Jongmense vra
Moet ek skool verlaat?
Ná watter graad dink jy moet jy skool verlaat?
․․․․․
Ná watter graad wil jou ouers hê moet jy skool verlaat?
․․․․․
IS DIE twee antwoorde hierbo dieselfde? Selfs as dit is en jy nog op skool is, is daar dalk dae wanneer jy wens jy kan skool verlaat. Beskryf die volgende kommentare dalk hoe jy voel?
● “Soms voel ek so gespanne dat ek nie uit die bed wil klim nie. Dan dink ek: ‘Waarom moet ek skool toe gaan en dinge leer wat ek nooit gaan gebruik nie?’”—Rachel.
● “Ek was dikwels so moeg vir skool dat ek dit net wou los en gaan werk. Ek het gevoel dat skool net ’n mors van tyd is en dat ek eerder vir my tyd betaal wou word.”—John.
● “Ek het elke aand tot vier uur lank huiswerk gedoen! Ek het soveel take, projekte en toetse gehad—wat kort op mekaar gevolg het—dat dit vir my net te veel geword het, en ek wou tou opgooi.”—Cindy.
● “Ons het ’n bomdreigement, drie selfmoordpogings, een werklike selfmoord en bendegeweld gehad. Soms het dit net te veel geraak, en ek wou loop!”—Rose.
Het jy al voor soortgelyke uitdagings te staan gekom? Indien wel, watter situasie het gemaak dat jy skool wou verlaat?
․․․․․
Jy oorweeg dit dalk ernstig om skool te verlaat. Maar hoe kan jy vasstel of jy skool verlaat omdat dit die regte tyd is om dit te doen of omdat jy net moeg is vir skool en wil loop?
Sal dit goed wees om skool te verlaat?
Het jy geweet dat dit in party lande normaal is vir ’n jongmens om ná vyf tot agt jaar klaar te maak met skool? In ander lande moet leerders tien tot twaalf jaar lank skoolgaan. Daar is dus geen vasgestelde ouderdom of graad wat op almal regoor die wêreld van toepassing is nie.
Daarbenewens laat sommige lande of state ’n leerder dalk toe om tuisonderrig in party of al sy vakke te ontvang, sonder om na ’n gewone skool toe te gaan. ’n Mens kan nie sê dat leerders wat tuisonderrig ontvang—natuurlik met hulle ouers se toestemming en samewerking—skool verlaat het nie.
Maar as jy dit oorweeg om jou skoolopleiding nie te voltooi nie—hetsy jy skoolgaan of tuisonderrig ontvang—moet jy nadink oor die volgende vrae:
Wat vereis die wet? Soos genoem is, verskil die wette van verskillende lande oor hoeveel skoolopleiding ’n leerder moet ontvang. Wat is die minimum skoolopleiding wat die wet in jou land vereis? Het jy dit al voltooi? Dit sal nie goed wees om skool te verlaat voordat jy daardie graad voltooi het en om sodoende die Bybel se raad te ignoreer om “onderdanig [te] wees aan die hoër owerhede” nie.—Romeine 13:1.
Het ek my opvoedkundige doelwitte bereik? Watter doelwitte wil jy met behulp van jou skoolopleiding bereik? Is jy nie seker nie? Jy moet weet! Anders is jy soos ’n passasier op ’n trein wat nie weet waarheen hy wil gaan nie. Gaan sit dus saam met jou ouers en voltooi die werkblad “My opvoedkundige doelwitte” op bladsy 28. Dit sal jou help om doelgerig te bly en sal jou en jou ouers help om te beplan hoe lank jy moet skoolgaan.—Spreuke 21:5.
Jou onderwysers en ander sal jou ongetwyfeld raad gee oor hoeveel skoolopleiding jy nodig het. Maar op die ou end het jou ouers die gesag om die finale besluit te neem (Spreuke 1:8; Kolossense 3:20). Dit sal nie goed wees om skool te verlaat voordat jy die opvoedkundige doelwitte bereik waarop jy en jou ouers besluit het nie.
Waarom wil ek skool verlaat? Moenie jouself om die bos lei nie (Jeremia 17:9). Mense het die neiging om eerbare redes te verstrek vir selfsugtige dade.—Jakobus 1:22.
Skryf die eerbare redes neer wat jy het om jou skoolopleiding nie te voltooi nie.
․․․․․
Skryf van die selfsugtige redes neer om skool te verlaat.
․․․․․
Watter eerbare redes het jy neergeskryf? Miskien wil jy jou gesin finansieel help of vrywillige werk doen. Selfsugtige redes kan wees om toetse te vermy of om huiswerk vry te spring. Die uitdaging is om te onderskei wat jou grootste beweegrede is—is dit eerbaar of selfsugtig?
Kyk weer na die punte wat jy neergeskryf het, en nommer die redes waarom jy skool wil verlaat, eerlik van 1 tot 5 (1 is die onbelangrikste, 5 is die belangrikste). As jy skool verlaat net om van probleme weg te kom, wag daar waarskynlik ’n skok op jou.
Wat is fout daarmee om skool te verlaat?
Om skool te verlaat, is soos om van ’n trein af te spring voordat jy jou bestemming bereik. Die trein is miskien ongemaklik en die passasiers onvriendelik. Maar as jy van die trein afspring, sal jy jou bestemming nie bereik nie en jou waarskynlik ernstig beseer. Net so sal jy, as jy skool verlaat, dalk nie jou opvoedkundige doelwitte bereik nie en heel moontlik vir jou onmiddellike en langtermynprobleme skep, soos die volgende:
Onmiddellike probleme Dit sal waarskynlik moeilik wees om werk te kry, en as jy wel werk kry, sal jy moontlik minder verdien as wat die geval sou wees as jy jou skoolopleiding voltooi het. En om ’n basiese lewenstandaard te handhaaf, sal jy dalk langer ure moet werk onder omstandighede wat waarskynlik selfs minder aangenaam sal wees as jou huidige omstandighede by die skool.
Langtermynuitdagings Navorsing toon dat dit waarskynliker is dat diegene wat skool verlaat, swak gesondheid sal hê, op ’n jong ouderdom kinders sal kry, in die tronk sal beland en van welsynsprogramme afhanklik sal wees.
Daar is natuurlik geen waarborg dat jy hierdie probleme sal vermy deur met skool klaar te maak nie. Maar waarom jouself onnodig benadeel?
Voordele daarvan om op skool te bly
Toegegee, as jy so pas ’n toets gedruip het of ’n moeilike dag op skool gehad het, wil jy dalk tou opgooi—enige toekomstige probleme lyk miskien klein in vergelyking met wat jy nou deurmaak. Maar voordat jy die “maklike” uitweg kies, kyk wat die jongmense wat vroeër aangehaal is, sê oor die voordele wat hulle geniet het omdat hulle op skool gebly het.
● “Ek het volharding geleer, om verstandelik te kan uithou. Ek het ook geleer dat jy die regte gesindheid moet ontwikkel as jy iets wil geniet. Intussen het ek my kunsvaardighede verbeter, wat ek sal gebruik nadat ek my skoolopleiding voltooi het.”—Rachel.
● “Ek weet nou dat ek my doelwitte kan bereik as ek hard werk. Ek loop ’n baie praktiese tegniese opleidingskursus op hoërskool sodat ek eendag ’n drukperswerktuigkundige kan word.”—John.
● “Skool het my gehelp om probleme, binne en buite die klaskamer, beter te kan oplos. Die feit dat ek maniere moes vind om akademiese, sosiale en fisiese uitdagings die hoof te bied, het my werklik gehelp om volwasse te word.”—Cindy.
● “Skool het gehelp om my voor te berei op die uitdagings van sekulêre werk. Ek het ook voor baie situasies te staan gekom wat my gedwing het om die redes vir my geloof te ondersoek. Om op skool te wees, het my dus gehelp om my godsdiensoortuigings te versterk.”—Rose.
Die wyse koning Salomo het geskryf: “Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin. Iemand wat geduldig is, is beter as iemand wat hoogmoedig van gees is” (Prediker 7:8). Moet dus nie skool verlaat nie, maar maak eerder geduldig werk van die probleme waarvoor jy op skool te staan kom. As jy dit doen, sal jy vind dat die uiteinde die saak vir jou baie beter sal wees.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
IETS OM OOR TE DINK
● Hoe kan korttermyndoelwitte in verband met jou opvoeding jou help om jou tyd op skool die beste te benut?
● Waarom is dit belangrik dat jy ’n idee het van watter soort werk jy wil doen nadat jy skool verlaat?
[Venster/Prente op bladsy 27]
WAT JOU PORTUURS SÊ
“Ek het op skool ’n liefde vir boeke ontwikkel. Dis wonderlik hoe lees ’n mens insig gee in iemand se gedagtes en gevoelens.”
“Ek sukkel gewoonlik om prioriteite te stel. Maar sonder skool sou ek nog meer gesukkel het! Skool help my om in ’n roetine te bly, ’n rooster te volg en die belangrike dinge gedoen te kry.”
[Prente]
Esme
Christopher
[Venster op bladsy 28]
MY OPVOEDKUNDIGE DOELWITTE
’n Vername oogmerk van opvoeding is om jou voor te berei om ’n werk te kry wat jou sal help om jou te onderhou en dalk eendag vir ’n gesin te sorg (2 Tessalonisense 3:10, 12). Het jy al besluit watter soort werk jy wil doen en hoe jou skooljare jou kan help om daarvoor voor te berei? Hier is ’n paar vrae wat jou kan help om vas te stel of jou opvoeding jou in die regte rigting stuur:
Wat is my sterk punte? (Byvoorbeeld, kom jy goed oor die weg met mense? Geniet jy dit om met jou hande te werk, dinge te maak of te herstel? Is jy goed daarmee om probleme te ontleed en op te los?)
․․․․․
In watter soorte werk sal ek my sterk punte kan gebruik?
․․․․․
Watter werksgeleenthede is beskikbaar waar ek woon?
․․․․․
Watter vakke neem ek op die oomblik wat my vir die arbeidsmark sal voorberei?
․․․․․
Watter opvoedkundige opsies het ek op die oomblik wat my sal help om my doelwitte makliker te bereik?
․․․․․
Onthou, jou doelwit is om ’n opvoeding te kry wat jy kan gebruik. Moet dus nie na die ander uiterste oorgaan en jaar in en jaar uit ’n student bly nie—iemand wat vir altyd “op die trein” bly net om die verantwoordelikhede van die grootmenswêreld vry te spring.
[Venster op bladsy 29]
’N WOORDJIE AAN OUERS
“My onderwysers is vervelig!” “Ek kry te veel huiswerk!” “Dis ’n stryd net om deur te kom—waarom probeer ek nog?” Sulke frustrasies stel party jongmense in die versoeking om skool te verlaat voordat hulle die nodige vaardighede ontwikkel het om ’n bestaan te maak. Wat kan jy doen as jou seun of dogter skool wil verlaat?
Ondersoek jou gesindheid teenoor opvoeding. Het jy skoolgaan as ’n mors van tyd beskou—’n ‘tronkstraf’ wat jy moes uitdien tot die dag dat jy interessanter doelwitte kon nastreef? Indien wel, kan jou gesindheid teenoor leerwerk jou kinders beïnvloed. Die feit is dat ’n afgeronde opvoeding hulle sal help om “praktiese wysheid en denkvermoë” te ontwikkel—eienskappe wat hulle nodig sal hê om suksesvolle volwassenes te wees.—Spreuke 3:21.
Voorsien die hulpmiddele. Party wat beter punte kan kry, weet eenvoudig nie hoe om te studeer nie—of hulle het nie die regte omgewing daarvoor nie. ’n Netjiese lessenaar met genoeg lig en navorsingshulpe is van die dinge wat moontlik nodig is vir ’n goeie studieomgewing. Jy kan jou kind help om vooruitgang te maak—hetsy sekulêr of geestelik—deur opleiding en die regte omgewing te voorsien waarin hy oor nuwe gedagtes en idees kan nadink.—1 Timoteus 4:15.
Raak betrokke. Beskou onderwysers en voorligters as jou bondgenote, nie jou vyande nie. Ontmoet hulle. Leer hulle name ken. Praat met hulle oor jou kind se doelwitte en die uitdagings waarvoor hy te staan kom. As jou kind sukkel om goeie punte te behaal, probeer vasstel wat die oorsaak is. Byvoorbeeld, voel jou kind dat ander hom sal afknou as hy goed vaar op skool? Is daar ’n probleem met ’n onderwyser? Wat van sy vakke? Die leerplan moet vir jou kind ’n uitdaging wees, maar dit moet hom nie oorweldig nie. ’n Ander moontlikheid: Is daar miskien ’n onderliggende fisiese probleem, soos swak sig of ’n leergestremdheid?
Hoe meer jy by jou kind se opleiding betrokke is, sekulêr sowel as geestelik, hoe groter is die kans dat jou kind suksesvol sal wees.—Spreuke 22:6.
[Prent op bladsy 29]
Om skool te verlaat, is soos om van ’n trein af te spring voordat jy jou bestemming bereik