Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 5/1 bl. 14-19
  • Feestelike verligting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Feestelike verligting
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE TEENBEELDIGE HUTTEFEES
  • DIE FEESVIERDERS WAT DIE TAKKE GEDRA HET
  • ’n Fees wat deur miljoene gevier sal word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Feeste wat mylpale in Israel se geskiedenis was
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Vreugdevolle feeste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Die oorwinning van ware aanbidding is op hande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 5/1 bl. 14-19

Feestelike verligting

1. Hoe is Jerusalem op buitengewone wyse tydens die huttefees verlig, en wat het Jode in hierdie lig gedoen?

DIE huttefees was ’n geleentheid vir spesiale verligting van ‘die stad van die groot Koning’, Jehovah (Matt. 5:35). Elke nag was daar ’n buitengewone vertoning in die Voorhof van die Vroue wat oos van die altaar in Herodes se tempel geleë was. Vier reusekandelare is daar aangebring. Elk het vier groot komme gehad. Lere moes gebruik word om die komme met brandbare olie te vul. Ou kledingstukke van die priesters is as pitte vir die komme olie gebruik. Die lig wat deur hierdie 16 komme brandende olie afgegee is, was sterk genoeg om die hele Jerusalem snags te verlig. Onder hierdie buitengewone verligting het Israelitiese mans in die Voorhof van die Vroue gedans of akrobatiese toertjies uitgevoer terwyl die vroue die toneel van hulle balkon af dopgehou het. Sangers het die 15 Bedevaartsliedere uit die Psalms met musiekbegeleiding deur die Leviete gesing. Hierdie gejubel het tot dagbreek geduur.

2. Waar het die nie-Jode wat die fees bygewoon het, hulle op hierdie tyd bevind?

2 Onbesnede nie-Jode wat die fees bygewoon het, was beperk tot die Voorhof van die Heidene, wat deur die klipmuur en die Buitenste Voorhof van die Voorhof van Israel geskei is.—Kyk Handelinge 21:28, 29 vir ’n voorbeeld van beperkings op nie-Jode by die tempel.

3, 4. (a) Hoe het Jesus die fees in die noordelike herfs van 32 G.J. bygewoon, en wat het hy daar gesê wat die Jode aan die water van Siloam kon herinner? (b) Waarna het Jesus volgens Johannes 7:39 daar verwys?

3 In die lig van die prominente kenmerke wat later by die huttefees gevoeg is, kan ons sekere pertinente opmerkings van Jesus Christus by die fees waardeer. Hy het hierdie fees vir die laaste keer in die noordelike herfs van 32 G.J. gevier. Omdat Jode in Jerusalem hom om die lewe wou bring, het Jesus Galilea alleen verlaat en onopvallend na die fees gereis. Ongeveer teen die middel daarvan, sê maar 18 Tisjri, het hy openlik na vore gekom en begin om die skare feesvierders in die tempel te leer.

4 Die laaste dag van die fees, 21 Tisjri, is “die groot dag van die fees” genoem. Dit was op daardie dag dat Jesus die mense waarskynlik herinner het aan die uitgieting van die water van Siloam toe hy gesê het: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Die apostel Johannes maak die volgende kommentaar oor wat Jesus hier gesê het: “En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”—Joh. 7:37-39.

5. Wanneer het daardie wonderlike woorde waar begin word, en hoe?

5 Daardie wonderlike woorde het in vervulling begin gaan op Pinksterdag van die volgende jaar, toe ongeveer 120 dissipels wat in ’n bovertrek in Jerusalem byeen was, die heilige gees ontvang het. Van toe af het daar inderdaad strome van lewende water begin vloei toe hulle in talle tale, wat hulle wonderdadig ontvang het, vir die duisende verbaasde Jode wat saamgestroom het om die skouspel gade te slaan van “die groot dade van God” vertel het.—Hand. 2:1-41.

6. Wat het Jesus op die laaste feesdag gesê wat sy dissipels aan die spesiale verligting van die tempel kon herinner?

6 Op die sewende en laaste dag van die huttefees het Jesus nog ’n opmerking gemaak wat sy dissipels moontlik herinner het aan die spesiale verligting wat met die viering gepaard gegaan het, naamlik die van die vier hoë kandelare in die tempel se Voorhof van die Vroue. Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”—Joh. 8:12.

