Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w01 4/1 bl. 20-23
  • Voel jy dat ander jou misverstaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voel jy dat ander jou misverstaan?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Onvermydelike werklikheid
  • Negatiewe gevolge
  • Stryk sake uit in ’n gees van liefde
  • ‘Jehovah toets die harte’
  • Verstaan jy dit dalk net verkeerd?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Waarom het my vriend my seergemaak?
    Ontwaak!—2000
  • Moenie verkeerde beweegredes aan ander toeskryf nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Wat beteken dit om ’n goeie vriend te wees?
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
w01 4/1 bl. 20-23

Voel jy dat ander jou misverstaan?

ANTON was ontsteld. Skielik en om geen verklaarbare rede nie het sy goeie vriend Len hom koel begin behandel.a Hy het Anton by verskillende geleenthede nie teruggegroet nie, en wanneer hulle in mekaar se geselskap was, was dit asof daar ’n muur tussen hulle was. Anton het begin vrees dat hy iets moes gesê of gedoen het wat sy vriend misverstaan het. Maar wat?

Misverstande is algemeen. Baie is gering en kan maklik reggestel word. Ander kan uiters frustrerend wees, veral wanneer verkeerde indrukke voortduur ondanks al die pogings om dit te verdryf. Waarom kom misverstande voor? Hoe raak dit die individue wat daarby betrokke is? Wat kan jy doen as ander iets wat jy doen, misverstaan? Maak dit in elk geval werklik saak wat ander van jou dink?

’n Onvermydelike werklikheid

Aangesien ander mense nie ons gedagtes en bedoelings kan lees nie, gaan iemand vroeër of later ons woorde of dade misverstaan. Daar is hope dinge wat tot misverstande kan lei. Soms druk ons net nie ons gedagtes so duidelik en akkuraat uit as wat nodig is nie. Agtergrondgeluide en ander dinge wat ’n mens se aandag aftrek, kan dit moeilik maak vir ander om hulle volle aandag aan ons te skenk.

Sekere maniere en gewoontes word ook maklik verkeerd verstaan. ’n Skaam persoon kan byvoorbeeld verkeerdelik veroordeel word as koel, afsydig of trots. Persoonlike ondervindinge van die verlede kan lei tot emosionele in plaas van rasionele reaksies op sekere situasies. Kultuur- en taalverskille beteken dat mense mekaar nie noodwendig goed gaan verstaan nie. Voeg hierby onakkurate gerugte en skinderpraatjies, en dit behoort ons nie te verbaas dat die betekenis wat mense heg aan iets wat gesê of gedoen is, soms verskil van wat oorspronklik bedoel is nie. Dit alles is natuurlik ’n skrale troos vir diegene wat voel dat hulle bedoelings verkeerd opgeneem is.

Anna het byvoorbeeld ’n onskuldige opmerking gemaak oor die gewildheid van ’n vriendin in haar afwesigheid. Die opmerking is uit verband uit aangehaal, en toe het daardie vriendin, tot Anna se verbasing en ontsteltenis, haar woedend voor ’n hele paar ander mense daarvan beskuldig dat sy jaloers is op al die aandag wat ’n sekere jongman aan die vriendin skenk. Anna se opmerking is heeltemal misverstaan, en al haar pogings om haar vriendin te verseker dat sy nie kwaad bedoel het nie, was nutteloos. Daardie situasie het baie pyn veroorsaak, en ’n lang tyd het verbygegaan voordat Anna die misverstand heeltemal uit die weg kon ruim.

Ander beoordeel jou dikwels volgens hulle begrip van jou bedoelings. Dit is dus natuurlik om sleg te voel as mense jou beweegrede verkeerd vertolk. Jy is dalk kwaad en meen dat daar geen rede is waarom enigiemand jou moes misverstaan nie. Vir jou is sulke menings bevooroordeeld, krities of heeltemal verkeerd, en dit kan jou diep seermaak—veral as die mening van diegene wat jou onregverdig beoordeel, vir jou belangrik is.

Hoewel jy dalk ergerlik is oor die manier waarop mense jou oordeel, is dit nietemin gepas dat jy die mening van ander respekteer. Dit is nie Christelik om te ignoreer wat ander dink nie, en ons wil nooit hê dat ons woorde of dade ’n skadelike uitwerking op ander mense moet hê nie (Matteus 7:12; 1 Korintiërs 8:12). Daarom sal daar dalk tye wees wanneer jy iemand se verkeerde mening omtrent jou moet regstel. Dit sal egter nie help om te besorg oor ander se guns te wees nie, want dit kan veroorsaak dat ’n mens jou selfrespek verloor of voel dat ander jou verwerp. Jou ware waardes hang immers nie af van wat ander dink nie.

Daarenteen besef jy dalk dat die kritiek teen jou gegrond is. Dit kan ook seermaak, maar as jy gewillig en eerlik jou eie tekortkominge erken, kan sulke ondervindinge ’n positiewe uitwerking hê en jou aanspoor om die nodige veranderinge te maak.

Negatiewe gevolge

Misverstande kan moontlik of moontlik nie tot ernstige probleme lei nie. As jy byvoorbeeld ’n man hard hoor praat in ’n restaurant, kan jy tot die gevolgtrekking kom dat hy óf ’n ekstrovert is óf aandag wil trek. Jy kan verkeerd wees. Die persoon met wie hy praat, is dalk hardhorend. Of miskien lyk ’n winkelassistent onvriendelik, maar sy voel moontlik nie lekker nie. Hoewel sulke misverstande tot negatiewe indrukke lei, sal dit waarskynlik nie ernstige of blywende gevolge hê nie. Maar soms kan misverstande rampspoedig wees. Kyk byvoorbeeld na twee voorvalle in die geskiedenis van eertydse Israel.

Toe Nahas, die koning van Ammon, gesterf het, het Dawid boodskappers gestuur om sy seun Hanun te troos, wat in sy vader se plek begin heers het. Maar die boodskappers se besoek is verkeerdelik as vyandelike spioenasie op Ammonitiese gebied beskou, wat daartoe gelei het dat Hanun eers die boodskappers verneder het en daarna oorlog teen Israel gevoer het. Gevolglik het ten minste 47 000 mense hulle lewe verloor—dit alles omdat goeie bedoelings misverstaan is.—1 Kronieke 19:1-19.

Vroeër in Israel se geskiedenis is ’n ander misverstand op ’n heel ander manier reggestel. Die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het ’n opsigtelike altaar by die Jordaanrivier gebou. Die res van Israel het dit as ’n daad van ontrouheid, as ’n opstand teen Jehovah, beskou. Hulle het dus bymekaargekom om oorlog te gaan voer. Voor enige drastiese stappe geneem is, het hierdie ander Israeliete boodskappers gestuur om hulle verontwaardiging oor die vermeende daad van ontrouheid duidelik te maak. Dit was goed dat hulle dit gedoen het, want dié wat die altaar gebou het, het geantwoord dat hulle glad nie van plan was om hulle rug op rein aanbidding te keer nie. Inteendeel, die altaar is opgerig om as ’n monument te dien van hulle getrouheid aan Jehovah. Hierdie misverstand kon ’n bloedbad veroorsaak het, maar wysheid het gekeer dat so iets gebeur.—Josua 22:10-34.

Stryk sake uit in ’n gees van liefde

’n Mens kan baie leer deur hierdie verslae te vergelyk. Dit is natuurlik wys om die geskil uit te stryk. Wie weet hoeveel lewens in hierdie laaste geval gespaar is, bloot omdat die twee partye daaroor gepraat het? In die meeste gevalle sal lewens nie op die spel wees as jy nie iemand se werklike bedoelings verstaan nie, maar vriendskappe wel. As jy dus voel dat iemand nie reg teenoor jou opgetree het nie, kan jy jou afvra: Is ek seker dat ek die saak verstaan soos dit werklik is, of verstaan ek dit verkeerd? Wat was die ander persoon se beweegredes? Vra hom. Voel jy dat jy misverstaan is? Praat daaroor. Moenie toelaat dat trots sake bederf nie.

Jesus het ’n uitstekende dryfveer gegee om misverstande uit die weg te ruim: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matteus 5:23, 24). Om die persoon alleen te nader, sonder om ander te betrek, is dus die regte manier om dit te doen. Dit sal nie help as die een wat jou aanstoot gegee het, jou klagte vir die eerste keer van iemand anders hoor nie (Spreuke 17:9). Jou doelwit moet wees om vrede te maak in ’n gees van liefde. Sê kalm en in ondubbelsinnige, eenvoudige woorde wat die probleem is, sonder om beskuldigend te klink. Verduidelik hoe die situasie jou laat voel. Luister dan onbevooroordeeld na die ander persoon se standpunt. Moenie haastig wees om sekere beweegredes aan hom toe te skryf nie. Wees bereid om die ander persoon die voordeel van die twyfel te gee. Onthou, die liefde “glo alles”.—1 Korintiërs 13:7.

Selfs nadat misverstande uit die weg geruim is, kan daar natuurlik nog gekrenkte gevoelens of langdurige negatiewe gevolge wees. Wat kan gedoen word? Waar nodig, is dit beslis gepas om opreg verskoning te vra en om ook enige ander stappe te neem wat redelikerwys geneem kan word om sake reg te stel. In al sulke gevalle sal dit goed wees vir die gekrenkte party om die volgende geïnspireerde raad te volg: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kolossense 3:13, 14; 1 Petrus 4:8.

Solank ons onvolmaak is, sal daar misverstande en gekrenkte gevoelens wees. Enigeen kan ’n fout begaan of iets sê op ’n manier wat ongevoelig en onvriendelik klink. Die Bybel toon duidelik: “Ons almal struikel baie kere. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2). Aangesien Jehovah God deeglik bewus hiervan is, het hy ons hierdie instruksies gegee: “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase. Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie hoor dat jou dienaar jou vloek nie. Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek het.”—Prediker 7:9, 21, 22.

‘Jehovah toets die harte’

Maar sê nou dit lyk onmoontlik om iemand se slegte indruk van jou te verander? Moenie moed opgee nie. Hou aan om Christelike eienskappe aan te kweek en te openbaar na die beste van jou vermoë. Vra Jehovah om jou te help om te verbeter waar jy moet. Jou ware waarde as persoon word per slot van rekening nie deur ander mense bepaal nie. Net Jehovah kan ’n akkurate ‘toets van harte’ doen (Spreuke 21:2). Selfs Jesus is geminag en deur mense verag, maar dit het nie Jehovah se beskouing van hom beïnvloed nie (Jesaja 53:3). Hoewel party mense jou dalk verkeerd sal beoordeel, kan jy ‘jou hart voor Jehovah uitstort’, vol vertroue dat hy jou verstaan, “want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (Psalm 62:9; 1 Samuel 16:7). As jy aanhou doen wat voortreflik is, sal diegene wat ’n slegte indruk van jou het, mettertyd besef dat hulle verkeerd was en hulle beskouing verander.—Galasiërs 6:9; 2 Timoteus 2:15.

Onthou jy Anton wat aan die begin van die artikel gemeld is? Hy het die moed bymekaargeskraap om skriftuurlike raad te volg, en hy het met sy vriend Len gepraat en gevra wat hy gedoen het wat hom ontstel het. Wat was die gevolg? Len was uit die veld geslaan. Hy het geantwoord dat Anton absoluut niks gedoen het wat hom ontstel het nie en het hom daarvan verseker dat hy nie bedoel het om enigsins anders as gewoonlik teenoor hom op te tree nie. As hy afsydig was, was dit dalk net omdat hy diep in gedagte was. Len het verskoning gevra dat hy onwetend sy vriend seergemaak het en het hom bedank dat hy die saak onder sy aandag gebring het. Hy het bygevoeg dat hy in die vervolg meer daarop sal let om nie dieselfde indruk vir ander te gee nie. Alle spanning het eenvoudig in die niet verdwyn, en die twee vriende was daarna net so na aan mekaar soos tevore.

Dit is nooit aangenaam om te voel dat ander jou misverstaan nie. Maar as jy alles in jou vermoë doen om sake uit te stryk en die skriftuurlike beginsels van liefde en vergifnis toepas, sal jy heel waarskynlik ook dieselfde goeie resultate hê.

[Voetnoot]

a Van die name in hierdie artikel is verander.

[Prente op bladsy 23]

Dit lewer gelukkige resultate as sake in ’n gees van liefde en vergifnis uitgestryk word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel