigheid ni
2 Soos ons uit Jona se geval kan sien, is dit soms vir mense moeilik om die omvang van God se verdraagsaamheid te begryp en om Sy begeerte te weerspieël dat mense die lewe moet kry. Jona was “baie ontevrede” oor Jehovah se besluit om die Nineviete te spaar, “en hy het kwaad geword”. Was Jona moontlik meer besorg oor sy eie gevoelens as oor barmhartigheid en die redding van lewens? Hy het dalk gedink dat hy aansien sou verloor as die Nineviete gespaar word (Jona 4:1, 10, 11). Wat van ons tyd, noudat Jehovah se oordeelsdag vinnig nader kom? Jy kan vra: ‘Hoe kan ek groter waardering vir God se vergewensgesindheid ontwikkel, en hoe kan ek berouvolle oortreders help om in groter mate by sy teerheid baat te vind? Ja, hoe kan ek God navolg ten opsigte van sy begeerte dat mense die lewe moet kry?
GEREGTIGHEID EN BARMHARTIGHEID MET LEWE IN DIE VOORUITSIG
3. Bots God se geregtigheid en sy barmhartigheid met mekaar? Verduidelik.
3 Party mense dink dat hierdie 12 profetiese boeke, bladsy na bladsy, net handel oor God se toorn en sy voltrekking van straf aan mense, sy uitoefening van geregtigheid. Hulle vra dalk: ‘Waar is Jehovah se barmhartigheid? Is dit vir hom belangrik om lewens te red?’ God se geregtigheid en sy barmhartigheid bots nie met mekaar nie, maar werk in der waarheid saam en help om lewens te red. Geregtigheid en barmhartigheid is twee fasette van sy volmaak gebalanseerde persoonlikheid (Psalm 103:6; 112:4; 116:5). Deur die kwaad ongedaan te maak wat deur die goddeloses aangerig word, bewys God barmhartigheid aan mense wat die regte gesindheid het. Dit getuig van sy volmaakte geregtigheid. Maar omdat Jehovah volkome regverdig is, neem hy uit barmhartigheid die beperkings van onvolmaakte mense in ag. Jy kan dit soos volg stel: oordeel waar nodig, barmhartigheid waar ook al moontlik. In die profete se boodskappe kan jy baie verklarings vind wat hierdie volmaakte balans bevestig en toon dat God wil hê dat mense die lewe moet kry. Kom ons beskou dit van naderby en leer in die proses lesse wat ons vandag op praktiese maniere kan toepas.
4. Wat bewys dat God wil hê dat mense die lewe moet kry?
4 Die profeet Joël het ’n boodskap van veroordeling oorgedra, en tog het hy ook bevestig dat God ‘genadig en barmhartig is, nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid’ (Joël 2:13). Ongeveer honderd jaar later, in die agtste eeu v.G.J., het Miga beklemtoon hoe nodig ons Jehovah se vergifnis het. Nadat hy gevra het: “Wie is ’n God soos u?” het Miga Jehovah soos volg beskryf: “Hy sal beslis nie vir ewig aan sy toorn vashou nie, want hy skep behae in liefderyke goedhartigheid. Hy sal weer barmhartigheid aan ons bewys” (Miga 7:18, 19). Soos ons uit Jona se verslag oor die Nineviete kan sien, is God bereid om die voltrekking van straf aan voorwerpe van sy toorn te heroorweeg as hulle bewys lewer van hulle berou deur middel van werke wat by berou pas.
5. Watter aspekte van God se barmhartigheid en sy belangstelling om lewens te red, is vir jou die treffendste? (Sien ook “Hulle het hulle beskikbaar gestel.”)
5 Ons lewe nie in die tyd van die 12 profete nie. Maar word ons hart nie geraak deur sulke aanduidings van Jehovah se barmhartigheid en die feit dat hy daarin belangstel om lewens te red nie? As jy so voel, kan dit jou gehegtheid aan God versterk en jou belangstelling vergroot om ander te help om die lewe te kry. Hoewel die meeste mense vandag ’n slegte weg volg, is ons seker daarvan dat God “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Hierdie begeerte van Jehovah kan gesien word in die hartlike woorde wat Hosea gespreek het toe hy sy owerspelige vrou teruggekry het. Jehovah ‘het gespreek tot die hart’ van sy volk. God was nie verplig om vergifnis te toon nie, maar hy was “uit vrye wil” bereid om dit te doen (Hosea 1:2; 2:13, 14; 3:1-5; 14:4). Weet jy waarom God se gesindheid en dade in hierdie opsig so belangrik is? Omdat lewens daarby betrokke is. Jy kan verdere bewys sien van God se barmhartigheid en sy begeerte dat mense die lewe moet kry wanneer jy na die Christengemeente kyk, wat iets doen waarby jy betrokke is.
HELP MENSE OM DIE LEWE TE KRY
6. Op watter vername manier toon God dat hy wil hê dat mense die lewe moet kry?
6 Waarom neem jy aan die openbare bediening deel? ’n Vername rede is sodat jy ander kan help om die ware God te leer ken. Hier is iets belangriks wat ons omtrent Jehovah moet weet: Hy gee duidelike waarskuwings voordat hy straf voltrek. Dit getuig van sy barmhartige belangstelling in mense, belangstelling daarin dat hulle nie moet sterf nie, maar eerder die lewe moet kry. Die 12 profete het oortreders meegedeel dat God hulle die geleentheid bied om hulle weë te verander en sy regverdige toorn vry te spring. Ons neem vandag aan ’n soortgelyke werk deel. As ’n Christen het jy die voorreg om die waarskuwing oor God se komende dag van wraak bekend te maak. Terwyl jy dit doen, moet jy enige wraaksugtige gevoelens vermy, soos die begeerte om te sien dat mense wat nie wil luister nie, “kry wat hulle verdien”. Herinner jou daaraan dat jy die getuieniswerk hoofsaaklik doen sodat party op die pad na die lewe kan kom.—Joël 3:9-12; Sefanja 2:3; Matteus 7:13, 14.
7. (a) Waarom is dit noodsaaklik om aan die getuieniswerk deel te neem? (b) Waarom is dit nuttig om aan Jehovah se gesindheid te dink wanneer ons mense teëkom wat geen belangstelling toon nie?
7 Elke keer wanneer jy Bybelwaarhede van huis tot huis, by die skool, by die werk of elders bekend maak, bied jy hulp aan iemand wat God se barmhartigheid en vergifnis dringend nodig het (Hosea 11:3, 4). Jy sal weliswaar mense teëkom wat geen belangstelling toon nie. Maar as jy ten spyte daarvan volhard, volg jy ons barmhartige God na, wat deur Sagaria vir Sy eiesinnige volk gesê het: “Keer asseblief terug van julle slegte weë en van julle slegte handelinge” (Sagaria 1:4). Wie weet hoeveel mense gunstig sal reageer wanneer jy hulle van God se barmhartigheid vertel en hulle die weg na die lewe wys? Probeer weer eens onthou dat jy die getuieniswerk doen omdat Jehovah wil hê dat mense die lewe moet kry, en jy wil dit ook hê.
8. Waarom is dit bemoedigend om te dink aan hoe party op God se barmhartigheid gereageer het?
8 Jy sal dit moontlik bemoedigend vind om aan hierdie feit te dink: Daar was feitlik nog altyd mense wat gunstig gereageer het op God se boodskappe. Daarom kon Hosea praat van diegene wat besef het dat ‘die weë van Jehovah reg is’. Die profeet het bygevoeg: “Die regverdiges sal daarin wandel” (Hosea 14:9). Deur die eeue heen is baie mense se hart geraak deur God se uitnodiging: “Keer terug tot my met julle hele hart” (Joël 2:12). Dit is gesê aan ’n volk wat Jehovah geken het, maar dit weerspieël ook God se belangstelling in diegene wat pas van hom begin leer het. Ja, God het nie vertroue verloor in mense se vermoë om spyt te wees oor hulle verkeerde weg van vroeër, om berou te hê en om te begin doen wat reg is nie. Dit plaas hulle in ’n posisie om gered te word.—1 Timoteus 4:16.
9. Wat is nodig, soos gesien kan word uit die reaksie van die Nineviete?
9 Daar is nog ’n faktor betrokke by die vergifnis wat Jehovah aan die Nineviete geskenk het. Ons lees dat die mense die boodskap van naderende goddelike oordeel ernstig opgeneem het en “geloof in God begin stel” het (Jona 3:5). Geloof, nie net vrees vir die oordeel nie, was nodig om te bly lewe. As gevolg van Jehovah se intense begeerte om te sien dat mense berou toon en in geloof optree, laat hy ons toe om die getuieniswerk te doen en mense te help om ’n keuse te maak. Met watter gevolg? Ons lees in verband met die Nineviete: “Die ware God het hulle werke gesien, dat hulle hulle van hulle slegte weg afgekeer het; en toe het die ware God spyt gevoel oor die rampspoed wat hy gesê het hy oor hulle sou bring; en hy het dit nie gebring nie” (Jona 3:10). Jehovah kan nie om die bos gelei word met blote woorde of leë gebare nie. Die Nineviete het ongetwyfeld opregte berou getoon, waarvan hulle werke bewys gelewer het. God kon sien dat hulle werklik verander het; hulle opregte berou het met geloof gepaardgegaan.
10. Wat is ’n paar situasies waarin Jehovah redding moontlik gemaak het?
10 Ons moet nooit tot die slotsom kom dat Jehovah se belangstelling om lewens te red, net die Nineviete tot voordeel gestrek het nie. Met Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J.—ná die bediening van Obadja, Nahum en Habakuk—het Jehovah ontkoming verskaf aan die gehoorsame Jeremia en ’n groep van sy getroue metgeselle (Jeremia 39:16-18). En God se profete het voorspel dat ’n berouvolle oorblyfsel uit Babilon sou terugkeer en rein aanbidding sou herstel (Miga 7:8-10; Sefanja 3:10-20). Hierdie profesieë is in hedendaagse tye op ’n wonderlike wyse vervul. Ná die Eerste Wêreldoorlog is gesalfde Christene, waarvan talle traag geword het ten opsigte van ware aanbidding, tot ywerige bedrywigheid en in Jehovah se guns herstel, met lewe in die vooruitsig. Ook is daar vandag mense uit “baie nasies” wat “by Jehovah aansluit” (Sagaria 2:11). Hulle het die vooruitsig om die naderende einde van hierdie stelsel van dinge te oorleef. Jou openbare bediening is dus nie net ’n daad van gehoorsaamheid wat jy verrig omdat Christene beveel is om dit te doen nie. En ook is dit nie iets wat gedoen word net om profesieë te vervul nie (Matteus 24:14; 28:19, 20). Jou openbare bediening is daarop gemik om mense te help om van Jehovah te leer, geloof te beoefen en die lewe te kry.
LEWE VIR DIEGENE WAT TOT JEHOVAH TERUGKEER
11, 12. Hoe kan diegene wat voorheen God se aanbidders was, by sy barmhartigheid baat vind?
11 Jehovah stel belang in nuwelinge en wil hê dat hulle die lewe moet kry, maar hy vergeet nie diegene wat hom al vroeër begin dien het nie. Ons moet ook in hulle belangstel en wil hê dat hulle op die weg van die lewe bly wandel. Hoe kan ons ons belangstelling op praktiese maniere toon?
12 Jy weet dalk van party wat van Jehovah geleer het, geloof in hom gestel het en bedrywig geword het in ware aanbidding, maar wat hom nie nou dien nie. Die boodskappe wat Jehovah deur die 12 profete gestuur het, toon dat hy bereid was om barmhartigheid te bewys aan diegene wat voorheen sy knegte was, maar wat nie in ware aanbidding volhard het nie. Dieselfde geld vandag, hetsy sulke persone weggedryf het, weggelok is of in oortreding verval het en berou moet toon (Hebreërs 2:1; 3:12). Hoewel hulle moontlik nie gelukkig is terwyl hulle van Jehovah vervreemd is nie, is dit miskien vir hulle moeilik om terug te keer. God doen ’n beroep op hulle deur middel van die woorde van sy profeet: “Só het Jehovah van die leërs gesê: ‘Keer terug tot my’, is die woord van Jehovah van die leërs, ‘en ek sal tot julle terugkeer’” (Sagaria 1:3). Hoe gerusstellend is Hosea se woorde tog! Hy sê: “Keer tog terug, o Israel, tot Jehovah jou God, want jy het in jou oortreding gestruikel. Neem woorde met julle saam en keer terug tot Jehovah. Sê vir hom, julle almal: ‘Mag u oortreding vergewe; en neem aan wat goed is.’” Ja, selfs diegene wat ernstige sondes gepleeg het, maar wat toe opregte berou getoon en tot God teruggekeer het, kon vergifnis ontvang wat tot volkome herstel gelei het (Hosea 6:1; 14:1, 2; Psalm 103:8-10). Dit was die geval in die profete se dae, en dit is die geval in ons dag.
Hoe kan jy Christene wat vroeër ywerig was, help om tot Jehovah terug te keer?
13. Watter redes het ons om barmhartigheid te bewys aan diegene wat deur God vergewe is?
13 Maar wat beteken dit vir Christene wat op die pad na die lewe gebly het? Hoe kan ons toon dat ons dieselfde beskouing van ander het as Jehovah? Jehovah verwag dat ons barmhartigheid moet bewys, aan nuwelinge sowel as aan diegene wat dalk opgehou het om hom te dien. God het deur Hosea gesê wat Hy van ons verlang: “In liefderyke goedhartigheid het ek behae geskep, en nie in offerande nie.” Jesus Christus het na hierdie woorde verwys en die gedagte soos volg uitgedruk: “Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie’” (Hosea 6:6; Matteus 9:13). Dit is noodsaaklik dat ons sulke barmhartigheid bewys as ons ons verhouding met God wil behou. Let op hoe die apostel Paulus vergewensgesindheid met die navolging van God verbind het: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het. Word dan navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel” (Efesiërs 4:32–5:2). In watter mate slaag jy daarin om God in hierdie opsig na te volg?
14, 15. Onder watter soort omstandighede kan ons gesindheid teenoor Jehovah se vergewensgesindheid getoets word?
14 Sê nou ’n broer wat ernstig gesondig het, was onberouvol en moes uit die gemeente gesit word? So iets het destyds in die eerste eeu gebeur; Christene wat onberouvolle sondaars geword het, moes uitgesit word. As dit gebeur het terwyl Jesus se apostels nog daar was, is dit nie verbasend dat dit vandag soms gebeur nie. In sulke gevalle aanvaar lojale gemeentelede die Bybel se riglyne om nie met iemand om te gaan wat uitgesit is nie. Hulle lojaliteit aan Jehovah kan die oortreder help om die erns van sy verkeerde weg in te sien, en hy word dalk beweeg om berou te toon. Ons lees in die Bybel dat ’n man in Korinte wat uitgesit is, wel later berou getoon het en verander het, en hy is herstel (1 Korintiërs 5:11-13; 2 Korintiërs 2:5-8). Hoe voel jy wanneer dit vandag gebeur, en hoe kan jy toon dat jy daarin belangstel dat ander die lewe kry?
15 ’n Berouvolle oortreder voel dalk skaam en moedeloos en het die versekering nodig dat God sowel as sy broers hom liefhet en wil hê dat hy die lewe moet kry. Kyk watter tere versekering het God sy eertydse volk gegee wat bereid was om berou te toon: “Ek sal my aan jou verloof in getrouheid; en jy sal Jehovah beslis ken” (Hosea 2:20). Aangesien God so voel, moet ons toon dat ons in harmonie is met die een wat deur Sagaria beskryf is as die God wat “barmhartigheid bewys”.—Sagaria 10:6.
16. Hoe moet ons reageer wanneer iemand herstel word?
16 God wil hê dat mense die lewe moet kry, en daarom is hy bly wanneer ’n sondaar berou toon of ’n eens onbedrywige kneg sy ywer hernieu (Lukas 5:32).a In die geval van die voorgemelde Korintiese man wat herstel is, het Paulus die gemeente gemaan om hom te vergewe en aan te moedig en vir hom te wys dat hulle hom werklik liefhet: “Hierdie bestrawwing wat deur die meerderheid gegee is, is voldoende vir so iemand, sodat julle hom . . . goedgunstig moet vergewe en vertroos, sodat so iemand nie dalk op die een of ander wyse deur sy oormatige droefheid verswelg word nie. Daarom vermaan ek julle om julle liefde vir hom te bevestig” (2 Korintiërs 2:6-8). Onthou dat Hosea Jehovah se woorde oor voormalige sondaars aangehaal het: “Ek sal hulle ontrouheid genees. Ek sal hulle uit vrye wil liefhê” (Hosea 14:4). Sal ons Jehovah navolg en bly wees om by te dra tot hierdie genesing en die ewige lewe waartoe dit kan lei?
17, 18. Hoe kan ons liefdevolle hulp verleen aan diegene wat tot Jehovah teruggekeer het of aan gesinslede van iemand wat uitgesit is?
17 Jehovah toon duidelik dat hy diegene wat wel terugkeer, met waardigheid behandel en hulle terugneem as volwaardige ontvangers van sy liefde, net soos Hosea sy vrou wat vroeër ontrou was, geredelik teruggeneem het. Jehovah sê van die manier waarop hy sy knegte behandel het: “Ek [het] vir hulle geword . . . soos dié wat ’n juk van hulle kakebene aflig, en met sagtheid het ek vir elkeen voedsel gebring” (Hosea 11:4). Hoe aangrypend tog is die geneentheid waarmee Jehovah dié wat terugkeer, sagkens trek! Ons kan hom navolg deur nie onbuigsaam of kil te wees teenoor iemand wat goddelike droefheid en opregte berou geopenbaar het nie. Nadat hy in die gemeente teruggeneem is, moet ons nie gegriefdheid toon of ’n wrok teen hom koester vir sy foute van die verlede nie, maar eerder vertroostend met hom praat wanneer hy dit nodig het.—1 Tessalonisense 5:14.
18 Kan jy dink aan ander maniere waarop ons Jehovah kan navolg wanneer dit kom by iemand wat uit die gemeente gesit is? Kan ons, as iemand uitgesit moes word, lojale lede van sy gesin help, miskien ’n getroue eggenoot en die kinders? Hulle sukkel dalk om gereeld by vergaderinge te kom en velddiens te doen. Sal ons hulle die spesiale ondersteuning gee wat hulle moontlik nodig het? Nog ’n manier om tere barmhartigheid te bewys, is om “goeie woorde, vertroostende woorde”, te gebruik en opbouende gesprekke met sulke getroues aan te knoop (Sagaria 1:13). Daar is baie geleenthede om dit te doen voor en ná vergaderinge, terwyl ons saam in die bediening is of op ander tye. Hulle is medewerkers, dierbare lede van ons gemeente wat nie verworpe of afgesonderd moet voel nie. In party gevalle probeer net die kinders van ’n uitgesette ouer Jehovah dien. Ons wil werklik hê dat hulle die lewe moet kry. Hoe kan ons dit toon?
