Hoofstuk 19
Moet ek skool verlaat?
Ná watter graad dink jy moet jy skool verlaat? ․․․․․
Ná watter graad wil jou ouers hê moet jy skool verlaat? ․․․․․
IS DIE twee antwoorde hierbo dieselfde? Selfs as dit is en jy nog op skool is, is daar dalk dae wanneer jy wens jy kan skool verlaat. Beskryf die volgende kommentare dalk hoe jy voel?
“Soms het ek so gespanne gevoel dat ek nie uit die bed wou klim nie. Dan het ek gedink: ‘Waarom moet ek skool toe gaan en dinge leer wat ek nooit gaan gebruik nie?’”—Rachel.
“Ek was dikwels so moeg vir skool dat ek dit net wou los en gaan werk. Ek het gevoel dat skool net ’n mors van tyd is en dat ek eerder vir my tyd betaal wou word.”—John.
“Ek het ’n hoërskool in die stad bygewoon en het dit moeilik gevind om in te pas. Ek het nie met die skoolwerk gesukkel nie, maar ek was ’n uitgeworpene en ek was meestal alleen. Nie eens die ander uitgeworpenes het met my gepraat nie! Die versoeking om skool te verlaat, was baie groot.”—Ryan.
“Ek het elke aand tot vier uur lank huiswerk gedoen! Ek het soveel take, projekte en toetse gehad—die een ná die ander—dat dit vir my net te veel geword het, en ek wou tou opgooi.”—Cindy.
“Ons het ’n bomdreigement, drie selfmoordpogings, een werklike selfmoord en bendegeweld gehad. Soms het dit net te veel geraak, en ek wou loop!”—Rose.
Het jy al voor soortgelyke uitdagings te staan gekom? Indien wel, watter situasie het gemaak dat jy skool wil verlaat?
․․․․․
Jy oorweeg dit dalk nou ernstig om skool te verlaat. Maar hoe kan jy vasstel of jy skool wil verlaat omdat dit die regte tyd daarvoor is of omdat jy net moeg is vir skool en wil loop?
Sal dit goed wees om skool te verlaat?
Het jy geweet dat dit in party lande normaal is vir ’n jongmens om ná vyf tot agt jaar klaar te maak met skool? In ander lande moet leerders ten minste tien jaar lank skoolgaan. Daar is dus geen vasgestelde ouderdom of graad wat op almal regoor die wêreld van toepassing is nie.
Daarbenewens laat sommige lande of state ’n leerder dalk toe om tuisonderrig in party of al sy vakke te ontvang, sonder om na ’n gewone skool toe te gaan. ’n Mens kan nie sê dat leerders wat tuisonderrig ontvang—natuurlik met hulle ouers se toestemming en samewerking—skool verlaat het nie.
As jy dit oorweeg om jou skoolopleiding nie te voltooi nie—hetsy jy skoolgaan of tuisonderrig ontvang—moet jy egter nadink oor die volgende vrae:
Wat vereis die wet? Soos genoem is, verskil die wette van verskillende lande oor hoeveel skoolopleiding ’n leerder moet ontvang. Wat is die minimum skoolopleiding wat die wet in jou land vereis? Het jy al daardie graad bereik? Dit sal nie goed wees om skool te verlaat voordat jy daardie graad voltooi het en sodoende die Bybel se raad te ignoreer om “onderdanig [te] wees aan die hoër owerhede” nie.—Romeine 13:1.
Het ek my opvoedkundige doelwitte bereik? Watter doelwitte wil jy met behulp van jou skoolopleiding bereik? Is jy nie seker nie? Jy moet weet! Anders is jy soos ’n passasier op ’n trein wat nie weet waarheen hy wil gaan nie. Gaan sit dus saam met jou ouers en voltooi die werkblad “My opvoedkundige doelwitte”, op bladsy 139. Dit sal jou help om doelgerig te bly en sal jou en jou ouers help om te beplan hoe lank jy moet skoolgaan.—Spreuke 21:5.
Jou onderwysers en ander sal jou ongetwyfeld raad gee oor hoeveel skoolopleiding jy nodig het. Maar op die ou end het jou ouers die gesag om die finale besluit te neem (Spreuke 1:8; Kolossense 3:20). Dit sal nie goed wees om skool te verlaat voordat jy die opvoedkundige doelwitte bereik waarop jy en jou ouers besluit het nie.
Waarom wil ek skool verlaat? Pasop dat jy jou nie om die bos lei nie (Jeremia 17:9). Dit is ’n menslike neiging om eerbare redes te verstrek vir selfsugtige dade.—Jakobus 1:22.
Skryf die eerbare redes neer waarom jy nie jou skoolopleiding wil voltooi nie.
․․․․․
Skryf ’n paar selfsugtige redes neer om skool te verlaat.
․․․․․
Watter eerbare redes het jy neergeskryf? Miskien wil jy jou gesin finansieel help of vrywillige werk doen. Selfsugtige redes kan wees om toetse of huiswerk te vermy. Die uitdaging is om te onderskei wat jou grootste beweegrede is—en of dit eerbaar of selfsugtig is.
Kyk weer na die punte wat jy neergeskryf het, en nommer die redes waarom jy skool wil verlaat, eerlik van 1 tot 5 (1 is die onbelangrikste, 5 is die belangrikste). As jy skool verlaat net om van probleme weg te kom, wag daar waarskynlik ’n skok op jou.
Wat is fout daarmee om skool te verlaat?
Om skool te verlaat, is soos om van ’n trein af te spring voordat jy jou bestemming bereik het. Die trein is miskien ongemaklik en die passasiers onvriendelik. Maar as jy van die trein afspring, sal jy nie jou bestemming bereik nie en sal jy jou waarskynlik ernstig beseer. Net so sal jy moontlik nie jou opvoedkundige doelwitte bereik as jy skool verlaat nie en sal jy onmiddellike sowel as langtermynprobleme ondervind, soos die volgende:
Onmiddellike probleme: Dit sal waarskynlik moeilik wees om werk te kry. En as jy wel werk kry, sal jy moontlik minder verdien as wat die geval sou gewees het as jy jou skoolopleiding voltooi het. Dan sal jy dalk langer ure moet werk om ’n basiese lewenstandaard te handhaaf, waarskynlik onder omstandighede wat selfs minder aangenaam is as jou huidige omstandighede by die skool.
Langtermynuitdagings: Volgens navorsing loop diegene wat skool verlaat, ’n groter gevaar om swak gesondheid te hê, in die tronk te beland en van welsynsprogramme afhanklik te wees.
Daar is natuurlik geen waarborg dat jy hierdie probleme sal vermy as jy jou skoolopleiding voltooi nie. Maar waarom jouself onnodig benadeel deur skool te verlaat?
Voordele daarvan om op skool te bly
As jy so pas ’n toets gedruip het of ’n moeilike dag op skool gehad het, wil jy dalk tou opgooi—enige toekomstige probleme lyk miskien klein in vergelyking met wat jy nou deurmaak. Maar voordat jy die “maklike” uitweg kies, kyk wat die jongmense wat aan die begin van hierdie hoofstuk aangehaal is, sê oor die voordele wat hulle geniet het omdat hulle op skool gebly het.
“Ek het volharding geleer, om verstandelik te kan uithou. Ek het ook geleer dat jy die regte gesindheid moet ontwikkel as jy iets wil geniet. Intussen het ek my kunsvaardighede verbeter, wat ek sal gebruik nadat ek my skoolopleiding voltooi het.”—Rachel.
“Ek weet nou dat ek my doelwitte kan bereik as ek hard werk. Ek loop ’n praktiese tegniese opleidingskursus op hoërskool sodat ek eendag ’n drukperswerktuigkundige kan word.”—John.
“Omdat ek volhard het, het ek redelik goed leer lees en skryf. Skool het my geleer hoe om by kritiek baat te vind en hoe om my duidelik en logies uit te spreek—vaardighede wat nuttig is in my Christelike bediening.”—Ryan.
“Skool het my gehelp om probleme, binne en buite die klaskamer, beter te kan oplos. Die feit dat ek maniere moes vind om akademiese, sosiale en fisiese uitdagings die hoof te bied, het my werklik gehelp om volwasse te word.”—Cindy.
“Skool het gehelp om my vir die uitdagings by die werk voor te berei. Ek het ook voor baie situasies te staan gekom wat my gedwing het om die redes vir my geloof te ondersoek. Om op skool te wees, het my dus gehelp om my godsdiensoortuigings te versterk.”—Rose.
Die wyse koning Salomo het geskryf: “Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin. Iemand wat geduldig is, is beter as iemand wat hoogmoedig van gees is” (Prediker 7:8). Pleks van skool te verlaat, moet jy dus eerder die probleme waarvoor jy op skool te staan kom, geduldig probeer oplos. As jy dit doen, sal jy vind dat die uiteinde van die saak vir jou baie beter sal wees.
Sê nou een rede waarom jy skool haat, is omdat jy nie met jou onderwyser oor die weg kan kom nie?
SLEUTELTEKSTE
“Elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af.”—Spreuke 21:5.
WENK
As omstandighede by die skool jou onderkry, kan jy dalk ’n kursus loop wat jou in staat sal stel om jou skoolloopbaan gouer te voltooi.
HET JY GEWEET . . . ?
Die moontlikheid is groter dat jongmense wat van klasse af wegbly, op die ou end skool sal verlaat.
AKSIEPLAN!
Pleks van skool te verlaat as ek met ’n vak sukkel, sal ek eerder ․․․․․
As moegheid my laat voel dat ek skool wil verlaat, sal dit my help as ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom is dit noodsaaklik dat jy goed leer lees en skryf en dat jy leer om wiskunde goed te gebruik?
● Hoe kan korttermyndoelwitte in verband met jou opvoeding jou help om ten volle by jou skoolopleiding baat te vind?
● Waarom is dit belangrik dat jy ’n idee het van watter soort werk jy wil doen nadat jy skool verlaat?
[Lokteks op bladsy 140]
Jy kan nie van jou probleme af weghardloop nie. Skool help jou om te leer hoe om jou standpunt in te neem—’n vaardigheid wat jou by die werk en elders sal help.’’—Ramona
[Venster op bladsy 139]
Werkblad
my opvoedkundige doelwitte
’n Vername oogmerk van opvoeding is om jou voor te berei om ’n werk te kry wat jou sal help om jou te onderhou en dalk eendag vir ’n gesin te sorg (2 Tessalonisense 3:10, 12). Het jy al besluit watter soort werk jy wil doen en hoe jou skooljare jou daarvoor kan voorberei? Hier is ’n paar vrae wat jou kan help om vas te stel of jou opvoeding jou in die regte rigting stuur:
Wat is my sterk punte? (Byvoorbeeld, kom jy goed oor die weg met mense? Geniet jy dit om met jou hande te werk, dinge te maak of te herstel? Is jy goed daarmee om probleme te ontleed en op te los?) ․․․․․
In watter soort werk sal ek my sterk punte kan gebruik? ․․․․․
Watter werksgeleenthede is beskikbaar waar ek woon? ․․․․․
Watter vakke neem ek op die oomblik wat my vir die arbeidsmark sal voorberei? ․․․․․
Watter opvoedkundige opsies het ek op die oomblik wat my sal help om my doelwitte makliker te bereik? ․․․․․
Onthou, jou doelwit is om ’n opvoeding te kry wat jy kan gebruik. Moet dus nie na die ander uiterste oorgaan en jaar in en jaar uit ’n student bly nie—iemand wat vir altyd “op die trein” bly net om die verantwoordelikhede van die grootmenswêreld vry te spring nie.a
[Voetnoot]
a Vir meer inligting, sien Deel 2, Hoofstuk 38.
[Prent op bladsye 138, 139]
Om skool te verlaat, is soos om van ’n trein af te spring voordat jy jou bestemming bereik het