Vertroos dié wat terminaal siek is
“Toe ek uitgevind het dat my ma se toestand terminaal is, kon ek dit eenvoudig nie glo nie. Ek het aan skok gely en kon nie aanvaar dat my geliefde ma gaan sterf nie.”—Grace, Kanada.
WANNEER ’n geliefde met ’n terminale siekte gediagnoseer word, is dit vir die gesin sowel as vriende baie ontstellend en weet hulle moontlik nie hoe om te reageer nie. Party wonder dalk of hulle vir die pasiënt die waarheid omtrent sy of haar toestand moet vertel. Ander twyfel of hulle dit sal kan verduur om te sien hoe hulle geliefde ly en miskien sy of haar waardigheid verloor weens die gevolge van die siekte. Baie is bang dat hulle nie sal weet wat om gedurende die pasiënt se laaste ure te sê of te doen nie.
Wat moet jy weet omtrent die manier waarop jy dalk op sulke slegte nuus sal reageer? En hoe kan jy “’n ware metgesel” wees en vertroosting en ondersteuning gedurende hierdie pynlike tyd bied?—Spreuke 17:17.
’n Natuurlike reaksie
Dit is heel natuurlik om ontsteld te wees wanneer ’n geliefde deur ’n ernstige siekte getref word. Selfs dokters, wat gereeld met die dood te doen het, voel dikwels besorg—selfs magteloos—wanneer hulle met die fisiese en emosionele behoeftes van terminale pasiënte te kampe het.
Jy sukkel dalk ook om jou emosies te beheer wanneer jy ’n geliefde sien ly. Hosa, ’n vrou in Brasilië wie se suster terminaal siek was, sê: “Dit is baie moeilik om te sien dat iemand wat jy innig liefhet, voortdurend in pyn verkeer.” Toe die getroue man Moses gesien het dat sy suster met melaatsheid getref is, het hy uitgeroep: “O God, asseblief! Genees haar, asseblief!”—Numeri 12:12, 13.
Die lyding van ’n siek geliefde ontstel ons omdat ons gemaak is na die beeld van ons medelydende God, Jehovah (Genesis 1:27; Jesaja 63:9). Hoe voel Jehovah oor menselyding? Kyk na Jesus se reaksie. Hy het sy Vader se persoonlikheid volmaak weerspieël (Johannes 14:9). Toe Jesus mense gesien het wat deur siekte geteister is, is hy “beweeg deur innige jammerte” vir hulle (Matteus 20:29-34; Markus 1:40, 41). Soos in die vorige artikel in hierdie tydskrif bespreek is, het Jesus diep verontrus geword en “trane gestort” toe sy vriend Lasarus gesterf het en hy die uitwerking van die dood op familie en vriende gesien het (Johannes 11:32-35). Ja, die Bybel beskryf die dood as ’n vyand en belowe dat siekte sowel as die dood binnekort nie meer sal bestaan nie.—1 Korintiërs 15:26; Openbaring 21:3, 4.
Dit is te verstane dat jy dalk iemand—enigiemand—wil blameer vir die verpletterende nuus dat ’n geliefde terminaal siek is. Maar dr. Marta Ortiz, wat ’n tesis geskryf het oor die versorging van dié wat terminaal siek is, gee hierdie raad: “Moenie ander—die mediese span, verpleegsters of jouself—blameer vir die pasiënt se toestand nie. Dit sal verhoudinge net meer gespanne maak en die aandag aflei van wat die belangrikste behoort te wees: die behoeftes van die terminale pasiënt.” Watter praktiese stappe kan jy doen om jou geliefde te help om sy of haar siekte en die vooruitsig van die dood te verwerk?
Sien die persoon, nie die siekte nie
Een van die eerste stappe is om verby enige aftakelende of ontsierende gevolge van die siekte te kyk en die persoon te sien. Hoe kan jy dit doen? Sarah, ’n verpleegster, sê: “Ek neem tyd om te kyk na foto’s van die pasiënt toe hy nog vol lewe was. Ek luister aandagtig wanneer hy my van dinge in sy verlede vertel. Dit help my om die persoon se lewe en geskiedenis te onthou en nie net op die pasiënt se huidige toestand te fokus nie.”
Anne-Catherine, ook ’n verpleegster, verduidelik hoe sy verby die fisiese simptome van die pasiënt kyk. “Ek kyk die persoon in die oë”, sê sy, “en ek spits my toe op wat ek kan doen om die pasiënt se toestand te verbeter.” Die boek The Needs of the Dying—A Guide for Bringing Hope, Comfort, and Love to Life’s Final Chapter sê: “Dit is natuurlik om ontsettend ongemaklik te voel wanneer jy ’n geliefde sien wat deur ’n siekte of ’n ongeluk vermink is. Die beste ding om dan te doen, is om in die oë van die geliefde te kyk en daardie onveranderlike bruin of groen of blou oë te sien.”
So ’n benadering vereis natuurlik selfbeheersing en vasbeslotenheid. Georges, ’n Christenopsiener wat gereeld persone besoek wat terminaal siek is, stel dit soos volg: “Ons liefde vir ons vriend moet sterker wees as die siekte.” As jy op die persoon fokus en nie op die siekte nie, strek dit jou sowel as jou geliefde tot voordeel. Yvonne, wat kinders met kanker versorg het, sê: “Die besef dat jy die pasiënte kan help om hulle waardigheid te behou, help jou om hulle fisiese agteruitgang te verwerk.”
Wees bereid om te luister
Mense huiwer dalk om met iemand in aanraking te kom wat sterwend is, al het hulle hom of haar baie lief. Waarom? Hulle is bekommerd dat hulle nie sal weet wat om te sê nie. Maar Anne-Catherine, wat onlangs ’n vriendin verpleeg het wat terminaal siek was, wys daarop dat stilswye soms van pas is. Sy sê: “Dit is nie net ons woorde nie, maar ook ons gesindheid wat vertroosting bied. Om ’n stoel nader te trek en te gaan sit, om hulle hand vas te hou, om nie ons trane te keer wanneer hulle sê hoe hulle voel nie—dit alles wys dat ons omgee.”
Jou geliefde het waarskynlik ’n behoefte daaraan om oor sy of haar gevoelens te praat—om eerlik en openlik te kommunikeer. Maar die sieke besef dikwels dat geliefdes ongemaklik is en praat dus nie oor ernstige persoonlike sake nie. Welmenende vriende en familie vermy miskien ook onderwerpe wat vir die pasiënt van belang is en verberg dalk selfs belangrike inligting omtrent sy gesondheid vir hom. Wat is die gevolg van so ’n sameswering om te swyg? ’n Dokter wat met terminale pasiënte werk, verduidelik dat die inspanning wat nodig is om die waarheid te verberg, “energie weglei van die belangriker proses om oor die situasie te praat en die siekte onder die oë te sien”. Laat die sieke dus toe om openlik oor sy toestand of die moontlikheid van sy dood te praat as hy wil.
Toe God se knegte van ouds die dood in die gesig gestaar het, het hulle nie gehuiwer om Jehovah God van hulle vrese te vertel nie. Die 39-jarige koning Hiskia het byvoorbeeld uiting gegee aan sy wanhoop toe hy uitgevind het dat hy gaan sterf (Jesaja 38:9-12, 18-20). Persone wat terminaal siek is, moet eweneens toegelaat word om uiting te gee aan droefheid wanneer hulle besef dat hulle lewe kortgeknip word. Hulle voel miskien gefrustreerd omdat persoonlike doelwitte, soos om te reis, ’n gesin te hê, kleinkinders te sien grootword of God in groter mate te dien, nou buite hulle bereik is. Hulle is dalk bang dat vriende en gesinslede hulle sal vermy uit vrees dat hulle nie sal weet hoe om te reageer nie (Job 19:16-18). Die vrees om te ly, beheer oor liggaamsfunksies te verloor of alleen te sterf, kwel hulle moontlik ook.
Anne-Catherine sê: “Dit is belangrik dat jy jou vriend toelaat om sy gevoelens uit te spreek, sonder om hom in die rede te val of hom te oordeel of sy vrese te kleineer. Dit is die beste manier om uit te vind hoe hy werklik voel en om sy wense, vrese en verwagtings te verstaan.”
Verstaan basiese behoeftes
Jou vriend se toestand, wat miskien vererger word deur aggressiewe terapieë en die nagevolge van sulke behandelings, kan jou so ontstel dat jy miskien ’n basiese behoefte van die pasiënt vergeet. Dit is die behoefte om sy of haar eie keuses te maak.
In party kulture probeer ’n gesin dalk die sieke beskerm deur die waarheid omtrent sy of haar toestand te verberg, selfs in so ’n mate dat hulle die pasiënt nie betrek by besluite oor mediese behandeling nie. In ander kulture kan ’n ander probleem ontstaan. Jerry, ’n verpleër, sê byvoorbeeld: “Besoekers is soms geneig om daar reg langs die sieke se bed oor hom te staan en praat asof hy nie meer daar is nie.” In albei gevalle word die pasiënt sy waardigheid ontneem.
Hoop is nog ’n basiese behoefte. In lande waar goeie mediese sorg beskikbaar is, hou hoop dikwels ten nouste verband met die moontlikheid om ’n doeltreffende behandeling te vind. Michelle, wat haar ma gehelp het toe haar kanker drie keer teruggekom het, verduidelik: “As my ma ’n ander behandeling wil probeer of ’n ander spesialis wil gaan spreek, help ek haar met haar navorsing. Ek besef dat ek realisties moet wees in my hart maar terselfdertyd positief in wat ek sê.”
Sê nou daar is geen hoop op genesing nie? Onthou dat die terminale pasiënt die dood openlik moet kan bespreek. Georges, die Christenopsiener wat vroeër aangehaal is, sê: “Dit is baie belangrik om nie weg te steek dat die persoon binnekort gaan sterf nie. Dit stel hom in staat om praktiese reëlings te tref en om vir sy dood voor te berei.” Hierdie voorbereiding kan ’n pasiënt laat voel dat hy sake afgehandel het en kan hom gerusstel dat hy nie ’n las vir ander sal wees nie.
Dit is natuurlik moeilik om hierdie sake te bespreek. Maar sulke openhartige gesprekke bied jou die unieke geleentheid om jou diepste gevoelens opreg uit te spreek. Die sterwende persoon wil dalk vorige geskille oplos, spyt uitspreek of vergifnis vra. Hierdie gesprekke kan jou verhouding met die sterwende hegter as ooit tevore maak.
Bied vertroosting gedurende die laaste paar dae
Hoe kan jy iemand vertroos wat die einde van sy lewe nader? Dr. Ortiz, wat vroeër aangehaal is, sê: “Laat die pasiënt sy of haar laaste wense uitspreek. Luister aandagtig. Indien moontlik, probeer doen wat die pasiënt wil hê. Wees eerlik as dit nie moontlik is om aan die pasiënt se wens te voldoen nie.”
Die sterwende persoon het miskien ’n groter behoefte as ooit tevore om in aanraking te bly met die mense wat vir hom die belangrikste in sy lewe is. Georges sê: “Help die pasiënt om met hulle in aanraking te kom, al is die gesprekke kort omdat hy swak is.” Selfs as dit net telefonies is, maak hierdie kontak dit vir hulle moontlik om mekaar aan te moedig en saam te bid. Christina, ’n Kanadese vrou wat drie geliefdes een ná die ander verloor het, sê: “Hoe nader hulle aan die einde van hulle lewe gekom het, hoe meer het hulle staatgemaak op die gebede van mede-Christene.”
Moet jy bang wees om voor jou geliefde te huil? Nee. As jy huil, gee jy in werklikheid jou sterwende geliefde die geleentheid om as vertrooster op te tree. Die boek The Needs of the Dying sê: “Dit is ’n baie roerende ondervinding om deur ’n sterwende vertroos te word, ’n ondervinding wat vir hulle uiters belangrik kan wees.” Deur ander te vertroos, kan die een wat die voorwerp van soveel sorg was, weer sy of haar identiteit as ’n liefdevolle vriend, vader of moeder vind.
Omstandighede kan natuurlik verhinder dat jy gedurende jou geliefde se laaste ure by hom of haar is. Maar as jy wel by jou vriend in ’n hospitaal of by die huis kan wees, moet jy sy of haar hand tot die einde toe probeer vashou. Hierdie laaste oomblikke bied jou die geleentheid om gevoelens uit te spreek wat jy moontlik selde verwoord het. Moenie toelaat dat die gebrek aan reaksie jou verhinder om totsiens te sê en jou liefde uit te spreek, asook jou hoop om hom of haar weer in die opstanding te sien nie.—Job 14:14, 15; Handelinge 24:15.
As jy hierdie laaste oomblikke ten beste benut, sal jy waarskynlik nie later verwyte hê nie. Trouens, hierdie oomblikke van intense emosie kan in die toekoms vir jou ’n bron van vertroosting wees. Jy sal bewys het dat jy ’n ware metgesel is “wanneer daar benoudheid is”.—Spreuke 17:17.
[Lokteks op bladsy 27]
As jy op die persoon fokus en nie op die siekte nie, strek dit jou sowel as jou geliefde tot voordeel
[Venster/Prent op bladsy 29]
’n Manier om ’n pasiënt se waardigheid te respekteer
In baie lande word pogings aangewend om ’n terminale pasiënt se reg te erken om in vrede en met waardigheid te sterf. Vooraf opgestelde, skriftelike riglyne kan dien as ’n nuttige hulpmiddel om hierdie regte te respekteer en pasiënte toe te laat om by die huis of in ’n hospies te sterf.
Vooraf opgestelde riglyne sal die volgende doen:
• Kommunikasie met dokters en familielede bevorder
• Die gesin bevry van die las om besluite te neem
• Die waarskynlikheid van ongewenste, nuttelose, aggressiewe, duur vorme van behandeling verminder
Vooraf opgestelde riglyne moet ten minste die volgende inligting bevat om doeltreffend te wees:
• Die naam van die persoon wat as jou gesondheidsorgverteenwoordiger optree
• Die vorme van behandeling wat jy sal aanvaar of weier as jou toestand onomkeerbaar word
• Indien moontlik, die naam van die dokter wat bewus is van jou keuses
[Prent op bladsy 26]
Fokus op die persoon se lewe en geskiedenis en nie net op die pasiënt se huidige toestand nie