Ek behou my geloof saam met my man
Soos vertel deur Elsa Abt
TERWYL hy in Sachsenhausen was, is Harald nou en dan toegelaat om ’n brief van net vyf reëls te skryf. Die volgende was daarop gestempel: ‘Omdat hy voortgaan om ’n hardkoppige Bybelstudent te wees, word die voorreg om normale korrespondensie te voer hom ontsê.’ Daardie stempel het my altyd bemoedig, want dit het getoon dat my man in die geloof vasstaan.
Een dag in Mei 1942 het ek van die werk af tuisgekom en gevind dat die Gestapo daar vir my wag. Hulle het die huis deursoek en my toe beveel om my jas aan te trek en hulle te vergesel. Ons dogtertjie, Jutta, het na een van die Gestapo-manne, ’n buitengewoon lang man, geloop. Sy het aan sy broekspyp getrek en gesê: “Los asseblief my mammie hier!” Omdat hy nie gereageer het nie, het sy na die ander kant van sy bene geloop en gepleit: “Los asseblief my mammie hier!” Dit het hom ongemaklik laat voel en dus het hy kwaai gesê: “Vat hierdie kind weg! Vat ook haar bed en haar klere!” Sy is vir ’n ander gesin in die gebou gegee, die deur is verseël en ek is na die Gestapo-hoofkwartier geneem.
Daar het ek baie ander Getuies gesien wat daardie dag in hegtenis geneem is. Ons is verraai deur ’n persoon wat gemaak het asof hy ’n Getuie is en ons vertroue gewen het. Toe die Gestapo ons uitgevra het oor die plek waar ons ons afrolmasjien wegsteek en wie die leiding in die ondergrondse predikingswerk gee, het ek gemaak asof ek niks weet nie. Ons is toe in die tronk gestop.
Ons onwrikbare geloof het die Gestapo gefrustreer. Eenkeer, tydens ’n ondervraging, het ’n offisier met gebalde vuiste na my gekom. “Wat gaan ons met julle doen?” het hy uitgeroep. “As ons julle in hegtenis neem, gee julle nie om nie. As ons julle tronk toe stuur, skeel dit julle nie in die minste nie. As ons julle na die konsentrasiekamp toe stuur, ontstel dit julle nie. Wanneer ons julle ter dood veroordeel, staan julle daar asof niks gebeur nie. Wat gaan ons met julle doen?”
Na ses maande in die tronk is ek en 11 ander Christensusters na Auschwitz, die berugte uitwissingskamp, gestuur.
ANDERS EN GERESPEKTEER
Ons is eers na Birkenau, een van Auschwitz se bykampe, geneem. Toe een van die SS-offisiere uitvind dat ons daar is omdat ons Bybelstudente is, het hy gesê: “As ek julle was, sou ek die vorm teken en huis toe gaan.”
“Indien ek wou teken, kon ek dit al tevore gedoen het”, het ek gesê.
“Maar jy gaan hier sterf”, het hy gewaarsku. Ek het vir hom gesê: “Ek is voorbereid daarvoor.”
Later moes ons ons foto’s laat neem en vraelyste invul. Terwyl ons by die mediese sentrum in ’n tou gewag het, het twee dokters, ook gevangenes, die aankomelinge dopgehou. Een dokter was al baie langer in die kamp as die ander een. Ek het gehoor hoedat die ouer een vir die jonger een sê: “Jy kan altyd die Bybelstudente herken.”
“O, so?” het die jonger dokter effens ongelowig gevra. “Wel, wys dan vir my watter een in hierdie groep ’n Bybelstudent is.” Ek was net besig om by hulle verby te loop in die tou en hulle kon nie my pers driehoek sien nie. Maar die ouer dokter het na my gewys en gesê: “Dit is ’n Bybelstudent.” Die jonger een het om my geloop, na my driehoek gekyk en uitgeroep: “Jy het reg! Hoe het jy geweet?”
“Wel, hierdie mense lyk anders”, het hy gesê. “Jy kan hulle maklik onderskei.”
Dit was waar. Ons het anders gelyk. Ons het regop geloop, nie krom en terneergedruk nie. Ons het altyd reguit voor ons gekyk; ons het die ander persoon reg in die oë gekyk. Ons was daar as getuies van Jehovah se naam. Dit is waarom ons ons anders gedra het, en ander het dit besef.
Ons 12 susters was slegs ’n paar dae in Birkenau. Toe is ons na Auschwitz geneem om in die huise van die SS-offisiere te werk. Hulle wou slegs Jehovah se Getuies daarvoor hê; hulle was bang om ander in hulle huise te laat werk. Hulle het geweet dat ons nie sou probeer om hulle te vergiftig nie; ons was eerlik en sou nie steel of probeer ontsnap nie.
LEWE EN DOOD IN AUSCHWITZ
’n Ruk lank het ons almal saam met ander gevangenes in die kelder van ’n groot baksteenhuis binnekant die konsentrasiekamp gewoon. Die tyd het aangebreek dat hulle ons ons werktoewysings moes gee. “Wie wil waar werk?” is ons gevra. Maar ons het nie geantwoord nie. “O, julle is so trots”, het die vroulike opsiener gesê.
“Nee, ons is nie trots nie”, het my vriendin geantwoord, “maar ons sal werk net waar julle ons stuur.” En dit was altyd ons beleid. Ons wou nie ons werkplek kies nie, want ons het tot Jehovah vir sy leiding gebid. Indien ons na ’n plek gestuur is waar dit moeilik was, kon ons ons tot Jehovah wend en vra: “Jehovah, help ons nou asseblief.”
My toewysing was om vir ’n SS-offisier te werk wat buitekant die kamp gewoon het. My werk was om sy huis skoon te maak, sy vrou met die kos te help, na hulle kind te kyk en inkopies in die dorp te doen—slegs Jehovah se Getuies is so vertrou dat hulle die kamp sonder wagte kon verlaat. Ons het natuurlik altyd die gestreepte tronkuniform gedra. Na ’n ruk is ons toegelaat om te woon waar ons gewerk het in plaas daarvan om snags na die kamp terug te keer. Ek het in die SS-offisier se kelder geslaap.
Maar ons is nie werklik as persone beskou nie. Wanneer die SS-offisier my byvoorbeeld na sy kantoor geroep het, moes ek by die deur staan en sê: “Bewaringsgevangene nommer 24 402 vra toestemming om binne te kom.” En nadat hy sy instruksies gegee het, moes ek sê: “Bewaringsgevangene nommer 24 402 versoek om te gaan.” Ons name is nooit gebruik nie.
Net soos in ander kampe het geestelike voedsel in die vorm van Die Wagtoring en ander publikasies gereeld in Auschwitz ingekom. Ek het selfs briewe van Harald ontvang. Gereelde kommunikasie met Getuies aan die buitekant is soos volg tot stand gebring:
’n Paar van ons groep, onder andere my vriendin Gertrud Ott, het die toewysing ontvang om in ’n hotel te werk waar die gesinne van SS-manne gewoon het. Eendag het Gertrud vensters gewas toe twee vroue verbyloop en die een, sonder om op te kyk, gesê het; “Ons is ook Jehovah se Getuies.” Later, toe hulle teruggekom het, het Gertrud vir hulle gesê: “Gaan na die badkamer.” Hulle het daar ontmoet en gesels en daarna het hulle ander sulke ontmoetings gereël om kosbare Bybellektuur en ander geskrifte in te smokkel.
Ons was Jehovah dankbaar vir sy leiding en beskerming gedurende daardie jare in Auschwitz, veral aangesien ons geweet het dat die afgryslikste dinge denkbaar gebeur het. Hele vragte Jode het aangekom en is reguit na die gaskamers gestuur! Ek het eenkeer ’n vroulike opsiener van die kamp wat in die gaskamers gewerk het, verpleeg, en sy het my vertel wat daar gebeur.
“Die mense word in ’n vertrek ingejaag”, het sy verduidelik, “en op die deur na die volgende vertrek is daar ’n teken: ‘Na die badkamer.’ Hulle word beveel om uit te trek. Heeltemal naak gaan hulle na die ‘badkamer’. Die deur word agter hulle gesluit. Maar gas, in plaas van water, kom uit die stortkrane.” Die dinge wat sy daar gesien het, het haar emosioneel geraak, dermate dat sy liggaamlik siek geword het.
NA ANDER KAMPE EN BEVRYDING
Vanaf Januarie 1945 het Duitsland die een nederlaag na die ander op die oostelike front gely. In ’n poging om die konsentrasiekampe te ontruim, is baie van ons van die een kamp na die ander geneem. Nadat ons twee nagte en twee dae na die Gross-Rosen-kamp geloop het, was etlike susters te uitgeput om verder te gaan. Wat ’n verligting was dit tog toe ons eindelik op die derde nag toegelaat is om in ’n propvol skuur te gaan lê! Al kos wat ons op die hele reis gehad het, was die bietjie brood wat ons toegelaat is om saam te neem. Nie een van ons het gedink dat ons nog ’n dag se geloop kon oorleef nie. Maar toe het iets gebeur wat so buitengewoon was dat ek dit nooit sal vergeet nie.
Toe ons die volgende dag vertrek, het ’n SS-dokter vir wie ek eenkeer gewerk het, ons gesien en begin roep: “Bybelstudente, hierheen! Bybelstudente, hierheen!” Toe het hy vir my gesê: “Maak seker dat ons julle almal het.” Al 40 susters is dus na ’n stasie geneem en reëlings is getref om ons per trein te vervoer. Dit het vir ons soos ’n wonderwerk gelyk.
Die treine was propvol, en drie van ons het om die een of ander rede die stasie gemis en tot by Wroclaw gery. Ons het daar afgeklim en daar is vir ons beduie hoe om by die kamp te kom. Toe ons by die hek kom, het die wagte gelag en gelag en eindelik gesê: “Slegs Jehovah se Getuies sal uit hulle eie hierheen kom.” Maar ons het geweet dat dit vir ons susters probleme sou skep indien ons nie na die kamp teruggekeer het nie.
Ons was slegs twee weke in Gross-Rosen en toe is ons na die Mauthausen-kamp naby Lienz in Oostenryk geneem. Die toestande daar was haglik. Gans te veel mense was daar saamgegooi. Voedsel was skaars, en ons het nie eers strooi gehad om op te slaap nie, slegs planke. Na ’n rukkie is ons weer geskuif, hierdie slag na die Bergen-Belsen-kamp naby Hanover, Duitsland. Een van ons susters het op pad soontoe gesterf. Weens die ellendige toestande in hierdie kamp het baie van ons susters, wat die trekkery tot op hierdie stadium oorlewe het, nou gesterf.
Omtrent 25 van ons groep is weer na ’n ander kamp, ’n geheime kamp, genaamd Dora-Nordhausen, geneem. Hierdie kamp was oorspronklik net vir mans, maar kort tevore is ’n klomp prostitute soontoe geneem. Die kampkommandant het dit egter vir die vroulike opsiener duidelik gestel dat ons nie van daardie soort was nie. Dit het beter gegaan by Dora-Nordhausen. ’n Broer het in die gevangenis se kombuis gewerk, en hy het toegesien dat ons ordentlike kos kry.
Die einde van die oorlog was destyds naby. Reëlings is getref om ons na ’n plek naby Hamburg te vervoer. Ek het ’n blikkie vleis en ’n stuk brood vir die reis ontvang, maar die mans het niks gekry nie. ’n Poolse broer was baie siek: ek het dus my kos vir hom gegee. Later het hy vir my gesê dat dit sy lewe gered het. Op pad soontoe het ons die Amerikaanse soldate teëgekom en is ons bevry. Die SS-manne het burgerlike klere wat hulle saamgebring het, aangetrek, hulle wapens versteek en gevlug. Die einde van die oorlog was in sig!
Dit was so eienaardig toe Harald en ek mekaar omtrent ’n maand later gevind het. Ons het mekaar net ’n lang ruk vasgedruk—ons was vyfjaar lank van mekaar geskei.
MEER BEPROEWINGS EN SEËNINGE
Toe ons by die huis kom, het ons hierdie boodskap op die deur aangetref: “Jutta Abt woon hier. Haar ouers is in die konsentrasiekamp.” Hoe heerlik was dit tog om tuis—en veilig—te wees! Dit het veral genoegdoening verskaf om te weet dat ons aan Jehovah getrou was.
My jare in Duitse konsentrasiekampe het my ’n besondere les geleer. Dit is tot watter mate Jehovah se gees jou kan versterk wanneer jy groot beproewings verduur! Voor ek in hegtenis geneem is, het ek ’n suster se brief gelees waarin sy gesê het dat Jehovah se gees jou kalm laat word wanneer jy ’n groot beproewing verduur. Ek het gedink dat sy seker ’n bietjie oordryf. Maar toe ek self beproewings verduur, het ek geweet dat sy die waarheid gepraat het. Dit gebeur werklik. Dit is moeilik vir ’n mens om jou dit voor te stel as jy dit nog nie beleef het nie. Maar dit het werklik met my gebeur. Jehovah help.
lets wat my gehelp het terwyl ek van my dogter geskei was, was Jehovah se bevel aan Abraham om sy seun op te offer (Gen. 22:1-19). Jehovah wou nie werklik hê dat hy Isak moes doodmaak nie, maar hy wou Abraham se gehoorsaamheid sien. In my geval, het ek gedink, vra Jehovah nie dat ek my kind opoffer nie, slegs dat ek haar verlaat. Dit is niks in vergelyking met wat hy van Abraham gevra het nie. Jutta het al hierdie jare aan Jehovah getrou gebly, iets waaroor ons baie bly is.
My man se getrouheid was nog altyd vir my ’n bron van vreugde en krag. Ek kan nie anders as om hom lief te hê en te respekteer vir sulke getrouheid aan Jehovah nie. En ons is ryklik daarvoor beloon.