’n Fees wat deur miljoene gevier sal word
1. Watter getuienis oor deelname aan die teenbeeldige huttefees deur die “ander skape” het in 1931 aan die lig gekom? En in 1932?
NEEM die “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus, deel aan die viering van die teenbeeldige huttefees? Die verblydende getuienis is dat hulle dit op God se bestemde tyd gaan doen. Feestelike lig het in 1931 op hoofstuk 9 van Esegiël se profesie geval. Dit het geopenbaar dat die bedroefde mense op wie se voorhoof die man wat met linne bekleed is en die skrywer se inkpot aan sy heupe dra ’n teken maak, dieselfde is as die “skape” in Jesus se gelykenis in Mattheüs 25:31-46. Verdere feestelike verligting het in 1932 geopenbaar dat hierdie selfde “skape”-klas afgebeeld is deur Jonadab, die seun Regab, wat die vriend van Jehovah se skerpregter, koning Jehu van Israel, geword het.—2 Kon. 10:15-28; Jer. 35:1-19.
2. (a) Watter insameling benewens die van Mattheüs 24:31 sou daar in hierdie tyd plaasvind, volgens Jesus se profesie oor die “voleinding van die wêreld”? (b) Wat het hierdie insamelingswerk in 1935 ’n groot stoot gegee?
2 Laat ons onthou dat Jesus die gelykenis in Mattheüs 25:31-46 gegee het as deel van die “teken” wat sy onsigbare “teenwoordigheid” en die “voleinding van die wêreld” sou aandui (Matt. 24:3, vgl. NW). Aldus het Jesus voorspel dat daar gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” ’n insameling sou wees van ander benewens die “uitverkorenes” van Mattheüs 24:31. Hierdie insameling van daardie weldoeners aan die “uitverkorenes” het in die noordelike lente van 1935 begin. lets wat hierdie insameling ’n geweldige stoot gegee het, was die toespraak wat op Vrydag, 31 Mei 1935 gehou is by die alom geadverteerde byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, D.C., waarheen die sogenaamde Jonadab-klas in die besonder genooi is.
3. (a) Waaroor het die toespraak gehandel wat toe gehou is, en hoeveel is daarna gedoop? (b) Van watter “teken” het die vervulling van Mattheüs 25:31-46 nou deel geword?
3 Op daardie dag het die president van die Wagtoringgenootskap oor die tema “Die Groot Menigte” gepraat en die profesie in Openbaring 7:9-14 bespreek. Hy het getoon dat die “groot menigte” dieselfde as die “skape” in Jesus se gelykenis in Mattheüs 25:31-46 is. Hierdie verduideliking is deur die lede van die gesalfde oorblyfsel sowel as die lede van die Jonadab-klas met vreugde begroet. Die volgende dag was daar ’n doopplegtigheid waartydens 840 hulle toewyding aan Jehovah God deur onderdompeling in water gesimboliseer het. Die meeste van hulle was “skape” wat die geestelike “broeders” van die Koning Jesus Christus bystaan. Dit het nou deel geword van die “teken” wat bewys dat die heersende Jesus Christus onsigbaar teenwoordig is en ook dat ons tydens “die voleinding van die wêreld” lewe.
4. Hoe is daardie informasie na al die “skape” gebring, en watter insamelingswerk het nou voortgegaan?
4 Hierdie informasie is dwarsoor die aarde onder die aandag van al die “skape” gebring, daar dit in die nommers van 1 en 15 Augustus 1935 van die Watchtower gepubliseer is. Die insameling van die Jonadab-klas het dus voortgegaan met die magtiging van Jehovah God.
5. (a) Op watter skaal het die insamelingswerk sedertdien uitgebrei? (b) Maar watter vorige insamelingswerk is nie beëindig nie?
5 Ondanks al die hindernisse tydens die Tweede Wêreldoorlog van 1939 tot 1945 en die verskriklike vervolging van Jehovah se Getuies gedurende daardie onstuimige jare, het die insameling van die “ander skape” uitgebrei tot ’n werk wat in meer as 200 lande en eilandgroepe gedoen word. Die insameling van die lede van die “groot menigte” het egter nie ’n einde gemaak aan die insameling van enige verdere lede van die Rut- en Ester-klas nie. Nee, maar “lote” wat dit waardig was om deel te word van die Christus-“wynstok” is steeds ingesamel (Joh. 15:1-8). Meer “takke” is steeds ingesamel om op die simboliese “mak olyfboom ingeënt” te word, soos in Romeine 11:17-24 beskryf word.a—Deut. 16:13.
6. (a) Wat het Jehovah gesê moet die gesindheid van die mense tydens hierdie fees gedurende die sewende maanmaand wees? (b) Was die huttefees en die fees van die insameling twee aparte feeste wat op verskillende tye begin het?
6 Sedert 1919 was daar dus voorwaar ’n teenbeeldige fees van die insameling, gekenmerk deur ’n vreugde wat ’n besondere kenmerk van die eertydse huttefees was. Jehovah se woorde aangaande die feesvierders van die huttefees het die orde van die dag geword: “Jy moet net maar vrolik wees” (Deut. 16:15). Laat ons hier nie vergeet dat die huttefees en die fees van die insameling dieselfde fees is en dat die een fees nie eers begin het nadat die ander reeds lank aan die gang was nie. Die fees van die insameling en die fees waartydens daar in hutte gewoon is, het saamgeval. In die eertydse tipe is die sewedaagse fees gedurende die sewende maanmaand twee name gegee bloot omdat die mense in hutte moes woon tydens die oestyd van die sewende maand, Tisjri (Etanim). Aangesien dit tydens die eertydse tipe die Israeliete se oes was, was dit gepas dat die vervulling van die fees van die insameling in 1919 begin het met die insameling van diegene wat afgebeeld is deur die natuurlike Israeliete, naamlik ’n oorblyfsel geestelike Israeliete.—Vergelyk Die Wagtoring, 1 Oktober 1967, bladsy 450.
DIE VOORUITSIGTE VIR DIE FEES
7. Waarom is die vooruitsigte vir die huttefees goed?
7 Wat is die vooruitsigte vir die teenbeeldige huttefees of fees van die insameling wat ons reeds beleef? Baie goed! Waarom? Omdat die komende “groot verdrukking” en die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon nie die vreugde van ons fees sal demp nie (Matt. 24:21; Openb. 16:14, 16). Bybelprofesieë toon dat die teenbeeldige fees sonder onderbreking sal voortduur tot in die Nuwe Orde wat Jehovah God deur middel van sy seëvierende Stryder-Koning, Jesus Christus, gaan inlui. Die oorlewendes van Jehovah se oorlog te Armageddon, naamlik die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte” “ander skape”, sal die fees in die regverdige Nuwe Orde voortsit.b
8, 9. Hoe lank sal die oorlewende oorblyfsel op aarde bly, en watter vooruitsig gee Sagaria 14:16-19 hulle ten opsigte van die huttefees?
8 Die gesalfde oorblyfsel weet nie hoe lank hulle as “vreemdelinge” in die Nuwe Orde op aarde gaan bly tot hulle verheerliking in die hemelse koninkryk nie. Maar hulle huidige vreugdevolle vooruitsig om die fees gedurende hulle verdere verblyf op aarde te vier, is stewig op Jehovah se profetiese Woord gebaseer. In Sagaria 14:16-19 word daar byvoorbeeld voorspel dat hierdie hedendaagse vierders van die teenbeeldige huttefees gaan vermeerder:
9 “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.”
10. Wie sal die nasies se laaste aanval op teenbeeldige Jerusalem op aarde oorlewe, en wie sal nie?
10 Wie is die persone wat beskryf word as “almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het”? Nòg die gesalfde oorblyfsel geestelike Israeliete, nòg hulle metgeselle, die “groot menigte” wat uit al die nasies kom en Jehovah begin aanbid voordat die nasies teenbeeldige Jerusalem aanval. Die oorblyfsel en die “groot menigte” is juis diegene wat gesamentlik deur die nasies aangeval word omdat hulle aan die “hemelse Jerusalem” getrou bly (Hebr. 12:22). Die voorafgaande verse (Sag. 14:1-15) beskryf hoe God teen die aanvallende nasies oorlog voer en hoe hy sy koningskap of soewereiniteit oor ons aarde bevestig. Openbaring 19:11-21 beskryf hoe die nasies, sonder uitsondering, diegene op aarde gaan aanval wat trou bly aan die “hemelse Jerusalem”, en dat nie een van daardie nasies die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal oorlewe nie. Nie eers diegene wat as ’t ware tuis bly maar hulle steun aan leërs aan die front toesê, oorleef nie, veral nie met die algehele mobilisering van die mense nie.
11. Tot watter mate sal al die vyande tydens Armageddon vernietig word, en waarom?
11 Tydens God se oorlog te Armageddon sal al sulke vyande vir ewig vernietig word sonder enige voorsiening vir ’n opstanding (Matt. 25:31, 32, 41-46; Jes. 66:23, 24; Rom. 6:9; 1 Kor. 6:9, 10). Hulle lyke sal lê soos lyke wat op ’n slagveld gelos is as kos vir aasvoëls (Openb. 19:17-21). Wat volg daarna?
12. Wie word volgens die Skrif bedoel met “almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het”?
12 Hier breek die geleentheid nou aan vir diegene wat bedoel word met “almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het” (Sag. 14:16). Wie kan dit wees? Volgens die Skrif sal dit “almal” van die miljarde mensedode wees wat voor die voorspelde “groot verdrukking” en sy “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon gesterf het en vir wie daar die hoop van ’n aardse opstanding is.c Jesus Christus het gepraat van ’n tyd van opstanding vir “almal wat in die grafte is” (Joh. 5:28, 29; Openb. 20:12, 13). Tallose eertydse Egiptenare sal onder diegene wees wat uit die dode opgewek word, maar daar sal dan geen land genaamd Egipte of enige van die ander volksgrense van voorheen wees nie.
13. Wat moet die verresenes op aarde alles onder Christus se koninkryk erken, en wat sal met hulle gebeur as hulle dit nie doen nie?
13 Onder Christus se duisendjarige koninkryk sal almal wat op aarde opgewek word die een ware geloof geleer word. Sal almal hulle daarna skik? Enigeen wat die ewige lewe wil verkry, sal moet kom na Jehovah se geestelike tempel wat aan die “hemelse Jerusalem” verbonde is. Hy sal die teenbeeldige huttefees moet vier in die tempel se aardse voorhof waar die “groot menigte” Armageddon-oorlewendes hulself reeds bevind (Openb. 7:9-15). Hy sal die “vorste in die hele land” wat die koning Jesus Christus “aanstel” om toesig oor die aarde se aangeleenthede te hou moet erken (Ps. 45:17). Diegene wat op aarde opgewek word, sal bowenal Jehovah as God en Universele Soewerein, as “Koning . . . oor die hele aarde” deur middel van Jesus Christus, moet erken (Sag. 14:9). Anders sal die Groot Reënmaker Jehovah nie sy seëninge deur Christus op hulle uitgiet nie (Sag. 10:1). Vir sulke ongeseënde indiwidue sal dit wees asof hulle in ’n droogtegeteisterde gebied woon en dit sal uiteindelik die dood beteken.
14. Wat sal dit vir enigiemand beteken om gedurende Christus se duisendjarige bewind deur Jehovah met die plaag getref te word?
14 Jehovah sal ook beskik oor die “plaag” soortgelyk aan die waarmee hy die nasies getref het wat teen sy “hemelse Jerusalem” geveg het (Sag. 14:12-15). As hy sulke hardnekkige teenstanders van ware aanbidding daarmee tref, sal dit ewige dood vir hulle beteken, selfs al gebeur dit voor die einde van Christus se duisendjarige bewind. Sulke geteisterde sondaars sal nie die einde van Christus se duisendjarige bewind haal en daarna die geleentheid hê om deur Jehovah God regverdig verklaar te word om ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet nie. Hulle tydelike verblyf onder Christus se koninkryk sal nie sy doel bereik nie.
15. Wie se lojale samewerking sal die oorlewende oorblyfsel geestelike Israeliete gedurende hulle verblyf in die Nuwe Orde geniet?
15 Wanneer die Nuwe Orde tot stand kom, sal die oorlewende oorblyfsel geestelike Israeliete nog steeds soos “vreemdelinge” op aarde kampeer. Hulle sal uitsien na hulle oorplasing van die aardse toneel na hulle hemelse erfenis, om saam met Christus en sy medekonings en -priesters te wees (Openb. 20:4-6). Maar tydens hulle verblyf op aarde na Armageddon sal hulle die lojale samewerking van die “vors”-klas, die “vorste in die hele land”, hê terwyl hulle toesig hou oor die teenbeeldige fees van die sewende maand, naamlik die huttefees.d—Eseg. 45:17, 25.
16. (a) Uit wie sal baie lede van die “vorste”-klas geneem word? (b) Dit sal vir die oorlewende oorblyfsel groot vreugde verskaf indien hulle watter voorreg saam met die “vorste”-klas kon geniet?
16 Lede van die “vors”-klas sal geneem word uit die “groot menigte” “skape” wat die “groot verdrukking” saam met die geesverwekte oorblyfsel oorlewe (Openb. 7:1-15). Hulle sal die opstanding van die duisendmiljoene mensedode, asook hulle insameling in die aardse voorhof van Jehovah se geestelike tempel vir die viering van die teenbeeldige huttefees, aanskou. Wat ’n vreugdevolle ervaring sal dit tog vir die geestelike oorblyfsel wees indien hulle op die aarde kan woon tot die begin van daardie wonderdadige insameling wat in Sagaria 14:16-19 beskryf is! Met onbeskryflike vreugde sal hulle meedoen aan die wêreldwye viering saam met al diegene wat met die kosbare bloed van die “Lam van God”, “ons paaslam . . . Christus”, vrygekoop is.e—Eseg. 44:3; 45:7-46:18; 48:21, 22.
17. (a) Waarom sal die viering van die fees gedurende die duisendjarige bewind van Christus nie tevergeefs wees nie? (b) Na watter situasie toe sal die aardbewoners wat dan nog lewe soos tentbewoners gereis het?
17 Die fees sal nie tevergeefs gevier word nie, want teen die einde van die duisendjarige bewind van Christus sal almal wat dan op aarde lewe hulle voor Jehovah neerbuig en hom aanbid in die aardwye voorhof van sy groot geestelike tempel wat aan die “hemelse Jerusalem” verbonde is. Hy sal dan die “koninkryk” hê wat aan hom oorgegee is deur sy Seun Jesus Christus, wat sy bewind tydens die toegewese millennium met welslae voltooi het (1 Kor. 15:24-28). Dit sal die aardse situasie wees waarheen alle aardbewoners soos tentbewoners gereis het.
18. Wat sal die deel wees van diegene wat in Jehovah se laaste toets slaag?
18 Op hierdie tydstip breek die finale, beslissende toets van hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah as die Universele Soewerein aan. Dan sal diegene wat nie in die toets slaag nie vir ewig vernietig word. Diegene wat Jehovah regverdig deur in hierdie hoogste toets te slaag, sal die reg verkry om die Edenagtige aarde vir ewig te bewoon. Hulle sal nie langer tentbewoners, “vreemdelinge”, in die land wees nie. Hulle sal permanent op die paradysaarde woon (Openb. 20:7-15). Die vreugde wat hulle gesmaak het tydens hulle viering van die teenbeeldige huttefees sal vir ewig voortduur op hierdie aardse voetbank van die gelukkige God-Koning, Jehovah.—1 Tim. 1:11, NW.
[Voetnote]
a Kyk die jaarlikse Gedenkmaalverslae van die aantal gebruikers van 1945 tot 1977.
b Vir nadere inligting oor die voortsetting van die “huttefees” tot in die millennium, kyk die boek Paradise Restored to Mankind—By Theocracy!, hoofstuk 22, en veral bladsye 400 tot 402; vergelyk ook bladsye 53-57, 79-90 en 106-115. Die Christelike werklikheid wat deur hierdie fees afgeskadu is, het op Pinksterdag 33 G.J. in vervulling begin gaan. Die vreugde van die gemeente het verdwyn toe die groot afval ingetree het. Maar met die bevryding van geestelike Israel uit Babilon die Grote in 1919, na die Eerste Wêreldoorlog, is die insameling hervat, eers van die gesalfde oorblyfsel en toe van die “groot menigte”, en daarmee saam die teenbeeldige “huttefees”. Dit is ’n fees wat voortduur, wat “jaar vir jaar” gevier moet word dwarsdeur die tydperk van die opstanding van die dode. Dit sal eers ten einde loop na die finale toets vir die volmaakte mensdom. wanneer almal wat in die toets slaag uiteindelik permanente bewoners van die aarde word. Kyk ook Die Wagtoring, 1967, bladsye 449-451; 1973, bladsye 76-88; The Watchtower, 1977, bladsy 541, en Aid to Bible Understanding, bladsye 573 tot 576.
c Kyk Paradise Restored to Mankind—By Theocracy!, hoofstuk 22, onder die tussenhofie “Raadsaamheid vir nasies om aan die fees mee te doen”, bladsye 398-401.
d Kyk die Wagtoringgenootskap se publikasie Regverdiging. Deel III, onder die tussenhofie “Die aarde se vorste”, bladsye 285-293.
e Kyk Paradise Restored to Mankind—By Theocracy!, bladsy 401, par. 17.