Geloof in God het my onderskraag
Soos vertel deur Harald Abt
IN SEPTEMBER 1940 is ek na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp in Duitsland gestuur. Die SS-offisiere (Hitler se Swarthemde/Keurkorps) het my ’n kwaai ontvangs gegee: ek is herhaaldelik geslaan en gedreig. Een offisier het na die skoorsteen van ’n krematorium daar naby gewys en gewaarsku: “Jy sal binne 14 dae daardeur na jou Jehovah opstyg indien jy jou geloof bly aanhang.”
Ek is toe geneem na waar my Christenbroers, Jehovah se Getuies, aangehou is. Ek is beveel om op my hurke te sit en my arms voor my uit te strek. Ek moes vier uur lank in daardie ongemaklike posisie bly sit. Hoe bly was ek om die Getuies om 6 nm. te sien terugkeer ná hulle moeilike dag se werk!
Hierdie Getuies—daar was vroeër sowat 400 van hulle—het vir my vertel dat ongeveer 130 van hulle broers gedurende die vorige winter weens onmenslike behandeling gesterf het. Het dit die oorlewendes afgeskrik? Nee, net soos ek was hulle ook vasbeslote om getrou aan God te bly.
Maar laat ek eers kortliks beskryf waarom ek soontoe gestuur is voordat ek meer vertel oor die sowat vyf jaar wat ek in die Sachsenhausen en Buchenwald-konsentrasiekamp deurgebring het.
CHRISTENE IN VEELBEWOË TYE
Ek is in suidelike Pole gebore in ’n deel wat voorheen aan Oostenryk behoort het; as ’n kind het ek dus Pools sowel as Duits geleer. Op die ouderdom van 19 het ek in 1931 ingeskryf by die Politegniese Instituut in Gdansk, wat destyds ’n Duitssprekende ‘Vrye Stad’ aan die Oossee was. Dit is waar ek Elsa, ’n jong vrou wat ’n groot invloed op my lewe sou hê, in 1934 ontmoet het.
Terwyl ek in 1936 vir my eindeksamens voorberei het, het Elsa begin om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Dit is in die geheim gehou, aangesien party Getuies reeds in hegtenis geneem is. Ek het Elsa laat verstaan dat ek gemeen het dat dit dwaas is om met sulke mense deurmekaar te raak. Maar sy het my eindelik oorreed om haar na ’n vergadering te vergesel. In plaas daarvan om fout te vind, was ek beïndruk deur die Getuies se Bybelkennis.
Nadat ek my studies aan die universiteit voltooi het, was daar nie enige goeie werksgeleenthede in Pole nie. Ek het dit dus oorweeg om in Duitsland werk te gaan soek. Maar Elsa het gesê: “As jy wil gaan, sal jy sonder my moet gaan.” Jehovah se Getuies is destyds kwaai in Duitsland vervolg, en Elsa wou haar nie onnodig daaraan blootstel nie. Dit het my laat dink, en ek het dus begin om die Bybel meer gereeld te bestudeer. Ons is in Junie 1938 getroud. Vroeg in 1939 is ek en Elsa albei gedoop om ons toewyding aan Jehovah God te simboliseer.
Intussen het ek ’n goeie betrekking as ’n ingenieur in die bestuur van Gdansk se hawe gekry. Ons het ’n gerieflik gemeubileerde woonstel gehad, en dit is vir Bybelvergaderinge gebruik. Omstreeks hierdie tyd is ons Bybellektuur, wat vanaf die Wagtoringgenootskap se Poolse tak in Lodz gestuur is, in Gdansk onderskep. Omdat ek daarvan oortuig was dat ek iets moes probeer doen, het ek aan ons Christenbroers in Lodz geskryf en aan die hand gedoen dat hulle die lektuur aflewer by ’n adres net buitekant Gdansk. Ek en Elsa sou dit dan daar optel en in die stad insmokkel.
Elsa was destyds swanger, en soms het sy 100 Wagtoring-tydskrifte onder haar klere om haar lyf vasgebind. Eenkeer het ’n doeanebeampte skertsend gesê: “Jong, jy gaan ’n drieling hê, dis nie altemit nie!” Maar sy is nooit deursoek nie. Ons het aangehou om lektuur in te smokkel totdat Duitsland Pole op 1 September 1939 aangeval het. Daarna is ons vryheid om in en uit Gdansk te gaan, beperk. Ons dogter Jutta is op 24 September gebore.
HITLERVERERING?
Nadat die Poolse garnisoen hulle aan die Duitsers oorgegee het, kon ek na my werk terugkeer. Toe ek hulle met ’n “Goeie more” groet, het my kollegas my aangestaar; almal moes nou “Heil Hitler” sê.
Ek het gevra om met die assistentdirekteur van die hawe te praat en verduidelik dat ek ’n Christen is en dit nie kon sê nie. “Wel, ek is ook ’n Christen”, het hy geantwoord. Ek het egter gesê dat ek ’n Christen in ’n streng sin was en dat dit myns insiens nie behoorlik was om sulke eer aan ’n mens te gee nie. Ek is op die daad ontslaan en meegedeel dat ek in die tronk gestop sou word indien ek nie “Heil Hitler” sê nie.
Later daardie September, nadat die Duitse leërs Pole verower het, het Hitler na Gdansk gekom. Hy het ’n vurige oorwinningsrede in die hoofplein gehou naby die gebou waar ons gewoon het. Almal moes ’n vlag uit hulle venster gehang het, maar daar was geen vlag op ons vloer nie!
Die broers het voorgestel dat ons veiligheidshalwe na oostelike Pole verhuis. Dit het egter beteken dat ons al ons besittings moes agterlaat. Met net ‘n tas’ ’n kinderwaentjie en Jutta in ’n kussing toegewikkel, het ons die lang reis in Desember aangepak. Die treine was stampvol en ongereeld.
Eindelik het ons die huis in Lodz bereik waar die takkantoor was. Die suster wat die deur oopgemaak het, het die roerlose kind in Elsa se arms gesien en huilend weggehardloop. Na ’n paar oomblikke het sy teruggekeer, die baba sien beweeg en uitgeroep: “O! Sy lewe! Sy lewe!” Eers toe het sy ons binnegenooi. Baie kinders het in die vervoermiddels verkluim; sy het dus gemeen dat Jutta ook dood was.
ARRESTASIE EN GEVANGESETTING
Daardie suster se man was reeds in die tronk. Dit was vir ons ’n moeilike winter. Ons het geen steenkool gehad om die huis te verhit of om die bietjie kos wat ons gehad het te kook nie. Ek het uiteindelik daarin geslaag om ’n werk te kry. Maar een dag in Julie 1940 het die Gestapo (die Nazi-geheime polisie) ons tuis gevind terwyl hulle na iemand anders gesoek het. Ek en Elsa is aangesê om ons by die Gestapo-kantoor aan te meld.
Die volgende oggend het ek werk toe gegaan, my paar besittings bymekaargemaak en vir my baas gesê dat ek die Gestapo moes gaan spreek en dat ek nie terug sou kom nie. “Ag, dis sommer lawwigheid”, het hy gesê. “Jy sal twaalfuur terug wees. Moenie bekommerd wees nie.” ’n Paar minute later het ek Elsa voor die Gestapo-kantoor ontmoet en het ons saam boontoe gegaan.
“Sit asseblief”, het die offisier gesê. “Ons weet waarom julle hier is.” Hy het ons toe daaraan herinner dat Pole onder die bewind van die Derde Ryk (Nazi-Duitsland) was en wat met Jehovah se Getuies in Duitsland gebeur het. “Indien julle voortgaan om oor julle geloof te praat”, het hy gesê, “sal julle na ’n konsentrasiekamp gestuur word.”
Hy het toe na ’n tikmasjien gegaan en begin tik. Toe hy terugkom, het hy die vel aan my gegee. Dit het deels gelui: ‘Ek, Harald Abt, beloof om nie meer oor die koninkryk van God te praat nie.’ Ek het vir hom gesê: “Ek is jammer, maar ek kan dit nie teken nie.”
Nadat hy vir my gesê het hoe dwaas ek was, omdat ek geweier het om te teken, is ek weggeneem. Elsa is verder ondervra. Tydens die ondervraging het sy gemeld dat ons ’n baba van 10 maande tuis het. “Niemand anders kan die kind voed nie”, het Elsa gesê, “want ek voed haar aan die bors.” Omdat die offisier oor die baba besorg was, het hy gesê: “Ek sal gou maak.”
Die verklaring wat hy haastig opgestel het, het verskil van die een wat ek geweier het om te teken. Dit het bloot gesê dat Elsa daarvan bewus was dat indien sy voortgaan om haar geloof te beoefen sy na ’n konsentrasiekamp gestuur sou word. Elsa het gemeen dat sy dit kon teken, aangesien sy wel daarvan bewus was. Maar nadat sy dit geteken het, het sy bang geword. Waarom? Omdat ek kon dink dat sy ’n kompromis aangegaan het indien sy vrygelaat word. Toe sy die kantoor verlaat, het sy dus hard na my aan die ander kant van die saal uitgeroep: “Ek het nie geswig nie! Ek het nie ’n geswig nie!”
Nadat ek ‘n paar weke aangehou is, is ek na ’n tronk in Berlyn gestuur, en vandaar af is ek na Sachsenhausen geneem.
DIE LEWE IN SACHSENHAUSEN
Na die kwaai ontvangs het SS-offisiere ons geneem om ons tronkklere te kry. Ons hare is afgeskeer. Toe is ons nommers aan ons toegewys—ek was 32 771. ’n Pers driehoek, die kenteken van Jehovah se Getuies, is aan my gegee om op my klere vas te werk. Die res is deur driehoeke met ander kleure geïdentifiseer—politieke gevangenes het rooi gedra, Jode geel, misdadigers groen, homoseksuele pienk, ensovoorts. Ek was die enigste Getuie in hierdie groep.
Jehovah se Getuies het ’n barak van hulle eie gehad. Die barakke in Sachsenhausen was in ’n halfsirkel rondom die groot aantreeplein geleë. Op die gewelkant van die barakke teenoor die plein was daar ’n gesegde geskryf wat amper so gelui het: ‘Daar is ’n weg na vryheid: Getrouheid, vlyt, werk en liefde vir die Vaderland.’ Op elke barak was daar ’n woord of twee van hierdie gesegde. Die woord LIEFDE was op die Getuies se barak. Dit was hier dat ek vier uur lank in die koue op my hurke moes sit.
Hierdie yslike barakke—daar was meer as 60 van hulle—was elk in twee slaapvertrekke verdeel. In die middel was daar ’n eetsaal, toilette en wasgeriewe. Die slaapvertrekke aan beide kante was onverhit; daar was drie beddens bo-op mekaar. In die winter het die temperatuur tot -18 grade Celsius gedaal, en ons het slegs twee dun komberse gehad. Die lug wat die manne uitgeasem het, het teen die plafon gekondenseer en dan het die water afgedrup en verys op die komberse van die manne wat op die boonste bed geslaap het.
Ons maaltye het hoofsaaklik uit raapsop bestaan, en soms is perdekoppe daarin gekook. Nou en dan het ons vissop gehad wat so sleg geruik het dat die hele kamp gestink het! Saans het ons brood gekry. Aangesien ontbyt slegs uit namaakkoffie bestaan het, het ek altyd ’n bietjie brood gehou om in die oggend te eet, want ek was baie gevoelig vir hongerpyne.
Ons moes soggens sesuur opstaan, ons beddens opmaak, was en aantrek; dan moes ons op die plein aantree vir die rollesing en werk toe marsjeer. ’n Groot deel van die werk is buitekant die kamp gedoen. My eerste toewysing was om paaie te bou. Weens my opleiding as ingenieur is ek later aangestel oor die tegniese sy van die oprigting van nuwe werkwinkels.
Talle SS-offisiere was wreed en het net na geleenthede gesoek om ons te folter. Soms het een na stof in die barak kom soek terwyl ons buite gewerk het. Hy het gewoonlik daarin geslaag om stof op die balke te kry, iets wat ’n mens nie verbaas nie aangesien daar meer as 80 strooibeddens in die vertrek was. Wanneer ons na werk terugkom, het hy dan aangekondig: “Ek het vanoggend stof in julle barak aangetref, en dus sal julle vandag geen middagete kry nie.” Dan het hulle die deksels afgehaal sodat almal die kos kon ruik, en daarna het hulle die potte weggeneem. Enige klagte sou die doodstraf meebring.
Jy was nooit jou lewe in Sachsenhausen seker nie. Indien jy op ’n geringe manier die wagte se aandag getrek het, kon dit straf meebring. ’n Persoon is dalk gedwing om die hele dag in die nypende koue van die winter voor die barak te staan. Indien hy ’n koors gekry het—baie het longontsteking gekry—en nie kon gaan werk nie, het die SS-wag moontlik gesê: “O, hy het ’n koors! Goed, laat hom dan ’n bietjie in die koue staan om af te koel.” Sulke behandeling het baie laat sterf.
Ander is soos volg om die lewe gebring: Hulle is in die middel van die winter beveel om in ’n groot bad koue water te sit en ’n straal koue water is in die omgewing van hulle hart gespuit. Weens sulke onmenslike behandeling het ons nooit geweet of ons die volgende lente sou sien nie.
Baie het vir my gevra: “Was jy nie bang nie?” Nee, wanneer jy in so ’n situasie is, verkry jy ’n krag deur jou geloof. Jehovah help jou. Wanneer ander buite hoorafstand was, het ons by die etenstafels saam gebid en selfs saggies gesing. Wanneer ons byvoorbeeld gehoor het dat een van ons broers weens onmenslikheid of ontbering gesterf het, het ons ’n lied met ’n veggees gesing. Ons gesindheid was: Bly sterk! Wees moedig! Ons het geweet dat ons ook binnekort kon sterf en ons wou uiting gee aan ons vasbeslotenheid om getrou te bly.
GEESTELIKE VOEDING EN PREDIKINGSWERK
In 1942 het dinge vir ons effens verbeter. ’n Nuwe kampkommandant het oorgeneem en ons het ’n bietjie meer vryheid geniet. Ons is nie langer gedwing om op Sondae te werk nie. Dit was omstreeks daardie tyd dat daar ook sewe nommers van Die Wagtoring wat die profesieë van Daniel bespreek het, ingesmokkel is. En ons het ook ’n paar Bybels in die hande gekry. Sondagmiddae het ons dus in een vleuel van die barak bymekaargekom vir Bybelstudie; daar was omtrent 200 van ons. ’n Paar het buite wag gehou om ’n teken te gee indien ’n SS-wag nader gekom het. Dit was vir my onvergeetlike en baie geloofversterkende vergaderinge.
‘Ingesmokkelde Wagtorings?’ wonder jy dalk. Dit op sigself is ’n verhaal van geloof en moed. Party Getuie-gevangenes het buitekant die kamp gewerk en in aanraking gekom met broers wat nog nie in hegtenis geneem is nie. Sodoende kon hulle stilletjies lektuur in die hande kry om in die kamp in te smokkel. Broer Seliger, wat soos ons opsiener in die kamp was, het in die tronkhospitaal gewerk, en hy het die ingesmokkelde Bybellektuur agter ’n teël in die badkamer aldaar versteek.
Mettertyd is daar egter ontdek hoe goed georganiseerd ons was. ’n Paar Bybels is ook in ons barak gevind. Omtrent 80 broers is dus in ’n werkafdeling geplaas en van Sachsenhausen af weggestuur. Die oorblywende Getuies is oor die talle barakke van die kamp versprei. Hoewel dit ’n einde aan ons groot vergaderinge gemaak het, het dit baie meer geleenthede gebied om vir medegevangenes te preek.
’n Hele paar jong Russe, Oekrainers en Pole het gunstig gereageer en Getuies geword. Party is reg in die kamp—in die bad van die kamphospitaal—in die geheim gedoop. Ek kan spesifiek twee jong Oekrainers onthou. Hulle het eendag gehoor hoedat ’n broer ’n Koninkrykslied fluit en hom daarna uitgevra. “Dit is ’n gewyde lied”, het die broer gesê. Hulle was baie beïndruk om te hoor dat mense in die kamp gesit is weens hulle godsdiensoortuigings. Na die bevryding het een van hierdie jong manne die leiding gegee in die getuieniswerk in ’n deel van oostelike Pole. Hy is deur vyande van Jehovah se Getuies om die lewe gebring terwyl hy op pad was om ’n Christenvergadering te gaan hou.
Toe ek een dag in 1944 saam met my werkafdeling vir middagete inmarsjeer, het ek my broers in die plein sien staan. Toe ek as ’n Getuie herken is, is ek beveel om by hulle aan te sluit. Die SS het op die een of ander manier van ons geheime posdiens in en uit die kamp (en van een kamp na die ander) te hore gekom, asook hoe ons in klein groepies van twee of drie op die aantreeplein vergader het om ’n daaglikse Bybelteks te bespreek. Ons is beveel om hierdie onwettige bedrywigheid te staak, maar ons het saamgestaan in ons vasbeslotenheid om mekaar steeds geestelik te versterk. Toe daar vir broer Seliger, wat ’n hoofskakel in die geheime posdiens was, gevra is of hy gaan aanhou om in die kamp te preek, het hy gesê: “Ja, dit is presies wat ek gaan doen, en nie net ek nie, maar ook al my broers.” Jehovah se Getuies se geloof en moed is klaarblyklik nie geknak nie, en die Nazi’s het weer eens gesien dat daar niks is wat hulle kon doen om ons ons onkreukbaarheid teenoor God te laat prysgee nie.
BUCHENWALD EN BEVRYDING
Teen die einde van Oktober 1944 is ek saam met ’n span boudeskundiges na die Buchenwald-konsentrasiekamp gestuur. Ons moes ’n klomp werkwinkels herbou wat deur Amerikaanse vliegtuie gebombardeer is. Die broers in Buchenwald het eerlank met my in verbinding getree en my genooi om geestelike omgang met hulle te geniet. Ek was hier nommer 76 667.
Vroeg in 1945 was dit duidelik dat die Nazi-bewind op die randjie van ineenstorting was. Wanneer Engelse vegvliegtuie oor die kamp gevlieg het, het hulle ons gegroet deur hulle vlerke te laat kantel en ons so probeer bemoedig. Die laaste twee weke of wat voor ons bevryding het gevangenes nie eens meer uitgegaan om te werk nie.
Op Woensdag, 11 April 1945, het ons vergader om te luister na ’n toespraak deur ’n broer oor al die jaartekste van 1933, toe Hitler aan bewind gekom het, tot 1945. Tydens die vergadering kon ons hoor hoedat die oorlogsrumoer al hoe nader kom. Reg in die middel van die toespraak het ’n gevangene die deur oopgegooi en uitgeroep: “Ons is vry! Ons is vry!” Daar was chaos in die kamp, maar ons het ’n gebed van dank aan Jehovah gedoen en met ons vergadering voortgegaan.
Daar was nog meer as 20 000 gevangenes in Buchenwald. Die SS-wagte het hulle uniforms uitgetrek en probeer ontsnap terwyl talle gevangenes wraak geneem het. Later het ’n gevangene my vertel hoedat hy ’n mes in ’n SS-man se maag gesteek het. Maar Jehovah se Getuies het natuurlik geen aandeel aan die geweld gehad nie.
Dit was omtrent ’n maand later dat ek Elsa uiteindelik opgespoor het. Sy het Auschwitz en ander konsentrasiekampe oorleef. In Augustus 1945 het ons teruggekeer huis toe en ons dogter aangetref by broers wat vir haar gesorg het. Sy was toe amper ses jaar oud en het ons nie herken nie.
ONS HET NOOIT ’N KOMPROMIS AANGEGAAN NIE
Na die beëindiging van die besetting deur die Duitse leër het Pole ’n Volksrepubliek geword. Ek en Elsa het dadelik aansoek gedoen om by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Lodz te werk. Ons het vyf jaar lank daar gewerk en was bly om te sien hoe Jehovah se Getuies van sowat 2 000 in 1945 toegeneem het tot omtrent 18 000 in 1950. Sedert 1950 het ons voortgegaan om te dien in verskeie toewysings wat ons van Jehovah se organisasie ontvang het, vasbeslote om altyd sterk geloof te behou.
Ek het altesaam 14 jaar van my lewe in konsentrasiekampe en tronke deurgebring weens my geloof in God. Daar is al vir my gevra: “Was jou vrou vir jou ’n hulp om al hierdie dinge te verduur?” Sy was voorwaar! Ek het uit die staanspoor geweet dat sy nooit haar geloof sou prysgee nie, en hierdie wete het gehelp om my te onderskraag. Ek het geweet dat sy my liewer dood op ’n draagbaar sou wou sien as om te weet dat ek vry was omdat ek ’n vergelyk getref het. Dit is ’n groot hulp om so ’n standvastige maat te hê. Elsa het baie ontberings tydens haar jare in Duitse konsentrasiekampe verduur, en ek is seker dat jy bemoedig sal word indien jy ’n paar van haar ondervindinge lees.
[Prent op bladsy 10]
Sachsenhausen-konsentrasiekamp
SS-barakke
Aantreeplein
Gaskamer
Selle
Afsondering
Ontluisafdeling
Plek van teregstelling