Wanneer die ergste gebeur
Die verhaal van ’n jong meisie se roerende geloof
Ons dogter Elise is in 1962 in Helsinki, Finland, gebore. Haar koms het vir ons en haar ouer broer, Esa, groot vreugde verskaf. Elise was leergierig en ek en my man het haar leer lees voordat sy skool toe gegaan het. Sy was ook musikaal, net soos die res van die gesin.
Toe sy drie jaar oud was, het ons Elise by ’n musiekkleuterskool ingeskryf. Toe sy agt was, kon sy die viool goed genoeg bespeel om Vivaldi se Konsert in A-mineur by troues te speel. Ons het ’n gesinsorkes gevorm. My man het die altviool bespeel, Esa die tjello en Elise die viool. Dit het gelyk of Elise ’n besonder begaafde musikant sou word.
Alhoewel ons baie in musiek belanggestel het, het ons selfs groter klem op ons dogter se geestelike ontwikkeling geplaas en die Bybel van kleins af saam met haar bestudeer. Toe sy vyf jaar oud was, het sy dus op haar eie van huis tot huis gegaan en Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied. Een van ons bure was ’n bietjie ontstem, want sy het nie gemeen dat dit reg is vir so ’n jong persoon om hierdie werk te doen nie.
Die vrou het vir Elise gesê: “Om te dink dat ’n dogtertjie soos jy met my oor die Bybel kom praat! Jy kan dan self nie eens daardie tydskrifte lees nie!”
“O, ja, ek kan”, het Elise geantwoord, en ’n paragraaf uit die tydskrif wat sy aangebied het, gelees en verduidelik. Ons was verheug toe ons dit gehoor het. Ons was ook bly oor haar reaksie toe die gemeente beplan het om ’n nuwe Koninkryksaal te bou. Sy het al haar spaargeld ten bedrae van 15 mark (R3,25) uit die bank getrek en dit vir hierdie doel bygedra.
’N SKRIKWEKKENDE ONTDEKKING
Eendag in die noordelike somer van 1972, toe Elise 10 jaar oud was, was ons op pad huis toe na ’n uitstappie. Ek het ’n vreemde knop op haar neus gewaar. Dit was taamlik klein, maar dit het begin groei. Ek het haar dus na die Mediese Sentrum in Puotinharju geneem. ’n Spesialis het vir my gesê dat hy nog nooit tevore so ’n knop op ’n neus gesien het nie en ons aangeraai om na die Universiteit se Oorkliniek te gaan. ’n Paar dae later was ons verlig om die uitslag te hoor: Nie kwaadaardig nie.
Medisyne is voorgeskryf en ons is verseker dat die gewas gou sou verdwyn. Maar dit het nie. Na twee weke waartydens daar geen verbetering was nie, het ons Elise weer na die dokter geneem. Hierdie keer is sy in die hospitaal opgeneem en op 24 September is daar op haar geopereer. Dit was toe dat ons die pynlike nuus meegedeel is: “Julle dogtertjie het kanker.”
MOEDIGE STRYD OM TE LEWE
Daar is vermoed dat die kanker na Elise se mangels versprei het. Hulle is dus uitgehaal. Gedurende die daaropvolgende maande het die kanker steeds verder versprei en verdere operasies is uitgevoer om dit te probeer stuit. Elise het ’n dagboek gehou en ons het dit nog steeds. In die noordelike herfs van 1973 het sy geskryf:
“Na drie operasies het ek gewag vir ’n opening in die plastiesechirurgie-afdeling. Nie lank daarna nie is ek opgeneem en dit was ellendig om weer in die hospitaal te wees. Maar daar was een goeie maat, Ritva, wat ’n oogoperasie ondergaan het. Ons het dikwels wegkruipertjie saam met Pekka en Tiina gespeel. Ek het vir Ritva drie boeke gegee, Luister na die Groot Onderwyser, Is die Bybel werklik die Woord van God? en Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Ritva het hulle almal gelees. Hierdie herfs was die ongelukkigste herfs van my lewe.”
Jy kan jou voorstel hoe ongelukkig hierdie herhaalde verminkende operasies ons almal gemaak het. Elise se dagboek getuig van haar lyding en pyn. Maar ’n mens kan terselfdertyd haar sterk geloof en onverskrokkenheid waarneem. Haar dagboek lui voorts:
“In Januarie [1974] het ek my vierde operasie gehad en ’n groot sny is op my wang gemaak. ’n Paar dae lank was my hele kop, my ore inkluis, toegebind. Daar was minder verbande om my linkeroor, en dus moes ek die telefoon se gehoorbuis teen daardie oor hou. Toe die verbande afgehaal is, het ek aaklig gelyk, en toe hulle die steke naby my oog uithaal, was ek bang dat my oog uitgesteek sou word. Ek is op 19 Januarie uit die hospitaal ontslaan. Dit was ’n blye dag.”
Gedurende hierdie hele tyd het ons Christenbroers en -susters, asook haar medemusikante in die byeenkomsorkes, met ons in aanraking gebly en ons bemoedig. Haar skoolmaats en onderwysers was ook baie vriendelik en behulpsaam. Hulle het baie geskenke aan haar gestuur en hulle bes gedoen om haar te laat voel dat hulle haar aanvaar en nodig het. Maar Elise het dikwels meer gedoen om haar vriende te vertroos as wat hulle gedoen het om haar te vertroos.
Sy het vir hulle vertel dat al sou sy sterf, sy net ’n oomblik lank sou “slaap” en dan in die paradys sou wakker word. “Die nuwe wêreld sal begin sodra ek sterf, want niemand weet dat tyd verstryk terwyl hulle slaap nie”, het sy gesê. Dit was vir haar vriende moeilik om hulle gevoelens te beheer wanneer hulle ons dogter se lyding gesien het en haar nogtans so kalm en met soveel vertroue oor God se belofte van die opstanding hoor praat het.
Ons het nooit hoop laat vaar dat die kanker dalk op die een of ander wyse gestuit sou word nie. In Maart in 1974 het sy behandeling met kobaltstrale begin ontvang, en daarna behandeling met drogerye. Elise het ook hieroor in haar dagboek geskryf:
“Weens die straalterapie het ek baie swak geword. Dit het drie weke geduur. Maar die ergste het nog voorgelê. Die dag voor die skole in Mei gesluit het, is ek drogerye gegee wat my so swak gemaak het dat dit gedurende die hele Junie gelyk het of daar nie ’n enkele ligstraaltjie is nie. Ek het drie weke lank amper niks geëet nie en skaars die krag gehad om uit die bed te klim. Ek het vyf kilogram verloor en al my hare het uitgeval. Maar daar was die speelhuis; dit was werklik wonderlik toe Pappie dit gebou het.
“Gelukkig was ek in Julie ietwat beter en kon ek die streekbyeenkoms bywoon. Ek het gedurende die byeenkoms goed gevoel en sedertdien was ek taamlik opgeruimd. In Augustus het ek weer ’n week lank medisyne gekry, maar hierdie keer het ek nie so siek geword nie. My mediese behandeling sal glo twee jaar duur.”
Maar al hierdie pogings was slegs gedeeltelik geslaagd, en Elise se toestand het vererger. Toe sy besef het dat sy gaan sterf, het sy haar speelgoed onder haar vriende uitgedeel. Sy het hulle daaraan herinner dat sy hulle weer sou sien nadat sy opgewek is. Sy het egter haar viool gehou, want sy het gehoop dat sy weer in die nuwe stelsel in ons gesinsorkes sou kon speel.
Gedurende hierdie hele tydperk het Elise ook baie vir haar onderwysers, skoolmaats, dokters en verpleegsters getuig. Sy het vir ons 12 eksemplare van die boek Is hierdie lewe al wat daar is?, met haar handtekening daarin gegee. Sy wou hê dat hulle na haar dood aan die mediese personeel gegee moes word wat haar behandel het. Elise se geval het alombekend geraak in Helsinki. Maar eindelik het sy op 4 Januarie 1976 gesterf, toe sy nog nie eens 14 jaar oud was nie.
’N VERRASSENDE ONTMOETING
’n Jaar en ’n half later het ek en my man die streekbyeenkoms in die Ysstadion in Helsinki bygewoon toe ’n persoon ons genader en gevra het: “Onthou julle my?” Ons was aanvanklik dronkgeslaan, maar het die man toe herken as ’n dokter wat Elise op een stadium behandel het. Hy het anders gelyk sonder sy wit oorjas, en hy het sy baard afgeskeer. Wat het gebeur?
Elise het met hom gepraat, net soos sy met al die dokters gepraat het, en hy was baie vriendelik en het oënskynlik in die Bybel belanggestel. Ons het dus ook vir hom getuig. Ons het Elise geleer om vir haar vriende en diegene van wie sy gehou het, te bid, en in ons aandgebede het sy dikwels hierdie dokter gemeld en gebid dat hy die waarheid oor God se voornemens mag leer. Wel, nou het hierdie dokter vir ons vertel hoe die geloof van ons dogter gedurende haar dodelike siekte ’n groot indruk op hom gemaak het.
“Sy het die boek Ware vrede en veiligheid vir my gegee”, het hy verduidelik, “maar ek was besig en het dit op die boekrak gesit. Op daardie stadium het dit nie te goed met my huwelik gegaan nie, en om sake te verbeter, het ek besluit om weg te kom van my groot verantwoordelikhede by die X-straalkliniek in Helsinki. Ons het dus na Aland verhuis waar ek ’n algemene praktisyn by die Gesondheidsentrum geword het.
“Die verhuising het nie op sigself ons gesinsverhoudinge verbeter nie, maar eerlank het ’n plaaslike Getuie my vrou besoek, en sy het lektuur aanvaar. Toe het sy die boek onthou wat Elise vir ons gegee het, en sy het dit van die boekrak afgehaal en dit deurgelees. Sy was dadelik daarvan oortuig dat dit die waarheid is, en die plaaslike Getuie het die Bybel saam met haar begin bestudeer. Aanvanklik was sy effens bang om vir my daarvan te vertel omdat sy gemeen het dat ek sou weier dat sy studeer. Maar ek het gesê: ‘Enigiets wat ons gesinsverhoudinge sal verbeter, is goed.’ Ek wou die Getuie ontmoet, en dit is gou gereël. Die gevolg was dat ek mettertyd ook die studie bygewoon het. Bybelbeginsels het ons gesinslewe verbeter en het ons ’n nuwe beskouing van die lewe se waardes gegee. In 1976 is ons gedoop en my vrou is nou ’n gewone pionier. Drie van ons vier kinders is verkondigers van die ‘goeie nuus’, en die jongste, wat sewe jaar oud is, gaan gereeld saam met ons in die velddiens uit.”
Jy kan jou net indink hoe bemoedigend dit was om dit te hoor! Ons dogter se gebed is dus klaarblyklik op die beste wyse moontlik verhoor. As Elise maar net daarvan kon weet! Wanneer die opstanding plaasvind, sal ons talle aangename dinge hê om haar te vertel.
Hoewel dit die droewigste dag van my lewe was toe die dokter gesê het: “Julle dogtertjie het kanker”, was Elise se stryd om te lewe nietemin bemoedigend. Dit was hartverblydend om te sien hoe vaste geloof in Jehovah God en sy Bybelbeloftes so ’n sterk invloed op selfs ’n jong kind se lewe kan hê. Ek sal nooit Elise se woorde vergeet nie: “Dit sal wees asof ek net een nag slaap, en dan sal ek in die nuwe wêreld wakker word.”—Bygedra.
[Prent van Elise op bladsy 24]
[Prent op bladsy 24]
Dit het gelyk of die son verduister toe ’n dokter sê: “Julle dogtertjie het kanker.”