7. Waarom was dit baie gepas dat Jesus homself tydens die huttefees die “lig van die wêreld” genoem het?

7 Die feit dat Jesus homself “die lig van die wêreld” genoem het, was baie gepas tydens hierdie huttefees, aangesien die fees die kenmerke van ’n wêreldfees gehad het. Hoe so? Omdat God se wet meld dat die “vreemdeling” in die poorte van die Israeliete die reg gehad het om aan die fees deel te neem en hom saam met God se uitverkore volk te verheug.—Deut. 16:14.

8. (a) Wat was uniek omtrent die opoffering van bulle tydens die huttefees? (b) Hoe kom die aantal bulle ooreen met wat in Genesis hoofstuk 10 opgeteken is, en wat dui dit aan?

8 Volgens Numeri 29:12-34 is ’n buitengewone aantal bulle geoffer. Op die eerste dag is 13 bulle geoffer, en op die daaropvolgende ses dae is daar elke dag een minder bul geoffer, totdat daar sewe bulle geoffer is op die sewende en laaste dag, waarop Jesus gesê het: “Ek is die lig van die wêreld.” Teen die laaste dag van die fees was daar dus altesaam 70 bulle geoffer. Die getal 70 is ’n veelvoud van 7 en 10, wat albei volkomenheid, volmaaktheid, voorstel—7 geestelike volmaaktheid en 10 sekulêre volkomenheid. Op 10 Tisjri, die Versoendag, is slegs een bul as ’n soenoffer geoffer. Maar gedurende die sewedaagse huttefees, 15-21 Tisjri, is 70 bulle geoffer. As ’n tipe sou dit genoeg bloed voorsien vir die reiniging en redding van die hele mensdom. Dit kom ooreen met wat in Genesis hoofstuk 10 uiteengesit word. Daar word die name van die familiehoofde en van nasies aangegee. Dit begin met Noag en loop deur sy drie seuns tot by die name Mesa en Sefar. Daar is altesaam 70 name, en dit dek skynbaar die wêreldbevolking van daardie tydperk na die Vloed.

9. Van wie het Jesus gesê dat hy “die lig” is, en wat het die hele mensdom nodig om lewe te verkry?

9 Op die geskikte tyd was dit dus uiters gepas vir Jesus Christus om aan te kondig: “Ek is die lig van die wêreld”, nie slegs die lig van sy gesalfde voetstapnavolgers nie. Wat die voordeel van lig betref, onthou ons dat dit eers was nadat God gesê het: “Laat daar lig wees!” en nadat hy die son, die maan en die sterre geskape het en dit vir hulle moontlik gemaak het om lig tot op ons aarde uit te straal, dat hy diere en uiteindelik die volmaakte man en vrou geskape het om die lig van die lewe te geniet. Vandag, in hierdie wêreld wat deur sonde en vervreemding van God verduister word, kan alle persone baat vind by die lig wat uitstraal vanaf Jesus Christus, “die lig van die wêreld”. Hulle het almal “die lig van die lewe” nodig.—Joh. 8:12; Gen. 1:3.

DIE TEENBEELDIGE HUTTEFEES

10. In watter opsig kom die huttefees met die twee vorige feeste ooreen, en watter faktore moet ons hier in ag neem?

10 Net soos die twee voorafgaande feeste wat God vir sy uitverkore volk voorgeskryf het, moet die huttefees ook ’n teenbeeldige betekenis vir ons tyd hê. Gelukkig het dit ’n teenbeeldige vervulling. Wanneer het dit dan begin? Hoe kan ons dit vasstel? Deur middel van tipiese en antitipiese, geskiedkundige faktore.

11. Het die “oes” wat in Mattheus 13:39 gemeld word, volgens die geskiedkundige feite, in die jaar 1914 begin of nie?

11 In Mattheüs hoofstuk 13 het Jesus Christus ’n gelykenis vertel oor die insameling van die opbrings van die saailand. Dit was die gelykenis van die koring en die onkruid. Waar hy die gelykenis verduidelik, het Jesus gesê: “Die oes is die voleinding van die wêreld” (Matt. 13:39). Bybelprofesie en -roosters, asook geskiedkundige gebeure, toon dat die voleinding van vandag se stelsel van dinge in 1914 G.J. begin het, want in die noordelike herfs van daardie jaar het die “sewe tydperke” vir heidense oorheersing van die aarde sonder inmenging deur God se Messiaanse koninkryk verstryk (Dan. 4:23-25). Het die “oes” of insameling van die “koring”-klas ware Christene in daardie jaar begin? Nee, want die geskiedenis toon dat Jehovah se toegewyde Christenaanbidders verstrooi is gedurende die Eerste Wêreldoorlog wat in 1914 begin het. Hulle wêreldwye organisasie is verpletter deur die vyande van Jehovah se Messiaanse koninkryk, die hemelse koninkryk wat daardie geesverwekte, gesalfde dissipels van Jesus Christus, die heersende Koning, so ywerig verkondig het. Eindelik, in 1918, het die verplettering van die organisasie selfs die hoofkwartier van Jehovah se toegewyde volk in Brooklyn, New York, V.S.A., bereik.

12. Wanneer het die insameling wat Jesus in Mattheüs 24:31 voorspel het, begin, en watter fees het toe begin?

12 In Jesus se profesie oor die “teken” van sy teenwoordigheid en van die voleinding van hierdie stelsel van dinge het hy in Mattheüs 24:31 gesê: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” Daardie woorde het ’n versameling van Christus se “uitverkorenes” vanuit al die plekke waarheen hulle verstrooi of afgesonder is, voorspel. Hierdie versameling het begin in die na-oorlogse jaar 1919, onmiddellik nadat lede van die hoofkwartierpersoneel van die Brooklyn-sentrum op 25 Maart 1919 vrygelaat is nadat hulle nege maande lank in die strafgevangenis in Atlanta, Georgia, V.S.A., gesit het. Dit was dus in daardie onvergeetlike jaar dat die teenbeeldige fees van die insameling of huttefees begin het. Dit is gekenmerk deur onbeskryflike vreugde aan die kant van die gesalfde oorblyfsel van Christus se “uitverkorenes” dwarsoor die wêreld.

13. (a) Van die insameling van watter persone het Jesus gepraat toe hy in Mattheüs 13:39 van ’n oes gepraat het? (b) Wie van hulle is na 1919 ingesamel?

13 Om dit te bevestig, moet ons ’n aantal gewigtige dinge herroep. Waaroor het Jesus gepraat toe hy gesê het: “Die oes is die voleinding van die wêreld”? Oor die insameling van “die kinders van die koninkryk”, dit wil sê, die geesverwekte erfgename van die hemelse koninkryk. Dit is ’n geestelike, gesalfde klas wat afgebeeld is deur die koring, en daar is inderdaad in die noordelike lente van 1919 met hulle insameling begin. Mettertyd is meer ingesamel as net die erfgename van die Koninkryk wat deur gebeure tydens die Eerste Wêreldoorlog verstrooi is. In die tydperk sedert 1919 het duisende ander hulle standpunt vir God se opgerigte koninkryk ingeneem, hulleself aan Jehovah toegewy en laat doop, waarna hulle geestelik verwek en deur God se gees gesalf is. Hulle is by die geledere van die oorspronklike oorblyfsel gevoeg. As ’n klas is diegene wat later bygevoeg is, afgebeeld deur prominente karakters in voorchristelike Bybeldramas. Hierdie beroemde karakters was Rut die Moabiet, wat die lojale metgesel van die Jodin Naomi, haar skoonmoeder, geword het, asook koningin Ester, die niggie van die Jood Mordegai wat die eerste minister van die Persiese Ryk onder keiser Ahasveros, of Xerxes, geword het.

14. Waarmee het die teenbeeldige fees van die insameling of huttefees begin?

14 Rut en Ester het bygedra tot die koninklike geslag van Dawid en die behoud daarvan tot die eerste koms van Jesus, die “seun van Dawid” (Matt. 1:1, 5; Rut 4:18-22; Ester 4:13, 14). Die teenbeeldige fees van die insameling of huttefees het begin met die insameling van die Rut- en Ester-klas, asook van die oorspronklike gesalfde oorblyfsel.

15. Wie se fees was die fees in die noordelike herfs, en wie is beveel om gedurende die fees in hutte te woon?

15 Nog iets: In voorchristelike tye was dit die natuurlike Jode wat die tipiese huttefees gevier het. Jehovah het húlle deur Moses beveel om dit te vier. Tydens die herfsoes het hulle dus na Jerusalem gestroom om daar in hutte te woon. Selfs die permanente inwoners van Jerusalem het dit gedoen. Die huttefees was ’n herinnering aan iets wat vroeër gebeur het. Wat? Levitikus 23:42, 43 antwoord deur te sê: “Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.” Gebore Jode het dit gedoen.

16. (a) Hoe het die “menigte mense van gemengde bloed” saam met die Israeliete gelewe op weg na die Beloofde Land? (b) Hoe is daar in Herodes se tempel in Jesus se dag ’n onderskeid gehandhaaf tussen die nie-Jode en die Israeliete?

16 Die “menigte mense van gemengde bloed”, nie-Israeliete, wat hulle lot saam met die Israeliete ingewerp het en “saam met hulle opgetrek” het, moes natuurlik ook op weg na die Beloofde Land in tente woon (Ex. 12:38). Die gebod om die huttefees te vier, was egter nie aan die “menigte mense van gemengde bloed” gegee nie, maar aan Israel. Die Beloofde Land is ook nie aan die “menigte mense van gemengde bloed” gegee om te bewerk nie, maar is onder die 12 nie-Levitiese stamme van Israel verdeel, en die wet oor die herstelling van grond tydens die jubeljaar was op die Israeliete van toepassing. Die fees van die insameling sou dus veral vir die Israeliete wees. Die “vreemdeling” is goedgunstiglik toegelaat om daaraan mee te doen. Gedurende die viering daarvan in die dae van Jesus Christus was die nie-Jode of heidene beperk tot die Voorhof van die Heidene, en die Klipmuur en die Buitenste Voorhof het hulle van die Voorhof van Israel geskei. Hulle plek was op die laagste vlak van die hele tempelkompleks van Herodes.

DIE FEESVIERDERS WAT DIE TAKKE GEDRA HET

17, 18. Wie het die “loelaabs” gedra, en aan watter teks is die gedagte glo ontleen?

17 Tydens die viering self was dit die Israeliete wat die sogenaamde “loelaabs” en die etroogs (sitroene) gedra het. Om ’n idee te kry hoe dit in Jesus se dag gevier is, kan ons die beskrywing van die Joodse fees lees soos opgeteken in Nehemia 8:15-19. Die loelaab was ’n bos takke van verskeie bome en is in die hand van die Joodse feesvierder gedra. Die gedagte is glo ontleen aan Levitikus 23:40:

18 “En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die HERE julle God vrolik wees.”

19. (a) Waaruit het die “loelaab” bestaan? (b) Tydens watter prosedure het die Israeliete die loelaab gedra, en wat het hulle gesingpraat?

19 Die loelaab het bestaan uit (1) ’n loot van die palmboom in sy toegevoude toestand, (2) drie mirtetakkies met klossies blare daaraan, en (3) twee wilgertakke, waarvan die hout rooierig en die takke lank en ongeskonde was. Die Israeliete wat die loelaabs gedra het, het hulle gewaai en aan die einde van die fees weggegooi. Die loelaab en die etroog (’n sitrusvrug soos ’n suurlemoen maar sonder die knop wat die suurlemoen aan die een kant het) is in ’n optog rondom die altaar in die Voorhof van die Priesters gedra. Dit is een maal op elk van die eerste ses dae gedoen en sewe maal op die sewende en laaste dag. Daarna is die etroog of sitroen geëet. Tydens die prosessie is Psalm 118:25 gesingpraat: “Ag, [Jehovah], gee tog heil; ag, [Jehovah], gee tog voorspoed!” In hulle eie voorhof kon die nie-Jode nie hieraan meedoen nie.

20. Watter gees het goewerneur Nehemia in sy dag die Israeliete te Jerusalem aangespoor om tydens hulle huttefees te hê?

20 Tydens die huttefees in Nehemia se dag het hy as goewerneur vir die Israeliete wat uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, gesê: “Hierdie dag is heilig aan onse HERE. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting” (Neh. 8:11). Die geestelike Israeliete van vandag moet dieselfde gesindheid hê sedert hulle verlossing uit Babilon die Grote in die jaar 1919 G.J.

21. (a) Waarom het die oorblyfsel geestelike Israeliete hulle in die noordelike lente van 1919 verheug? (b) Watter soort werk het hulle gemeen het destyds voorgelê, maar wat was dit toe?

21 Dit is duidelik dat die vervulling van die huttefees in daardie na-oorlogse jaar begin het. In die lig van hulle verwagtinge voor daardie jaar was die geestelike “kinders van die koninkryk” effens verward toe hulle die na-oorlogse tydvak betree. Maar hulle het hulle uitermate verheug toe hulle in die noordelike lente van 1919 uit Babilon die Grote verlos is. Hulle het dadelik die insamelingswerk aangepak wat nou voor hulle gelê het. Hulle het aanvanklik gemeen dat dit bloot ’n “arelesing” sou wees. Kyk die artikel “Die oes is verby—Wat sal volg?”, in die Watch Tower van 1 Mei 1919, bladsy 138, paragraaf 1 vir nadere besonderhede hieroor. Maar in plaas van ’n arelesing was dit toe ’n volskaalse oes.

22. Het die gesalfde oorblyfsel hulle voorgeneem om vir ewig op die paradysaarde te lewe, en hoe beskou hulle hulleself in hierdie stelsel van dinge?

22 Die gesalfde oorblyfsel oesters het as ’t ware in “hutte” gewoon, want hulle het nie lief geword vir aardse dinge nie. Hulle het nie daarna uitgesien om vir ewig in ’n aardse paradys te woon nie. Hulle het daarna uitgesien om hulle hemelse erfenis saam met die verheerlikte Here, Jesus Christus, te ontvang. Hulle siening van sake was dus soos dié wat in Hebreërs 13:13, 14 beskryf is: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.” In die lig van daardie feit beskou hulle hulleself as pelgrims, “bywoners en vreemdelinge” in hierdie stelsel van dinge, net soos Abraham, Isak en Jakob.—1 Pet. 2:11; Gen. 47:9; Ex. 6:3; Hebr. 11:13; Ps. 119:54.

23. (a) Is die oorblyfsel se viering van die teenbeeldige huttefees in 1923 met geestelike verligting verhelder? (b) Hoe het hulle besef dat die gelykenis in Mattheus 25:31-46 van toepassing is?

23 Vir die gesalfde oorblyfsel wat begin het om die hedendaagse teenbeeld van die huttefees te vier, het geestelike lig van Jehovah se hemelse tempel af uitgestraal. Dit was tydens die insameling van die geestelike klas wat deur Rut en Ester afgebeeld is dat daar spesiale lig geval het op Jesus se gelykenis van die skape en die bokke, wat in Mattheus 25:31-46 opgeteken is, sodat hulle verstande verlig kon word. By die algemene byeenkoms wat in 1923 in Los Angeles, Kalifornië, V.S.A., gehou is, het die president van die Wagtoringgenootskap, wat reeds vier jaar tevore uit die strafgevangenis in Atlanta (Ga.) vrygelaat is, die gelykenis van die skape en die bokke bespreek. Dit sou nie eers in vervulling gaan wanneer die duisendjarige bewind van Jesus Christus begin het nie. Die “skape”-klas het reeds vorm begin aanneem. Daar was reeds lede daarvan op die toneel en hulle het weldade bewys aan die oorblyfsel geestelike “broeders” van die verheerlikte Jesus Christus. Die openbare toespraak se tema “Daar leef vandag miljoene wat nooit sal sterf nie” is op hulle toegepas. Hulle het behoort aan die “ander skape” wat Jesus in Johannes 10:16 gemeld het.

24. Is daar destyds enige spesiale poging aangewend om daardie weldoeners aan Christus se geestelike “broeders” in te samel?

24 Destyds toe die gelykenis in Mattheüs 25:31-46 verduidelik is, is geen spesiale poging aangewend om daardie “ander skape” in te samel nie. Maar waardering is uitgespreek vir die weldade wat hulle aan die oorblyfsel van Christus se geestelike “broeders” bewys het. Verdere geestelike verligting gedurende die teenbeeldige huttefees het op die regte tyd gewag.

[Diagram/Prent op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Poort

Pilaargange

Poort

Poort

Koninklike pilaargang

Pilaargang van Salomo

Poort

Noordelike pilaargang

Voorhof van die heidene

Buitenste voorhof

Klipmuur

Voorhof van die vroue

Voorhof van Israel

Voorhof van die priesters

Tempel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel