Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/15 bl. 18-23
  • Hedendaagse Bybelverbranding misluk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hedendaagse Bybelverbranding misluk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE OPENBARE VERKONDIGING VAN DIE BOODSKAP VAN ONDERGANG
  • DIE EERSTE OPGETEKENDE BYBELVERBRANDING
  • Barug—Jeremia se getroue sekretaris
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Aan “die einde van die dae”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Die regte roete moet nou gekies word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Moenie ‘vir jou groot dinge soek’ nie
    God se woord vir ons deur Jeremia
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/15 bl. 18-23

Hedendaagse Bybelverbranding misluk

“Elke keer het hy . . . dit met die mes van ’n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was.”—Jer. 36:23.

1. Waarom is die verbranding van die hele Bybel of gedeeltes daarvan nie nuut nie?

DIE verbranding van die hele Heilige Bybel of gedeeltes daarvan is nie nuut nie. Die eerste aangemelde geval van so iets het meer as 2 600 jaar gelede plaasgevind. Dit was in die dae van die derdelaaste koning van die nasie vir wie die Bybel oorspronklik gegee is.

2. Wat het daartoe gelei dat Jeremia se geskrewe profesie in die vuur beland?

2 Dit was winter in Jerusalem, waar koning Jojakim naby ’n vuurpan gesit het waarin ’n vuur gebrand het om die troonkamer te verhit. Die feitlike verslag vertel vir ons presies hoe ’n belangrike deel van die Heilige Bybel brandstof vir die vlamme in hierdie vuurpan geword het. Ons haal hier daaruit aan:

“ln die vierde jaar van Jojakim, die seun van Josia, die koning van Juda, het van die HERE hierdie woord tot Jeremia gekom: Neem vir jou ’n boekrol en skrywe daarop al die woorde wat Ek met jou gespreek het oor Israel en Juda en oor al die nasies, van die dag af dat Ek met jou gespreek het, van die dae van Josia af, tot vandag toe. Miskien sal die huis van Juda luister na al die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen, sodat hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg en Ek hulle ongeregtigheid en hulle sonde vergewe” (Jer. 36:1-3).

As ons die voorafgaande 35 hoofstukke van die boek Jeremia lees, kan ons besef hoe ongewild hierdie skriftelike boodskap moes gewees het.

3. Waarom het Jeremia nie probeer om ’n laspos van homself te maak nie, en hoeveel tyd was daar nog vir die mense oor om iets omtrent die situasie te doen?

3 Vandag is die boodskap wat ooreenkom met wat Jeremia aangesê is om in die “boekrol” te skryf, net so ongewild. Maar die doel van die boodskap is nie net om mense te irriteer, om te vit, om hulle met doemprofesieë te teister nie. Daardie Christene wat vandag met die profeet Jeremia ooreenkom, probeer nie om lasposte van hulleself te maak nie. Nee, maar hulle lewer ’n openbare diens deur al die mense te waarsku oor die komende internasionale ramp. Dit kan party mense beweeg om berou te toon en te verbeter terwyl Jehovah nog goedgesind is. As hulle hierdie weg inslaan, kan hulle gespaar word gedurende die wêreldramp wat voorlê. Destyds in Jeremia se dag het die nasie van Juda net 18 jaar oorgehad voordat die Babiloniërs die heilige stad Jerusalem vernietig het. Vandag is die hedendaagse Jeremia-klas al 60 jaar bedrywig. Hoeveel tyd is daar oor vir Jerusalem se teenbeeld, die valse Christendom, voor haar rampspoedige vernietiging die “groot verdrukking” vir die hele wêreld aan die gang sit?—Matt. 24:21, 22.

DIE OPENBARE VERKONDIGING VAN DIE BOODSKAP VAN ONDERGANG

4. Hoe is die boodskap aan Jerusalem oorgedra nadat Jeremia sy profesieë reg van die begin af klaar saamgestel het, en waarom?

