Jesus se lewe en bediening
Jesus verdryf ’n weduwee se verdriet
KORT nadat hy die leëroffisier se dienskneg genees het, vertrek Jesus na Nain, ’n stad meer as 32 kilometer suidwes van Kapernaüm. Hy word deur sy dissipels en ’n groot menigte vergesel. Dit is waarskynlik teen die aand se kant dat hulle die buitewyke van Nain bereik, waar hulle ’n lykstoet teëkom. Die lyk van ’n jongman word uit die stad gedra om begrawe te word.
Die moeder se situasie is veral tragies, aangesien sy ’n weduwee is en dit haar enigste kind is. Toe haar man oorlede is, kon sy troos put uit die wete dat sy haar seun gehad het. Sy het haar verwagtinge, begeertes en ambisies op sy toekoms gevestig. Maar nou is daar niemand wat vir haar ’n troos kan wees nie. Groot is haar verdriet terwyl die dorpsmense haar na die begraafplek vergesel.
Toe Jesus die vrou sien, word sy hart geroer deur haar geweldige droefheid. Teer, maar met fermheid wat vertroue inboesem, sê hy vir haar: “Moenie ween nie!” Sy handelwyse trek die menigte se aandag. Toe hy die lykbaar nader en aanraak, gaan staan die draers. Almal wonder seker wat hy gaan doen.
Dit is waar dat diegene wat Jesus vergesel al gesien het hoe hy baie persone se kwale wonderdadig genees. Maar hulle het skynbaar nog nooit gesien dat hy iemand uit die dood opwek nie. Kan hy so iets doen? Jesus rig hom tot die lyk en beveel: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” En die man sit regop! Hy begin praat, en Jesus gee hom aan sy moeder terug.
Wanneer die mense sien dat die jongman werklik lewend is, begin hulle sê: “’n Groot profeet het onder ons opgestaan.” Ander sê: “God het sy volk besoek.” Die nuus oor hierdie verbasende daad versprei gou deur die hele Judea en deur die hele omtrek.
Johannes die Doper is nog steeds in die tronk. Maar sy dissipels vertel vir hom van al hierdie dinge wat hulle Jesus sien doen. Wat is Johannes se reaksie? En wat is die reaksie van soveel ander in die gebiede waar Jesus sy wonderwerke verrig? Ons volgende nommer sal die antwoord verstrek. Lukas 7:11-18.
♦ Wat gebeur wanneer Jesus Nain nader?
♦ Hoe word Jesus geraak deur wat hy sien, en wat doen hy?
♦ Hoe reageer die mense op Jesus se wonderwerk?