Psalms
Die kortste Psalm—’n aansporing om Jehovah te loof
VAN die 150 geïnspireerde psalms is Psalm 117 die kortste. Dit lui: “Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke! Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons [die Israeliete], en die trou van die HERE is tot in ewigheid. Halleluja!”
Hierdie loflied is ’n uitnodiging aan al die nasies om Jehovah te loof omdat hulle gesien het op watter wonderlike wyse hy met sy volk Israel gehandel het. Sy handelinge openbaar dat hy ’n God is wat verdien om geloof en geprys te word.
Ten spyte van die sondigheid en herhaalde tekortkomings van die Israeliete was Jehovah barmhartig en vol medelye. Hy het lojaal sy belofte aan Abraham gestand gedoen, naamlik dat ‘al die nasies van die aarde in sy saad geseën sal word’ (Gen. 22:18). Dwarsdeur die eeue totdat daardie beloofde saad uiteindelik gekom het, het Jehovah God Israel nie as sy volk verwerp nie. Hy het dus bewys dat hy ’n God van goedertierenheid is. Hy het ook sy waaragtigheid aan die dag gelê deur sy belofte te hou. Josua het byvoorbeeld die Israeliete aan die volgende herinner: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom.”—Jos. 23:14.
Veral met die koms van Jesus Christus as die beloofde saad het die tyd vir die mense van alle nasies aangebreek om Jehovah te loof. Dit is die gedagte wat die apostel Paulus uitgebring het toe hy aan die Christene in Rome geskryf het: “Ek sê dat Jesus Christus ’n dienaar geword het van die besnydenis ter wille van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig; en dat die heidene ter wille van sy barmhartigheid God kan verheerlik, soos geskrywe is: Daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van u Naam psalmsing. En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met sy volk; en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke.”—Rom. 15:8-11.
Hoewel Jehovah God baie eeue lank uitsluitlik handelinge met die Israeliete gehad het, was hy in werklikheid besig om sake te reël sodat die hele mensdom deur die saad van Abraham, hoofsaaklik Jesus Christus, geseën kon word. Omdat Jesus sy lewe as offerande gegee het, kan mense van alle nasies se sondes nou vergewe word en kan hulle ’n goedgekeurde posisie voor die Allerhoogste verkry. Mense van alle nasies het dus voorwaar rede om Jehovah te dank vir sy goedertierenheid en trou deurdat hy die beloofde saad as ’n natuurlike afstammeling van Abraham verwek het.