Skinderpraatjies—Waarom die aantrekkingskrag?
IN Chinees is dit sjén-tán; in Fins, juoru; in Italiaans, pettegolézzo; in Spaans, chisme. Ja, skinderpraatjies kom algemeen voor. In sommige tale kan die woord skinderpraatjies ’n heeltemal negatiewe betekenis hê. In Afrikaans beteken die woord “skinderpraatjies” basies “kletspraatjies”, met ander woorde, praatjies oor kleinighede.
Dit is egter interessant dat die Afrikaanse term ’n negatiewe betekenis verkry het. “Skinderpraatjies” word dus dikwels voorafgegaan deur die woord “kwaadwillig” of “skadelik”. Dit is omdat kletspraatjies so dikwels neerkom op skadelike praatjies of praatjies wat onmin saai. Dit kan selfs in openlike laster ontaard, wat al gedefinieer is as “die uiting van valse aantygings of wanvoorstellings wat iemand anders se reputasie skend en skade aandoen”. Dit is dus geen wonder nie dat ’n eertydse spreekwoord lui: “Skinderpraatjies bring woede net so gewis soos die noordewind reën bring.”—Spreuke 25:23, Today’s English Version.
Waarom vind ons dikwels dat skinderpraatjies so onweerstaanbaar, so aantreklik, is, aangesien skinderpraatjies mense skade kan berokken? En waar trek ’n mens die lyn tussen onskadelike en skadelike skinderpraatjies?
Skinderpraatjies—die uitruiling van informasie
Daar is ’n heel basiese rede vir skinderpraatjies: Mense stel in mense belang. Ons is dus uiteraard geneig om oor ander mense te praat. Max Gluckman, ’n antropoloog, het eenkeer gesê: “Elke dag, en die grootste gedeelte van elke dag, neem die meeste van ons deel aan skinderpraatjies. Ek dink as ons verslag moes hou van hoe ons ons tyd gebruik terwyl ons wakker is, sal skinderpraatjies—vir sommige van ons—naas ‘werk’ bo-aan die lys staan.”
Wanneer dit redelik en goedig is, kan gemoedelike praatjies ’n manier wees om nuttige informasie uit te ruil, ’n manier om met die nuutste verwikkelinge tred te hou. Dit kan onskuldige dinge insluit soos wie in die huwelik getree het, wie swanger is en wie gesterf het, of dit kan net humoristiese praatjies wees wat nie ’n kwaadwillige strekking het nie.
Alte dikwels oorskry kletspraatjies egter die grense van welvoeglikheid en goeie smaak. Feite word geborduur, oordryf of verdraai. Vernedering word die bron van humor. Privaatheid word geskend. Geheime word uitgelap. Reputasies word geskend of verwoes. Prysenswaardige dinge word vertroebel deur klagtes, murmurering en vittery. Die feit dat daar geen kwade bedoelings was nie, is ’n skrale troos vir die persoon waaroor daar gepraat is. Skadelike skinderpraatjies is dus al vergelyk met modder wat teen ’n skoon muur gegooi word. Dit sit dalk nie vas nie, maar dit laat altyd ’n vuil merk agter.
Begeerte om aanvaar te word
Nog ’n rede waarom ons maklik by skinderpraatjies betrokke kan raak, is ons natuurlike begeerte dat ander van ons moet hou en ons moet aanvaar. “Om die een of ander rede”, het sielkundiges John Sabini en Maury Silver geskryf, “is jy verplig om te praat; en skinderpraatjies is ’n aangename, maklike en algemeen aanvaarde manier om daardie verpligting na te kom” (Moralities of Everyday Life). In sekere mate is skinderpraatjies dus ’n nuttige manier om ’n gesprek aan die gang te hou, ’n manier om in te pas.
Die probleem is dat mense geneig is om baie meer opgewonde te raak oor negatiewe informasie as oor positiewe informasie. Sommige geniet dit blykbaar selfs om geskok te word deur sensasionele en skandelike dinge. Skinderpraatjies is dus iets wat werklik die aandag trek—hoe erger of skandaliger die sappige brokkie is hoe beter. Daar is selde enige poging om skokkende bewerings te staaf.
Media-skinderpraatjies
Hierdie soort skinderpraatjies vind ingang by nog ’n ander menslike swakheid—ongeneeslike nuuskierigheid. Ons hou baie van geheime. Ons hou daarvan om vertroulike informasie te weet. Reeds in 1730 toe Benjamin Franklin ’n skinderrubriek vir die Pennsylvania Gazette begin skryf het, is daar besef dat mense vir skinderpraatjies sal betaal.
Media-skinderpraatjies leef steeds voort—en dit floreer. In Europa is koerantstalletjies oorvol koerante met berigte oor koninklike families, renjaers en ander internasionale beroemde mense. Een koerantartikel het gesê dat daar groot geld uit skinderpraatjies gemaak kan word.
Maar is dit goed om uitermate nuuskierig te wees oor wat in die privaatheid van mense se huise, slaapkamers en gedagtes aangaan? Kan dit enigsins heilsaam wees as ons materiaal lees of na materiaal kyk wat geneig is om vleeslike begeertes op te wek? Dit is duidelik dat die media nuuskierigheid te ver voer.
Ongegronde gerugte
Ongegronde gerugte en valse berigte gee ook aanleiding tot skadelike skinderpraatjies. Gerugte was al die oorsaak van paniek, die dood en verwoesting. Die skade wat dit al aan sake-ondernemings berokken het, is onberekenbaar. Dit het meer as een jaar geduur voordat een kitskosrestaurantgroep ’n valse gerug dat daar wurms in sy hamburgers was die nek ingeslaan het. Dit het ’n maatskappy wat daarvoor bekend is dat hy seepprodukte vervaardig baie jare—en miljoene rande—gekos om ’n gerug te smoor dat sy handelsmerk die onderskeidingsteken van Satan is en dat die maatskappy self op die een of ander manier by demonaanbidding betrokke was.
Dit is egter individue wat die seerste kry en die grootste skade ly weens gerugte. Omdat fantastiese stories gewoonlik boeiend is, is mense geneig om dit oor te vertel ongeag wat die waarheid is of wat die gevolge daarvan kan wees.
Kwaadwillige skinderpraatjies—laster
Jaloesie en haat is dikwels die oorsaak van die afbrekendste vorm van skinderpraatjies—kwaadwillige skinderpraatjies, of laster. Die Griekse woord vir “lasteraar” is di·aʹbo·los, die woord wat in die Bybel as Duiwel vertaal word (Openbaring 12:9). Die titel is gepas, aangesien Satan die groot lasteraar van God is. Soos Satan praat sommige met kwaadwillige bedoelings van ander. Soms is die motief wraak as gevolg van seergemaakte gevoelens of jaloesie. In elk geval probeer hulle hulle eie belange bevorder deur ander se goeie naam te vernietig.
Hoewel kwaadwillige skinderpraatjies, of laster, ongetwyfeld die laakbaarste vorm van skinderpraatjies is, is dit immoreel en onverantwoordelik om betrokke te raak by enige vorm van skinderpraatjies wat kwets en onmin veroorsaak. Hoe kan ’n mens dus voorkom dat onskadelike praatjies in skadelike laster ontaard?
[Prent op bladsy 5]
Gemoedelike skinderpraatjies dien dikwels as ’n manier om nuttige informasie uit te ruil of gesprekke aan die gang te hou
[Prent op bladsy 6]
Skadelike skinderpraatjies is soos modder wat teen ’n skoon muur gegooi word. Dit sit dalk nie vas nie, maar dit laat altyd ’n vuil merk agter
[Prent op bladsy 7]
Sommige mense skinder sodat hulle die middelpunt van belangstelling kan wees