Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 5/1 bl. 8-13
  • Vreugdevolle feeste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vreugdevolle feeste
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE FEES VAN DIE ONGESUURDE BRODE
  • DIE FEES VAN DIE WEKE
  • DIE HUTTEFEES
  • Feeste wat mylpale in Israel se geskiedenis was
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Jy moet net vreugdevol wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • ’n Fees wat deur miljoene gevier sal word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Feestelike verligting
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 5/1 bl. 8-13

Vreugdevolle feeste

“Jy moet net maar vrolik wees.”—Deut. 16:15.

1. Wie is vandag die gelukkigste mense, en waarom?

WIE geniet nie ’n fees nie? Deur die eeue heen het die volke van die aarde feeste geniet. Dit was waar van die volk wat hulle volkswette van die mens se Skepper deur sy profeet Moses ontvang het. Maar hulle feeste was anders; hulle was profeties van goeie dinge in die toekoms. Vreugde is eweneens die deel van die hedendaagse teenbeeld van daardie eertydse feesvierders in die Midde-Ooste, want hulle ervaar die vervulling van daardie profetiese feeste. Uit die standpunt van die Heilige Bybel is hierdie hedendaagse feesvierders geestelike Israeliete, en hulle is die gelukkigste mense op die aardbodem.

2. Vir hoeveel feeste het Deuteronomium 16:16 voorsiening gemaak, en wat was hulle?

2 Die geïnspireerde boeke wat deur Moses geskryf is, maak voorsiening vir drie feeste. In die vyfde boek, genaamd Deuteronomium, hoofstuk 16, vers 16, lees ons: “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie.”

3. Wat was die situasie van die natuurlike Israeliete toe die verdere woorde van Deuteronomium 16:17 gespreek is?

3 Vers 17 sê: “Elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.” Toe daardie woorde geuiter is, het die Israeliete in tente gewoon en was hulle op pad na die Beloofde Land Kanaän.

DIE FEES VAN DIE ONGESUURDE BRODE

4. Watter was die eerste fees, en wat het die hoëpriester op die tweede dag daarvan aan Jehovah geoffer?

4 Die eerste van die jaarlikse feeste, naamlik die fees van die ongesuurde brode, is gevier onmiddellik na die viering van die Pasga-aandmaal op 14 Abib of Nisan. Die fees van die ongesuurde brode het sewe dae geduur, van 15 Nisan tot en met 21 Nisan. Die eerste dag van hierdie fees was die sabbatdag na die viering van die Pasga-aandmaal. Op die tweede dag van die fees, of 16 Nisan, het die Israelitiese hoëpriester ’n gerf van die garsoes wat pas tevore ryp geword het by Jehovah se tempel in Jerusalem aan Hom geoffer.—Lev. 23:11-16.

5. Waarom het Jesus nie die fees op 15 Nisan 33 G.J. gevier nie, en wanneer het sy dissipels ongeëwenaarde vreugde gesmaak?

5 Daar bestaan ’n geskiedenisverslag oor ’n twaalfjarige seun wat van Nasaret na Jerusalem geneem is om die Pasga te vier. Die seun was Jesus, die seun van Maria. Agttien jaar later, in 29 G.J., het daardie manlike Israeliet, nou die Here Jesus Christus, die “Lam van God” geword wat deur die Paaslam afgebeeld is (Luk. 2:41-52; Joh. 1:29-37). Drie-en-’n-half jaar later, op Vrydag, 14 Nisan 33 G.J., is hy inderdaad aan ’n boom te Kalvarie, buitekant Jerusalem, geoffer. Daardie Vrydagnag het 15 Nisan begin, en so ook die fees van die ongesuurde brode, maar Jesus het nie deelgeneem aan die vreugde wat so ’n geleentheid gekenmerk het nie. Hy was dood en begrawe. Hoewel die Jode hulle oor die algemeen met die aanvang van hulle fees te Jerusalem verheug het, het die dissipels van Jesus dit nie gedoen nie. Hulle het gerou oor wat vir hulle gelyk het na die permanente verlies van hulle Leier. Maar op die volgende dag, Sondag, 16 Nisan, is hulle droefheid in vreugde verander wat nie geëwenaar is deur die van die Jode wat die fees gevier het nie.

6. Wat het die garsgerf wat op 16 Nisan deur die hoëpriester beweeg is in die lig van 1 Korinthiërs 15:20 afgebeeld, en waarom?

6 Waarom? Want hulle Leier, Jesus Christus, is deur die almag van sy hemelse Vader, Jehovah, uit die dode opgewek. Toe hy oor die opstanding geskryf het, het die Christenapostel Paulus verduidelik wat dit beteken het: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15:20). Die gerf van die eerstelinge van die garsoes wat die Joodse hoëpriester op Sondag, 16 Nisan, by die tempel voor Jehovah beweeg het, het dus ’n indiwidu, die verrese Here Jesus Christus, afgebeeld, die eerste een wat tot die ewige lewe uit die dood opgewek is. Hy alleen was dus die een wat ‘die eersteling van die wat ontslaap het’, genoem kon word. Hierdie wonderwerk het op die tweede dag van die fees plaasgevind.

7. Waarom is suurdeeg gedurende die sewedaagse fees nie in Joodse wonings toegelaat nie, en wat het dit herdenk?

7 Gedurende die sewe dae van die fees kon geen suurdeeg in enige woonplek van die Jode aangetref word nie, want suurdeeg het iets voorgestel wat nie in harmonie met God is nie—sonde. Hierdie fees het in werklikheid die feit herdenk dat die Israeliete, weens hulle haastige uittog uit Egipte, nie genoeg tyd gehad het om hulle deeg in te suur nie. Hulle moes dus ongesuurde brood eet, net soos wat hulle op die Pasgadag gedoen het.—Ex. 12:11-34; Deut. 16:2-4.

8, 9. Op watter voorsiening moet die teenbeeldige fees van die ongesuurde brode volg om met die tipe ooreen te kom, en hoe beaam Paulus dit?

8 Net soos die fees van die ongesuurde brode op die Pasga gevolg en sewe dae geduur het, moet die teenbeeld van hierdie fees volg op die offerande van die “Lam van God”, Jesus Christus, op Vrydag, 14 Nisan 33 G.J. Aangesien die aantal dae van die fees, naamlik sewe, volmaaktheid, volkomenheid afbeeld, het die teenbeeldige fees deur die eeue heen tot nou toe voortgeduur, en daardie Christene wat innerlik geestelike Israeliete, Jode, is, is verplig om dit te onderhou. In 1 Korinthiërs 5:6-8 verwys die apostel Paulus na die teenbeeldige fees wanneer hy skryf:

9 “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.”

10. Waarom en hoe moet die teenbeeldige fees vandag gevier word, en waarom kan die feesvierders “net maar vrolik wees”?

10 Dit is omstreeks 55 G.J. geskryf, of 22 jaar na Christus se offerdood. Die geestelike Israeliete wat daardie woorde van die apostel Paulus meer as 19 eeue later lees, staan vandag onder verpligting om die teenbeeldige fees te vier, naamlik met reinheid en waarheid. Wanneer die gesalfde oorblyfsel geestelike Israeliete dit doen, kan hulle die gees van die eertydse tipiese fees verkry en “net maar vrolik wees”. Waarom? Omdat die getroue viering van die teenbeeldige fees ’n rein, teokratiese organisasie ten gevolge het waaraan Jehovah sy goedkeuring kan skenk.

DIE FEES VAN DIE WEKE

11. Watter was die tweede van die verpligte feeste, en waarom het dit daardie naam gekry?

11 Die tweede van die verpligte feeste van eertydse Israel was die fees van die weke. Waarom is dit so genoem? Omdat die Israeliete sewe weke moes tel vanaf 16 Nisan, die dag waarop hulle hoëpriester die gerf pasryp graan as die eerstelinge van die garsoes vir Jehovah aangebied het. Hierdie tydperk sou 49 dae beloop, en op die 50ste dag moes hulle die fees van die weke vier. In Grieks, die taal waarin ’n groep Jode hulle Bybel vertaal het, is die woord vir 50ste (dag) pentecostēʹ. Dit is wat die Griekssprekende Jode die fees van die weke genoem het, en vandaar die Afrikaanse naam Pinkster. Wat moes op hierdie dag gedoen word?

12. Waardeur is hierdie feesdag volgens Levitikus 23:15-21 gekenmerk?

12 Ons vind die antwoord in Levitikus 23:15-21: “Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring—sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die HERE bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ’n efa fynmeel wees; . . . en die priester moet hulle saam met die eerstelingsbrood as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg saam met die twee lammers; dié moet aan die HERE heilig wees, ten voordele van die priester. En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ’n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ’n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte.”

13. Wanneer het die teenbeeldige Pinksterfees aangebreek, en waardeur is daardie geleentheid gekenmerk?

13 Hierdie profetiese fees van die weke, of Pinksterfees, is vir die gemeente van Jesus se dissipels te Jerusalem vervul op die 50ste dag na sy opstanding uit die dode. Die teenbeeldige fees van die weke, of Pinksterfees, het dus begin op die sesde dag van die derde maanmaand, dit wil sê, op 6 Siwan van die jaar 33 G.J. Die verheerlikte Jesus Christus was op daardie dag in die Allerheiligste van Jehovah se groot geestelike tempel, naamlik, in die persoonlike teenwoordigheid van Jehovah in die hemel, waarheen hy op die 40ste dag na sy opstanding opgevaar het. Terwyl die Jode die tipiese fees van die weke, of Pinksterfees, by Herodes se tempel in Jerusalem gevier het, het ongeveer 120 dissipels van die geestelike Hoëpriester, Jesus Christus, in ’n bovertrek in daardie stad vergader. Toe, voor die derde uur van die dag (9 vm.), het die Here Jesus Christus heilige gees uit die Allerheiligste van Jehovah se geestelike tempel uitgestort. Dit het meegebring dat hulle deur hulle hemelse Vader, Jehovah, geestelik verwek is en dat hulle deur middel van hulle Hoëpriester, Jesus Christus, met heilige gees gesalf is (Hand. 2:1-36). Die twee simboliese brode van fynmeel het dus Jehovah se erkenning in die hemel, in sy Allerheiligste, geniet.—Hebr. 9:24.

14. (a) Wat word afgebeeld deur die feit dat die twee koringbrode suurdeeg bevat het? (b) Watter redes kan aangevoer word waarom daar twee brode was?

14 Waarom is daar, tydens die tipiese fees van die weke, of Pinksterfees, twee graanbrode, gemaak van die koringoes wat pas ryp geword het, vir Jehovah aangebied? Dit het afgebeeld dat daar meer as een indiwidu by die vervulling betrokke sou wees. Die twee tipiese koringbrode is met suurdeeg gebak. Dit toon dat diegene wat die vervulling van die fees beleef deur aangebore sonde ingesuur sou wees, wat die geval was met die 120 dissipels van die sondelose Jesus wat op Sondag, 6 Siwan 33 G.J. in Jerusalem gewag het. Die feit dat daar twee brode was, kan ook aandui dat die geesverwekte, gesalfde dissipels van die Messias Jesus uit twee groepe op aarde geneem sou word, eerstens uit die natuurlike, besnede Jode en later uit al die ander nasies van die wêreld, die nie-Jode of heidene. Die twee groepe sou saam een teenbeeldige beweegoffer vir Jehovah uitmaak.—Ef. 2:13-18.

15. Wanneer is die brood wat die Jode afgebeeld het vir Jehovah aangebied, en hoe is sy erkenning daarvan getoon?

15 Uit die laasgenoemde oogpunt beskou, het die Hoëpriester Jesus die eerste van die teenbeeldige brode, wat die besnede Israeliete afgebeeld het, presies op tyd, op 6 Siwan, vir Jehovah God aangebied. Dit was dieselfde dag waarop die Joodse hoëpriester die twee tipiese brode voor Jehovah in Herodes se tempel in Jerusalem beweeg het. Aangesien daardie twee koringbrode nie langer as ’n tipe nodig was nie, het Jehovah hulle nie erken nie, en dus het die Jode wat by Herodes se tempel fees gevier het, nie die gawe van die heilige gees ontvang nie. Die Jode wat die vervulling van Joël 2:28, 29 op hulle wou ervaar, moes wegkom van die tipiese tempel en in aanraking kom met die 120 dissipels van Christus oor wie die profesie reeds vervul is. Sodoende het ongeveer 3 000 van hulle op daardie dubbele Pinksterdag van 33 G.J. deel van die teenbeeldige beweegbrood geword.

16. Wanneer is die tweede simboliese brood vir Jehovah aangebied, en hoe lank is die twee simboliese brode al besig om voltallig te word?

16 Daar is later begin om die tweede simboliese brood, wat die heidene of nie-Jode afgebeeld het, voor Jehovah te beweeg met die toelating van die gelowige Samaritane tot die Christengemeente en daarna met die toelating van die onbesnede nie-Jode of lede van die nasies oor die algemeen. Daar word gemeen dat laasgenoemde in die noordelike herfs van 36 G.J. plaasgevind het (Hand, hfste. 8 en 10). Die twee teenbeeldige brode het gedurende hierdie afgelope 19 eeue voltooiing genader. Die feite toon dat party in onlangse tye bygevoeg is om deel van die “brode” te word, en hulle is afgebeeld deur Rut, die Moabiet en voormoeder van Jesus Christus, en deur koningin Ester, die niggie van die Jood Mordegai wat die eerste minister van die Persiese Ryk geword het.—Kyk die boek Preservation, wat in 1932 uitgegee is en die materiaal bevat van die reeks artikels wat in 1931 en 1932 in nommers van The Watchtower verskyn het.

17. (a) Die proses om die twee simboliese brode voltallig te maak, was ’n rede waarvoor aan die kant van die feesvierders? (b) Om watter rede kan diegene wat die simboliese brode uitmaak “eerstelinge” genoem word?

17 Die voltooiing van die ledetal van die twee teenbeeldige Pinksterbrode gedurende die afgelope 1 900 jaar was vir daardie geestelike Israeliete wat die teenbeeldige fees van die weke vier ’n rede tot groot vreugde. Net soos die twee tipiese brode die eerstelinge in die oesmaand Siwan verteenwoordig het, is diegene wat die teenbeeldige brode uitmaak ook eerstelinge vir Jehovah God deur Jesus Christus, aangesien hulle voorrang bo die res van die mensdom geniet, daar hulle ’n hemelse erfenis as die eerste voordele van die offer van die “Lam van God” ontvang.—Jak. 1:18; Openb. 14:4.

DIE HUTTEFEES

18. Wat is die laaste fees van die Joodse heilige jaar genoem, wanneer is dit gevier, en wie het daaraan deelgeneem?

18 Die laaste groot fees van die Joodse heilige jaar is in die sewende maand, die maand Etanim, of Tisjri, gehou (1 Kon. 8:2). Dit was in sekere opsigte ’n besondere fees. Dit word meestal die huttefees genoem, maar word twee keer die fees van die insameling genoem (Ex. 23:16; 34:22). Exodus 23:16, 17 sê byvoorbeeld: “Verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel. Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here HERE verskyn.” En Exodus 34:22 praat van “die fees van die insameling by die wisseling van die jaar”. Deuteronomium 16:13-15 verwys daarna as die huttefees en sê: “Die huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou. En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is. Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies; want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.”

19. (a) Waarom is die wyse waarop hierdie fees gevier is, getrou aan sy naam? (b) Waarom was die tyd vir hierdie fees ’n uiters gunstige vir die feesvierders?

19 Hierdie fees word merendeels “die huttefees” genoem. Gedurende die sewe dae daarvan het die Jode wat by Jerusalem vergader het in hutte of tente gewoon, net soos die naam van die fees aandui. Dit het begin vyf dae na die Versoendag wat jaarliks op 10 Tisjri geval het en waardeur die nasie Israel tot ’n vreedsame verhouding met Jehovah God herstel is. Die huttefees het dus op ’n uiters gunstige tyd begin en van 15 Tisjri tot 21 Tisjri geduur, ’n volkome getal dae.

20. Wat het ’n priester, volgens nie-Bybelse geskiedenisverslae, elke oggend van die fees gedoen?

20 Dit is deur ongeëwenaarde blydskap gekenmerk. Volgens geskiedkundige verslae het ’n priester teen dagbreek van elke feesdag ’n goue kruik met ’n maat van ongeveer ’n liter geneem en van Jerusalem af geloop na wat later die poel Siloam genoem is. Diegene onder ons lesers wat hedendaagse Jerusalem besoek het, sal onthou dat hulle, toe hulle die stad deur die Aspoort in die suidoostelike hoek verlaat het, na die Maagdeput of die Gihonput afgeloop het. Dit is vanaf hierdie put dat koning Hiskia ’n tonnel laat grawe het toe Jerusalem deur ’n Assiriese inval bedreig is. Moedige besoekers sal onthou hoedat hulle, nadat hulle ’n hele ruk lank hulle weg deur die donkerte van hierdie tonnel gevoel het, by die poel Siloam uitgekom het.

21. (a) Hoe het die priester by die poel Siloam gekom, en wat het hy met die water van Siloam gedoen? (b) Aan watter woorde van Jesaja se profesie sou die gejubel op hierdie tydstip die Jode herinner?

21 Dit is nie deur Hiskia se tonnel nie, maar gevolg deur ’n groot optog, wat ’n orkes ingesluit het, dat die priester met die goue kruik na die poel Siloam gegaan het. Nadat hy die kruik met water gevul het, het die priester na die stad teruggekeer en na die voorhof gegaan waar Jehovah se offeraltaar geleë was. Aan die suidekant van die altaar was daar twee komme, elk met ’n gat in die boom. Die kom aan die altaar se suidwestelike hoek was vir die water van die poel Siloam. Wanneer die priester die water daarin gegooi het, het dit deurgeloop en teen die voetstuk van die altaar uitgeloop. Tydens hierdie geleentheid het die Jode wat teenwoordig was hulle grootliks verheug. Dit het die vreugdevolle feesvierders dalk herinner aan Jesaja, hoofstuk 12, wat die blydskap beskryf wat die Israeliete ervaar het toe hulle in 537 v.G.J. uit ballingskap in Babilon vrygelaat is. Jesaja 12:3 lui: “Julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.”

22. (a) Hoe was Jehovah die Bron van water van redding vir die voorvaders van die Joodse feesvierders? (b) Hoe is die gejubel ten tye van die uitgieting van die water van Siloam beskryf?

22 Jehovah God was die hemelse Bron van hulle heil of redding. Hy was die Een wat hulle voorvaders verlos het na die 70 jaar van ballingskap in heidense Babilon waar hulle, ná Babilon se val in 539 v.G.J., na redding gesmag het (Jes. 44:28-45:7; Jer. 2:13). Die gedagte aan hierdie verlossing was ’n rede tot blydskap tydens die huttefees. ’n Ou Joodse spreuk lui: ‘Hy wat nog nooit die gejubel tydens die uitgieting van die water van Siloam gesien het nie, het nog nooit gejubel in sy lewe gesien nie.’

[Prent op bladsy 8]

Die gerf eerstelinge van die garsoes beeld die verrese Jesus af

[Prent op bladsy 9]

Sedert Pinkster geniet die twee simboliese brode Jehovah se erkenning in die hemel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel