Ek het die “tog na die dood” oorleef
Soos vertel deur Louis Piéchota
MY OUERS het in 1922 saam met baie ander Poolse mynwerkers in Frankryk aangekom. Soos die meeste van hierdie immigrante was hulle goeie Katolieke. Maar toe ek omtrent 11 jaar oud was, het my vader en my moeder die Katolieke Kerk verlaat en Jehovah se Getuies of Zloty Wiek (“Goue Eeuers”) geword, soos die Poolse Katolieke hulle neerhalend genoem het. Dit was in 1928. Sedert die dae van my jeug het ek dus die vreugde gehad om die “goeie nuus” wat in die Heilige Skrif uiteengesit word, aan ander te verkondig.
Kort voordat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het ek vir die eerste keer die pionierdiens of voltydse predikingswerk gesmaak. Ek en my metgeselle—ons was al vyf van Poolse afkoms—het die Koninkryksboodskap in die dorpies en gehuggies al langs die kus van Normandië verkondig. Ons het destyds grammofone en opnames van Bybeltoesprake in Frans gebruik.
Nadat vyandelikhede in 1939 uitgebreek en die oorlogskoors toegeneem het, het vyandige mense in die dorp Arques la Bataille ons by die polisie gaan verkla. Die dorpenaars het ons grammofone vir kameras aangesien. Omdat ons ’n vreemde aksent gehad het, het die polisie ons vir Duitse spioene aangesien en ons dus in hegtenis geneem en in die nabygeleë hawestad Dieppe in die tronk gestop. Nadat ons 24 dae aangehou is, is ons, terwyl ons aan mekaar geboei was, in die strate geparadeer en na die hof geneem. Die vyandige skare wou ons in die hawe gooi. Maar die regter het gou besef dat ons onskuldig is en ons vrygespreek.
IN DIE BAN
Kort nadat die werk van Jehovah se Getuies in Oktober 1939 verbied is, is ek weer in hegtenis geneem en ’n tronkvonnis van ses maande opgelê omdat ek daarvan beskuldig is dat ek die koninkryk van God onwettig verkondig het. Ek het aanvanklik die tyd in eensame opsluiting in die Béthune-gevangenis deurgebring sonder enigiets om te lees. Etlike weke later, toe ek gedink het dat ek kranksinnig gaan word, het die bewaarder vir my ’n Bybel gebring. Hoe het ek Jehovah tog gedank! Ek het honderde verse en verskeie hoofstukke uit die hoof geleer. Hierdie gedeeltes het my versterk in die dae wat voorgelê het. Trouens, ek kan nou nog tekste aanhaal wat ek in die Béthune-gevangenis uit die hoof geleer het.
In Februarie 1940 is ek van Béthune oorgeplaas na die Le Vernet-kamp in die suide van Frankryk waar die Franse owerheid sogenaamde “gevaarlike” buitelanders geïnterneer het.
In die lente van 1941 het ’n Duitse kommissie na die kamp gekom en gevra om my te kry. Hulle het my teruggestuur na my tuisdorp in die besette deel van noordelike Frankryk om daar in ’n steenkoolmyn te werk. Ek het natuurlik my nuwe vryheid gebruik om die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig. Maar toe ’n nuwe Getuie in hegtenis geneem is en onnadenkend vir die Franse polisie gesê het dat ek haar van Bybellektuur voorsien het, is ek weer in hegtenis geneem en 40 dae lank na die Béthune-gevangenis gestuur.
Na my vrylating het ek voortgegaan om te getuig. Dit was terwyl ek in die myndorp Calonne-Ricouart gepreek het dat ek vir die vierde keer in hegtenis geneem en na die Béthune-gevangenis teruggestuur is. Die Duitsers het my daar kom arresteer omdat ek geweier het om ekstra ure en Sondae in die steenkoolmyn te werk om die Nazi-oorlogpoging te steun.
’N GEVANGENE IN BELGIË, HOLLAND EN DUITSLAND
Die Duitsers het my oorgeplaas na die Loos-strafgevangenis naby Lille, en ’n paar weke later na die Sint-Gilles-gevangenis in Brussel, België.
