Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 8/1 bl. 13-15
  • Hoe goed ken God sy knegte?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe goed ken God sy knegte?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • AFSTAND GEEN HINDERNIS NIE
  • DUISTERNIS EN VERBERGING BIED GEEN PROBLEEM NIE
  • HOE GOD SE KENNIS ’N MENS MOET RAAK
  • Jehovah ken ons goed!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Ken God jou werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ons is “wonderbaar gemaak”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ons is wonderbaar gemaak
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 8/1 bl. 13-15

Psalms

Hoe goed ken God sy knegte?

JEHOVAH God ken voorwaar sy knegte. Nie eens ons ouers, kinders, broers en susters of ons intiemste vriende kan ons so goed ken soos die Allerhoogste ons ken nie. Hy ken ons selfs beter as wat ons onsself ken. Die omvang van God se kennis van indiwidue word pragtig in Psalm 139 uitgebeeld.

Die psalmis Dawid het erken: “HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan: U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.”—Ps. 139:1-4.

Volgens hierdie woorde was Jehovah se kennis van die psalmis Dawid soos dié wat na ’n deeglike deurvorsing of ondersoek verkry is. Die Allerhoogste het hom in al sy daaglikse bedrywighede geken, of Dawid nou gelê en rus het en of hy opgestaan het. Niks wat Dawid kon doen, sou vir Jehovah verborge wees nie. Al was die Almagtige baie ver daarvandaan omdat sy woonplek in die hoogste hemele is, het hy selfs Dawid se gedagtes geken. Die feit dat Jehovah die psalmis se “gaan” en “lê” “deurvors” het, toon klaarblyklik dat God al Dawid se doen en late noukeurig betrag het asof hy hulle afgemeet het om vas te stel presies wat die aard daarvan was. Die Opperste Soewerein het dus volledige kennis gedra van die psalmis se “weë”, die paaie van sy lewensweg. Dawid het besef dat hy niks kon sê wat vir Jehovah verborge sou wees nie. Die Skepper sou selfs bewus wees van die woorde wat op die ‘punt van sy tong’ was maar wat ongesê gelaat is. Ware gevoelens kan daarbenewens nie deur geveinsde taal vir Jehovah verberg word nie. Mense kan deur mooi woorde bedrieg word, maar nie die Almagtige nie.

Dawid het besef dat daar perke was aan wat hy gedurende sy lewe kon doen. Hy het daarbenewens besef dat dit onmoontlik is om weg te kom onder die waaksame oog en die hand of beheer van sy Maker. Dit is klaarblyklik waarna die psalmis verwys het toe hy gesê het: “U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.”—Ps. 139:5.

Die intieme kennis wat Jehovah van hom gehad het, het die psalmis met ontsag vervul en hom laat uitroep: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie” (Ps. 139:6). God se kennis van indiwidue is so omvattend dat mense dit nie kan begryp nie. Geen man of vrou kan eens naastenby sulke kennis hê nie.

AFSTAND GEEN HINDERNIS NIE

Niks kan Jehovah verhinder om volledige kennis van sy knegte te hê nie. Dit maak nie saak waarheen hulle gaan nie, God se gees kan op hulle inwerk. Die psalmis het gesê: “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.”—Ps. 139:7-10.

Let op dat die psalmis ’n parallel trek tussen God se gees en God se aangesig. Aangesien God se gees of sy werkende krag die mees afgeleë dele van die ontsaglike heelal kan bereik, kan niemand van die Allerhoogste se aangesig, dit wil sê, van sy waarneming af wegvlug nie. Om in die psalmis se dag na die hemel op te klim, het beteken om die hoogste berge uit te klim, berge waarvan die pieke dikwels deur wolke verberg is. Indien ’n persoon dus op die hoogste bergkruin geklim het, sou hy steeds nie buite die bereik van God se gees wees nie. En hy sou ook nie van die gesig of waarneming van Jehovah af kon wegkom deur sy bed in die doderyk, figuurlik die laagste dele van die aarde, te maak nie. Al kon hy “die vleuels van die dageraad”a neem en die mees afgeleë deel in die weste bereik, sou hy steeds aan God se hand of sy beheer en leiding onderworpe wees. Deur middel van Sy gees sou Jehovah daar wees om hom te lei.—Vergelyk Deuteronomium 30:12, 13; Amos 9:2, 3, waar soortgelyke taal gebruik word.

DUISTERNIS EN VERBERGING BIED GEEN PROBLEEM NIE

Net soos ’n groot afstand ’n mens nie buite Jehovah se bereik plaas nie, doen duisternis of donkerheid dit ook nie. Die psalmis gaan voort: “En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig” (Ps. 139:11, 12). ’n Persoon kon skielik deur algehele duisternis omhul word asof hy daardeur verswelg of oorval is. Maar wat Jehovah betref, is die persoon net so duidelik sigbaar asof hy in die helder daglig staan.

Waar hy hierdie gedagte verder voer, sê die psalmis: “Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles [die liggaamsdele] bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.”—Ps. 139:13-16.

Dit is interessant dat die psalmis spesifiek gemeld het dat die niere deur God gevorm is. Met die oog op hulle ligging diep binnekant die liggaam is die niere onder die onbereikbaarste organe. Jehovah God kan egter reg tot in die baarmoeder en die diepste skuilhoeke van die ontwikkelende embrio sien. Toe Dawid nagedink het oor die wonderlike wyse waarop hy in die baarmoeder gevorm is, het dit hom beweeg om sy Maker te loof. Die embrio is vir mense-oë verberg asof dit in die diepste skuilhoeke van die aarde ontwikkel het. Die psalmis het hier dus klaarblyklik na sy moeder se baarmoeder as “die dieptes van die aarde” verwys. Daar in die baarmoeder kon die verborge ontwikkeling van die bene, senings en spiere vergelyk word met die saamwewing van ’n baba. Dit was alles vir die Allerhoogste sigbaar.

Verbasend genoeg het God reeds geweet hoe Dawid gaan lyk voordat die verskeie dele van sy liggaam in die baarmoeder onderskei kon word. Dit is so omdat die ontwikkeling van die embrio ’n vaste patroon volg asof dit die instruksies gehoorsaam wat in ’n boek opgeteken is.

HOE GOD SE KENNIS ’N MENS MOET RAAK

Die psalmis moes besef het dat die ontwikkeling van ’n baba voortreflike bewys lewer van God se ongeëwenaarde wysheid. Hierdie besef sou Dawid redelikerwyse beweeg het om na te dink oor God se gedagtes, soos hy gedoen het toe hy geskryf het: “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wanneer ek hulle tel, hulle is meer as die sand: word ek wakker, dan is ek nog by U” (Ps. 139:17, 18). Jehovah se gedagtes is so talryk dat indien Dawid hulle in die oggend begin tel het en aangehou het totdat hy bed toe gaan, hy nie klaar sou kry nie. Wanneer hy in die oggend wakker word, sou hy steeds by die Allerhoogste wees, dit wil sê, hy sou nog steeds die Skepper se gedagtes tel.

Aangesien Jehovah so ’n wonderlike God is, het die goddelose beslis geen verskoning nie. Dawid bid dat hulle hulle verdiende loon moet ontvang: “O God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg! Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!” (Ps. 139:19, 20). Weens hulle reputasie as bloedvergieters en omdat hulle God se naam smaad aangedoen het, het Dawid hierdie goddelose manne verafsku. Ons lees sy woorde: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!”—Ps. 139:21, 22.

Dawid wou glad nie soos hierdie goddelose manne wees nie. Hy het begeer dat Jehovah hom moet ondersoek en enige heimlike gebreke aan hom moes openbaar, en dan wou hy hê dat die Allerhoogste hom op die regte weg moes lei. Dit is met hierdie gedagte dat Psalm 139 afsluit. Ons lees: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”—Ps. 139:23, 24.

Psalm 139 behoort ons baie te bemoedig. Aangesien onse hemelse Vader alles sien, kan hy ons altyd in ’n tyd van nood te hulp snel. Sy intieme kennis van mense bied sterk versekering dat hy die dooies deur sy Seun kan opwek, want elke besonderheid omtrent hulle word akkuraat in sy volmaakte geheue bewaar. Jehovah se kennis van ons as indiwidue behoort ons lewens ten goede te beïnvloed en ons te beweeg om hom te loof en onsself te gedra op ’n wyse wat toon dat hy ons altyd dophou.

[Voetnoot]

a Die woorde “die vleuels van die dageraad” beskryf poëties hoe die lig van die daeraad asof met vlerke vinnig van die ooste na die mees afgeleë dele van die weste versprei.

[Prente op bladsy 14]

“Klim ek op na die hemel, U is daar,”

“My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel