Jehovah ken ons goed!
JEHOVAH ken ons waarlik, veral as ons sy lojale knegte is. Goeie vriende, familielede, selfs ouers, ken ons nie so goed soos hy nie. God ken ons dan selfs beter as wat ons onsself ken!
Jehovah se volmaakte kennis van sy knegte word goed in Psalm 139 beskryf. Wat het Dawid in daardie Psalm gesê? En hoe behoort God se kennis van ons ons woorde en dade te beïnvloed?
Hoeveel weet Jehovah tog nie!
Ons kan verwag dat God ons ten volle ken, aangesien hy ons Skepper is (Handelinge 17:24-28). Dawid kon gevolglik sê: “Here, u deurgrond en ken my” (Psalm 139:1). God se kennis van Dawid was soos dié wat deur ’n deeglike ondersoek verkry word. Die psalmis was bly dat Jehovah hom deurgrond het en het hom ten volle aan God se beheer en leiding oorgegee. Op dieselfde manier laat Jehovah se Getuies biddend hulle ‘weg aan Jehovah oor en vertrou op Hom’, met die wete dat hy altyd sal doen wat reg is (Psalm 37:5). Daar is ’n gevoel van geestelike sekuriteit in ons harte omdat ons gelei wil word deur goddelike wysheid en omdat ons gewillig is om ons aan goddelike leiding te onderwerp (Spreuke 3:19-26). Ons kan net soos Dawid vertroosting put uit die wete dat God ons sien, ons probleme verstaan en altyd gereed is om ons te help.
“U ken my sit en my opstaan”, het die psalmis erken (Psalm 139:2a). God het alles omtrent Dawid se bedrywighede geweet, soos wanneer hy aan die einde van ’n werksdag gaan sit het en wanneer hy na ’n nag se slaap opgestaan het. As ons Getuies van Jehovah is, kan ons verseker wees dat God ons net so goed ken.
Dawid het erken: “U verstaan van ver my gedagte” (Psalm 139:2b). Hoewel God in die hemele woon wat so ver van die aarde is, het hy geweet wat Dawid gedink het (1 Konings 8:43). Sulke insig behoort ons nie te verbaas nie, want Jehovah “sien die hart aan” (1 Samuel 16:7; Spreuke 21:2). Die feit dat God op ons gedagtes let, behoort ons te beweeg om oor dinge te dink wat eerbaar, lieflik en loflik is. En hoe gepas is dit tog dat ons gereeld ons gedagtes in hartgrondige gebed uitdruk sodat ons goddelike leiding en die “vrede van God” kan hê!—Filippense 4:6-9.
Die psalmis het bygevoeg: “Wanneer ek op my weg is en wanneer ek uitgestrek lê, dit het u afgemeet” (Psalm 139:3, NW). Die feit dat Jehovah Dawid se reise van een plek na ’n ander afgemeet het, asook die tye wanneer hy uitgestrek gelê het, beteken klaarblyklik dat Jehovah alles wat die psalmis gedoen het noukeurig ondersoek het. Die Allerhoogste het al Dawid se dade afgemeet om die presiese aard van sy gedrag vas te stel. God het Dawid se weë, die paaie wat hy in sy lewe gevolg het, ten volle geken. Mag ons hemelse Vader, wanneer hy ons ook so ondersoek, vind dat ons hom getrou dien en op “die pad van geregtigheid” is wat na die lewe lei.—Spreuke 12:28.
Aangesien niks wat Dawid sou sê vir God verberg kon wees nie, het hy gesê: “Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, Here, u ken dit geheel en al” (Psalm 139:4). As ons so ontsteld is dat ons nie weet wat om in gebed te sê nie, sal Jehovah se gees ‘met onuitspreeklike sugtinge vir ons’ pleit (Romeine 8:26). Tydens ons gesprekke weet God wat op die punt van ons tong is, maar ongesê bly, want hy ken ons ware gevoelens. En as ons liefde het wat uit “ongeveinsde geloof” spruit, sal ons nooit probeer om ander met “mooi woorde” te mislei nie.—1 Timotheüs 1:5; Romeine 16:17, 18.
Dawid het bygevoeg: “U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my” (Psalm 139:5). Jehovah het Dawid in werklikheid omsingel soos ’n stad wat tydens ’n geveg beleër is. Die psalmis het klaarblyklik besef dat daar perke was aan wat hy in sy leeftyd kon doen. Hy het ook besef dat dit onmoontlik was om aan God se waaksame oog en hand, of beheer, te ontvlug. Dawid het natuurlik nie probeer ontvlug nie, en ons wil ook nie. Maar laat ons altyd optree in die besef dat Jehovah se hand op ons as sy Getuies is.
God se kennis van Dawid het hom met ontsag vervul. Hy het dus gesê: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie” (Psalm 139:6). God se kennis van ons as individue is so volledig dat ons, ongeag ons ondervinding of opleiding, dit nie kan peil nie. Ons kan seker wees dat Jehovah weet wat die beste vir ons is, aangesien hierdie kennis mensebegrip oortref. As ons om iets bid en sy antwoord is nee, moet ons ons gevolglik aan die goddelike wil onderwerp. Soos die apostel Johannes geskryf het: ‘As ons iets vra volgens sy wil, verhoor Hy ons.’—1 Johannes 5:14.
Ons kan God se gees nie ontvlug nie
Jehovah verhoor nie net die gebede van sy getroue knegte nie, maar sy gees tree ook teenoor hulle op en help hulle om sy wil te doen. Trouens, Dawid het gevra: “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?” (Psalm 139:7). Die psalmis het geweet dat hy nie van Jehovah se gees, of werkende krag, kon ontsnap nie, ’n krag wat selfs die mees afgeleë dele van die heelal kan bereik. En niemand kan van God se aangesig wegvlug nie, dit wil sê, sy waarneming ontsnap nie. Jona het hom weliswaar “klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg”, maar daardie profeet kon nie die groot vis wat God gestuur het om hom in te sluk of aanspreeklikheid vir sy goddelike opdrag ontwyk nie (Jona 1:3, 17; 2:10–3:4). Laat ons dus op Jehovah se gees vertrou om ons te help om godgegewe opdragte uit te voer.—Sagaria 4:6.
Aangesien Dawid geweet het dat dit onmoontlik sou wees om van God af weg te kom, het hy gesê: “Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!” (Psalm 139:8). Om ‘na die hemel op te klim’ het in die psalmis se dag beteken om in die hoë berge op te gaan, waarvan die pieke so dikwels deur wolke bedek word. Maar al is ons op die hoogste bergpiek sal ons nie buite die bereik van God se gees wees nie. Boonop sal hy ons raaksien al is ons bed in die doderyk, wat figuurlik die laagste dele van die aarde beteken.—Vergelyk Deuteronomium 30:11-14; Amos 9:2, 3.
“Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon”, het Dawid gesê, “ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou” (Psalm 139:9, 10). Wat beteken “die vleuels van die dageraad”? Hierdie woorde is poëties beskrywend van hoe die môrelig, asof met vlerke, vinnig van die ooste na die weste versprei. Maar wat sou gebeur as Dawid die vlerke van die dagbreek sou neem en die verste see of eilande in die weste bereik? Hy sou steeds aan God se hand, of beheer en leiding, onderworpe wees. Jehovah sal daar wees om die psalmis met deernis deur Sy gees te lei.—Psalm 51:13.
Duisternis is vir God geen probleem nie
Nòg afstand nòg duisternis kan ’n persoon buite God se bereik plaas. Dawid voeg dus by: “En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig” (Psalm 139:11, 12). ’n Mens kan deur algehele duisternis omhul wees asof hy daardeur vasgevang is. Maar hy sal vir Jehovah so sigbaar wees asof hy in helder daglig staan. Niemand kan enige sondes wat in die duisternis gepleeg is vir God wegsteek nie.—Jesaja 29:15, 16.
Verborgenheid verhinder nie dat ons Skepper ons sien nie. In hierdie verband het Dawid gesê: “Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp [“embrio”, NW] gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles [die liggaamsdele] bepaal was, toe nog geeneen van hulle [afsonderlike liggaamsdele] daar was nie.”—Psalm 139:13-16.
Jehovah God, wat ons diepste gevoelens ken, het Dawid se niere gevorm. Aangesien die niere diep in die liggaam geleë is, is hulle van die mees verborge en onbereikbare organe, maar God kan hulle sien. Hy kan selfs tot binne-in ’n moeder se maag, of baarmoeder, sien. Jehovah kan dan selfs tot binne-in die embrio sien! Dawid is beweeg om sy Maker te loof deur net na te dink oor die wonderlike wyse waarop hy in die baarmoeder gevorm is. Die psalmis het klaarblyklik van die moeder se baarmoeder as “die dieptes van die aarde” gepraat. Daar, onsigbaar vir mense, maar sigbaar vir God, word ’n baba se bene, senings, spiere, senuwees en bloedvate saamgeweef.
Voordat Dawid se liggaamsdele in sy moeder se baarmoeder onderskei kon word, het God geweet hoe hy sou lyk. Waarom? Omdat die ontwikkeling van die embrio ’n spesifieke patroon volg, asof dit instruksies gehoorsaam wat in ’n boek opgeteken is. Hoe toon dit tog Jehovah se wysheid en vermoë om selfs verborge dinge te sien! Dit behoort ons ook te laat besef dat God die mensdom geskape het en verantwoordelik is vir die wonderlike voortplantingsproses wat ons bestaan as individue tot gevolg gehad het.
Hoe kosbaar is God se gedagtes tog!
Toe Dawid oor ’n baba se ontwikkeling in die baarmoeder nagedink het, het dit hom oor God se wysheid laat peins. Die psalmis het dus uitgeroep: “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!” (Psalm 139:17). Dawid het Jehovah God se gedagtes gekoester, en hulle is so talryk dat hy deur “hulle volle som” beïndruk is. As God se gedagtes vir ons kosbaar is, sal ons ywerige studente van die Bybel wees (1 Timotheüs 4:15, 16). Sy opgetekende gedagtes is “nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”.—2 Timotheüs 3:16, 17.
Dawid het aangaande Jehovah se gedagtes gesê: “Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U” (Psalm 139:18). Aangesien God se gedagtes selfs talryker is as die sandkorrels, sou Dawid, as hy hulle teen dagbreek begin tel het, teen slaaptyd nog nie klaar wees nie. Wanneer hy in die oggend wakker word, sou hy nog by Jehovah wees. Dit wil sê, hy sou steeds God se gedagtes tel. Trouens, omdat ons Jehovah se leiding nodig het, sal dit heel moontlik ons gewoonte wees om biddend oor sy gedagtes en voornemens te peins voor ons saans aan die slaap raak en wanneer ons soggens wakker word.—Psalm 25:8-10.
Vergelding van die goddeloses
Hoe het Dawid oor diegene gevoel wat goddelike leiding verwerp, aangesien God wyse leiding gee? Hy het gebid: “O God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg! Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!” (Psalm 139:19, 20). Dawid het nie die goddeloses probeer doodmaak nie, maar het gebid dat hulle vergelding uit Jehovah se hand sou ondervind. Ons behoort dieselfde gesindheid te hê. Ons kan byvoorbeeld bid om God se Woord met vrymoedigheid te spreek wanneer vyande ons vervolg (Handelinge 4:18-31). Maar ons sal nie probeer om ons vyande uit die weg te ruim nie, want ons weet dat Jehovah gesê het: “My kom die wraak toe, Ek sal vergelde.”—Hebreërs 10:30; Deuteronomium 32:35.
As God die goddeloses sou doodmaak, sou sulke manne van bloed van Dawid af weggaan. Hulle het ’n geskiedenis van bloedvergieting en spreek ook arglistig, of bedrieglik, van Jehovah volgens hulle eie gedagte en nie volgens sy gedagtes nie. Hulle het boonop die dood verdien omdat hulle smaad op God se naam gebring het deur dit ydellik te gebruik, moontlik terwyl hulle hul goddelose planne bevorder het (Exodus 20:7). Laat ons tog nooit aan soortgelyke sondes skuldig wees nie!
Omdat die goddeloses hulle aan bloedskuld skuldig gemaak het en smaad op God se naam gebring het, het Dawid gesê: “HERE sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Psalm 139:21, 22). Dawid het hierdie mense verafsku omdat hulle Jehovah geweldig gehaat het en teen Hom in opstand gekom het. Hulle was die psalmis se vyande omdat hy hulle boosheid, hulle godloosheid en hulle opstand teen die Allerhoogste verafsku het.
Laat God jou deurgrond
Dawid wou nie soos hierdie goddelose mense wees nie, maar hy het geweet dat hy nie vyandig teenoor hulle moet voel nie. Hy het dus gepleit: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:23, 24). Soos die psalmis behoort ons God te vra om ons harte te deursoek en te sien of ons verkeerde motiewe het (1 Kronieke 28:9). Ons moet Jehovah vra om ons te ondersoek, ons verontrustende gedagtes te ken, en te kyk of daar nie ’n weg van smart in ons is nie. As ons deur ons foute gekwel word, of as daar binne-in ons iets slegs is of iets met ons motiewe skort, moet ons nederig bid en onsself aan die leiding van God se gees en die raad van sy Woord onderwerp (Psalm 40:11-13). Op dié manier kan ons beste Vriend, Jehovah, ons op die ewige weg lei en ons help om ’n regverdige weg na te streef wat na die ewige lewe lei.
Psalm 139 verskaf dus ware bemoediging. Dit toon dat ons hemelse Vader ons in alle tye van nood kan help omdat hy alles sien (Hebreërs 4:16). Ons is boonop veilig in Jehovah se liefdevolle sorg omdat hy ons beter ken as wat ons onsself ken (Deuteronomium 33:27). Ons kan met sy hulp dinge regstel as ons hom nederig vra om ons te deurgrond en ons persoonlike swakhede onder ons aandag te bring. God se kennis van ons as individue behoort ons lewe dan beslis ten goede te beïnvloed. Dit behoort ons te beweeg om getroue voorstanders van ware aanbidding te wees en nederig te wandel voor Jehovah wat ons almal so goed ken.