Daarna is ek opgesluit in die Huy-fort naby Luik, België, voordat ek eindelik na die S’Hertogenbosch- of Vught-konsentrasiekamp in Holland gestuur is. Daar het ek ’n nommer geword—7045—en het ek ’n kampuniform gekry met die pers driehoek daarop wat my as ’n Bibelforscher of getuie van Jehovah geïdentifiseer het. Ek is in Blok 17-A geplaas.
Dit was vir my baie moeilik om daaraan gewoond te raak om sonder sokkies in Hollandse klompe te marsjeer. My voete was vol stukkende blase. Indien ek net effens sou struikel, het die SS-wagte my op die enkels geskop. Die vel van my voete het gou verdik en toe kon ek net so vinnig soos die res marsjeer.
Daar was nog 15 Getuies in daardie kamp. Daar is vir ons gesê dat ons onmiddellik vrygelaat sou word mits ons ’n vorm teken waarin ons ons geloof verloën. Nie een van ons het dit gedoen nie.
Ons is mettertyd van daardie konsentrasiekamp in Holland oorgeplaas na Duitsland. Ons is soos beeste in klein goederewaens, wat elk 80 mense bevat het, gejaag en gedwing om drie dae en nagte te staan sonder voedsel, water of enige geriewe vir ontlasting. Eindelik het die trein Oranienburg, sowat 30 kilometer noord van Berlyn, bereik. Ons moes toe in die looppas 10 kilometer ver na die Heinkel-vliegtuigfabrieke marsjeer, terwyl SS-honde ons hakke gebyt het indien ons stadiger geloop het. Ons groepie Getuies het daarin geslaag om bymekaar te bly.
Kort daarna is ons almal verplaas na die nabygeleë Sachsenhausen-konsentrasiekamp. Daar het ’n nuwe nommer, 98827, langs my pers driehoek verskyn.
DIE LEWE IN SACHSENHAUSEN
Toe ons Sachsenhausen binnegaan, is ek getref deur die volle ironie van die slagspreuk wat SS-hoof Himmler in yslike letters binnekant die kamp laat aanbring het. Dit het gelui: “Arbeit macht frei” (Arbeid maak vry). Hoe skynheilig tog! Ons het natuurlik ’n vryheid gehad wat die Nazi’s nooit geken het nie, die vryheid wat Christelike waarheid bring (Joh. 8:31, 32). In alle ander opsigte kon die lewe in Sachsenhausen opgesom word as slawe-arbeid, stadige uithongering, vernedering en verlaging.
Die Nazi’s het hulle dit ten doel gestel om Jehovah se Getuies te breek of dood te maak. Hulle het baie doodgemaak. Maar dit was ’n morele nederlaag vir die Nazi’s, en ’n oorwinning van geloof en onkreukbaarheid vir die Getuies wat gesterf het.
In plaas daarvan om geestelik verpletter te word, het die res van ons nie toegelaat dat die vernederende toestande ons verhinder om volgens hoë geestelike waardes te lewe nie. Beskou die geval van broer Kurt Pape. Hy is beveel om aan te sluit by ’n kommando (werkspan) wat by ’n wapenfabriek gewerk het. Hy het geweier en gesê dat hy al 16 jaar lank die Christelike stryd sonder vleeslike wapens voer en dat hy nie nou sy onkreukbaarheid sou beklad nie. Hy het natuurlik sy lewe gewaag deur te weier. Verbasend genoeg het het die kampbevelvoerder hom toegelaat om ander werk te doen. By ’n ander geleentheid het broer Pape my berispe omdat ek brood geneem het uit die kampbakkery waar ek moes werk. Ek het dit gedoen sodat die broers ’n bietjie meer kos kon hê, maar hy het vir my gesê dat dit verkiesliker is om honger te ly as om Jehovah se naam smaad aan te doen deur as ’n dief betrap te word. Dit het my baie beïndruk. Sondagmiddae het ek as tolk gedien vir broer Pape wat daarin geslaag het om belangstelling in die Koninkryksboodskap te wek onder ’n groep Russiese en Oekrainse gevangenes. Ja, broer Pape was ’n goeie voorbeeld. Ongelukkig is hy gedood tydens ’n lugaanval deur die Geallieerde magte kort voor ons bevryding.
DIE “TOG NA DIE DOOD”
Teen April 1945 het die westelike Geallieerdes die Berlyn-gebied vanuit die weste genader en het die Russe vanuit die ooste genader. Die Nazi-leiers het verskeie metodes bestudeer om die gevangenes in die konsentrasiekampe dood te maak. Maar die vermoording van honderdduisende mense en die probleem om in ’n paar dae van hulle liggame ontslae te raak sonder om enige teken van hulle afskuwelike misdade te laat, was vir hierdie bose manne te moeilik. Hulle het dus besluit om die siekes dood te maak en die res na die naaste hawe te laat loop waar hulle op skepe gelaai sou word wat na die oop see geneem en dan gekelder sou word sodat die gevangenes sou verdrink.
Vanaf Sachsenhausen moes ons sowat 250 kilometer na Lübeck marsjeer. Ons sou die nag van 20-21 April 1945 vertrek. Die gevangenes is eers volgens hulle nasionaliteit ingedeel. Hoe dankbaar was ons Jehovah tog toe al die Getuie-gevangenes beveel is om in die snyerswinkel te vergader! Daar was 230 van ons uit ses lande. Siek Getuies in die siekeafdeling, waar al die siekes voor die ontruiming doodgemaak moes word, is met lewensgevaar deur broers gered en na die snyerswinkel gedra.
Onbeskryflike verwarring het onder die ander gevangenes geheers. Diefstal was aan die orde van die dag. Ons het egter ’n “byeenkoms” gehou en mekaar geestelik versterk. Eerlank het ons beurt egter aangebreek om met die lang tog te begin, kamma na ’n versamelkamp, maar in werklikheid na ’n beplande watergraf. Die verskillende volksgroepe het in groepe van 600 gevangenes vertrek—eers die Tsjegge, toe die Pole, ensovoorts—altesaam sowat 26 000. Jehovah se Getuies was die laaste groep wat vertrek het. Die SS het vir ons ’n kar gegee om te trek. Ek het later gehoor dat dit van die buit bevat het wat die SS by die gevangenes afgeneem het. Hulle het geweet dat Jehovah se Getuies niks sou vat nie. Die kar was ’n seën, want siekes en bejaardes kon gedurende die tog ’n rukkie daarop sit en rus. Wanneer een sy krag herwin het, sou hy afklim en loop en ’n ander Getuie, wat te swak was om te loop, sou sy plek inneem. So het dit aangehou gedurende die twee weke wat die “tog na die dood” geduur het.
Dit was in alle opsigte ’n “tog na die dood”, want ons bestemming was nie alleen ’n watergraf nie, maar die dood het oral langs die pad gewag. Enigiemand wat nie kon byhou nie, is genadeloos deur ’n SS-koeël gedood. Sowat 10 700 sou hulle lewens op daardie wyse verloor voordat die tog geëindig het. Maar weens Christelike liefde en eenheid is nie een Getuie agtergelaat om deur die SS doodgemaak te word nie.
Die eerste 50 kilometer was ’n nagmerrie. Die Russe was so naby dat ons hulle skote kon hoor. Ons SS-opsieners was bang om in die hande van die Russe te beland. Daardie eerste skof, van Sachsenhausen na Neuruppin, was dus ’n gedwonge tog wat 36 uur geduur het.
Ek het aanvanklik ’n paar skamele besittings saamgeneem. Maar namate ek al hoe moeër geword het, het ek die een ding na die ander weggegooi totdat ek net ’n kombers gehad het waarmee ek my snags kon toerol. Ons het die meeste nagte buite geslaap met net takkies en blare tussen ons en die klam grond. Een nag kon ek egter in ’n skuur slaap. Stel jou voor hoe verbaas ek was om ’n Regverdiging-boek (’n publikasie van die Wagtoringgenootskap) in die strooi versteek te kry! Die volgende oggend het ons gashere ons iets te ete gegee. Maar dit was buitengewoon. Daarna het ons dae lank niks gehad om te eet of te drink nie, behalwe ’n paar plante waarmee ons snags kruietee gemaak het wanneer ons tog onderbreek is sodat ons kon slaap. Ek onthou dat ek eenkeer gesien het hoedat ’n klompie gevangenes wat nie Getuies was nie gehardloop het na die karkas van ’n perd wat naby die pad doodgemaak is en die vleis verorber het ondanks die houe van hulle SS-wagte wat hulle met hulle geweerkolwe geslaan het.
Die hele tyd was die Russe besig om van die een kant te nader en die Amerikaners van die ander kant. Teen 25 April was die situasie so deurmekaar dat ons SS-wagte nie meer geweet het waar die Russe of die Amerikaanse troepe hulle bevind het nie. Hulle het dus die hele afdeling gevangenes beveel om vier dae lank in ’n bosagtige gebied oor te bly. Terwyl ons daar was, het ons brandnetels, wortels en boombas geëet. Hierdie vertraging was ’n bestiering, want as ons nie daar oorgebly het nie, sou ons Lübeck bereik het voordat die Duitse leër oorgegee het en sou ons op die bodem van Lübeck-baai geëindig het.
DIE LAASTE NAG
Op 29 April het die SS-wagte besluit om weer met die gevangenes in die pad te val na Lübeck. Hulle het gehoop om daar aan te kom voordat die Russiese en Amerikaanse magte mekaar bereik het. Die tog het etlike dae geduur, en ons was nou naby Schwerin, ‘n stad sowat 50 kilometer van Lübeck af. Weer eens het die SS ons beveel om in die woud weg te kruip. Dit sou ons laaste nag in gevangenskap wees. Maar wat ’n nag!
Die Russe en die Amerikaners was besig om die oorblyfsels van die Duitse magte in ’n knyptangbeweging vas te trek en skote het van albei kante oor ons koppe getrek. ’n SS-offisier het ons aangeraai om onbewaak na die Amerikaanse linie sowat ses kilometer daarvandaan te loop. Maar ons was agterdogtig en nadat ons tot Jehovah gebid het vir leiding, het ons eindelik besluit om in die woud te vernag. Ons het later gehoor dat die gevangenes wat hierdie offisier se aanbod aanvaar het en probeer het om by die Amerikaanse linie te kom, deur die SS afgemaai is. Ongeveer 1 000 van hulle het daardie nag gesterf. Hoe dankbaar was ons vir Jehovah se beskerming!
Daardie laaste nag in Crivitz-woud was egter glad nie vreedsaam nie. Namate die geveg nader gekom het, het ons SS-wagte paniekbevange geraak. Party van hulle het die nag ingevlug, terwyl ander hulle wapens en uniforms versteek het en hulle geklee het in die gestreepte drag wat hulle van dooie gevangenes geneem het. Die wat herken is, is geskiet deur gevangenes wat die wapens gevind het wat agtergeloop is. Die verwarring was onbeskryflik! Oral het daar mans rondgehardloop en koeëls en bomme het oral gevlieg. Maar ons Getuies het bymekaar gebly en die storm onder Jehovah se beskermende hand tot die volgende oggend deurstaan.
Ons het ons dank aan Jehovah betuig in ’n Resolusie wat op 3 Mei 1945 aanvaar is. Ons het sowat 200 kilometer in 12 dae afgelê. Van die 26 000 gevangenes wat die Sachsenhausen-konsentrasiekamp op daardie “tog na die dood” verlaat het, het skaars 15 000 dit oorlewe. Maar al 230 Getuies wat die kamp verlaat het, het daardie beproewing oorlewe. Wat ’n wonderlike verlossing!
EK IS NOG STEEDS OP ’N TOG
Op 5 Mei 1945 het ek met die Amerikaanse magte kontak gemaak, en 21 Mei het ek weer by die huis in Harnes, noordelike Frankryk, opgedaag. Ek het die “tog na die dood” oorleef en het beslis Dawid se gevoelens, wat hy in Psalm 23:4 uitgespreek het, gedeel: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”
Die “tog na die dood” van Sachsenhausen af was maar net een skof in die reis deur die huidige stelsel van dinge na my doelwit, die lewe. Ek het sedertdien baie vreugde gesmaak omdat ek die “goeie nuus” verkondig het. Dit is my bede dat ek, saam met my vrou en drie kinders, die smal pad na die lewe sal bly bewandel en valstrikke na regs en na links sal vermy, net soos Jehovah my toegelaat het om daardie verskriklike tog te oorlewe.—Matt. 7:13, 14; Jes. 30:20, 21.
[Kaart op bladsy 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PAD NA DIE DOOD
20, 21 April 1945
Ontruiming van SACHSENHAUSEN-KAMP en van die HEINKEL-werkspanne
Schwerín
Crívítz-woud
Crívítz
Zapel-woud
Below-woud
Ravensbrück
Wittstock
Neuruppín
Oraníenburg
Sachsenhausen
Heinkel
Berlyn