HOOFSTUK 37
Jesus wek ’n weduwee se seun op
’N OPSTANDING IN NAIN
Kort nadat Jesus die militêre offisier se kneg genees het, verlaat hy Kapernaum en gaan hy na Nain, ’n stad meer as 30 kilometer na die suidweste. Hy is nie alleen nie. Sy dissipels en ’n groot skare reis saam met hom. Dit is heel moontlik amper aand wanneer hulle Nain bereik. Net buitekant die stad sien hulle ’n groot groep Jode wat die liggaam van ’n jong man dra. Die groep is op pad uit die stad om die lyk te gaan begrawe.
Die jong man se ma is die hartseerste van hulle almal. Sy is ’n weduwee, en nou het haar enigste kind gesterf. Toe haar man oorlede is, het sy ten minste nog haar geliefde seun by haar gehad. Dink net hoe geheg sy aan hom moes gewees het, want hy was die een wat in die toekoms vir haar sou sorg. Nou het hy ook gesterf. Wie sou haar nou geselskap hou en ondersteun?
Wanneer Jesus hierdie vrou sien, word sy hart geraak deur haar intense droefheid en hartseer situasie. Op ’n liefdevolle maar oortuigende manier sê hy vir haar: “Hou op huil.” Maar dit is nie al nie. Hy kom nader en raak aan die draagbaar waarop die lyk is (Lukas 7:13, 14). Wat hy doen en die manier waarop hy dit doen, laat die treurende dorpsmense stilstaan. Baie wonder seker: ‘Wat bedoel hy, en wat gaan hy doen?’
En wat van dié wat saam met Jesus reis en wat al gesien het hoe hy wonderwerke doen, insluitende om baie siektes te genees? Hulle het blykbaar nog nooit gesien hoe Jesus iemand uit die dood opwek nie. Opstandings het wel in die verre verlede plaasgevind, maar kan Jesus so iets doen? (1 Konings 17:17-23; 2 Konings 4:32-37). Jesus gee die bevel: “Jong man, ek sê vir jou: Staan op!” (Lukas 7:14). En dit is wat gebeur! Die man sit regop en begin praat. Jesus gee hom terug aan sy ma, wat geskok is en tog oorloop van vreugde. Sy is nie meer alleen nie.
Wanneer die mense sien dat die jong man regtig lewe, loof hulle die Lewegewer, Jehovah, deur te sê: “’n Groot profeet het onder ons verskyn.” Ander begryp wat Jesus se wonderwerk beteken en sê: “God het aandag aan sy volk geskenk” (Lukas 7:16). Die nuus van hierdie wonderlike gebeurtenis versprei vinnig na die omliggende gebied en waarskynlik na Jesus se tuisdorp, Nasaret, sowat tien kilometer daarvandaan. Die berig versprei selfs suid na Judea.
Johannes die Doper is nog steeds in die tronk, en hy stel baie belang in die wonderwerke wat Jesus doen. Hoe reageer Johannes wanneer sy dissipels hom hiervan vertel?