Moenie verkeerde beweegredes aan ander toeskryf nie
“SÊ VIR my, hoekom het jy my nou die dag nie op straat gegroet nie? Wat het jy teen my?”
“Het ons mekaar raakgeloop? Ek kan nie so iets onthou nie!”
“Dis onmoontlik! Ons het by mekaar verbygeloop en jy het my reg in die oë gekyk maar my nie gegroet nie! Wat het jy teen my?”
Het so iets jou al oorgekom of het jy al ’n situasie soos hierdie ware voorval aanskou? Moontlik het jy ’n selfs ernstiger voorval gesien waar verkeerde beweegredes aan iemand toegeskryf is. Ongegronde agterdog en wantroue behaag God nie. Dit blyk uit die verwoestende gevolge wat sulke karaktertrekke kan hê. Kyk wat het in Bybeltye met die nasie Israel gebeur.
Na die verowering van die Beloofde Land het twee-en-’n-half Israelitiese stamme hulle toegewese gebiede aan die oorkant van die Jordaanrivier in besit geneem. Daar het hulle ’n altaar gebou, nie vir offerandes nie, maar om as ’n getuie te dien dat hulle en hulle afstammelinge nie ware aanbidding die rug toegekeer het nie. Maar die ander stamme het verkeerde beweegredes aan hierdie Israeliete toegeskryf, vermoed dat hulle afvallig geword het van Jehovah se aanbidding en dus besluit om teen hulle oorlog te voer. Gelukkig is die situasie opgeklaar en is daar van die beplande militêre optrede afgesien.—Jos. hfst. 22.
Koning Dawid het eenmaal sy diensknegte gestuur om koning Hanun van Ammon oor die dood van sy vader te troos. Maar die Ammoniete het Dawid verkeerdelik daarvan verdink dat hy die manne as verkenners gestuur het en het hulle dus baie verneder. Dit het selfs tot oorlog gelei, waartydens die Ammoniete en Arameërs ’n groot nederlaag gely het. Watter rampspoedige gevolge tog omdat verkeerde beweegredes aan ander toegeskryf is!—2 Sam. hfst. 10.
WANNEER EDELE BEWEEGREDES IN TWYFEL GETREK WORD
In die dae van die vroeë Christene is verkeerde beweegredes verskeie kere aan persone toegeskryf. Dit het byvoorbeeld met die apostel Paulus gebeur. Hy het dus verplig gevoel om te skryf: “Daar is party van julle wat sê dat ek julle niks gevra het nie, maar dat dit juis ’n slim plan was om julle op ’n ander manier in te loop.” Ja, party medegelowiges in Korinthe het verkeerdelik aangevoer dat Paulus se beweegrede nie liefde was nie. Hulle het verkeerdelik slegte beweegredes aan daardie getroue apostel toegeskryf.—2 Kor. 12:16, Die Lewende Nuwe Testament.
Die geval van God se Seun is ’n besondere voorbeeld. Hy het met die edelste beweegredes na die aarde gekom en voortdurend probeer om Jehovah God te eer en te regverdig. Hy is nietemin verkeerdelik van godslastering beskuldig (Matt. 26:64, 65). Die gevolge was rampspoedig vir diegene wat doelbewus verkeerde beweegredes aan God se Seun toegeskryf het en gevolglik aandadig was aan sy moord en aan pogings om die weg tot redding vir baie mense te sluit.—Matt. 23:29-39.
Daar is selfs aan Jehovah God verkeerde beweegredes toegeskryf. Satan en sy demone voer aan dat God nie uit liefde heers nie. Die Duiwel voer aan dat Jehovah eerder egotisties iets goeds van mense weerhou deur morele en etiese perke vir hulle te stel. Daarbenewens is Satan die mening toegedaan dat God gehoorsaamheid “koop” (Job 2:3-5). Die edele beweegredes van God se knegte word eweneens deur Satan in twyfel getrek. Die Duiwel ‘kla hulle immers dag en nag voor onse God aan’! (Openb. 12:10). Godvrugtige indiwidue sal Satan beslis nooit wil navolg deur op onbillike wyse verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf nie.
WAAK TEEN MISVERSTANDE
Wat kan Christene uit die Bybelverslag leer? Om maar een ding te meld: dit is moontlik om die gesindheid en beweegredes van ander verkeerd te verstaan. Dit is wat die Ammoniete gedoen het toe Dawid manne gestuur het om koning Hanun te troos. ’n Persoon is dalk skaam en teruggetrokke. Hy lyk miskien ook stroef. Ander kan verkeerdelik tot die gevolgtrekking kom dat hy koel, trots en onvriendelik is, hoewel dit moontlik glad nie die geval is nie.
Soms meen mense verkeerdelik dat ander lui is. Maar die persoon wat in hulle oë ’n luiaard is, doen moontlik sy bes. Weens ’n fisiese gebrek of gesondheidsprobleem kan hy dalk nie meer doen of vinniger werk nie. Dit is dus goed om te besef dat daar talle redes bestaan waarom nie alle persone ewe produktief of bekwaam is nie.
Partymaal is verkeerde beweegredes toegeskryf aan persone wat bloot probeer het om op liefdevolle wyse bedagsaam teenoor ander te wees. In ’n sekere kantoor maak verskeie persone beurte om die telefoon selfs na gewone werkure te beantwoord. Hulle hoef nie daar by die telefoon te sit nie, maar kan iets anders in ’n vertrek daar naby doen. Eendag was ’n verantwoordelike persoon wat nie op diens was nie by die telefoon toe dit lui. Bedagsaam het hy dit beantwoord sodat die persoon wat op diens was nie sy werk in ’n vertrek daar naby sou hoef te onderbreek nie. Ongelukkig het die persoon wat op diens was ’n verkeerde beweegrede aan die bedagsame indiwidu toegeskryf in plaas daarvan om hom vir sy liefdevolle hulpvaardigheid te bedank. lets gerings? Ja, maar dit lig die nodigheid toe om te waak teen misverstande wanneer ’n mens ander se gesindhede en beweegredes beoordeel.
GEE AAN ANDER DIE VOORDEEL VAN DIE TWYFEL
Met die oog op die slegte gevolge wat daaruit voortspruit wanneer ’n mens verkeerde beweegredes aan ander toeskryf, wil ons dit beslis nie doen nie. Christene is verstandig as hulle ander die voordeel van die twyfel gee. Dit is in ooreenstemming met die goddelike beginsel wat gemeld is deur die apostel Paulus wat gesê het dat die liefde “alles glo” (1 Kor. 13:7). Die toepassing van hierdie beginsel beteken inderdaad dat ’n mens ’n mede-Christen vertrou wanneer daar twyfel ontstaan, in plaas daarvan om onnodig agterdog te koester.
As ons ander beter leer ken, sal dit ons help om nie verkeerde beweegredes aan hulle toe te skryf nie. Dit duur soms maande, of selfs jare. Maar in die meeste gevalle is die gevaar om verkeerde beweegredes aan ander toe te skryf kleiner as ons beter ingelig is.
WANNEER ONS BEWEEGREDES IN TWYFEL GETREK WORD
Maar gestel nou dat ander aan ons verkeerde beweegredes toeskryf. Hoe moet ons reageer? Dit is goed om nie aanstoot te neem nie, want Prediker 7:9 sê: “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie.” Mettertyd sal die ander persoon jou miskien beter leer ken en sy siening verander. Wanneer hy besef dat hy ’n fout begaan het, sal hy jou des te meer liefhê, veral aangesien jy nie kwaad geword het nie. Christene wil God graag navolg, en hy lê selfbeheersing aan die dag wanneer hy beskuldig word. Jehovah ken ook ons beweegredes, en hy sal ons vertroos. Ons sal vreugde smaak indien ons steeds ‘op Jehovah vertrou en doen wat goed is’. Indien hy ons in ’n sekere saak wil regverdig, sal hy dit op die gepaste tyd doen.—Ps. 37:3-8; Hand. 15:8; 2 Kor. 7:6.
’n Besonder moeilike situasie ontstaan wanneer ’n persoon raad ontvang van iemand wat sy beweegredes verkeerd beoordeel. Wat hy ook al sê om homself te verdedig, sal as ’n verskoning beskou word. Die raad sal dalk glad nie eers van toepassing wees nie omdat alle faktore nie in aanmerking geneem is nie. Maar party welmenende raadgewers sal moontlik jou beweegredes in twyfel trek indien jy probeer verduidelik wat die ware toedrag van sake is. Indien dit nie so ’n belangrike saak is nie, sal jy miskien besluit om niks verder te sê om die raadgewer se beskouings reg te stel nie, mits jou stilswye geen skadelike gevolge sal hê nie. Maar dit is nie altyd nodig om stil te bly indien jou posisie of beweegredes verkeerd beoordeel word nie. Dit sal klaarblyklik moreel verkeerd wees om nie teen ’n leuen protes aan te teken nie. Daar is gevalle waar dit gepas is om jou posisie of gesindheid kalm te verduidelik sodat jou gewete kan rus omdat jy weet dat jy ten minste ’n poging aangewend het om sake op te klaar in plaas daarvan om lamsakkerig te erken dat ’n valse aantyging waar is. Sodoende kan die raadgewer ook daarby baat vind, veral as hy daardeur leer om gebalanseerde raad te gee.
’n Duitse spreekwoord sê: “As iemand eenkeer gelieg het, glo jy hom nie meer nie, selfs al praat hy die waarheid.” Maar dit behoort nie die geval onder Christene te wees nie. Gestel ’n persoon begaan ’n fout wat aan die lig kom en ’n latere verwikkeling herinner ander aan hierdie fout van die verlede. Moet hulle dan hierdie eertydse oortreder wantrou? Nie noodwendig nie, want liefde weerhou ’n mens daarvan om ander gou te veroordeel. As ons, al is ons onskuldig, verdink word van iets net omdat ons in die verlede so iets gedoen het, sal ons mos ontsteld wees oor die gebrek aan vertroue wat in ons getoon word, nie waar nie? Natuurlik sal ons, want onder die invloed van God se heilige gees het mense ingrypende veranderinge ten goede aangebring. Dit is ook goed om te onthou dat ‘die liefde nie boekhou van die kwaad nie’.—1 Kor. 6:9-11; 13:4, 5, NAB.
VERSIGTIGHEID EN BALANS IS NODIG
Terwyl ons probeer om die beginsel toe te pas om nie verkeerdelik slegte beweegredes aan ander toe te skryf nie en om ons balans te behou indien ander ons bedoelings verkeerd vertolk, moet ons onthou dat ’n mens versigtig moet wees. Wanneer Christene byvoorbeeld onder ’n bewind lewe wat God se ware knegte vervolg, sal sekere amptenare lis gebruik om hulle te oorreed om medegelowiges te verraai. Hoe kan ’n persoon in sulke gevalle elke verklaring of belofte van die vervolgers glo? Die volgende beginsel in God se Woord is op so ’n situasie van toepassing: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.” En Jesus Christus het vir sy volgelinge gesê om “versigtig soos die slange” te wees.—Spr. 14:15; Matt. 10:16.
Maar Christene moet mede-aanbidders van God vertrou en glo solank as wat daar geen onomstootlike bewys van ontrouheid is nie. Ons kan gerus die geïnspireerde woorde onthou: “Wie is jy wat die huiskneg van ’n ander oordeel?” “Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ’n ander oordeel?”—Rom. 14:4; Jak. 4:12.
Onthou jy die geval wat aan die begin gemeld is? Een indiwidu het slegte beweegredes toegeskryf aan iemand anders wat haar nie gegroet het nie. Wel, tydens ’n latere gesprek is daar bevind dat die man bloot ingedagte was en die vrou nie herken het nie. Dit was die enigste rede waarom hy haar nie gegroet het nie. Dit was goed dat hierdie vrou haar indruk met die man bespreek het en nie ’n grief teen hom gekoester het sonder om vir hom te vertel wat sy dink nie. Maar dit sou selfs beter gewees het as sy uit die staanspoor aanvaar het dat die ander persoon haar maar net nie raakgesien het nie.
Dit is voorwaar nodig om gebalanseerd te wees wanneer ’n mens ander se beweegredes beoordeel. Gelukkig sal daar ’n tyd aanbreek wanneer niemand op aarde agterdogtig sal wees oor die woorde of dade van ander mense nie. Dit sal mettertyd die geval wees in die nuwe stelsel van dinge onder Koninkryksbewind. Almal sal dan liefde betoon en mekaar se goeie eienskappe raaksien. Dinge wat aanstoot gee of hartseer, bitterheid of mismoedigheid veroorsaak, sal dan tot die verlede behoort. Tot dan moet ons oppas dat ons nie verkeerdelik slegte beweegredes aan ander toeskryf nie.