“Gaan uit haar uit, my volk”
“Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”—Openb. 18:4.
1. Wanneer het die oproep om uit Babilon die Grote te gaan weerklink, en waarom was hierdie oproep toe gepas?
“GAAN uit haar uit, my volk.” Daardie oproep word uitgebasuin sedert 1919, die jaar waarin die nasies wat die wêreldoorlog van 1914-1918 gevoer het, die vredesverdrag onderteken het. Die georganiseerde godsdiens van die wêreld het daardie globale stryd gesteun. Maar wat van diegene wat die Bybel se God “my volk” noem? Hierdie vredeliewende Christene is tot slawerny aan Babilon die Grote en haar politieke minnaars wat die Eerste Wêreldoorlog gevoer het, gebring en is selfs deur hulle in die tronk opgesluit.
2. Walter soortgelyke oproep is vroeër deur Jeremia gedoen?
2 Die oproep “gaan uit haar uit” is in Openbaring 18:4 opgeteken. ’n Soortgelyke oproep is vroeër in Jeremia 51:45 opgeteken: “Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE.”
3, 4. (a) Waaruit moes hulle volgens Jeremia 50:8-10 vlug? (b) Het Babilon, toe die tyd genader het vir hierdie laasgenoemde profesie om vervul te word, dieselfde verhouding met Jehovah gehad as tydens Nabukadnesar se bewind? Waarom?
3 “Red” waaruit? Jeremia 50:8-10 antwoord duidelik: “Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit! Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek ’n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel—daarvandaan sal hy ingeneem word; . . . En Chaldea sal ’n buit word: almal wat hom beroof, sal versadig word, spreek die HERE.”
4 Teen die tyd dat daardie profetiese woorde vervul sou word, sou koning Nebukadnesar van Babilon dood wees. Een van sy koninklike opvolgers, naamlik Belsasar, die seun van Nabonidus, sou in 539 v.G.J. in die Babiloniese Ryk heers. Babilon sou dan nie meer ’n profetiese afbeelding wees van dit wat hy aan die begin van Nebukadnesar se bewind in 625 v.G.J. afgebeeld het nie. Jehovah het Nebukadnesar “my dienaar” genoem (Jer. 27:6). En gedurende die ballingskap van die Joodse profeet Daniël in Babilon het Jehovah twee belangrike profetiese drome aan keiser Nebukadnesar gegee (Dan., hfste. 2 en 4). Selfs tot die jaar 592 v.G.J. is koning Nebukadnesar se wapenfeite in profesie voorspel (Eseg. 29:17-20). Die Babiloniese Ryk onder Nebukadnesar is dus ten minste gedurende daardie jare as Jehovah se instrument gebruik om Sy wraak aan die ontroue koninkryk van Juda en die naburige nasies uit te oefen. Nebukadnesar se werk ooreenkomstig Jehovah se wil het die werk van Jesus Christus gedurende hierdie “tyd van die einde” waarin ons nou lewe, afgebeeld.
5. Deur wie se werk is Jesus Christus se werk volgens Jesaja 44:28 tot 45:7 ten tye van Babilon se val afgebeeld, en hoe het Daniel se verduideliking van die handskrif teen die muur ooreengestem met wat Jesaja voorspel het?
5 Volgens Jesaja 44:28 tot 45:7 is die werk wat afgebeeld het wat die verheerlikte Jesus Christus gedurende die “tyd van die einde” sou doen, kort voor Babilon se val oorgeneem deur Kores die Grote, die heerser van die Medo-Persiese Ryk. In dieselfde nag waarop Babilon in 539 v.G.J. geval het, het die profeet Daniel die handskrif teen die muur wat aan koning Belsasar verskyn het, uitgelê: “Peres [die enkelvoud van die derde woord van die raaiselagtige handskrif]—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.” Daniel se ooggetuieverslag sê voorts: “In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs gedood. En Darius, die Meder, [het] . . . die koningskap ontvang” as deelgenoot van Kores.—Dan. 5:28-6:1; 9:1, 2.
6. (a) In watter Bybelboek word dit uiteengesit wat Babilon in Belsasar se dag afgebeeld het, en wat is dit vandag? (b) Wie het daardie simboliese Babilon gestig, en watter gelowe sluit dit in?