4 Gehoorsaam het Jeremia die boodskap vir sy sekretaris, Barug, die seun van Neria, gedikteer. Daardie manuskrip het al die woorde van Jehovah aan Jeremia bevat vanaf die 13de jaar van die bewind van koning Josia, die jaar toe Jehovah die jong aangewese priester Jeremia as ’n profeet verwek het. Na die voltooiing van die manuskrip het Jeremia nie in staat gevoel om na Jerusalem, net sowat vyf kilometer vanaf sy Levitiese tuisdorp, Anatot, te gaan om die manuskrip hardop in die voorhowe van die tempel te lees nie. Hy het gevolglik sy sekretaris Barug soontoe gestuur om dit te doen en bygevoeg: “Miskien sal hulle smeking voor die aangesig van die HERE kom en sal hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg; want groot is die toorn en die grimmigheid wat die HERE teen hierdie volk uitgespreek het.”—Jer. 36:4-7.

5. Wanneer sou dit ’n gepaste tyd wees om die manuskrip met Jeremia se profesieë in Jerusalem se tempel te lees?

5 Hoe sou enigeen van ons daarvan gehou het om so iets hardop te lees in ’n openbare plek waardeur mense geloop het? Dit moes moed van Barug geverg het. Maar in die krag van sy God het hy dit gedoen! Ons moet egter onthou dat Barug tyd nodig gehad het om alles neer te skryf wat Jeremia vir hom gedikteer het (Jer. 36:17, 18). Aangesien die manuskrip Jehovah se streng boodskappe teen al die nasies, onder andere Israel en Juda, bevat het, sou ’n openbare gebeurtenis ’n gepaste tyd wees vir so ’n manuskrip om voorgelees te word. Sê byvoorbeeld ’n nasionale vasdag! Dan sou Jerusalem se tempel van die vasters wemel. ’n Hele ruk sou verstryk voordat so ’n geleentheid hom voordoen!

6. Hoe het dit gedurende die jaar dat Jeremia sy manuskrip geskryf het, duidelik geword wie die een sou wees wat gebruik sou word om Jeremia se profesie oor Jerusalem se omverwerping te vervul?

6 Barug se openbare voorlesing van die voltooide manuskrip het dus nie plaasgevind in die vierde jaar van koning Jojakim, die jaar waarin koning Nebukadnesar van Babilon die leërs van Farao Nego van Egipte verslaan het en homself die wêreld se nuwe heerser gemaak het nie. Hierdie Nebukadnesar was die nie-Joodse heerser wat Jeremia voorspel het die een sou wees om Juda en Jerusalem omver te werp, iets wat gevolg sou word deur 70 jaar waartydens die land sonder mens of dier woes sou lê.—Jer. 36:6; 25:1-11.

7. In watter jaar en by watter geleentheid het Barug Jeremia se manuskrip in die tempel van Jerusalem gelees?

7 Toe breek die vyfde jaar van koning Jojakim van Juda aan. Dit het saamgeval met die tweede jaar van Nebukadnesar as wêreldheerser. Die verslag in Jeremia 36:9, 10 staaf dit. Dit lui:

“ln die vyfde jaar [624-623 v.G.J.] van Jojakim, die seun van Josia, die koning van Juda, in die negende maand [Chislev, of, November-Desember], het hulle ’n vasdag voor die aangesig van die HERE uitgeroep—die hele volk in Jerusalem en die hele volk wat uit die stede van Juda in Jerusalem gekom het. En Barug het uit die boek gelees die woorde van Jeremia, in die huis van die HERE, in die kamer van Gemarja, die seun van Safan, die skrywer, in die boonste voorhof by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van die HERE, voor die ore van die hele volk.”

8. In watter seisoen van die jaar het Barug Jeremia se bevele aan hom uitgevoer?

8 Die bewinde van die konings van Juda is gereken van die noordelike lentemaand Abib of Nisan. Die negende maand van hulle maanjaar, wat later Chislev genoem is, sou in die noordelike winter val. Dit sou ’n deel insluit van wat ons Desember noem (hierdie Latynse naam beteken 10de maand). In die dae van die Makkabeërs is daar begin om die “fees van die tempelwyding” op 25 Chislev te hou, en daar is gesê dat dit in die “winter” was (Joh. 10:22). Ondanks die winterweer van die maand Chislev het Barug, die sekretaris van Jeremia, Jeremia se bevele uitgevoer.

9. Hoe het die vorste van Juda gevoel oor die manuskrip wat aan hulle voorgelees is, en wat het hulle Barug aangesê om saam met Jeremia te doen?

9 Jeremia se woorde wat Barug vir die mense by die tempel voorgelees het, was vir die hele nasie van belang. Die vorste van Juda het Barug dus ontbied om die profetiese boodskap vir hulle te lees (Jer. 36:11-15). As ons onthou wat die vorige hoofstukke van Jeremia se profesie oor die gedoemde koninkryk van Juda te sê gehad het, kan ons besef waarom die vorste verskrik was toe hulle gehoor het wat Barug vir hulle lees. Nasionalisties het hulle verplig gevoel om vir koning Jojakim daarvan te vertel. Hulle het die manuskrip by Barug geneem, maar omdat hulle die boek se outeur en die neerskrywer goedgesind was, het hulle vir Barug gesê dat hy en Jeremia hulle moes gaan verberg. Dit het goed uitgewerk.—Jer. 36:16-20.

DIE EERSTE OPGETEKENDE BYBELVERBRANDING

10. Wat het koning Jojakim gedoen terwyl Jehudi die boek vir hom voorgelees het, en wat was die uitwerking hiervan?

10 Die vorste het na die winterpaleis van koning Jojakim gegaan om verslag te lewer. Hy wou die rol van Jeremia se profesie in die hande kry. Hy het dus die hofamptenaar genaamd Jehudi gestuur om die boek by die tempel te gaan haal waar dit gelaat is. Wat het nou gebeur terwyl Jehudi die rol oopgerol en kolom na kolom voorgelees het? “Elke keer het hy [koning Jojakim], as Jehudi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van ’n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was. En hulle was nie verskrik nie en het hulle klere nie geskeur nie—die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het.”—Jer. 36:21-24.

11. Hoe het Jojakim se gedrag verskil van die van sy vader Josia toe Deuteronomium vir laasgenoemde voorgelees is, en het Jojakim Deuteronomium 17:18-20 gehoorsaam?

11 Watter minagting tog vir die geïnspireerde, geskrewe woord van God! Hoe anders as die gedrag van sy vader Josia was hierdie optrede van koning Jojakim tog! Toe die boekrol Deuteronomium, soos dit deur die profeet Moses geskrywe is, ontdek is tydens die reiniging van die ontheiligde tempel, het Josia ’n sekretaris dit vir hom laat lees. Josia het dit ter harte geneem en sy klere geskeur. Toe het hy sy volk voorgegaan en ’n spesiale verbond met Jehovah gesluit om hom te gehoorsaam en om sy reine aanbidding te beoefen (2 Kron. 34:14-33). Daarbenewens het daardie einste wet beveel dat enige toekomstige koning van Israel ’n juiste afskrif van die wet moes maak en dit gereeld moes lees en onderhou (Deut. 17:18-20). Watter aanduidings is daar dat koning Jojakim so ’n godvrugtige ding gedoen het? Nie ’n enkele nie! Hy het ’n slegte voorbeeld gestel!

12. Watter twee voorvalle word hier gemeld om te toon of daar vandag mense soos koning Jojakim is?

12 Is daar hedendaagse Jojakims? Ja, waar dit by die verbranding van eksemplare van die Heilige Skrif kom. Ja, reg in die ryk van die valse Christendom! Onthou byvoorbeeld hoedat ’n Rooms-Katolieke priester in 1961 in Ejutla, Oaxaca, Mexiko, ’n gepeupel opgehits het om ’n huis waar kulturele vergaderinge gereeld gehou is binne te val en te plunder. Hulle het op al die Bybels wat hulle kon vind, beslag gelê en hulle op die stadsplein verbrand. Die plaaslike koerant het berig dat hulle dit gedoen het asof hulle “’n geloofsdaad verrig”. In Februarie 1962 het ’n communiqué in Portugal die verspreiding van Jehovah se Getuies se lektuur deur die pos verbied. Hoewel die Portugese regering geen amptelike kennisgewing gepubliseer het dat Jehovah se Getuies verban is nie, is daar op groot hoeveelhede van hulle godsdienslektuur en Bybels beslag gelê en is dit verbrand.

13, 14. (a) Wat het twee jaar gelede in hierdie verband in Argentinië gebeur? (b) Watter vraag laat dit ontstaan, en wat is die eintlike rede waarom die geestelikes probeer om ‘n einde aan Jehovah se Getuies se Christelike bedrywigheid te maak?

13 In 1976 is Jehovah se Getuies in Argentinië in die ban gedoen, en twee jaar gelede is daar by hulle hoofkwartier en Buenos Aires op groot hoeveelhede van hulle lektuur beslag gelê, onder andere 250 eksemplare van die New World Translation of the Holy Scriptures in Spaans. Dit is alles aan papiervervaardigers verkoop wat dit versnipper en tot pulp gekook het vir sellulose. En Jehovah se Getuies wat uitgeken is toe hulle Argentinië vanaf Uruguay binnegekom het, se Bybels is weggeneem en verbrand. Ons kan ’n reeks ander gevalle van Bybelverbranding vir ons lesers meld, maar al hierdie dinge laat ’n vraag ontstaan.

14 Wat maak die Bybel oënskynlik ’n gevaarlike instrument in die hande van Jehovah se Getuies sodat daar selfs in sogenaamde Christelike lande op so ’n onregverdige wyse daarop beslag gelê word en dit dan vernietig word? Is dit omdat nasionaliste Jehovah se Getuies beskou soos koning Jojakim Jeremia en Barug beskou het—as ondermynende politieke gevare vir die Staat, persone wat verdedigingsmaatreëls van die nasie dwarsboom? Dit is wat godsdiensleiers van die Christendom graag wil hê dat politieke en ander elemente van die Staat moet glo! Maar die eintlike rede waarom regeringsamptenare en geestelikes ’n einde aan die Christelike bedrywigheid van Jehovah se Getuies wil maak, is die volgende: Hulle dien dieselfde God wat Jeremia en Barug gedien het, en hulle kry ’n boodskap van God uit die Hebreeuse Skrifte wat ooreenkom met die van die profeet Jeremia. Net soos Jeremia gehoorsaam hulle dan Jehovah se bevel wat in die geïnspireerde Skrif bevat word en verkondig hulle Sy boodskap teen die huidige bose stelsel van dinge, met inbegrip van die valse Christendom en al die wêreldlike elemente met wie sy ’n intieme verhouding het om hulle daadwerklike steun te kry. Weg dus met Jehovah se Getuies wat die valse Christendom aan die kaak stel!

15, 16. (a) Watter voorvalle in die sewende eeu v.G.J. het ons om te toon of alle ondergeskikte beamptes teistering van Jehovah se Getuies steun? (b) Wat het Jehovah vir sy knegte gedoen?

15 Daar was en is steeds ’n paar ondergeskikte regeringsbeamptes wat nie hulle meerderes in hierdie gemene vervolging van Jehovah se Getuies steun nie. Hulle teken protes aan, uit ’n sin vir billikheid en uit eerbied vir die God van wie hierdie geteisterde Christene getuies is—maar alles tevergeefs! Dit is net soos in die besondere geval van die sewende eeu v.G.J. “Alhoewel selfs Elnatan en Delaja en Gemarja by die koning daarop aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie. Toe gee die koning bevel aan Jeragmeël, die seun van die koning, en Seraja, die seun van Asriël, en Selemja, die seun van Abdeël, om die skrywer Barug en die profeet Jeremia te vang. Maar die HERE het hulle verberg.”—Jer. 36:25, 26.

16 Koning Jojakim het nie sy koninklike erfgenaam Jojagin nie, maar sy “seun” Jeragmeël saam met twee ander amptenare gestuur om Jeremia en sy sekretaris op te spoor. Die koning het klaarblyklik bose bedoelings gehad. Maar Jehovah het nie toegelaat dat hulle gevind word waar hulle hulle verberg het nie, hetsy in Jerusalem of in nabygeleë Anatot of elders. Reg aan die begin van sy profetiese loopbaan is Jeremia deur Jehovah verseker: “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.”—Jer. 1:19.

17, 18. (a) Sou Jojakim se doel met Bybelverbranding bereik word, volgens die vroeëre profesie van Jesaja 40:8? (b) Wat is Jeremia beveel om op ’n ander rol teen Jojakim te skryf?

17 In die eeu voor Jeremia het die profeet Jesaja geskryf: “Die woord van onse God hou stand in ewigheid” (Jes. 40:8; 1 Pet. 1:25). Koning Jojakim se verbranding van Jeremia se manuskrip sou dus nie sy doel bereik nie—God sou daarvoor sorg. Dit was sy voorneme dat ons vandag, meer as twee-en-’n-half millenniums later, die volledige profesie van Jeremia moes hê. Hoe het dit gekom? Jeremia vertel vir ons terwyl hy en Barug deur Jehovah verberg is.

18 “Toe kom die woord van die HERE tot Jeremia—nadat die koning die rol verbrand het met die woorde wat Barug uit die mond van Jeremia opgeskrywe het—en sê: Neem vir jou weer ’n ander rol en skrywe daarop al die vorige woorde wat op die eerste rol was, wat Jojakim, die koning van Juda, verbrand het. En aangaande Jojakim, die koning van Juda, moet jy sê: So spreek die HERE: Jý het hierdie rol verband met die woorde: Waarom het jy daarop geskrywe en gesê: Die koning van Babel sal sekerlik kom en hierdie land verwoes en mens en dier daar uitroei? Daarom, so spreek die HERE aangaande Jojakim, die koning van Juda: Hy sal nooit een hê wat op die troon van Dawid sit nie, en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue. En Ek sal aan hom en sy geslag en sy dienaars hulle ongeregtigheid besoek; en Ek sal oor hulle en die inwoners van Jerusalem en die manne van Juda al die onheil bring wat Ek teen hulle gespreek het sonder dat hulle geluister het.”—Jer. 36:27-31.

19. Watter soort werk sou Jeremia en Barug moes doen om aan God se bevel gehoorsaam te wees, en wat het die nuwe manuskrip bevat?

19 Gehoorsaamheid aan God se bevel sou beteken dat die profeet en sy sekretaris ondergronds moes werk. Was Jeremia gehoorsaam? “Toe het Jeremia ’n ander rol geneem en dit aan die skrywer Barug, die seun van Neria, gegee; en hy het daarop uit die mond van Jeremia geskrywe al die woorde van die boek wat Jojakim, die koning van Juda, met vuur verbrand het; en nog baie dergelike woorde is daaraan toegevoeg.”—Jer. 36:32.

20. Watter soort begrafnis het Jojakim gehad, en het enige seuns van sy seun Jojagin op Jerusalem se troon gesit?

20 Soos sake verloop het, het Jojakim ’n skandelike dood gesterf en is hy nie in die grafte van die konings van Jerusalem begrawe nie, net so min as wat ’n esel begrawe sou word (Jer. 22:18, 19). Sy seun Jojagin (of, Gonja) het slegs drie maande en 10 dae in Jerusalem geregeer en hom toe aan die Babiloniërs oorgegee, waarna hy na Babilon weggevoer is om nooit weer terug te keer nie (Jer. 22:24-30; 37:1). Tot die vernietiging van die herboude stad Jerusalem deur die Romeine in 70 G.J. het geen afstammeling van Jojagin, die seun van Jojakim, die koning van Juda, die koninklike troon in Jerusalem bestyg nie. Jeremia se profetiese woorde, wat in sy skuilplek geskryf is, is gewis bewaarheid!

21. Wat doen Jehovah se Getuies vandag wanneer hulle ondergronds gedryf word, en hoe geslaagd was hedendaagse Bybelverbranding?

21 Vandag is Jehovah se Getuies in talle lande ondergronds gedryf. Wat doen hulle wanneer die Bybels wat hulle besit en gebruik, gekonfiskeer en verbrand word? Hulle druk eenvoudig self meer Bybels of kry vertalings van ander Bybels en gebruik dié. Hulle verkondig die boodskap van ondergang teen die God-uittartende wêreld, wat met Jeremia se boodskap ooreenkom, selfs ondergronds as dit moet. Bybelverbranding om Jehovah se Getuies vandag die swye op te lê, het misluk. Dit het hulle nie afgeskrik om Bybellektuur te versprei nie en sal ook nie verhoed dat Jehovah se Woord in die vurige tye wat voorlê in sy volle krag bewaarheid word nie! Teenstanders toon eenvoudig dat hulle dan ewige vernietiging verdien!

[Prent op bladsy 18]

Jojakim verbrand God se woord—’n voorbeeld wat vandag gevolg word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel