Ons het nie die stryd gewonne gegee nie!
Soos vertel deur Ilse Unterdörfer
Meer as 100 jaar in God se diens ondanks groot beproewinge van geloof
IN September 1939 het ek en my vriendin Elfriede Löhr ons in die Ravensbrück-konsentrasiekamp in Duitsland bevind. Die Tweede Wêreldoorlog het pas tevore uitgebreek.
Heinrich Himmler, die hoof van die Nazi-SS (Schutz-Staffel, of keurkorps), het ons by die konsentrasiekamp in Lichtenburg besoek kort voordat ons na die pasopgerigte Ravensbrück-kamp geneem is. Sy doel was om Jehovah se Getuies te oorreed om aan hulle God ontrou te word en die Nazi’s se oorlogspoging te steun. Die laaste een van ons het geweier. Hierop het Himmler woedend geword en uitgeroep: “As julle dit verkies, kan julle Jehovah in die hemel regeer, maar hier op aarde is dit ons wat regeer! Ons sal vir julle wys wie die langste volhard, julle of ons!”
Amper ses jaar lank het ek en Elfriede, saam met talle van ons Christensusters, van die verskriklikste toestande denkbaar verduur. Maar ons, die Getuies, het dit oorleef, terwyl Himmler, Hitler en hulle span nie meer bestaan nie!
Jare tevore, toe ons nog tienderjariges was, het ek en Elfriede albei besluit om ons lewens aan God se diens te wy en dat niks ons ooit sal laat ophou nie! Voordat ons na die konsentrasiekamp gestuur is, het ons God se vertroostende sorg ervaar terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk ondanks toenemende Nazi-vervolging verkondig het. En ons doen dit vandag nog, nadat ons so pas saam 100 jaar van toegewyde diens voltooi het. Maar laat ek vir julle ver tel hoe ons in Ravensbrück beland het.
ONS VROEË JARE IN GOD SE DIENS
In 1926, toe sy slegs 16 was, het Elfriede haar toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Haar hartewens is vervul toe sy in die winter van 1930 die voltydse predikingswerk begin doen het. Hoewel ’n ernstige siekte haar ’n ruk lank verhoed het om veel te doen, was Elfriede druk besig met ondergrondse werk toe ek haar in Maart 1937 ontmoet het. Jy sien, die bedrywighede van Jehovah se Getuies is tydens die Nazi-bewind in Duitsland in die ban gedoen, en dit was met die gevaar dat ons ons vryheid en selfs ons lewens kon verloor dat talle van ons geestelike voedsel dwarsoor die land versprei het.
My doel as ’n jong meisie was om my medemens te help; ek wou ’n hoërskoolonderwyseres word. Maar in 1931 het ek my moeder na ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Parys, Frankryk, vergesel. Wat ek daar geleer en ervaar het, het my lewe verander. Die volgende jaar is ek op die ouderdom van 19 gedoop.
Hitler en sy Nazi-party het in 1933 aan bewind gekom en amper dadelik begin om Jehovah se Getuies te vervolg. Dit het my groot vreugde verskaf toe ek die voorreg gegee is om as ’n koerier in ons ondergrondse bedrywigheid in Sakse te dien. In Augustus 1936 het die Duitse Gestapo (geheime polisie) met ’n gesamentlike veldtog teen ons ondergrondse organisasie begin. Fritz Winkler, wat toesig oor ons werk gehou het, en die meeste streekleiers is in hegtenis geneem en opgesluit.
In September 1936 het ek daarin geslaag om saam met ongeveer 300 ander uit Duitsland na Luzern, Switserland, te gaan vir ’n byeenkoms. Daar het J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, Erich Frost toevertrou met die verantwoordelikheid om ons ondergrondse bedrywigheid, wat kwaai ontwrig was, te herorganiseer, en ’n paar dae later is ek aangestel om saam met hom te werk.
Dit was ’n opdrag van Broer Frost wat my na München gebring het om Elfriede Löhr te vind. Al wat ek van haar af geweet het, was dat haar vader ’n tandarts was. Ek het haar adres in die telefoonboek gevind en, as ’n voorsorgmaatreël, eers gebel. Nadat ons ontmoet het, het ek vir Elfriede gesê dat sy genooi is om voltyds saam met ons te werk. Aldus het daar ’n hegte vriendskap van amper 43 jaar ontstaan. Ons was metgeselle in konsentrasiekampe en maats in die voltydse predikingswerk vir meer as 40 van daardie jare.
ONDERGRONDSE WERK
Die Gestapo het oral na ons gesoek. Ons het dus gewoonlik snags per trein gereis en soveel moontlik probeer slaap. Bedags het ons die broers en susters by verskeie bepaalde plekke ontmoet om afgerolde eksemplare van Die Wagtoring en ander lewensbelangrike inligting aan hulle te gee. Nou en dan het ons by belangstellende persone of in die somerhuisies van broers wat nog nie so goed aan die Gestapo bekend was nie, oornag.
Ons het nooit geskrewe adresse of enige ander aantekeninge gedra nie. Ons het alles uit die hoof geleer. Indien ons in hegtenis geneem is, sou die polisie dus geen getuienis kry wat enigiemand inkrimineer nie. Ons was dikwels van Jehovah se beskerming bewus. Dit was veral waar toe ons reëlings getref het vir die verspreiding van die resolusie wat by die byeenkoms in Luzern aangeneem is. Hierdie resolusie het skerp beswaar aangeteken teen die wrede behandeling van Jehovah se Getuies deur die Rooms-Katolieke hiërargie en hulle bondgenote in Duitsland. Tussen 5 en 7 vm. op 12 Desember 1936 het sowat 3 459 broers en susters dwarsoor Duitsland deelgeneem aan die verspreiding van honderdduisende eksemplare van hierdie kragtige boodskap.
Toe, op 21 Maart 1937, minder as twee weke nadat ek Elfriede ontmoet het, is ek en Broer Frost in hegtenis geneem. Ongeveer dieselfde tyd het sekere streekdiensleiers in die hande van die Gestapo beland. Broer Heinrich Dietschi, ’n streekdiensleier wat nog op vrye voet verkeer het, het in Broer Frost se afwesigheid oor die werk begin toesig hou.
Toe nòg ek nòg Broer Frost teen die einde van Maart by ’n voorafgereëlde vergaderplek opdaag, het Elfriede geweet dat daar iets skort. Sy kon nie teruggaan huis toe nie, want die Gestapo het na haar gesoek. Sy het gewonder: “Wie is Broer Frost se opvolger, en hoe kan ek met hom in aanraking kom?” Nadat sy tot Jehovah gebid het, het die gedagte by haar opgekom om kontak te probeer maak in die dorp Leutkirch, ongeveer 150 kilometer vanaf München. Daardie einste dag het sy die broer wat Broer Dietschi gestuur het om haar te vind, in Leutkirch ontmoet. Dit was beslis onder leiding van die engele!
Aangesien die Nazi’s beweer het dat die inhoud van die resolusie wat ons op 12 Desember versprei het, onwaar was, is reëlings getref om ’n “Ope brief” met spesifieke bewyse van die vervolging van Jehovah se Getuies dwarsdeur Duitsland te versprei. Broer Frost en ek is in hegtenis geneem tydens ons voorbereiding vir hierdie groot kampanje. Van toe af het Elfriede nou met Broer Dietschi saamgewerk om die voorbereidings af te rond, en die kampanje is met welslae op 20 Junie 1937 gevoer. Elfriede se verslag in die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses verduidelik:
“Broer Dietschi het die kampanje georganiseer. Ons was almal moedig, alles was wonderlik gereël en elke streek het genoeg briewe gehad. Ek het ’n groot koffer vol op die stasie ontvang vir die gebied rondom Breslau en het hulle na die broers in Liegnitz geneem. Ek het ook my eie gehad, wat ek op die vasgestelde tyd soos al die ander broers versprei het.”
Maande lank voor hierdie kampanje het die Gestapo gespog dat hulle ons organisasie vernietig het. Wat ’n vernederende skok was dit dus vir hulle toe honderdduisende eksemplare van die brief op so ’n georganiseerde wyse dwarsdeur Duitsland versprei is! Dit het hulle waarlik baie geskok.
ONS ONTMOET MEKAAR WEER
Terwyl Elfriede vry was, het ek myself dus in die greep van die Gestapo bevind. Ek is aanvanklik slegs ’n vonnis van een jaar en nege maande opgelê. Maar onmiddellik nadat ek die vonnis uitgedien het, is ek weer in hegtenis geneem en vroeg in 1939 na die Lichtenburg-konsentrasiekamp geneem. Tot my groot verbasing was Elfriede daar toe ek daar aanland.
In die somer van 1939 is al ons Christensusters in Lichtenburg na die nuwe Ravensbrück-kamp geneem. Ons is herhaaldelik gedreig: “Wag net tot julle by Ravensbrück kom. Daar sal ons julle breek.” Die omgewing van die nuwe kamp het soos ’n sandwoestyn gelyk. Die hoë mure, met doringdraad bolangs, asook die barakke vir die gevangenes en die huise vir die SS, was voltooi. Maar die res was woes en het gelê en wag vir werkers, naamlik, vir gevangenes.
’N TOETS VAN ONS GELOOF
In die herfs van 1939 was daar ongeveer 500 van ons vroue, Jehovah se Getuies, in Ravensbrück. Dit was op 19 Desember dat etlike susters geweier het om ammunisiesakke aan soldate se uniforms vas te werk. Hulle gewetens het hulle nie toegelaat om die oorlogspoging op hierdie wyse te ondersteun nie. Daarop is ons almal na die kampplein ontbied en gevra of ons die werk sal doen. Ons het almal geweier. Gevolglik is ’n veldtog van stapel gestuur om ons te dwing om ons posisie van Christelike neutraliteit prys te gee en die oorlogspoging te ondersteun.—Jes. 2:4.
Eerstens, hulle het ons van soggens tot saans met slegs dun somersklere aan buite in die koue laat staan. En dit was een van die koudste winters in Duitsland, met temperature wat dikwels 15 tot 20 grade Celsius benede vriespunt gedaal het! Snags is ons in die selafdeling toegesluit waar ons sonder komberse op die kaal vloer moes slaap, en met die vensters oop om ’n ysige trek te veroorsaak. Daarbenewens is ons die eerste dag niks gegee om te eet nie. Gedurende die volgende vier dae van hierdie behandeling het ons slegs ’n halwe rantsoen voedsel gekry. Toe is ons nog drie weke lank in ’n donker sel toegesluit en slegs elke vier dae iets warms gegee om te eet. Op die ander dae het ons ’n sny brood en ’n koppie swart koffie in die oggend gekry. Gedurende die Kersfeesviering (25 tot 27 Desember) het ons niks gekry nie.
Daarna is ons na ons barakke teruggeneem, en hulle is drie maande lank strafbarakke gemaak. Dit het minder en slegter kos beteken, asook harde arbeid met pik en graaf van soggens tot saans, sewe dae per week. En ons is mediese hulp ontsê. Die SS-bevelvoerders het herhaalde kere gesê: ‘Indien julle nie instem om die oorlogspoging te steun nie, sal julle slegs deur die skoorsteen hier uitkom!’
Teen die lente van 1940 was ons net geraamtes. Na regte moes ons soos vlieë doodgegaan het. Maar Jehovah God, wat regstreeks deur Himmler uitgedaag is, het getoon dat Hy Sy volk tydens die ergste omstandighede kan onderskraag. Nie een van ons 500 susters het ernstig siek geword of gesterf nie. Selfs ’n paar SS-mense het gesê: “Dit is omdat julle Jehovah julle gehelp het.” En, nog belangriker, nie een suster het die stryd gewonne gegee nie; almal het getrou gebly. Dit was ’n ware triomf vir onkreukbaarheid aan Jehovah!
Ek kan net byvoeg dat ek en Elfriede ons daarin berus het dat ons gaan sterf. Ons het besluit om aan Jehovah getrou te bly ongeag wat gebeur. Ons kon saam met die apostel Paulus sê: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”—Rom. 14:8.
DIE DAAGLIKSE LEWE IN RAVENSBRÜCK
Maar toestande het eerlank vir ons verbeter. Talle plaasarbeiders is opgeroep vir die leër, en dit het ’n tekort aan plaasarbeiders geskep. Gevangenes is dus gestuur om op die plase in die omgewing van Ravensbrück te gaan werk. Aangesien die risiko dat sulke werkers sal ontsnap groter was, en aangesien dit bekend was dat Jehovah se Getuies nie sal probeer wegkom nie, is talle van ons gestuur om op die plase te werk. Ons het daar kos gekry, benewens die bietjie kos wat ons in die konsentrasiekamp gekry het.
Maar geestelike voedsel was vir ons van die grootste belang. Ons het mekaar geestelik opgebou deur die Bybelkennis wat ons verkry het voordat ons gevange geneem is met mekaar te deel. Nuwelinge in die kamp het ook vir ons vertel wat hulle kort tevore tydens hulle Bybelstudies geleer het. Hoe bly was ons toe etlike Bybels in die kamp ingesmokkel is! Wanneer dit moontlik was, het ons vir ander gevangenes asook vir ons opsieners getuig. Niks kon keer dat ons ons getrouheid aan Jehovah toon nie. Ons besluit was: “Ons sal liewer sterf as om die stryd gewonne te gee!”
Elfriede het die opdrag ontvang om tuinwerk vir SS-offisiere te doen, en ek is saam met ander susters gestuur om op ’n SS-plaas te werk. Teen die einde van 1942 het ons begin om snags op die plaas te slaap eerder as om na die kamp terug te keer; ons het dus aansienlike vryheid geniet. In die lente van 1943 het ek daarin geslaag om per brief met Broer Franz Fritsche in aanraking te kom. Hy was ’n moedige broer wat dikwels geestelike voedsel in die konsentrasiekampe ingesmokkel het. Ek het hom eenkeer in ’n woud langs die plaas ontmoet. Daar is reëlings getref dat ons gereeld Die Wagtoring en ander publikasies ontvang. Ons het lektuur op verskeie maniere in die kamp ingekry.
Maar toe het toestande weer verander. Broer Fritsche is in hegtenis geneem. Die Gestapo het eindelik ontdek dat Bybellektuur gereeld op georganiseerde wyse reg tot in die konsentrasiekampe ingesmokkel is. Wat ’n skok was hierdie ontdekking tog vir hulle! En wat ’n kragtige bewys dat die gees van God se volk na 10 jaar van wrede vervolging nie gebreek was nie, nie binne die kampe of daarbuite nie! Himmler het dadelik beveel dat alle verdagte kampe deursoek moes word vir Bybellektuur.
HOE ONS DIE ERGSTE JAAR OORLEWE HET
Die Gestapo het onverwags op 4 Mei 1944 in Ravensbrück verskyn. Hulle het ’n skielike, deeglike soektog na Bybels en Bybellektuur, veral Die Wagtoring, uitgevoer. Hulle het ook gegaan na waar Elfriede tuinwerk vir die SS gedoen het en na die SS-plaas waar ek gewerk het. Eindelik is daar besluit dat 15 susters, wat as die voorbokke beskou is, vir almal sou ly. Ek en Elfriede was onder hierdie groepie.
Ons is eers in die berugte selafdeling toegesluit. Daar is ons in klein donker selletjies ingeprop, en ons is sewe weke lank nie toegelaat om in die vars lug te kom nie. Toe is ons na die “strafgebou” geneem waar ek en Elfriede weer in aanraking met mekaar gekom het. Die dinge wat ons gedurende ons laaste jaar in Ravensbrück deurgemaak het, kan skaars met woorde beskryf word. Maar ons was altyd bewus van Jehovah se beskerming en liefdevolle besorgdheid. Hy het aan ons die krag gegee om te volhard. Die geestelike voedsel wat die susters wat op die plaas oorgebly het na ons ingesmokkel het, was ’n groot hulp. Die Gestapo het nie die lektuur wat daar was, gevind nie aangesien ons goeie wegsteekplekke gehad het.
Gedurende die laaste maande het toestande in die kamp geleidelik vererger, veral waar ons was—in die strafgebou. Die barakke was propvol. Hulle was oorspronklik gebou vir 100 gevangenes, maar eindelik moes die strafgebou 1 200 tot 1 500 persone huisves. Ses of sewe het in twee beddens geslaap, en gevolglik kon niemand goed slaap nie. Omdat die voedsel van swak gehalte was en dikwels nie goed gewas is nie, was maagkwale aan die orde van die dag. Honderde gevangenes het ’n ellendige dood gesterf.
Elfriede het ook ernstig siek geword. Sy het inflammasie in die longe gekry en ’n hoë koors gehad. Voordat ek kon keer, is sy na een van die barakke vir siekes geneem wat propvol sterwendes was. Niemand is toegelaat om die strafafdeling alleen te verlaat nie. Maar met die hulp van die kamerleier het ek nou en dan uitgeglip om vir Elfriede iets te drinke te neem.
Dit was duidelik dat Elfriede nie veel langer sou lewe waar sy was nie. Vragmotors het gereeld voor die barakke vir die siekes stilgehou en dan is die dooies en die sterwendes daarop gelaai en na die krematorium geneem. Met die hulp van die kamerleier het twee van ons dus na Elfriede gegaan. Haar bed was naby ’n venster. Ons moes al ons krag inspan om haar deur die venster te tel. Ons het haar toe teruggedra na die strafgebou. Daar het ’n gevangene, ’n Russiese vrou wat ’n dokter was, ’n eenvoudige maar pynlike metode gebruik sodat die ontsteking in Elfriede se longe afgeneem het. Haar lewe is gered.
Teen die vroeë lente van 1945 het die Tweede Wêreldoorlog sy einde vinnig genader. Dit was die plan van die Nazi-SS-troepe om die kamp op te blaas. Maar die Russe het so vinnig gekom dat die Nazi’s nie hulle duiwelse planne kon deurvoer nie. Op 28 April het die Russe Ravensbrück sonder ’n geveg verower. Ons is dus na amper ses jaar uit daardie ‘vuuroond’ verlos. Dit was benewens ongeveer twee jaar tronkstraf voordat ek na Ravensbrück gekom het.
ONS BLY BY ONS VASTE VOORNEME
Ons het Jehovah albei beloof dat indien ons ooit weer vry sou wees, ons al ons tyd en krag aan sy diens sou wy. Op ons moeilike terugtog huis toe het ons Broer Frost besoek. Hy het dieselfde gesindheid gehad en ons genooi om so gou moontlik na Maagdenburg te kom waar die predikingswerk in Duitsland herorganiseer sou word.
Kort nadat ek in Olbernhau by die huis aangekom het, het die plaaslike regering egter vir my die pos as hoof van die speurdiens aangebied. Ek het hierdie betrekking nie een oomblik lank oorweeg nie; my besluit om die voltydse diens te betree, was lankal geneem. Net drie weke later was ek en Elfriede onder die eerste vyf Bethelwerkers wat na Maagdenburg teruggekeer het.
In 1947 het Broer N. H. Knorr, die destydse president van die Genootskap, Wes-Duitsland besoek. Hy het sekere broers en susters aangespoor om die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Ek en Elfriede het dus aansoek gedoen om hierdie opleiding as sendelinge. Mettertyd het ons ons uitnodigings ontvang, en in 1949 het ons na die Verenigde State vertrek om die skool by te woon.
Wat ’n seën was dit tog vir ons om die geestelike dinge by Gilead in te drink nadat ons soveel jaar nie gereelde vergaderinge gehad het en nie aan die diensbedrywighede van Jehovah se organisasie kon deelneem nie! Ons het dit as ’n groot beloning en wonderlike vergoeding beskou vir die talle ontberinge wat ons deurgemaak het. Die hoogtepunt was die “Teokrasie se vermeerdering”-Byeenkoms van Jehovah se Getuies in Yankee-Stadion in die stad New York wat ons in die somer van 1950 bygewoon het. Die gradeplegtigheid van ons 15de klas van Gilead is op die eerste dag daarvan gehou.
SENDINGWERK
Ons eerste sendelingtoewysing was Keulen, Duitsland, op die oewer van die Ryn. Ons het saam met die plaaslike gemeente van 35 verkondigers begin werk en eerlank talle produktiewe Bybelstudies gehou en ander gehelp om Koninkryksdiens te doen. Na drie en ’n halwe jaar in daardie gebied het ons ’n nuwe toewysing ontvang—Oostenryk. Maar intussen het die gemeente in Keulen tot 214 verkondigers aangewas, en ons het gesien hoe ’n nuwe Koninkryksaal toegewy is.
Gedurende ons afgelope 24 jaar in Oostenryk, het ons toewysings in talle plekke gehad, onder andere die Gasteinvallei, Gmunden aan die pragtige Traun-meer, Hohenems in Vorarlberg en Telfs in Tirol. Op die oomblik werk ons weer in Vorarlberg in die Bregenz-woud. In ons verskillende toewysings het ons gehelp met die verkryging van sewe Koninkryksale. En toe ons in drie van ons toewysings begin het, was daar òf geen Koninkryksverkondigers daar nie òf slegs een of twee. Maar mettertyd het ons gesien hoedat nuwe gemeentes in hierdie plekke gestig word. Hoewel ons nie kinders het nie, het ons baie geestelike kinders en kleinkinders met wie ons verenig is in ’n onoortreflike band van innige liefde.
WAT ONS GEHELP HET OM NIE DIE STRYD GEWONNE TE GEE NIE
Selfs nadat ons groot beproewinge van ons geloof in konsentrasiekampe deurgemaak het, het ons versoekings gehad om ons voltydse diens aan Jehovah te staak. Daar is gesondheidsprobleme weens bejaardheid en die gevolge van ons jare in konsentrasiekampe. En die afgelope jare was die onverskilligheid van mense in gebiede waar materialisme so ’n greep op hulle het dikwels ontmoedigend. Die begeerte was dus partykeer daar om ’n rustiger lewe te lei met meer gemak en geriewe as wat ’n voltydse Koninkryksverkondiger geniet. Wat het ons gehelp om te volhard?
Om maar een ding te meld, ons het ons oë gevestig gehou op die voorbeelde van getroue knegte van Jehovah wat alles verlaat het om hom te dien—persone soos Abraham, Sara, Moses, die apostel Paulus en ons grootste voorbeeld, Jesus Christus. Dit het ons gehelp om die regte gesindheid te behou en regte waardes te hê. Ons het Jesus se raad in gedagte gehou: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.” Ons het ook onthou wat Jesus vroeër in sy Bergpredikasie gesê het: “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”—Matt. 6:33, 21.
Dit is wat ons altyd probeer doen het, naamlik om ons harte gevestig te hou op die Koninkryk van God en om hom te dien met alles wat ons het. Omdat ons dit as ’n kosbare skat beskou het, is ons in staat gestel om die wrede tirannie van Nazisme te verduur. ’n Stewige greep op hierdie Koninkrykshoop het ons gedurende die jare sedertdien gehelp om God voltyds te dien sonder om die stryd gewonne te gee.
Ons lewe was voorwaar uiters bevredigend! Keer op keer het ons die waaragtigheid van die woorde in Maleagi 3:10 ervaar: “Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.” Dit is ons wens en bede dat ons, met Jehovah se hulp, met die voltydse diens mag voortgaan tot in alle ewigheid saam met Jesus Christus en in die teenwoordigheid van Jehovah God.
[Prent op bladsy 9]
Ilse Unterdörfer en Elfriede Löhr soos hulle vandag lyk
“Die uitspansel van sy sterkte”
Die psalmis het gesê: “Loof Jah! Loof God in sy heilige plek. Loof hom in die uitspansel van sy sterkte” (Ps. 150:1, NW). Die “heilige plek” is klaarblyklik God se woning, die hemele. Aangesien die uitdrukking “heilige plek” parallel aan “uitspansel” gebruik word, verwys die uitspansel klaarblyklik na die onsigbare geesteryk. Daar in die hemele is God se sterkte of krag baie duidelik. Dit is dus die “die uitspansel van sy sterkte”. Ons mense op aarde behoort Jehovah, wat hoog daarbo in die “heilige plek”, in die “uitspansel van sy sterkte” troon, beslis te loof.