Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 10/1 bl. 10-15
  • Ken God jou werklik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ken God jou werklik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Een wat al ons weë sien
  • God kan ons help waar ons ook al is
  • Die Een wat ons werklik verstaan
  • Jehovah ken ons goed!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Ons is “wonderbaar gemaak”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Probeer ander sien soos Jehovah hulle sien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Jona leer aangaande Jehovah se barmhartigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 10/1 bl. 10-15

Ken God jou werklik?

“HERE, . . . U is met al my weë goed bekend.”—PSALM 139:1, 3.

1. Hoe algemeen is die gevoel dat ander nie die sorge, probleme en druk waarmee ons te kampe het, “verstaan nie”?

VERSTAAN enigiemand werklik die sorge, druk en probleme waarmee jy te kampe het? Wêreldwyd is daar miljoene mense, jonk en oud, met geen gesin of familie wat omgee wat met hulle gebeur nie. Selfs in die gesin voel baie vrouens—ja, mans ook—dat hulle huweliksmaat nie werklik die druk begryp waaronder hulle gebuk gaan nie. Soms maak hulle gefrustreerd beswaar: “Maar jy verstaan nie!” En baie jongmense het ook al gesê dat niemand hulle verstaan nie. Tog is daar onder diegene wat daarna smag dat ander hulle beter verstaan sommige wie se lewe later uiters sinvol word. Hoe is dit moontlik?

2. Wat kan aanbidders van Jehovah in staat stel om ’n baie bevredigende lewe te lei?

2 Dit is omdat hulle, ongeag of hulle medemens hulle gevoelens ten volle verstaan of nie, die vertroue het dat God verstaan wat hulle deurmaak en dat hulle, as sy knegte, nie hulle probleme alleen hoef op te los nie (Psalm 46:2). Daarbenewens help God se Woord asook die verstandige Christen- ouere manne hulle om verder as hulle persoonlike probleme te kyk. Die Skrif help hulle om te besef dat hulle getroue diens kosbaar in God se oë is en dat daar ’n veilige toekoms vir diegene is wat hulle hoop op hom stel en op die voorsieninge wat hy deur Jesus Christus gemaak het.—Spreuke 27:11; 2 Korinthiërs 4:17, 18.

3, 4. (a) Hoe kan die besef dat “die HERE God is” en dat hy “ons gemaak” het ons help om vreugde uit sy diens te put? (b) Waarom vertrou ons ten volle op Jehovah se sorg?

3 Jy ken moontlik Psalm 100:2 wat sê: “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.” Hoeveel mense aanbid Jehovah werklik só? Vers 3 gee ons goeie redes om dit te doen, want dit herinner ons: “Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.” In die Hebreeuse teks word hy daar ʼElo·himʹ genoem, wat na sy grootheid in majesteit, waardigheid en uitmuntendheid verwys. Hy is die enigste ware God (Deuteronomium 4:39; 7:9; Johannes 17:3). Sy knegte leer sy Goddelikheid ken, nie as ’n blote feit wat vir hulle geleer is nie, maar as iets wat hulle ondervind en waarvan hulle deur gehoorsaamheid, vertroue en toegewydheid bewys lewer.—1 Kronieke 28:9; Romeine 1:20.

4 Omdat Jehovah die lewende God is en selfs ons hart kan sien, is niks vir sy oë verborge nie. Hy is ten volle bewus van wat in ons lewe gebeur. Hy verstaan die oorsaak van die probleme waarmee ons te kampe het, asook die geestelike en emosionele verwarring wat moontlik uit hierdie probleme voortspruit. As die Skepper ken hy ons beter as wat ons onsself ken. Hy weet ook hoe hy ons kan help om ons situasie die hoof te bied en hoe om blywende verligting te voorsien. Hy sal ons liefdevol help—soos ’n herder wat ’n lammetjie aan sy bors vashou—terwyl ons met ons hele hart op hom vertrou (Spreuke 3:5, 6; Jesaja 40:10, 11). ’n Studie van Psalm 139 kan baie doen om daardie vertroue te versterk.

Die Een wat al ons weë sien

5. Wat beteken dit as Jehovah ons “deurgrond”, en waarom is dit iets goeds?

5 Die psalmis Dawid het met diepe waardering geskryf: “HERE, U deurgrond en ken my” (Psalm 139:1). Dawid was oortuig dat Jehovah hom nie net oppervlakkig geken het nie. God het nie dieselfde beskouing van Dawid gehad as wat mense moontlik van hom gehad het deur net sy liggaamsbou, sy spreekvermoë of sy vaardigheid as harpspeler raak te sien nie (1 Samuel 16:7, 18). Jehovah het Dawid se diepste wese “deurgrond”, en hy het dit met liefdevolle besorgdheid oor sy geestelike welsyn gedoen. As jy een van Jehovah se toegewyde knegte is, ken hy jou net so goed soos hy Dawid geken het. Wek dit nie ’n gevoel van waardering sowel as ontsag in jou op nie?

6. Hoe toon Psalm 139:2, 3 dat Jehovah van al ons dade, selfs al ons gedagtes, bewus is?

6 Jehovah kon al Dawid se bedrywighede sien, en Dawid het dit geweet. “U ken my sit en my opstaan”, het die psalmis geskryf. “U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend” (Psalm 139:2, 3). Die feit dat Jehovah in die hemel is, ver van die aarde af, het nie verhinder dat hy weet wat Dawid doen en dink nie. Hy het Dawid se bedrywighede dag en nag “deurvors”, of sorgvuldig ondersoek, sodat hy kon weet wat dit was.

7. (a) Gebruik gebeurtenisse in Dawid se lewe as grondslag, en lewer kommentaar oor party dinge in ons lewe waarvan God bewus is. (b) Watter uitwerking moet bewustheid hiervan op ons hê?

7 Toe Dawid vanweë sy liefde vir God en vertroue in Sy mag om te verlos as ’n jong man aangebied het om teen die Filistynse reus Goliat te veg, het Jehovah dit geweet (1 Samuel 17:32-37, 45-47). Later, toe die vyandigheid van mense Dawid baie hartseer gemaak het, toe die druk so groot was dat hy snags gehuil het, is hy vertroos deur die wete dat Jehovah sy smekinge hoor (Psalm 6:7, 10; 55:3-6, 23). Toe ’n hart vol waardering Dawid gedurende ’n slapelose nag oor Jehovah laat peins het, was Jehovah eweneens goed daarvan bewus. (Psalm 63:7; vergelyk Filippense 4:8, 9.) Een aand toe Dawid gekyk het hoe die vrou van ’n buurman ’n bad neem, het Jehovah dit ook geweet, en hy het gesien wat gebeur toe Dawid, selfs net ’n kort rukkie, toegelaat het dat ’n sondige begeerte God uit sy gedagtes verdring (2 Samuel 11:2-4). Later, toe die profeet Natan gestuur is om Dawid van die erns van sy sonde bewus te maak, het Jehovah nie net die woorde gehoor wat uit Dawid se mond gekom het nie, maar het hy ook die berouvolle hart raakgesien waaruit dit gekom het (2 Samuel 12:1-14; Psalm 51:3, 19). Behoort dit ons nie ernstig te laat dink oor waarheen ons gaan, wat ons doen en wat in ons hart is nie?

8. (a) Hoe kan die ‘woorde op ons tong’ ons verhouding met God beïnvloed? (b) Hoe kan swakhede in die gebruik van die tong oorkom word? (Mattheüs 15:18; Lukas 6:45).

8 Aangesien God alles weet wat ons doen, moet dit ons nie verbaas dat hy bewus is van hoe ons selfs ’n klein liggaamsdeel soos die tong gebruik nie. Koning Dawid het dit besef en geskryf: “Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al” (Psalm 139:4). Dawid het goed geweet dat diegene wat as gaste in Jehovah se tent verwelkom sou word mense sou wees wat nie ander laster nie en wat weier om hulle tong te gebruik om sappige skinderstories te versprei wat ’n intieme kennis smaad sal aandoen. Die mense wat selfs met hulle hart die waarheid gespreek het, sou Jehovah se guns geniet (Psalm 15:1-3; Spreuke 6:16-19). Nie een van ons kan ons tong volmaak beheer nie, maar Dawid het nie sommer net aangeneem dat hy niks kon doen om sy situasie te verbeter nie. Hy het baie tyd daaraan bestee om psalms tot lof van Jehovah te komponeer en te sing. Hy het ook ronduit erken dat hy hulp nodig het en God in gebed daarvoor gevra (Psalm 19:13-15). Moet ons ook biddend aan die gebruik van ons tong aandag skenk?

9. (a) Hoe deeglik ken God ons situasie volgens die beskrywing in Psalm 139:5? (b) Waarvan oortuig dit ons?

9 Jehovah het nie net ’n beperkte beskouing van ons of ons situasie nie. Hy het die volle beeld, vanuit elke hoek. Dawid het ’n omsingelde stad as ’n voorbeeld gebruik en geskryf: “U sluit my in van agter en van voor.” In Dawid se geval was God nie ’n vyandige beleëraar nie; hy was eerder ’n waaksame oppasser. “U lê u hand op my”, het Dawid bygevoeg, en sodoende getoon dat God se beheer en beskerming voorsien word tot blywende voordeel van diegene wat hom liefhet. “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie”, het Dawid erken (Psalm 139:5, 6). God se kennis van sy knegte is so volledig, so deeglik, dat ons dit nie ten volle kan begryp nie. Maar ons weet genoeg om oortuig te wees dat Jehovah ons waarlik verstaan en dat hy die allerbeste hulp sal voorsien.—Jesaja 48:17, 18.

God kan ons help waar ons ook al is

10. Watter bemoedigende waarheid word in die lewendige beskrywing in Psalm 139:7-12 weergegee?

10 Die psalmis beskou Jehovah se liefdevolle besorgdheid vanuit ’n ander oogpunt en sê voorts: “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?” Hy het geen begeerte gehad om van Jehovah af te probeer wegkom nie; hy het eerder geweet dat waar hy ook al sou wees, Jehovah dit sou weet en hom deur sy heilige gees sou kon help. “Klim ek op na die hemel”, het hy voortgegaan, “U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig” (Psalm 139:7-12). Daar is geen plek waar ons kan heengaan, geen gebeurtenis waarvoor ons te staan kan kom, wat sal veroorsaak dat Jehovah ons nie kan sien of wat ons buite die bereik sal plaas van hulp deur sy gees nie.

11, 12. (a) Hoe is Jehovah se vermoë om te sien en te help in Jona se geval getoon, al het Jona dit ’n ruk lank uit die oog verloor? (b) Hoe kan ons by Jona se ondervinding baat vind?

11 Die profeet Jona het dit op een tydstip uit die oog verloor. Jehovah het hom die toewysing gegee om vir die mense van Ninevé te gaan preek. Hy het om die een of ander rede gedink dat hy nie daardie toewysing kon hanteer nie. Die gedagte daaraan om in Ninevé te dien het Jona moontlik afgeskrik omdat die Assiriërs vir hulle wreedheid bekend was. Hy het dus probeer wegkruip. By die seehawe Joppe het hy aan boord ’n skip gegaan wat op pad was na Tarsis (gewoonlik met Spanje geassosieer, meer as 3 500 kilometer wes van Ninevé). Maar Jehovah het gesien hoe hy op die skip klim en in die skeepsruim gaan slaap. God het ook geweet waar Jona was toe hy later oorboord gegooi is, en Jehovah het Jona gehoor toe hy vanuit die maag van die groot vis belowe het om sy geloftes te betaal. Toe Jona op droë grond besorg is, is hy weer ’n geleentheid gegee om sy toewysing te vervul.—Jona 1:3, 17; 2:1–3:4.

12 Hoeveel beter sou dit tog vir Jona gewees het as hy van die begin af op Jehovah se gees staatgemaak het om hom te help om sy toewysing te vervul! Jona het later egter sy ondervinding nederig opgeteken, en daardie verslag het baie sedertdien gehelp om daardie vertroue in Jehovah te openbaar wat vir Jona so moeilik was om op te bou.—Romeine 15:4.

13. (a) Watter toewysings het Elia getrou vervul voordat hy vir koningin Isebel gevlug het? (b) Hoe het Jehovah Elia gehelp selfs toe hy buite die gebied van Israel gaan wegkruip het?

13 Elia se ondervinding was ’n bietjie anders. Hy het Jehovah se besluit dat Israel as straf vir hulle sonde deur droogte geteister sou word getrou bekend gemaak (1 Konings 16:30-33; 17:1). In die geskil tussen Jehovah en Baäl by die berg Karmel het hy ware aanbidding met vrymoedigheid verdedig. En hy het 450 profete van Baäl by die spruit Kison tereggestel. Maar toe koningin Isebel in ’n woedebui belowe het om Elia te laat doodmaak, het hy uit die land gevlug (1 Konings 18:18-40; 19:1-4). Was Jehovah daar om hom gedurende daardie moeilike tyd te help? Ja, beslis. As Elia teen ’n hoë berg, asof na die hemel, opgeklim het; as hy in ’n grot diep onder die aarde, asof in Sjeool, weggekruip het; as hy so vinnig as wat die lig van die dagbreek oor die aarde versprei na die een of ander afgeleë eiland gevlug het—sou Jehovah se hand daar gewees het om hom te versterk en te lei. (Vergelyk Romeine 8:38, 39.) En Jehovah hét Elia versterk, nie net met voedsel vir sy reis nie, maar ook met wonderlike tekens van Sy werkende krag. Nadat Elia só versterk is, het hy sy volgende profetiese toewysing aanvaar.—1 Konings 19:5-18.

14. (a) Waarom sal dit verkeerd wees om te dink dat God alomteenwoordig is? (b) Onder watter omstandighede het Jehovah sy knegte in hedendaagse tye liefdevol gesteun? (c) Hoe sal God daar wees selfs as ons in Sjeool sou wees?

14 Die profetiese woorde in Psalm 139:7-12 beteken nie dat God alomteenwoordig is, dat hy te alle tye self oral teenwoordig is nie. Die Skrif toon duidelik dat dit nie die geval is nie (Deuteronomium 26:15; Hebreërs 9:24). Tog is sy knegte nooit buite sy bereik nie. Dit is die geval met diegene wie se teokratiese toewysings hulle al na afgeleë plekke geneem het. Dit was die geval met lojale Getuies in Nazi-konsentrasiekampe gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en dit was die geval met die sendelinge wat gedurende die laat vyftigerjare en vroeë sestigerjare in alleenopsluiting in China aangehou is. Dit was die geval met ons dierbare broers en susters in ’n land in Sentraal-Afrika wat herhaaldelik uit hulle dorpies, selfs uit die land, moes vlug. As dit nodig sou wees, kan Jehovah selfs tot in Sjeool, die gemeenskaplike graf, reik en getroues deur middel van ’n opstanding terugbring.—Job 14:13–15; Lukas 20:37, 38.

Die Een wat ons werklik verstaan

15. (a) Van hoe vroeg af kon Jehovah ons ontwikkeling sien? (b) Hoe word die omvang van God se kennis van ons deur die psalmis se verwysing na die niere getoon?

15 Onder inspirasie vestig die psalmis die aandag op die feit dat God se kennis van ons selfs ons geboorte voorafgaan wanneer hy sê: “Want U het my niere gevorm; U het my afgeskerm gehou in die buik van my moeder. Ek sal u prys omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar‚ soos my siel baie goed weet” (Psalm 139:13, 14, NW). Wanneer gene van ons vader en ons moeder tydens bevrugting verbind, bring dit die patroon voort wat ’n diepgaande invloed op ons liggaamlike en verstandelike potensiaal het. God verstaan daardie potensiaal. In hierdie psalm word daar spesiale melding van die niere gemaak, wat dikwels in die Skrif gebruik word om die diepste aspekte van ’n mens se persoonlikheid te verteenwoordiga (Psalm 7:10; Jeremia 17:10). Jehovah het hierdie besonderhede oor ons geken nog voordat ons gebore is. Hy is ook die een wat met liefdevolle besorgdheid die menseliggaam so ontwerp het dat ’n bevrugte sel in ’n ma se baarmoeder ’n beskermende hulsel vorm om die embrio ‘afgeskerm te hou’ en dit te beskerm terwyl dit ontwikkel.

16. (a) Hoe beklemtoon Psalm 139:15, 16 die deurdringendheid van God se gesigsvermoë? (b) Waarom moet dit vir ons bemoedigend wees?

16 Dan beklemtoon die psalmis hoe deurdringend God se gesigsvermoë is wanneer hy byvoeg: “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde [blykbaar ’n poëtiese verwysing na sy ma se baarmoeder maar met sinspeling op Adam se skepping uit die stof]. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle [die liggaamsdele] almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle [afsonderlike liggaamsdele] daar was nie” (Psalm 139:15, 16). Dit is ongetwyfeld so—of ons medemens ons nou verstaan of nie, Jehovah verstaan ons wel. Watter uitwerking behoort dit op ons te hê?

17. Wat word ons beweeg om te doen as ons God se werke as wonderbaar beskou?

17 Die skrywer van Psalm 139 het erken dat God se werke waaroor hy geskryf het wonderbaar is. Voel jy ook so? Iets wonderbaars laat ’n mens diep dink of noukeurig aandag skenk. Jy reageer waarskynlik só op Jehovah se fisiese skeppingswerke. (Vergelyk Psalm 8:4, 5, 10.) Dink jy ook só na oor wat hy gedoen het deur die Messiaanse Koninkryk op te rig, oor wat hy doen om die goeie nuus oor die hele aarde te laat verkondig en oor die manier waarop sy Woord mense se persoonlikheid verander?—Vergelyk 1 Petrus 1:10–12.

18. Watter uitwerking sal dit op ons hê as ons God se werk vreesinboesemend vind?

18 Is dit ook jou ondervinding dat bepeinsing oor God se werk vreesinboesemend is, dat dit ’n gesonde vrees in jou wek, ’n vrees wat jou kragtig aanspoor, ’n vrees wat ’n diepgaande invloed op jou persoonlikheid het, asook op die wyse waarop jy jou lewe gebruik? (Vergelyk Psalm 66:5.) As dit die geval is, sal jou hart jou beweeg om Jehovah te loof, om hom te prys, om geleenthede te skep om ander te vertel van sy voorneme en van die wonderlike dinge wat op diegene wag wat hom liefhet.—Psalm 145:1-3.

[Voetnoot]

a Sien Insight on the Scriptures, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word, Deel 2, bladsy 150.

Wat is jou kommentaar?

◻ Hoe help die feit dat ons weet dat “die HERE God is” ons om hom met blydskap te dien?

◻ Hoe behoort die feit dat God alles weet wat ons doen ons lewe te beïnvloed?

◻ Waarom is dit bemoedigend dat God ons altyd kan sien?

◻ Waarom kan God ons op maniere verstaan waarop geen mens kan nie?

◻ Waarom beweeg ’n studie soos dié ons om Jehovah te wil loof?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel