Hoofstuk 12
Wat is fout met skinderpraatjies?
“Ek het eenkeer na ’n partytjie toe gegaan, en die volgende dag was daar stories dat ek met een van die seuns daar seks gehad het. Dit was glad nie waar nie!”—Linda.
“Partykeer hoor ek ’n storie dat ek met iemand uitgaan—iemand wat ek nie eers ken nie! Baie mense wat skinder, doen nie die moeite om van die feite seker te maak nie.”—Mike.
SKINDERPRAATJIES kan jou lewe interessanter laat klink as ’n rolprent. Vra maar vir die 19-jarige Amber. “Ek het alewig deurgeloop”, sê sy. “Daar’s gesê dat ek swanger is, dat ek aborsies gehad het en dat ek dwelms verkoop, dat ek dwelms koop en dat ek dwelms gebruik. Hoekom sê mense sulke dinge van my? Ek het regtig geen idee nie!”
Sonder om eers ’n woord te sê, kan ’n seun of meisie met kwade bedoelings jou reputasie deur middel van e-pos en SMS’e skend. Hy of sy hoef net ’n paar knoppies te druk om ’n gemene storie na tientalle gretige lesers te stuur! In party gevalle is ’n hele webwerf geskep net om iemand te verneder. Maar meer dikwels is webjoernale (blogs) propvol skinderstories wat nooit persoonlik oorvertel sou word nie.
Maar is dit altyd sleg om van ander te praat? En is daar iets soos . . .
Onskadelike skinderpraatjies?
Dui aan of die volgende stelling waar of onwaar is.
Skinderpraatjies is altyd sleg. □ Waar □ Onwaar
Wat is die regte antwoord? Om die waarheid te sê, hang dit af van ’n mens se definisie van “skinderpraatjies”. As die woord net na informele gesprekke verwys, sal daar dalk tye wees wanneer dit gepas is. Die Bybel sê immers dat ons “in die lewe van ander moet belangstel” (Filippense 2:4, New Century Version). Dit beteken nie dat ons ons met sake moet bemoei wat ons nie aangaan nie (1 Petrus 4:15). Maar informele gesprekke voorsien dikwels nuttige inligting, soos wie gaan trou of wie ’n baba gehad het. Laat ons maar eerlik wees—ons kan nie sê dat ons vir ander omgee as ons nooit van hulle praat nie!
Nogtans kan informele gesprekke maklik in skadelike skinderpraatjies ontaard. Byvoorbeeld, die onskuldige opmerking “Pieter en Sanet sal ’n oulike paartjie maak” word dalk oorvertel as “Pieter en Sanet is ’n paartjie”—al weet Pieter en Sanet niks van hulle veronderstelde verhouding nie. ‘Dis nie so erg nie’, sê jy dalk—tensy jy natuurlik Pieter of Sanet is!
Julie, 18, was die slagoffer van hierdie soort skinderpraatjies, en dit het haar seergemaak. “Dit het my kwaad gemaak”, sê sy, “en dit het my laat twyfel of ek ander kan vertrou.” Jane, 19, was in ’n soortgelyke situasie. “Op die ou end het ek die outjie met wie ek glo uitgegaan het, vermy”, sê sy en voeg by: “Dit was vir my onregverdig, want ons was vriende, en ek het gedink ons behoort te kan gesels sonder dat stories begin versprei!”
Stuur jou gesprekke in die regte rigting
Hoe kan jy jou tong beheer as jy in die versoeking kom om te skinder? Om daardie vraag te beantwoord, dink aan hoeveel vaardigheid nodig is om op ’n besige snelweg te bestuur. ’n Situasie kan onverwags ontstaan wat vereis dat jy van baan moet verander, toegee of stop. As jy wakker is, sal jy sien wat voor jou in die pad gebeur en daarop kan reageer.
Dit geld ook vir gesprekke. Jy kan gewoonlik sien wanneer ’n gesprek in skadelike skinderpraatjies begin ontaard. Kan jy, wanneer dit gebeur, ‘van baan verander’? As jy dit nie doen nie, wees gewaarsku—skinderpraatjies kan seermaak. “Ek het iets leliks van ’n meisie gesê—dat sy behep is met seuns—en dit het by haar uitgekom”, sê Mike. “Ek sal nooit haar stem vergeet toe sy my gekonfronteer het en hoe seergemaak sy was oor my onbedagsame woorde nie. Ons het dinge uitgestryk, maar ek het sleg gevoel omdat ek iemand só seergemaak het!”
Woorde kan ongetwyfeld seermaak. Selfs die Bybel erken dat daar “een [is] wat onnadenkend praat soos met swaardsteke” (Spreuke 12:18). Des te meer rede om jou woorde te tel voordat jy praat! Toegegee, dit verg dalk selfbeheersing om die briek aan te draai wanneer ’n gesprek in ’n sappige skinderstorie ontaard. Maar dis soos die 17-jarige Carolyn sê: “Jy moet versigtig wees wat jy sê. As jy iets nie uit ’n betroubare bron gehoor het nie, versprei jy dalk leuens.” Wanneer dit by potensieel skadelike skinderpraatjies kom, moet jy dus die apostel Paulus se raad toepas om jou “dit ten doel te stel om rustig te lewe en om [jou] met [jou] eie sake te bemoei”.—1 Tessalonisense 4:11.
Hoe kan jy persoonlike belangstelling in ander toon en jou nog steeds met jou eie sake bemoei? Voordat jy van iemand begin praat, vra jou af: ‘Ken ek regtig die feite? Waarom wil ek dié inligting oorvertel? Watter uitwerking sal dit op my reputasie hê as ek skinderstories versprei?’ Hierdie laaste vraag is belangrik, want om as ’n skinderbek bekend te staan, sê meer oor jou karakter as oor die persoon van wie daar gepraat word.
Wanneer jy die slagoffer is
Wat kan jy doen as jy die slagoffer van skinderpraatjies is? “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie”, waarsku Prediker 7:9. Probeer eerder om die saak in perspektief te stel. Die Bybel sê: “Moet . . . nie jou hart rig op al die woorde wat mense spreek nie, . . . want jou eie hart weet goed van baie kere dat jy, ja jy, ’n vloek oor ander uitgespreek het.”—Prediker 7:21, 22.
Daar is natuurlik geen verskoning vir skadelike skinderpraatjies nie. Maar as jy oorreageer, kan dit jou in ’n slegter lig stel as die eintlike skinderstorie! Miskien kan jy die beskouing aanneem wat Renee gehelp het. “Ek voel gewoonlik seergemaak wanneer iemand iets slegs van my sê, maar ek probeer om dit in perspektief te sien”, sê sy. “Ek bedoel, volgende week praat hulle seker weer van iemand of iets anders.”a
Wees verstandig en stuur gesprekke weg van skadelike skinderpraatjies. En wanneer onbedagsame praatjies oor jou handel, moet jy volwasse genoeg wees om nie te oorreageer nie. Laat jou goeie werke namens jou praat (1 Petrus 2:12). As jy dit doen, sal jy help om ’n goeie verhouding met ander en ’n goeie posisie voor God te behou.
[Voetnoot]
a Soms sal dit dalk verstandig wees om ’n taktvolle manier te vind om die persoon wat oor jou geskinder het, te konfronteer. Maar dis dikwels nie nodig nie, want “die liefde bedek ’n menigte sondes”.—1 Petrus 4:8.
SLEUTELTEKSTE
“Wie sy mond bewaak, behou sy siel. Wie sy lippe wyd oopmaak—vir hom sal daar ondergang wees.”—Spreuke 13:3.
WENK
As jy skinderpraatjies hoor, kan jy sê: “Ek hou nie daarvan om hieroor te praat nie. Sy is immers nie hier om haarself te verdedig nie.”
HET JY GEWEET . . . ?
Al luister jy net na skinderpraatjies, kan jy gedeeltelik verantwoordelik wees daarvoor. Deur die persoon wat skinder toe te laat om voort te gaan, dra jy daartoe by dat die storie verder versprei!
AKSIEPLAN!
Die volgende keer as ek in die versoeking kom om ’n storie te versprei, sal ek ․․․․․
As onbedagsame dinge oor my gesê is, sal ek die situasie hanteer deur ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Wanneer sou dit gepas wees om van ander te praat?
● Was jy al ooit die slagoffer van skinderpraatjies, en indien wel, wat het jy uit die ondervinding geleer?
● Hoe kan dit jou reputasie skaad as jy skinderstories oor ander versprei?
[Lokteks op bladsy 107]
Ek het regtig my les geleer toe die persoon oor wie ek geskinder het, daarvan uitgevind het en my gekonfronteer het. Daar was geen manier om dit te vermy nie! Ek het beslis geleer dat dit beter is om eerlik te wees met mense as om agter hulle rug te praat!’’—Paula
[Prent op bladsy 108]
Skadelike skinderpraatjies is soos ’n gevaarlike wapen wat iemand anders se reputasie kan vernietig