6 Die boek Openbaring, wat omstreeks 96 G.J. deur die geïnspireerde apostel Johannes geskryf is toe die oorblyfsels van ou Babilon nog gestaan het, sit uiteen wat eertydse Babilon tydens haar laaste dae as gebiedster van die wêreld afgebeeld het. Uit wat Johannes in Openbaring 16:12 tot 19:3 geskrywe het, blyk dit duidelik dat die gedoemde Babilon van Belsasar se dag die wêreldryk van valse godsdiens wat vandag nog bestaan, afgebeeld het. Daardie ryk, wat nou al die godsdienste van die gedoemde wêreld insluit, is gestig deur “’n geweldige jagter gekant teen Jehovah”. Hy was Nimrod, ’n agterkleinseun van Noag, en hy het die stad Babel aan die Eufraatrivier opgerig (Openb. 16:12; Gen. 10:8-10, NW). Die ryk wat nou Babilon die Grote genoem word, behels al die gelowe wat “gekant [is] teen Jehovah” en is nou in sy “tyd van die einde”.—Dan. 12:4.
7. (a) Wanneer het die ontsnaptes uit eertydse Babilon gekom? (b) Wanneer kom die ontsnaptes uit Babilon die Grote, en waarom dan?
7 Dit is uit daardie wêreldwye godsdiensryk dat Jehovah se volk beveel word om ‘uit te gaan’, en dit sonder versuim. Dit is daardie ryk wat afgebeeld is deur die Babilon waarvan Jeremia in hoofstukke 50 en 51 gepraat het. Die weggevoerde Jode en hulle metgeselle kon eers uit die eertydse Babiloniese Ryk ‘uitgaan’ nadat dit in 539 v.G.J. voor die Meders en die Perse geval het (Jes. 14:12-17). Maar wat van hierdie 20ste eeu? Wat van diegene wat Jehovah vandag “my volk” noem? Hulle word beveel om uit hedendaagse Babilon die Grote ‘uit te gaan’ voordat sy vernietig word tydens die komende “groot verdrukking” wat deur Jesus Christus voorspel is (Matt. 24:21, 22; Openb. 1:1; 7:14, 15). Sodoende sal hierdie ontsnaptes voorkom dat hulle van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens wat tans nog staan, se plae ontvang en saam met haar vernietig word.—Openb. 18:4.
8. Wat word aangedui deur die feit dat diegene wat uit Babilon die Grote geroep word sedert 1919 daaruit gekom het, en wie het ’n belangrike rol hierin gespeel?
8 Niemand sal Babilon die Grote kan verlaat nadat haar voormalige politieke minnaars haar aangeval en uitgewis het nie (Openb. 17:15-18). Jehovah se toegewyde volk kom al sedert die naoorlogse jaar 1919 G.J. uit haar uit. Dit dui aan dat Babilon die Grote reeds in ’n sekere sin geval het. Hoe so? In ’n figuurlike sin. In 1919 is haar mag oor Jehovah se volk verbreek. Sedertdien het hulle nooit weer in godsdienstige gevangenskap aan Babilon die Grote beland soos gedurende die wêreldoorlog van 1914-1918 die geval was nie. Hulle bevryding moet toegeskryf word aan die Een wat Jeremia geïnspireer het om dit as deel van Sy voorneme te voorspel. Daardie Een is Jehovah. Hy het sy Grotere Kores, die verheerlikte Here Jesus Christus, gebruik om dit te doen. Hierdie teenbeeldige Kores het in 1914, na die einde van “sewe tydperke” wat in Nebukadnesar se droom voorspel is, in die hemelse koninkryk begin regeer (Dan. 4:1-37). Sedert 1919 het die heersende Grotere Kores miljoene persone wat na godsdienstige vryheid gesoek het, uit Babilon die Grote bevry. As hulle aan sy koninkryk getrou bly, sal hy hulle veilig bewaar en goed beskerm. Nòg die geestelikes van die Christendom nòg die leiers van nie-Christelike gelowe oefen beheer oor hulle uit.
TERUGKERING NA DIE HOOFSTAD OP DIE BERGKRUIN VOORSPEL
9, 10. Was die bevryding van die oorblyfsel uit Babilon die Grote in 1919 blote toeval, en wat toon Jeremia 50:4, 5, 28 was die doel daarvan?
9 Nou, meer as 60 jaar later, moet niemand dink dat die godsdienstige bevryding van ’n klein, veragte oorblyfsel van Jehovah se volk blote toeval was nie. Dit was die vervulling van sy eie Bybelprofesieë. In sy profesie, wat in 614 v.G.J. deur middel van Jeremia gegee is om Babilon se val in 539 v.G.J. te voorspel, lees ons:
10 “In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek. En hulle sal na Sion [die terrein van die hoofstad op die bergkruin] vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in ’n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie. [Met watter doel?] Hoor! Vlugtelinge en mense wat vrygeraak het uit die land van Babel, om in Sion te verkondig die wraak van die HERE onse God, die wraak van sy tempel.”—Jer. 50:4, 5, 28.
11. Slaan Jeremia se profesie op die Joodse Sionistiese Beweging, en wat toon die feite vandag?
11 Dit het niks te doen met die Sionistiese Beweging wat in 1897 deur die Oostenrykse Jood Theodor Herzl georganiseer is nie. Die Jerusalem wat die Jode vandag beset, het hulle met geweld tydens die Sesdaagse Oorlog van 1967 verkry, en die Islamitiese “Rotskoepel”, wat nie die aandag op die naam van Jehovah vestig nie, pryk bo-op die tempelberg. Na watter “Sion” het die oorblyfsel sedert 1919 vreedsaam teruggekeer?
12. Na watter Sion het die oorblyfsel sedert 1919 vreedsaam teruggekeer?
12 Dit is die berg Sion wat die Christenapostel Johannes in ’n gesig gesien het 26 jaar nadat Joodse Jerusalem in 70 G.J. heeltemal deur die Romeinse legioene vernietig is. In verband hiermee skryf hy: “En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe. . . . en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters. En hulle het ’n nuwe lied gesing voor die troon [van God] en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is. . . . dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.”—Openb. 14:1-4.
13. (a) Wat sê die apostel Johannes ’n paar verse later met verwysing na Babilon die Grote? (b) Wat het haar in 1919 geskok?
13 Dit is interessant dat die apostel Johannes, net ’n paar verse nadat hy vir ons daardie beskrywing gegee het, skryf: “En ’n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery” (Openb. 14:8). Ondanks die feit Babilon die Grote op godsdienstige wyse met al die politici van die nasies gehoereer het, het sy in 1919 ‘n skokkende val beleef wat haar invloed en mag betref. Dit het haar geskok toe die Grotere Kores, die Lam Jesus Christus, die oorblyfsel geestelike Israeliete bevry het en hulle ’n geestelike herbouingswerk gegee het.
14. (a) Het die bevryde oorblyfsel opgetree in ooreenstemming met die slagspreuk wat sê dat “godsdiens die opium van die mense is” of met die bewerings wat oor die voorgestelde Volkebond gemaak is? (b) Na watter hoofstad op ’n bergkruin het hulle hulle gewend?
14 Rewolusioniste wat teen 1919 die politieke oorhand in oostelike Europa verkry het, het opgetree volgens hulle slagspreuk: “Godsdiens is die opium van die mense.” Maar hulle weg was nie die weg wat Jehovah se oorblyfsel, wat toe uit godsdienstige Babilon die Grote bevry is, sou inslaan nie. Tydens die Vredeskonferensie in 1919 is daar ook voorgestel dat ’n Volkebond oorweeg en gestig word, en die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika het, dit voorgestaan en dit “die politieke beliggaming van die koninkryk van God op aarde” genoem. Het Jehovah se oorblyfsel dit as die weg vir hulle beskou? Nee! Toe hulle op 1-8 September 1919 hulle algemene byeenkoms te Cedar Point. Ohio, V.S.A. gehou het, het hulle dit as ’n namaaksel van die koninkryk van God aan die kaak gestel en in die openbaar gesê dat dit sou misluk. Hulle het alle plaasvervangers wat deur mense voorgestel is, verwerp en hulle tot die hemelse berg Sion gewend, want dit is daar dat hulle die Lam van God, Jesus Christus, met die geloofsoog as heersende Koning sien staan het.—Openb. 14:1-3; Hebr. 12:22.
15. Waarom het die oorblyfsel geestelike Sion met geween gesoek, en vanuit watter vars standpunt het hulle die Bybel bestudeer?
15 Die bevryde oorblyfsel het dus met trane van vreugde “geween” toe hulle Babilon die Grote die rug toegekeer en die geestelike berg Sion gesoek het waar hulle hemelse Koning gestaan en heers het sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914. In ooreenstemming met hulle teokratiese doel het hulle die Bybel uit ’n vars, nuwe standpunt bestudeer, want hulle kon toe die vervulling van al hoe meer Bybelprofesieë sien wat op God se koninkryk in die hande van Christus betrekking gehad het.
16. Hoe kon daar gesê word dat die wraak wat die oorblyfsel verkondig het die wraak “van sy tempel” was, en watter “geregtighede” kon hulle vertel asof dit al klaar gebeur het?
16 Onverskrokke het die herstelde oorblyfsel begin om “die wraak van die HERE onse God, die wraak van sy tempel” te verkondig (Jer. 50:28). Hulle self was deel van ’n geestelike tempel van God, ’n figuurlike tempel wat bestaan het uit Jesus Christus die Vernaamste Hoeksteen en die 144 000 lede van die tempelklas onder hom (1 Kor. 3:16, 17; Ef. 2:19-22). Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is die oorblyfsel van die tempelklas sleg behandel, en hierdie bose poging om hulle te vernietig het vir Jehovah gegronde rede gebied om sy wraak teen Babilon die Grote en haar minnaars op sy bestemde tyd uit te oefen. Dan sal hy Jeremia se lang profesie tot die laaste letter teen Babilon vervul. Met dinamiese geloof dat die verdere aspekte van Jeremia se profesie vir seker vervul gaan word, dat hulle so te sê volbring is, maak die herstelde oorblyfsel die woorde van Jeremia 51:10 hul eie en sê hulle: “Die HERE het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die HERE onse God!”
17. Vir watter vergeldingswerk het Jehovah sy eie tydige instrument gereed?
17 As die Wreker het Jehovah sy eie instrument gereed en hy kondig sy voorneme om dit te gebruik met hierdie woorde van Jeremia 51:24 aan: “Ek sal voor julle oë aan Babel aan al die inwoners van Chaldea vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het, spreek die HERE.”
18. Uit wie se standpunt kan die oorblyfsel ’n regte begeerte uiter in verband met die geweld en bloedvergieting van Babilon die Grote, aangesien die goddelike naam soveel smaad aangedoen is?
18 Laat ons al die smaad onthou wat die Babiloniese wêreldwye godsdiensstelsel die naam van die een lewende en ware God aangedoen het, veral deur toegewyde persone wat sy naam vereer en dra te vervolg. Dan kan ons besef waarom Jehovah tereg voornemens is om daardie aardse instrument wat hoofsaaklik deur sy aartsteenstander, Satan die Duiwel, gebruik is, uit te wis. Diegene op aarde wat die hemelse Sion verteenwoordig, aanvaar dus bloot Jehovah se beskouing van sake en stem met sy verklaarde voorneme saam wanneer hulle sê: “Laat die inwoners van Sion sê: Die geweld en verminking wat my aangedoen is, is op Babel! En laat Jerusalem sê: My bloed is op die inwoners van Chaldea!”—Jer. 51:35.
19. Hoe vergelyk die wreedheid in sulke gebede waarteen iemand dalk beswaar maak met wat Jehovah sê waar hy in Jeremia 51:36, 37 vir homself praat?
19 Laat geen beswaarmaker wat meen dat sulke gebede van Sion en Jerusalem wreed is, dink dat Jehovah God onregverdig sal wees wanneer hy hulle verhoor en teen Babilon die Grote van vandag optree nie. Hy sien nie die geskiedkundige feit oor die hoof dat Babilon die Grote geweld teen die aanbidders van Jehovah gebruik het en selfs hulle onskuldige bloed vergiet het nie. Laat hy vir homself praat in die woorde van Jeremia 51:36, 37: “Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek verdedig jou saak en sal vir jou wraak neem; en Ek sal sy see [van handelsverkeer] droogmaak en sy fontein laat opdroë. En Babel sal kliphope word.”
20. Waarvan getuig die huidige toedrag van sake by die terrein van eertydse Babilon?
20 Dit het destyds gelyk of dit onmoontlik is dat so ’n profesie, wat in 614 v.G.J. gegee is—75 jaar voordat Babilon ingeneem is—vervul kon word. In 614 v.G.J. was Babilon besig om die toppunt van sy mag en heerlikheid te bereik. Maar vandag getuig die plek waar eertydse Babilon hoogmoedig langs die Eufraatrivier gestaan het van die feit dat Jehovah nie ’n fout begaan het met sy profesie nie. Daar is maar net ’n paar van Babilon se oorspronklike klippe daar oorgebly. Jehovah se versekering aan sy mishandelde volk het waar geblyk te wees. Hy hét hulle “saak” in die hof van die heelal verdedig; hy hét vir hulle goddelike wraak geneem. Hy het toegesien dat Babilon sy verdiende loon kry.
21, 22. Watter geluk sal die Grotere Kores volgens Psalm 137:8, 9 in die nabye toekoms smaak?
21 In die nabye toekoms sal dit die teenbeeldige Kores, die verheerlikte Jesus Christus, se aangename amptelike taak wees om toe te sien dat Babilon die Grote van vandag haar verdiende loon kry. Aanbidders van Jehovah wat deur haar toedoen gely het, het die goddelike beskouing van geregtigheid en kan dus saam met die geïnspireerde psalmis sê:
22 “O Dogter van Babel, jy verwoeste, gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het! Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots!”—Ps. 137:8, 9.
23. Sal aardse agentskappe tydens die omverwerping van Babilon die Grote gebruik word, maar wie aanvaar die verantwoordelikheid daarvoor?
23 Te geleëner tyd sal aardse, menslike magte vrye teuels gegee word om Babilon die Grote te verwoes (Openb. 17:15-18). Maar Jesus Christus sal met graagte die verantwoordelikheid aanvaar vir die uitwissing van daardie wêreldryk van valse godsdiens. Bybelprofesie gee hom as die Grotere Kores die eer vir die verdiende omverwerping van Babilon die Grote. Toe hy ’n man op aarde was, het hy, en ook sy voetstapnavolgers, deur haar toedoen gely.—Openb. 18:24.
24. (a) Hoe toon Babilon die Grote dat sy vermetel is wat heerskappy betref? (b) Wie se “dogter” is sy, en watter rampspoedige dinge sal haar binnekort tref, en hoe?
24 Babilon die Grote is die verpersoonliking van Vermetelheid (Jer. 50:31, 32). Dit is nie die aardse Jerusalem of Sion waar die Islamitiese “Rotskoepel” staan nie, maar die hemelse berg Sion wat sy nou as haar mededinger beskou, want dit is daar dat die Grotere Kores as Koning regeer. Om sulke mededinging te toon, sê sy: “Ek sit as koningin” (Openb. 18:7). Indien sy ’n “dogter” genoem moet word soos eertydse Babilon genoem is, dan is sy in werklikheid Satan die Duiwel se dogter (Joh. 8:44; Jer. 50:42; 51:33). Daar is voorspel dat twee rampspoedige dinge hierdie godsdienshoer binnekort gaan tref: “Kinderloosheid en weduweeskap” (Jes. 47:9; Openb. 18:7, 8; Jer. 50:9). Die lede van haar godsdiensorganisasie sal of tydens die komende “groot verdrukking” gedood word òf hulle sal haar afsterf deur hulle aan haar te onttrek en geen godsdiens hoegenaamd te bely nie. Dit sal haar laat rou bedryf!
25. Wat moet ons sonder versuim doen indien ons nie geklassifiseer wil word onder daardie Babiloniese “kinders” wat “teen die rots” verpletter gaan word nie?
25 Wil enigeen van ons gereken word onder die godsdienstige “kinders” van Babilon die Grote wanneer God se vasgestelde tyd aanbreek vir hulle om “teen die rots” verpletter te word? Wat moet ons doen indien ons nie saam met hulle geklassifiseer wil word nie, veral as ons daarop aanspraak maak dat ons onder diegene is wat God “my volk” noem? Ons moet die oorblywende tyd benut en gehoorsaam wees aan die barmhartige bevel van God deur sy Woord: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”—Openb. 18:4; Jer. 50:8.