Hoofstuk 38
Hoe kan ek my aanbidding van God genotvol maak?
Riaan, 16, lê uitgestrek op sy bed. Sy ma staan in die deur. “Riaan, staan op!” sê sy streng. “Jy weet dis ’n vergaderingaand!” Riaan word as een van Jehovah se Getuies grootgemaak, en die bywoning van Christelike vergaderinge is deel van die gesin se roetine. Maar deesdae voel Riaan nie juis lus om te gaan nie.
“Ag, Ma”, kla hy, “moet ek regtig gaan?”
“Hou op kerm en trek aan”, antwoord sy. “Ek wil nie weer laat wees nie!” Sy draai om en begin wegstap.
Terwyl sy nog binne hoorafstand is, sê Riaan voor hy hom kom kry: “Dis dalk Ma se godsdiens, maar dit beteken nie dis myne nie.” Hy weet dat sy ma dit gehoor het, want haar voetstappe het skielik opgehou. Dan, sonder om iets te sê, loop sy verder.
Riaan voel effens skuldig. Dit is nie dat hy sy ma wil seermaak nie. Maar hy wil ook nie om verskoning vra nie. Al wat hy kan doen, is . . .
Met ’n sug begin Riaan aantrek. Dan sê hy, meer vir homself as vir sy ma: “Een of ander tyd sal ek self moet besluit. Ek is nie soos die ander by die Koninkryksaal nie. Ek is nou maar net nie uitgeknip om ’n Christen te wees nie!”
HET jy al ooit soos Riaan in die voorgenoemde scenario gevoel? Voel dit soms vir jou asof jy aan Christelike bedrywighede deelneem net omdat jy moet, terwyl ander dit geniet? Byvoorbeeld:
● Voel Bybelstudie vir jou soos net nog huiswerk?
● Is jy teësinnig om aan die deur-tot-deur-bediening deel te neem?
● Is jy dikwels verveeld by Christelike vergaderinge?
As jy op enige van hierdie vrae ja geantwoord het, moet jy nie mismoedig voel nie. Jy kan leer om dit te geniet om God te dien. Kom ons kyk hoe.
UITDAGING 1 Bybelstudie
Waarom dit nie maklik is nie. Dalk voel jy dat studie eenvoudig nie vir jou is nie. Jy meen dalk dat jy nie lank kan konsentreer nie—dat dit moeilik is om stil te sit en te studeer! Het jy dan nie al genoeg leerwerk vir die skool nie?
Waarom jy dit moet doen. Die Bybel is nie net deur God geïnspireer nie, maar is ook “nuttig om mense te leer en te help en hulle tereg te wys en hulle te wys hoe om te lewe” (2 Timoteus 3:16, Contemporary English Version). As jy die Bybel bestudeer en peins oor wat jy lees, kan dit vir jou ’n hele nuwe wêreld oopstel. Kom ons wees nou maar eerlik: Niks wat die moeite werd is, word sonder harde werk bereik nie. As jy ’n sekere sportsoort goed wil speel, moet jy die reëls leer ken en die spel gereeld speel. As jy fiks wil word, moet jy oefen. En as jy oor jou Skepper wil leer, moet jy God se Woord bestudeer.
Wat jou portuurs sê. “Ek het by ’n kruispad in my lewe gekom toe ek hoërskool toe is. Die kinders het allerhande verkeerde dinge gedoen, en ek moes ’n paar besluite neem: ‘Is dit wat ek wil doen? Leer my ouers my werklik die waarheid?’ Ek moes self uitvind.”—Tshedza.
“Ek het altyd geglo dat wat ek geleer het, die waarheid is, maar ek moes dit aan myself bewys. Ek moes dit my eie godsdiens maak—dit moes meer as net ons gesin se godsdiens wees.”—Nelisa.
Wat jy kan doen. Stel jou eie program op vir persoonlike studie volgens jou belangstellings en behoeftes. Dan kan jy kies oor watter onderwerpe jy meer wil leer. Waar kan jy begin? Dalk kan jy so ’n bietjie dieper in jou Bybel delf en die leerstellings waaraan jy glo, noukeuriger ondersoek, moontlik met behulp van ’n boek soos Wat leer die Bybel werklik?a
Begin! Maak ’n ✔ langs twee of drie van die Bybelonderwerpe hieronder waaroor jy meer wil leer—of, as jy wil, skryf ’n paar van jou eie neer.
□ Is daar ’n God?
□ Hoe kan ek seker wees dat die Bybelskrywers deur God geïnspireer is?
□ Waarom moet ek eerder in die skepping as in evolusie glo?
□ Wat is God se Koninkryk, en hoe kan ek bewys dat dit bestaan?
□ Hoe kan ek my oortuiging oor wat by die dood gebeur, verduidelik?
□ Waarom moet ek oortuig wees dat daar ’n opstanding sal wees?
□ Hoe kan ek seker wees watter godsdiens die ware godsdiens is?
․․․․․
UITDAGING 2 Die bediening
Waarom dit nie maklik is nie. Om met ander oor die Bybel te praat—of ’n skoolmaat teë te kom terwyl jy dit doen—kan intimiderend wees.
Waarom jy dit moet doen. Jesus het sy volgelinge beveel: “Maak dissipels . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Maar daar is nog ander redes waarom jy dit moet doen. Studies toon dat die oorgrote meerderheid tieners in sommige lande in God en die Bybel glo. Tog het hierdie selfde jongmense geen ware hoop vir die toekoms nie. Weens jou studie van die Bybel het jy juis die inligting waarna jou portuurs soek en wat hulle nodig het! As jy ander van jou oortuigings vertel, sal jy beter oor jouself voel, en nog belangriker, jy sal Jehovah se hart bly maak.—Spreuke 27:11.
Wat jou portuurs sê. “Ek en my vriend het doeltreffende inleidings voorberei, en ons het geleer hoe om besware te oorkom en herbesoeke te doen. Toe ek my meer op my bediening toegelê het, het ek dit meer begin geniet.”—Nelisa.
“Een Christensuster het my regtig baie gehelp! Sy is ses jaar ouer as ek en sy neem my in die bediening uit, en soms gaan eet ons saam ontbyt. Sy het vir my bemoedigende tekste gewys wat my gehelp het om my denke reg te stel. Danksy haar wonderlike voorbeeld toon ek nou groter belangstelling in ander mense. Ek sal haar nooit genoeg kan bedank nie!”—Shontay.
Wat jy kan doen. Met jou ouers se toestemming kan jy iemand in jou gemeente wat ouer is as jy, vra of julle saam aan die bediening kan deelneem (Handelinge 16:1-3). Die Bybel sê: “Deur yster word yster geslyp. So slyp een man die aangesig van ’n ander” (Spreuke 27:17). Dit hou baie voordele in om te assosieer met ouer persone wat baie ervaring het. “Dis eintlik soveel makliker om in ouer mense se geselskap te wees”, sê die 19-jarige Alexis.
Begin! Skryf hieronder die naam neer van iemand in jou gemeente, buiten jou ouers, wat jou in die bediening kan help.
․․․․․
UITDAGING 3 Bywoning van Christelike vergaderinge
Waarom dit nie maklik is nie. Nadat jy die hele dag in ’n klaskamer gesit het, voel dit dalk soos ’n ewigheid wanneer jy ’n uur of wat na Bybeltoesprake moet sit en luister.
Waarom jy dit moet doen. Die Bybel maan Christene: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Hebreërs 10:24, 25.
Wat jou portuurs sê. “Dit is absoluut noodsaaklik om vir gemeentelike vergaderinge voor te berei. Soms moet jy jouself net motiveer. Wanneer jy wel voorberei, geniet jy die vergaderinge omdat jy weet waaroor dit handel, en jy kan selfs daaraan deelneem.”—Elda.
“Ek het op ’n stadium begin besef dat die vergaderinge vir my baie interessanter was wanneer ek daaraan deelgeneem het.”—Jessica.
Wat jy kan doen. Neem die tyd om vooraf voor te berei, en gee ’n antwoord as jy kan. Dit sal jou help om deel te voel van wat aangaan.
Ter toeligting: Wat geniet jy die meeste—om na sport op televisie te kyk of om dit op die veld te speel? Dit is natuurlik baie lekkerder om ’n deelnemer te wees as ’n toeskouer. Kan jy Christelike vergaderinge dalk ook so benader?
Begin! Skryf hieronder neer wanneer jy elke week net ’n halfuur daaraan kan bestee om vir ’n gemeentelike vergadering voor te berei.
․․․․․
Talle jongmense ondervind hoe waar die woorde van Psalm 34:8 is, wat sê: “Smaak en sien dat Jehovah goed is.” Geniet jy dit om net te hoor van ’n lekker gereg? Is dit nie beter om self te proe hoe die kos smaak nie? Dit is dieselfde wanneer dit kom by die aanbidding van God. Smaak en sien self hoe bevredigend dit is om aan geestelike bedrywighede deel te neem. Die Bybel sê dat die een wat nie net ’n hoorder nie, maar ’n dader van die werk is, “gelukkig [sal] wees deurdat hy dit doen”.—Jakobus 1:25.
Leer hoe om doelwitte te stel—en te bereik.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
SLEUTELTEKSTE
“Word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”—Romeine 12:2.
WENK
Kry ’n aantekeningboek, en begin hoofpunte by Christelike vergaderinge neerskryf. Die tyd sal vinniger verbygaan, en dit sal makliker wees om te leer!
HET JY GEWEET . . . ?
Dit is nie verkeerd om jou godsdiensoortuigings te ondersoek nie. Om vrae te vra en dan navorsing te doen, is eintlik ’n goeie manier om uit te vind of wat jy oor God glo, werklik die waarheid is.—Handelinge 17:11.
AKSIEPLAN!
Ek sal elke dag ․․․․․ minute opsysit vir Bybellees en ek sal elke week ․․․․․ opsysit om vir Christelike vergaderinge voor te berei.
Om beter by Christelike vergaderinge te konsentreer, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom lyk geestelike bedrywighede dalk vir ’n tiener vervelig?
● Aan watter een van die drie aspekte van aanbidding wat in hierdie hoofstuk bespreek word, wil jy werk?
[Lokteks op bladsy 278]
Die godsdiens waaraan ek behoort, is nie meer net my ouers se godsdiens nie, maar my godsdiens. Jehovah is my God, en ek wil niks doen wat my verhouding met hom sal benadeel nie.’’—Samantha
[Venster/Prente op bladsye 280, 281]
hulle het doelwitte gestel
Die Bybel sê: “Julle . . . weet [nie] wat julle lewe môre sal wees nie” (Jakobus 4:14). Soms kom die dood onverwags en op ’n jong ouderdom. Terwyl jy die ondervindinge van Catrina en Kyle lees, kan jy let op hoe hulle tydens hulle kort lewe ’n goeie naam by Jehovah God gemaak het deur geestelike doelwitte te stel en te bereik.—Prediker 7:1.
Catrina het gesterf toe sy 18 was, maar toe sy 13 was, het sy reeds ’n “lewensplan” neergeskryf—’n lys doelwitte wat sy wou bereik. Haar doelwitte het ingesluit om aan die voltydse bediening deel te neem, in ’n land te dien waar meer Bybelonderrigters nodig is en saam met haar pa op Koninkryksaalbouprojekte te werk. Sy het geskryf: “Ek het my lewe aan Jehovah God toegewy!” Catrina se doelwit was om “volgens sy standaarde te lewe, op ’n manier wat hom gelukkig maak”. Catrina is by haar begrafnis beskryf as ’n “pragtige jong vrou wat beplan het om haar hele lewe om Jehovah te laat draai”.
Kyle is van kleins af geleer om doelwitte te hê. Nadat hy op 20 in ’n tragiese motorongeluk gesterf het, het sy familielede ’n “doelwitboek” gevind wat sy ma hom help maak het toe hy net vier jaar oud was. Sy doelwitte het ingesluit om hom te laat doop, toesprake by die Koninkryksaal te hou en by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies te dien, waar hy kon help om lektuur te druk wat mense sou help om van God te leer. Nadat Kyle se ma deur sy doelwitboek geblaai het, wat soveel jare tevore gemaak is, het sy gesê: “Hy het elkeen van hierdie doelwitte bereik.”
Watter doelwitte het jy gestel? Jy weet nie wat môre in jou lewe sal gebeur nie. Daarom moet jy elke dag ten volle gebruik. Soos Catrina en Kyle moet jy jou tyd op die beste manier moontlik gebruik. Volg die voorbeeld van die apostel Paulus, wat na aan die einde van sy lewe kon sê: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar” (2 Timoteus 4:7). Die volgende hoofstuk sal jou help om dit te doen!
[Prent op bladsye 274, 275]
As jy fisies fiks wil word, moet jy oefen. As jy geestelik fiks wil word, moet jy God se Woord bestudeer