‘’N VADERLOSE SEUN WORD BARMHARTIGHEID BEWYS’
19. Watter geestelike hulp het Sefanja voorsien aan iemand wat met “’n vaderlose seun” vergelyk kan word?
19 Jy kan ’n voorbeeld van hulpverlening vind in die bediening van Sefanja, wat in die middel van die sewende eeu v.G.J. gedien het. Hy was moontlik ’n lid van die koningshuis van Juda, miskien ’n verlangse neef van koning Josia. Die koning se vader is vermoor en die agtjarige Josia moes noodgedwonge die troon bestyg. ’n Uitdagende taak het hom in die gesig gestaar: Die nasie was verstrik in afgodediens en verfoeilike gebruike (Sefanja 3:1-7). Die jong, vaderlose Josia het bekwame leiding en gesonde raad nodig gehad om oor hierdie eiesinnige nasie te regeer. Jehovah het wyse leiding deur Sefanja en ander profete voorsien, soos in vroeëre hoofstukke van hierdie boek gemeld is. Dit is betekenisvol dat Jehovah, hoewel hy deur sy profeet teen “die vorste” van Juda gespreek het, nie die koning self gekritiseer het nie (Sefanja 1:8; 3:3). Dit kan beteken dat jong koning Josia reeds getoon het dat hy tot rein aanbidding geneig was. Die profeet se vermaning het Josia ongetwyfeld gehelp om meer vasbeslote te wees om Juda van onrein aanbidding te reinig.
20. Hoe kan geestelike leiding “vaderlose” jongmense in die gemeente help?
20 Sefanja se belangstelling in Josia illustreer vir ons Jehovah se belangstelling in kwesbare jongmense wat hulp nodig het, soos kinders wie se ouer moontlik uitgesit is. Hosea het gesê: “Deur [God] word ’n vaderlose seun barmhartigheid bewys” (Hosea 14:3). Weet jy van enige ander “vaderlose” seuns en meisies wat geestelike en praktiese leiding nodig het? Hulle kan geestelike weeskinders wees, kinders van enkelouergesinne of kinders wat Jehovah sonder die ondersteuning van hulle gesin dien. Die mate waarin hierdie jongmense na aan die gemeente bly en tot geestelike volwassenheid groei, word dikwels beïnvloed deur die teenwoordigheid of afwesigheid van ’n geestelike mentor. Baie ‘vaderlose seuns’ het gebalanseerde, geestelike volwassenes geword nadat ryp Christene in die gemeente liefdevolle belangstelling in hulle getoon het.—Psalm 82:3.
Kan jy ’n liefdevolle geestelike mentor vir “vaderlose” jongmense word?
21. Watter hulp kan ryp Christene aan jongmense bied?
21 Dit kan byvoorbeeld ’n enkelmoeder help as ryp Christene belangstelling in haar kinders toon (Jakobus 1:27). Terwyl hulle die nodige respek vir hoofskap toon en nie die perke van welvoeglikheid oorskry nie, kan opsieners en ander persone geestelike hulp aan lede van minderbevoorregte gesinne bied. Miskien kan jy en jou huweliksmaat of gesin tyd saam met ’n vaderlose seun of meisie deurbring. Kan jy bedagsaam optree teenoor jongmense wat miskien eensaam is? Hulle het dalk empatie nodig en wil miskien oor iets vertrouliks praat, waarna jy kan luister terwyl jy saam met hulle aan die openbare bediening deelneem. Jy is ongetwyfeld besig, en daarom kan dit ‘die egtheid van jou liefde op die proef stel’ om oor ’n tydperk gereeld sulke hulp aan ’n jong persoon te bied (2 Korintiërs 8:8). Jou pogings sal toon dat jy daarin belangstel dat ander die lewe moet kry.
22. Hoe voel jy oor die feit dat Jehovah daarin belangstel dat ander die lewe moet kry?
22 Hoe gerusstellend is dit tog om na te dink oor God se belangstelling in mense, sy begeerte dat hulle die ewige lewe moet kry! Hy sal eerder sy geneentheid toon vir regverdige mense wat hom liefhet en aan hulle die lewe gee as om uiting te gee aan sy misnoeë met diegene wat verkies om glad nie te verander en die ewige lewe waardig te wees nie. Terwyl ons Jehovah se dag gretig verwag, moet ons hom navolg deur ander te help om op die weg na die lewe te kom.
a Drie aangrypende illustrasies lig God se intense besorgdheid toe oor lede van sy volk wat afgedwaal het—die illustrasies van die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun.—Lukas 15:2-32.