Hulle het hulle vriende nodig
GEDURENDE sy daaglikse werk het ’n Christen die telefoon beantwoord. Dit was die vrou van ’n medechristen: “O, broer, die dokter het my so pas meegedeel dat my man nog net drie maande sal lewe. Ek weet nie hoe om die nuus aan hom oor te dra nie. Ek het skielik aan jou gedink. Sal jy met hom praat—asseblief?” Na ’n paar sekondes het hy geantwoord: “Sekerlik. Ek sal hom môre-oggend besoek.”
Die volgende oggend het die twee manne mekaar hartlik gegroet. Na ’n koppie koffie het die besoeker na sy vriend se welstand verneem. “Eersteklas. Die operasie was ’n sukses. Ek moet nou net my krag herwin.”
“Dit klink bemoedigend. Dit toon dat jy optimisties is. As ’n dienskneg van God kan jy altyd opgeruimd wees, selfs al duur dit lank om gesond te word, moontlik langer as wat jy nou meen. Maar ongeag wat gebeur, ons kan alle dinge in die krag van ons hemelse Vader verduur, nie waar nie?”
Die pasiënt, ook ’n man met rype ervaring, het sy vriend vas in die oë gekyk. “Haai! Weet jy iets van my af wat ek nie weet nie?” Sy besoeker het kalm geantwoord: “Ja. Die dokter het met jou vrou gepraat, en wat hy gesê het, is ernstig. Hy meen dat jou lewe in gevaar verkeer. Hy is natuurlik die eerste dokter wat ’n mening oor jou toestand gelug het, maar dit toon dat ons iets behoort te doen. Dit sal verstandig wees om ’n ander dokter te raadpleeg wat jou moontlik met ’n ander vorm van behandeling kan help. Jy sal nie die eerste pasiënt wees wat veel langer lewe as wat die dokters voorspel het nie. Maar dit sal goed wees om sake nou te reël, ingeval jou siekte erger word. Ek is bereid om jou te help net waar jy wil.”
Hierdie gesprek het voortgeduur, maar ons het genoeg gehoor om duidelik te sien hoe eerlik en behulpsaam dit was. Pasiënte het ’n reg om die waarheid oor hulle toestand te weet, veral as hulle daaroor navraag doen.
WAAROM AARSEL ONS SOMS?
Ons aarsel soms om iemand te besoek wat binnekort gaan sterf. Ons neem die vernietigende krag van die naderende dood waar en dit maak ons bang (Hebr. 2:14, 15). Maar in sulke situasies—soos soms in alle ander gevalle waar jou vriende in groot nood verkeer—moet ’n mens nie aan jouself dink nie. Dit is nie sonder rede dat Spreuke 17:17 sê nie: “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.” Want as ’n lid van die Christengemeente het jou broer of suster jou nou nodiger as ooit. Moenie toelaat dat die benoude situasie van jou siek vriend jou gevoelens die oorhand oor jou laat kry in plaas daarvan om oor sy wesenlike behoeftes besorg te wees nie. Dink aan sy belange, en wees ’n goeie vriend. Dit sal jou spanning verlig, en die innige vreugde wat jy smaak wanneer jy ander dien, sal jou wond genees.
WAT MOET ’N MENS SÊ?
Wanneer ’n mens iemand besoek wat ernstig siek is, is die eerste ding wat jy moet besef dat ’n geveinsde vrolikheid hom nie sal help nie. Die vriendelike vraag: “Wil jy hê dat ek ’n rukkie by jou moet sit?” kan ’n goeie begin wees. Vrae soos: “Hoe voel jy?” of “Kan ek iets vir jou doen?” kan vir jou toon waaroor die pasiënt wil gesels. Indien hy bang is weens die onbekende dinge wat voorlê, sal dit vir hom baie moeilik wees om daaroor te gesels. Dit is baie moeilik om te sê wat in sy verstand en hart omgaan. Maar indien die pasiënt oor die droewige vooruitsig van sy kwaal wil gesels, moet jy hom nie in die rede val met onvanpaste uitlatings soos: “O, jy moenie daaraan dink nie! Jy sal gesond word” nie. Stem eerlik met hom saam dat die ergste kan gebeur, maar selfs dan kan hy alles in die bekwame hande van sy hemelse Vader laat.—Filip. 4:6, 7.
Jy kan sê: ‘Wil jy hê dat ek ’n stukkie uit die Bybel moet lees?’ Hierdie woorde sal ’n geloofinboesemende uitwerking hê. Pasiënte hou van die boek Psalms omdat die hartgrondige gevoelens van ’n persoon wat in angs verkeer en sy hulpgeroep tot Jehovah wonderlik daarin geopenbaar word.
Persone wat ernstig siek is, is gewoonlik baie moeg en het nie die krag om ’n lang gesprek te voer nie. Dit is dus nie nodig om veel in sulke situasies te sê nie. As ’n mens net langs die persoon se bed sit en sy of haar hand vashou, kan dit al op sigself ’n troos wees. Al vra hulle nie dat ’n gebed gedoen moet word nie, sal ons vriende wat moontlik gaan sterf dit baie waardeer indien medechristene na die geleentheid soek om saam met hulle te bid. Indien jy woorde kan vind wat getuig van volkome geloof in Jehovah se begeerte en vermoë om jou vriend in hierdie moeilike situasie te onderskraag, sal julle albei ’n verhewe oomblik van geesverwantskap geniet.
Alhoewel ons nooit druk op ’n baie siek persoon moet uitoefen om reëlings te tref vir die tyd wanneer hy nie meer sal lewe nie, is dit goed om wakker te wees vir die oomblik wanneer hy hieroor wil gesels. Dit sal hom ontsaglik baie vertroos as sy Christenvriende beloof om na alles om te sien nadat hy ontslaap het—veral na sy vrou en kinders, of, in die geval van ’n vrou, na haar man. Dit is moontlik nodig om iets op skrif te stel indien voogdyskap gereël moet word of inkomstes oorgeplaas moet word. Die hulp van ’n prokureur bied groter versekering dat die persoon se laaste wense uitgevoer sal word.
Ons besoeke hoef natuurlik nie altyd so ernstig te wees soos so pas beskryf is nie. Dit hang af van die situasie waarin jy jou siek vriend aantref. Pasiënte hou daarvan om onthou te word soos hulle in gelukkiger tye in hulle lewe was. Weet jy van ’n aangename ondervinding wat jy met hom gedeel het? Verhaal dit en jy kan daarvan seker wees dat die pasiënt oor hierdie hartverblydende herinneringe sal nadink nadat jy vertrek het. Jy kan ’n ywerige kneg van Jehovah wat nou nie meer die “goeie nuus” kan verkondig nie hartgrondige geluk verskaf. Herinner hom aan al die dinge wat hy in die verlede op hierdie gebied gedoen het. Prys pasiënte hartlik vir hulle volharding en die goeie voorbeeld wat hulle stel deur hulle lyding met geloof en opgewektheid te verduur.—Hebr. 6:10.
OORWIN JOU VREES
Jy sal saamstem dat diegene wat hulself berus het in die moontlikheid dat siekte of ’n ongeluk ’n einde aan ons lewens kan maak in ’n beter posisie is om diegene te help wat binnekort gaan sterf. Dit is ’n blyk van rypheid om nie werklikhede wat ons almal dalk in die gesig sal moet staar te loën nie.
Maar gestel ons word verteer deur vrees vir die dood. Wat kan ons dan doen om hierdie slegte gevoelens of somber gedagtes die hoof te bied? Eerstens, moenie probeer om jou vrese te ignoreer nie. Staan tyd daaraan af om na te dink oor die onsekerheid van hierdie lewe en die oplossing wat God bied. Vriende van God, die hemelse Bron van lewe, kan hierdie saak op ’n realistiese dog gebalanseerde wyse bepeins. Hulle weet wat die dood inderdaad is: ’n onbewuste slaap sonder pyn of verskrikking (Joh. 11:11-14). Jesus het dikwels geleer dat die dode opgewek sal word en gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Joh. 5:28, 29). Alhoewel Jesus deur sy teenstanders doodgemaak is, het sy hemelse Vader hom weer opgewek. Die apostel Paulus skryf dat Hy, na hierdie wonderwerk, “verskyn [het] aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe” (1 Kor. 15:3-8). Ja, daar was voorwaar oorgenoeg bewyse dat Christus opgestaan het.
Christene weet dat die lewe wat hulle nou geniet nie die saak van allergrootste belang is nie. God se goedkeuring is baie meer werd, “omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (1 Tim. 4:8). En ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons die krag sal gee om die dood tegemoet te gaan op die oomblik wanneer ons dit waarlik nodig het.—Ps. 46:2.
“NIE VERLATE NIE”
Indien jy daarvan oortuig is dat die kwaal waaraan jy nou ly noodlottig gaan wees, is dit werklik noodsaaklik om jou geestelike balans te behou. Miskien kom vrae soos: ‘Maar waarom ek?’ voortdurend by jou op. Jy word dalk geteister deur vrees en ’n gevoel van verlatenheid. Beveg dit. Kry en hou jou gedagtes in toom. Jy lewe nog steeds en Jehovah is naby. Besef dat die Duiwel graag jou swakhede uitbuit en probeer om jou geloof in God en sy belofte te laat afneem. Maar jy stry nie alleen die stryd nie. Jehovah sal jou ‘nie verlaat nie’.—2 Kor. 4:9.
Soek vriende wat jou kan help, veral diegene wat reeds talle probleme in die krag van Jehovah te bowe gekom het. Behou jou geloof in al God se beloftes. Sien uit na die tyd wanneer jy weer sal lewe en al Jehovah se seëninge sal sien. Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog nie wees nie! Dan sal ’n mens vir ewig sonder pyn en droefheid lewe, en sal jy deur ware vriende omring word. Jehovah God wil hê dat ons almal vir ewig moet lewe. Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.”—Joh. 11:25.
DINK AAN JOU VRIENDE WAT ROU
Wanneer ’n Christenbroer of -suster ontslaap het, moet ons nie hulle naverwante vergeet nie. Dit is die tyd om jou in hulle posisie te stel. Kan jy jou indink hoe hulle na so ’n swaar verlies voel? Hulle moet met hulle normale daaglikse lewens voortgaan, maar hulle is diep verwond. Dit is nou dat hulle hulle vriende nodig het—maar vriende wat kan luister. Dit kan strelend en vertroostend wees om iemand te hê wat weer eens sal luister na verslae oor wat die man, vrou of kind gesê of gedoen het. Dit is vir hulle onmoontlik om hulle afgestorwe dierbares sommer eensklaps te vergeet. Intussen kan jy hulle help om weer met hulle eie lewens voort te gaan.
Jy kan veel vir jou bedroefde vriende doen. ’n Telefoonoproep of ’n onverwagse uitnodiging na ’n maaltyd tel onder die moontlikhede. Kan jy hulle nooi om saam met jou persoonlike Bybelstudie te doen? Is al die amptelike en finansiële formaliteite afgehandel? Het hulle genoeg geld om van te lewe, en indien nie, is ons bereid om hulle te help met ’n deel van dit wat Jehovah aan ons gegee het?
Dit is duidelik wanneer ons vriende ons op ’n besondere wyse nodig het—in tye van droefheid, angs en selfs vrees. Jesus het sy gelykenis oor die barmhartige Samaritaan gegee om ook ons te leer wat ons in sulke tye te doen staan. Mag daar nooit oor ons geskryf word: ‘Hy het anderkant verbygegaan’, soos die priester en Leviet in Jesus se verhaal nie (Luk. 10:29-37). Ons het nou ’n baie beter begrip van die woorde in Prediker 7:2: “Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd.” En Jakobus het geskryf: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld” (Jak. 1:27). Mag Jehovah ons seën wanneer ons dit doen!