HOOFSTUK SES
Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
1-3. Watter vrae vra mense oor die dood, en hoe beantwoord party godsdienste dit?
DIE Bybel belowe dat daar ’n tyd sal kom wanneer ‘die dood nie meer daar sal wees nie’ (Openbaring 21:4). In Hoofstuk 5 het ons geleer dat die losprys dit vir ons moontlik maak om die ewige lewe te hê. Maar mense sterf nog steeds (Prediker 9:5). Daarom wil ons weet: Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
2 Ons stel veral belang in die antwoord op hierdie vraag wanneer iemand sterf vir wie ons lief is. Ons wonder dalk: ‘Waar is hy nou? Hou hy ons dop? Kan hy ons help? Sal ons hom ooit weer sien?’
3 Godsdienste gee verskillende antwoorde op hierdie vrae. Party leer dat jy hemel toe sal gaan as jy ’n goeie persoon is en dat jy in die hel sal brand as jy ’n slegte persoon is. Sommige sê dat jy ’n gees word wanneer jy sterf en dat jy saam met jou familielede wat alreeds gesterf het, gaan woon. En ander sê dat jy, nadat jy gesterf het en geoordeel is, weer gebore sal word in ’n ander liggaam, miskien as ’n ander persoon of selfs as ’n dier.
4. Wat leer die meeste godsdienste oor die dood?
4 Dit lyk asof godsdienste verskillende dinge oor die dood leer. Maar amper almal van hulle het een ding in gemeen. Hulle leer dat ’n deel van die mens aanhou lewe wanneer hy sterf. Is dit waar?
WAT GEBEUR MET ONS WANNEER ONS STERF?
5, 6. Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
5 Jehovah weet wat met ons gebeur wanneer ons sterf, en hy sê vir ons dat ’n persoon se lewe eindig wanneer hy sterf. Dood is die teenoorgestelde van lewe. Wanneer iemand sterf, lewe sy gevoelens en herinneringe dus nie iewers anders voort nie.a Wanneer ons sterf, kan ons nie meer sien, hoor of dink nie.
6 Die Bybel sê dat ‘die dooies absoluut niks weet nie’. Die dooies kan nie liefhê of haat nie, en “daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in die Graf” nie. (Lees Prediker 9:5, 6, 10.) En in Psalm 146:4 sê die Bybel vir ons dat ’n mens se “gedagtes” tot ’n einde kom wanneer hy sterf.
WAT JESUS OOR DIE DOOD GESÊ HET
Jehovah het mense geskep om vir ewig op die aarde te lewe
7. Wat het Jesus oor die dood gesê?
7 Toe sy goeie vriend Lasarus gesterf het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan slaap.” Maar Jesus het nie bedoel dat Lasarus rus nie. Jesus het verder gesê: “Lasarus het gesterf” (Johannes 11:11-14). Jesus het dus die dood met slaap vergelyk. Hy het nie gesê dat Lasarus in die hemel was nie. Hy het ook nie gesê dat Lasarus by sy familielede was wat gesterf het nie. En hy het nie gesê dat Lasarus in die hel ly of weer gebore is as ’n ander mens of ’n dier nie. Nee, dit was asof Lasarus in ’n diep slaap was. Dit was nie die enigste keer dat Jesus die dood met slaap vergelyk het nie. Toe die dogter van ’n man met die naam Jaïrus gesterf het, het Jesus gesê: “Sy het nie gesterf nie. Sy slaap.” – Lukas 8:52, 53.
8. Hoe weet ons dat God mense nie geskep het om te sterf nie?
8 Het God Adam en Eva geskep om uiteindelik te sterf? Nee! Jehovah het hulle geskep om vir ewig te lewe en volmaakte gesondheid te geniet. Toe Jehovah mense geskep het, het hy hulle die begeerte gegee om vir ewig te lewe (Prediker 3:11). Ouers wil nie hê hulle kinders moet oud word en sterf nie, en Jehovah voel ook so oor ons. Maar as God ons geskep het om vir ewig te lewe, hoekom sterf ons dan?
HOEKOM STERF ONS?
9. Hoekom kan ons sê dat Jehovah se bevel aan Adam en Eva redelik was?
9 Jehovah het in die tuin van Eden vir Adam gesê: “Jy mag van al die bome van die tuin eet totdat jy versadig is. Maar jy mag nie eet van die boom van die kennis van wat goed en wat sleg is nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy beslis sterf” (Genesis 2:9, 16, 17). Daardie duidelike bevel was nie moeilik om te gehoorsaam nie, en Jehovah het die reg gehad om vir Adam en Eva te sê wat goed en wat sleg is. As hulle gehoorsaam was aan Jehovah, sou hulle vir hom wys dat hulle sy gesag respekteer. Hulle sou ook vir hom wys hoe dankbaar hulle is vir alles wat hy vir hulle gegee het.
10, 11. (a) Hoe is Adam en Eva deur Satan mislei? (b) Hoekom is daar geen verskoning vir wat Adam en Eva gedoen het nie?
10 Ongelukkig het Adam en Eva gekies om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Satan het vir Eva gesê: “Het God werklik gesê dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” Eva het geantwoord: “Ons mag van die vrugte van die bome van die tuin eet. Maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: ‘Julle mag nie daarvan eet nie, nee, julle mag nie daaraan raak nie, anders sal julle sterf.’” – Genesis 3:1-3.
11 Toe het Satan gesê: “Julle sal beslis nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë geopen sal word en julle soos God sal wees omdat julle kennis sal hê van wat goed en wat sleg is” (Genesis 3:4-6). Satan wou hê dat Eva moes dink dat sy self kon besluit wat goed en wat sleg is. Hy het ook gelieg oor wat met haar sou gebeur as sy ongehoorsaam sou wees. Satan het gesê dat Eva nie sou sterf nie, en daarom het Eva van die vrugte geëet en toe vir haar man daarvan gegee. Adam en Eva het geweet dat Jehovah vir hulle gesê het om nie van die vrugte te eet nie. Toe hulle daarvan geëet het, het hulle gekies om ongehoorsaam te wees aan ’n duidelike en redelike bevel. Deur daarvan te eet, het hulle gewys dat hulle nie hulle liefdevolle hemelse Vader respekteer nie. Daar is geen verskoning vir wat hulle gedoen het nie!
12. Hoekom het dit Jehovah baie hartseer gemaak toe Adam en Eva ongehoorsaam was?
12 Dit het Jehovah baie hartseer gemaak toe ons eerste ouers ongehoorsaam was. Hoe kon hulle so min respek vir hulle Skepper gehad het? Hoe sou jy gevoel het as jy hard gewerk het om ’n seun en ’n dogter groot te maak en hulle dan teen jou in opstand kom en die teenoorgestelde doen van wat jy hulle gevra het om te doen? Sou dit nie jou hart gebreek het nie?
Adam was van stof gemaak en hy het tot stof teruggekeer
13. Wat het Jehovah bedoel toe hy gesê het “tot stof sal jy terugkeer”?
13 Toe Adam en Eva ongehoorsaam was, het hulle die geleentheid verloor om vir ewig te lewe. Jehovah het vir Adam gesê: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” (Lees Genesis 3:19.) Dit het beteken dat Adam weer stof sou word, asof hy nooit geskep is nie (Genesis 2:7). Nadat Adam gesondig het, het hy gesterf en nie meer bestaan nie.
14. Hoekom sterf ons?
14 As Adam en Eva gehoorsaam was aan God, sou hulle vandag nog gelewe het. Maar toe hulle ongehoorsaam was aan hom, het hulle gesondig en uiteindelik gesterf. Sonde is soos ’n verskriklike siekte wat ons van ons eerste ouers geërf het. Ons word almal as sondaars gebore, en dit is waarom ons sterf (Romeine 5:12). Maar dit is nie wat God vir die mens in gedagte gehad het nie. God wou nooit hê dat mense moes sterf nie, en die Bybel noem die dood ’n “vyand”. – 1 Korintiërs 15:26.
DIE WAARHEID MAAK ONS VRY
15. Hoe maak die waarheid oor die dood ons vry?
15 Die waarheid oor die dood maak ons vry van baie verkeerde idees. Die Bybel leer dat die dooies nie pyn kan voel of hartseer kan wees nie. Ons kan nie met hulle praat nie, en hulle kan nie met ons praat nie. Ons kan nie die dooies help nie, en die dooies kan ons nie help nie. Hulle kan ons nie seermaak nie, en daarom hoef ons nie vir hulle bang te wees nie. Maar baie godsdienste sê vir ons dat die dooies iewers lewe en dat ons hulle kan help as ons geld betaal aan priesters of ander godsdiensleiers. Maar wanneer ons weet wat die waarheid oor die dood is, word ons nie deur sulke leuens mislei nie.
16. Watter leuen leer baie godsdienste oor die dood?
16 Satan gebruik valse godsdiens om vir ons te lieg en om ons te laat dink dat die dooies nog lewe. Party godsdienste leer byvoorbeeld dat ’n deel van ons iewers voortleef wanneer ons sterf. Is dit wat jou godsdiens jou leer, of leer dit jou wat die Bybel oor die dood sê? Satan gebruik leuens om mense van Jehovah af weg te keer.
17. Hoekom is die lering dat mense in die hel brand ’n belediging vir Jehovah?
17 Baie godsdienste leer skokkende dinge. Party leer byvoorbeeld dat slegte mense vir ewig in die hel sal brand. Hierdie leuen is ’n belediging vir Jehovah. Hy sal nooit toelaat dat mense só ly nie! (Lees 1 Johannes 4:8.) Hoe sou jy oor iemand voel wat ’n kind straf deur die kind se hande in ’n vuur te brand? Jy sou dink dat hy baie wreed is. Jy sou hom nie wou leer ken nie. En dit is presies hoe Satan wil hê ons oor Jehovah moet voel!
18. Hoekom moet ons nie bang wees vir die dooies nie?
18 Party godsdienste sê vir ons dat mense geeste word wanneer hulle sterf. Sulke godsdienste leer dat ons respek moet hê vir daardie geeste en selfs vir hulle bang moet wees omdat hulle magtige vriende of verskriklike vyande kan word. Baie mense glo hierdie leuen. Hulle is bang vir die dooies, en daarom aanbid hulle eerder die dooies as om Jehovah te aanbid. Onthou dat die dooies niks kan voel en niks weet nie, en daarom hoef ons nie vir hulle bang te wees nie. Jehovah is ons Skepper. Hy is die ware God en ons moet hom alleen aanbid. – Openbaring 4:11.
19. Hoe help dit ons as ons weet wat die waarheid oor die dood is?
19 As ons weet wat die waarheid oor die dood is, sal ons die leuens wat godsdienste vertel, nie meer glo nie. En dit sal ons ook help om die wonderlike beloftes te verstaan wat Jehovah oor die toekoms gemaak het.
20. Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?
20 Lank gelede het ’n kneg van God met die naam Job gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” (Job 14:14). Is dit werklik moontlik vir iemand wat gesterf het om weer te lewe? Die antwoord wat God ons in die Bybel gee, is baie interessant. Ons sal dit in die volgende hoofstuk bespreek.
a Sommige mense glo dat ’n siel of gees aanhou lewe nadat iemand gesterf het. Vir meer inligting, sien Eindnota 17 en 18.