Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 2/15 bl. 29-30
  • Afgodsaanbiddende, magsugtige Atalia

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Afgodsaanbiddende, magsugtige Atalia
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die hele huis van Agab sal doodgemaak word” – 2Kn 9:8
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2022
  • Jojada is dapper
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • ’n Ondankbare koning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Joas het Jehovah weens slegte assosiasie verlaat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 2/15 bl. 29-30

Afgodsaanbiddende, magsugtige Atalia

Die gesegde ‘die appel val nie ver van die boom nie’ was volkome waar in die geval van Atalia, die dogter van Isebel en Israelitiese koning Agab. Isebel het nie geskroom om onskuldige bloed te vergiet om haar doelwitte te bereik nie, en Atalia het ook nie. Albei was groot afgodsaanbidders.

Dit was voorwaar ’n tragiese fout toe getroue Judese koning Josafat ’n huweliksverbond met koning Agab gesluit het en Atalia as vrou vir sy seun Joram geneem het. Daardie verbond het Josafat amper sy lewe gekos toe hy saam met koning Agab teen die Arameërs gaan veg het. Hoewel Jehovah God ingegryp het om Josafat te red, is hy tereggewys met die woorde: “Moet ’n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat?”—2 Kron. 18:1-3, 30, 31; 19:1, 2.

Na Josafat se dood het die gevolge van die huwelik amper die einde van die vorstehuis van Juda beteken. Atalia se verderflike invloed het daartoe bygedra dat Joram die slegte weg van die vorstehuis van Agab bewandel het. Om sy posisie te beveilig, het hy sy broers en party van die owerstes vermoor. Omdat Jehovah Joram weens sy ontrouheid verlaat het, het hy met probleme van binne en van buite sy ryk te kampe gehad. Die Arabiere en die Filistyne het die Koninkryk van Juda binnegeval en al Joram se seuns gevange geneem behalwe die jongste seun, Ahasia (Joahas). Toe het die bende wat saam met die Arabiere gekom het, al die ouer seuns om die lewe gebring. Eindelik het Joram gesterf aan ’n walglike siekte wat veroorsaak het dat sy ‘ingewande uitgekom het’.—2 Kon. 8:16-19; 2 Kron. 21:4, 16-19; 22:1.

Toe Ahasia sy vader as koning opgevolg het, het sy moeder sy raadgeefster geword. Omdat sy die ware mag agter die troon was, is die kortstondige eenjarige bewind van Ahasia deur verskriklike goddeloosheid gekenmerk. Nadat Ahasia dodelik verwond is op bevel van koning Jehu van Israel, het Atalia haar geleentheid te baat geneem om die troon van die Koninkryk van Juda vir haarself toe te eien.—2 Kron. 22:2-9.

Atalia was so magsugtig dat sy haar eie kleinseuns doodgemaak het. Die baba Joas het egter vrygekom, want sy tante Josabat het hom gered. Ongeveer ses jaar later het Josabat se man, hoëpriester Jojada, Joas as koning laat uitroep. Toe sy dit sien, “skeur Atalia haar klere en roep uit: Verraad, verraad!” Maar tevergeefs. Jojada het beveel dat sy tereggestel moes word. Aldus het die laaste oorlewende lid van die huis van Agab roemloos gesterf.—2 Kron. 22:10-12; 23:11-15.

Hoe kan die magsugtige optrede van Atalia verklaar word? Sy het volkome opgegaan in die aanbidding van afgode. Onder haar invloed het haar seuns by die tempel van Jehovah ingebreek, ongetwyfeld om dit te plunder. Items wat uit Jehovah se heiligdom geneem is, is gewy aan Baäl, die god van vrugbaarheid (2 Kron. 24:7). Soos die Bybel toon, gee sulke afgodediens aanleiding tot allerhande ander growwe sondes. Ons lees:

“Omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge” (Rom. 1:28-30).

Die feit dat Atalia haar eie kleinseuns vermoor het om mag vir haarself te beveilig, toon hoe ’n slegte gesindheid afgodediens ’n persoon kan gee.

Atalia se geval beklemtoon die gevaar van afgodediens. Valse aanbidding kan die deur tot allerhande booshede open. Ons is dus verstandig as ons voortgaan om ag te slaan op die geïnspireerd woorde: “Bewaar julleself van die afgode.”—1 Joh. 5:21.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel