Die onheil wat alle godsdiensbeoefenaars van die wêreld in die gesig staar
1. Wat is die godsdienstige bevolking na raming, en watter uitwerking sal die val van daardie godsdiensryk op die nasies hê?
DIE godsdienstige bevolking van die wêreld is ontsaglik groot. Die World Almanac van 1980 stel dit selfs op 2 511 417 750. Hierdie getal sluit onder meer diegene in wat bely dat hulle Christene, Jode, Moslems, Boeddhiste of Hindoes is. Wanneer daardie onderling verdeelde godsdiensryk ondergaan, sal dit die meeste oorlewende lede van die mensdom verbaas. Die ontstellende uitwerking hiervan is met hierdie woorde voorspel: “Van die tyding: Babel is ingeneem! bewe die aarde, en geskreeu word onder die nasies gehoor.” “Hoor! Geskreeu uit Babel en groot verbreking uit die land van die Chaldeërs: want die HERE verwoes Babel en sal uit hom die groot geraas [stem, NW] laat verdwyn; en hulle golwe sal bruis soos groot waters, die gedruis van hulle geluid sal weergalm. Want ’n verwoester oorval hom, oorval Babel, en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek: want ’n God van vergelding is die HERE; Hy sal gewis vergelde.”—Jer. 50:46; 51:54-56.
2. (a) Met watter soort “stem” het antieke Babilon met die nasies gespreek, maar hoe is haar “stem” verdoof? (b) Waarop beeld Openbaring haar hedendaagse teenbeeld af, en wat sal dit aan haar doen?
2 Die vervulling hiervan sal ’n gebeurtenis wees wat die wêreld verander, iets ongekends (Jer. 51:2, 60, 64). As die Derde Wêreldmoondheid van antieke geskiedenis het Babilon met die “groot stem” van gesag gespreek. Maar in 539 v.G.J. is haar “stem” verdoof deur die bruisende golwe van verowerende invallers. Haar hedendaagse teenbeeld, Babilon die Grote, het met ’n selfs baasspeleriger “stem” gespreek. Die hele wêreld het geluister. Die Bybelboek Openbaring, hoofstuk 17, beeld haar af waar sy wulps bo-op ’n dier met sewe koppe sit. Hierdie skarlakenrooi dier beeld ’n wêreldorganisasie af. Sy sewe koppe beeld die sewe opeenvolgende wêreldmoondhede tot by die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid van vandag af (Openb. 17:1-6). Die dier se 10 horings “is tien konings” (Openb. 17:12). Die derde van die sewe koppe het die Babiloniese Ryk afgebeeld, en die vierde die Medo-Persiese Ryk. Godsdienstige Babilon die Grote het met al sewe wêreldmoondhede gehoereer. Sy het probeer om as hulle gebiedster op hulle te ry. Hulle het die godsdiensdrank in haar goue beker gedrink. Wanneer hulle moeg word vir haar, sal hulle haar uiteindelik haat en van hulle rûe afgooi.
3. (a) Wat het Jehovah gesê dat hy teen die eertydse prototipe van Babilon die Grote gaan bring, en van waar af? (b) Waarom is die Meders so spesiaal gemeld?
3 Die argument waarom ons sonder versuim uit Babilon die Grote moet kom, word verder versterk wanneer Jehovah sy voorneme verklaar om “’n menigte van groot nasies uit die Noordland” teen haar eertydse prototipe te bring om dit aan te val. Omdat die “menigte” ’n gesamentlike militêre mag onder een aanvoerder was, kon dit bestempel word as ’n “volk . . . uit die Noorde” (Jer. 50:3, 8, 9). Die profesie het reg gehad toe dit voorspel het dat “die konings van Medië” opvallend onder daardie “menigte” van nasies sou wees (Jer. 51:11). Daar is nie gesê dat die Perse deel van die menigte sou uitmaak nie. Dit is nie per abuis uitgelaat nie, want Kores die Grote, wat die opperbevelhebber van die “menigte” was, het Mediese bloed in hom gehad. Nadat hy die koninkryk van die Meders verower het, het hy hoofsaaklik Mediese soldate in sy leër ingesluit. Kores het na Jeremia se dag aan bewind gekom.
4. Wie het eerste in Babilon begin regeer na haar val, en hoe het Daniel reg gehad oor wie die oorhand in die Medo-Persiese Ryk sou verkry?
4 Ten tye van Babilon se val in 539 v.G.J. was Darius die Meder wat toe daar begin heers het, 62 jaar oud (Dan. 5:30; 6:1). Wat die Medo-Persiese Ryk betref, was Daniël 8:3 korrek waar dit getoon het dat die Persiese deel later die oorhand sou kry. Dit was Kores die Pers wat die bevel uitgevaardig het dat die weggevoerde Jode na hulle tuisland kon terugkeer.—Esra 1:1-4.
5. (a) Met watter rigting word Jehovah geassosieer waar dit kom by vernietigingsdade? (b) Wie het hy gesê gaan hy gebruik as sy hamer om nasies en koninkryke te verbrysel?
5 Net soos in die geval van Jerusalem se vernietiging vroeër in 607 v.G.J., sou die magte wat Babilon sou vernietig ook uit die “noorde” kom (Eseg. 1:4; 9:2; Jer. 50:41; 51:48). Wat rigting betref, assosieer Psalm 75:7, 8 (NAB) God klaarblyklik met die noorde wanneer dit sê: “Verheffing kom nie uit die ooste of uit die weste of uit die woestyn nie! Nee, dit is God wat verneder of verhef, Hy is die regter!” Dit is vanuit die noorde dat koning Nebukadnesar van Babilon in 609 v.G.J. teen Jerusalem en haar opstandige koning, Sedekia, opgetrek het. Twee jaar later kon “die inwoners van Sion” uitroep: “Nebukadresar, die koning van Babel, . . . het my verslind soos ’n draak” (Jer. 51:34, 35). In verband met Jehovah God se aandeel aan Jerusalem se vernietiging, het Jeremia reeds in 614 v.G.J. die volgende woorde in verband met Nebukadnesar as God se teregstellingsinstrument aan Hom toegeskryf: “Jy is vir My ’n hamer en oorlogswapens; en met jou verbrysel Ek nasies [Juda, Egipte, Moab, Ammon, Edom en ander], en met jou verwoes Ek koninkryke. . . . en met jou verbrysel Ek goewerneurs en owerstes.”—Jer. 51:20-23.
6. Wie het Jehovah, na die gemelde woord, gesê dat hy Chaldea se inwoners sou vergelde?
6 En dan, O Jehovah? “Ek sal voor julle oë aan Babel [nie aan Nebukadnesar nie] en aan al die inwoners van Chaldea vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion [of Jerusalem] gedoen het.”—Jer. 51:24, 59, 60.
7. Watter strydkreet het Jehovah in 614 v.G.J. teen Babilon aangehef, en wie het daarop gereageer?
7 In die dae van Nebukadnesar en sy opvolgers het die Mediese Ryk anderkant die Tigrisrivier en aan die ooste- en noordekant van die Babiloniese Ryk gelê. Om profesie te vervul, het Kores die Grote, vergesel van die Mediese koning Darius, vanuit die noorde teen die land van die Chaldeërs en sy hoofstad Babilon, opgetrek. Hierdie verwoesters van Babilon het gereageer op Jehovah se strydkreet wat reeds in 614 v.G.J. aangehef is:
“Hef ’n banier op oor die aarde, blaas die basuin onder die nasies, heilig nasies teen hom, roep teen hom op die koninkryke van Ararat, Minni en Askenas [in die noorde], stel ’n kommandant teen hom aan, laat perde optrek soos stekerige sprinkane! Heilig nasies teen hom, die konings van Medië, die goewerneurs en al die owerstes daarvan, ja, die hele land van sy heerskappy. Dan bewe die aarde en krimp inmekaar; want die gedagtes van die HERE kom tot stand teen Babel, om die land van Babel ’n woesteny te maak, sonder inwoner.”—Jer. 51:27-29.
8. Wie heilig Jehovah vir diens teen Babilon die Grote en wanneer gaan sy vernietig word? Na wie se vrylating?
8 Jehovah het die Pers Kores die Grote vir Sy militêre diens teen eertydse Babilon ‘geheilig’. Jehovah se woorde in Jesaja 44:28 tot 45:7 noem Kores by name en praat van hom as “my herder” en as ’n “gesalfde”. Hy het Jehovah se Groter “Herder”, Jesus Christus, afgebeeld deur middel waarvan Jehovah die ding gaan vernietig wat deur eertydse Babilon afgebeeld is, naamlik Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Deur middel van sy Grotere Kores het Jehovah reeds sy toegewyde volk sedert 1919 uit gevangenskap aan vorstelike Babilon die Grote bevry. Hierdie selfde Grotere Kores sal verantwoordelik wees vir haar algehele vernietiging tydens die komende “groot verdrukking” wat in Openbaring 7:13, 14 voorspel is.
DIE ONVERMOË VAN DIE “GODE” EN “GODINNE”
9. Watter gode het eertydse Babilon gehad, en wat beeld hulle onvermoë om die onheil teen haar af te weer af in verband met Babilon die Grote in die “groot verdrukking”?
9 Eertydse Babilon het sy gode soos Bel, Merodag (Mardoek), Sukkot-Benot, Nebo, die godin Istar (Astoret) en ander gehad, benewens die towerpriesters (Jer. 50:2; 51:44; 2 Kon. 17:30; Jes. 46:1, 2). Waarom het hulle Babilon van die ou tyd nie gered nie? Die antwoord is dat daardie afgode valse gode was (1 Kor. 8:5, 6). Hulle onvermoë skadu al die gode van Babilon die Grote se onvermoë af om haar te red van die ramp wat haar tydens die “groot verdrukking” gaan tref. Sy het geen gebrek aan gode en godinne nie. In die geval van Hindoeïsme is daar volgens berig 330 000 000 gode, onder meer die drie-eenheid, Brahma, Wisjnoe en Siwa (The Americana, bladsy 196, uitgawe van 1929). Dan is daar die gode van die stamme in Afrika en die toordokters, die gode van die Boeddhiste en van die aanhangers van Confucianisme, en ons moet nie van die “drie-enige God” van die Christendom vergeet nie. Hulle het geen krag om te red nie.
10. Wie sal tydens die komende vertoning van godheid bewys dat hy die ware God is?
10 Tydens die komende vertoning van godheid sal die almagtige God Jehovah teen al daardie gode en godinne van die wêreldryk van Babiloniese valse godsdiens te staan kom. Satan die Duiwel, die onsigbare god van hierdie wêreld, sal nie in staat wees om te bewys dat al die gode van Babilon die Grote gode is op wie daar vir redding staatgemaak kan word nie (Ef. 2:2; 2 Kor. 4:4). Jehovah alleen sal as oorwinnaar uit die stryd tree as die een lewende en ware God, die Verlosser.
11. Watter sigbare instrument gebruik Jehovah om Babilon die Grote te vernietig, en wat sê Openbaring 17:11 oor daardie agentskap?
11 Tydens die komende ‘godestryd’ sal Jehovah nie sy Grotere Kores, Jesus Christus, sigbaar gebruik om Babilon die Grote sigbaar omver te werp nie. Hy sal dat die sigbare verteenwoordigers van die Agtste Wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis Babilon die Grote aanval. Die jongste wêreldmoondheid is die agentskap wat wêreldlike nasies in die lewe geroep en sedert 1919 gebruik het om wêreldvrede en -veiligheid te probeer bewaar en wat tans die Verenigde Volke heet. Hierdie mensgemaakte organisasie bestaan op die oomblik uit “’n menigte” van 152 nasies. Dit word uitgebeeld as ’n skarlakenrooi dier met sewe koppe en 10 horings daarop, waaroor Openbaring 17:11 sê: “Die dier . . . is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe [koppe] en gaan na die verderf.” Voor sy vernietiging tydens die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon, laat God hierdie Agtste Wêreldmoondheid eers ’n klinkende oorwinning behaal, maar nie oor Hom nie.—Openb. 16:14, 16.
12. Wie stuur die “dier” sedert hy in 1919 deur stemming in aansyn gekom het, maar wat gaan die “dier” volgens Openbaring 17:15-17 met sy ruiter doen?
12 Sedert die simboliese skarlakenrooi dier in die naoorlogse jaar 1919 deur stemming in aansyn gekom het, het hy toegelaat dat die godsdienstige “hoer” Babilon die Grote, soos ’n koningin op sy rug ry en hom stuur (Openb. 17:18). Gedurende die “groot verdrukking” wanneer God se uur daarvoor aanbreek, kan hierdie woorde in Openbaring 17:15-17 die groen lig wees: “Die waters wat jy [Johannes] gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale. En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woord van God volbring is.”
13, 14. (a) Wat laat Jehovah die politieke elemente volgens sy voorkennis met die “hoer” doen? (b) Wat gaan haar oorwinnaars onmiddellik daarna omtrent Jehovah se Getuies doen, en waarop sal hulle handelwyse uitloop?
13 Soos voorspel is, het die nasies wat daarby aangesluit het, eers aan die Volkebond en later aan sy opvolger, die Verenigde Volke, ’n teëhoudende mag verleen om wêreldvrede en -veiligheid te bewaar. Jehovah het hulle nie beweeg om dit te doen nie, maar omdat hy dit voorsien het, het hy sy voorkennis in sy geskrewe Woord laat opteken. Hy het ook voorspel dat daardie nasies, gesamentlik soos ’n “menigte”, moeg sal word vir hulle las—daardie internasionale bemoeier in politieke sake, die hoer Babilon die Grote. Wanneer sy van die rug van daardie internasionale vredesliggaam afgegooi en uiteindelik met vuur verbrand word, sal die Christengetuies van Jehovah nie met vrees vervul word deur daardie “onheil” wat haar tref nie. Uit God se Woord weet hulle dat hulle die “Here van die here en die Koning van die konings”, Jesus Christus, op aarde verteenwoordig en dat die veroweraars van Babilon die Grote hulle om daardie rede in die roes van hul oorwinning sal aanval as die laaste oorblywende hindernis in hulle weg om heerskappy oor die hele aarde uit te oefen. Jehovah se Getuies word vooraf hiervan verwittig in hierdie profesie in Openbaring 17:13, 14:
14 “Hulle [die politieke elemente wat in die Verenigde Volke verteenwoordig word] het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings—en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.”
15, 16. (a) Wat beteken daardie laaste botsing oor wêreldoorheersing in werklikheid? (b) Watter voorskouing gee die apostel Johannes ons van hierdie gebeurtenis, met watter uitslag?
15 Hierdie slag is die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by die wêreldsituasie genaamd Armageddon (Openb. 16:13-16). Met Jehovah se beskerming sal sy Getuies op aarde die “oorlog” aanskou wat in Openbaring 19:11-21 beskryf word. As ’n voorskouing van hierdie laaste botsing oor die geskille van wêreldoorheersing, beskryf die Christenapostel Johannes die uitslag van die oorlog soos volg:
16 “Ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die wit perd sit [Jehovah se veldmaarskalk, Jesus Christus], en teen sy leër [hemelse engele]. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet [die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid] wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld [die Verenigde Volke] aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls [wat in verse 17, 18 gemeld is] is versadig van hulle vlees.”
17. Wat sal met hierdie onheil oor die ateïstiese politieke elemente eindig, en wat gebeur dan met onsigbare elemente?
17 Met daardie vernietiging van al die ateïstiese elemente van hierdie Duiwelbeheerde stelsel van dinge sal die “groot verdrukking” wat in Openbaring 7:14 gemeld word, eindig. Daarna sal die onsigbare wêreldheerser, Satan die Duiwel, en al sy demonengele gebind en in die afgrond gewerp word vir die volgende 1 000 jaar.—Openb. 20:1-3.
18. Gaan daardie oorlog van alle oorloë, volgens God se Woord, ons aarde heeltemal ontvolk?
18 Sal daardie oorlog te Armageddon wat alle ander oorloë oortref alle menselewe op aarde uitwis? Die einde van die antieke wêreld van Noag se dag deur die sondvloed het nie die aarde ontvolk nie, want agt mense het die globale vloed oorleef (2 Pet. 2:5). Noag se God, Jehovah, het die aarde geformeer “om bewoon te word” (Jes. 45:18). Deur die profeet Jesaja het Jehovah die Persiese veroweraar, Kores die Grote, by name voorspel, en hierdie bevryder van die weggevoerde Jode is verwek om die Groter Bevryder, Jesus Christus, af te beeld. Tydens die komende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal Jesus Christus die oorwinning oor al die aardse vyande van Jehovah en sy volk behaal en daardie vyande van God se koninkryk uitroei. Jesus Christus sal nie hierdie teregstellingswerk verrig ten koste van al die lede van die oorblyfsel van sy geesverwekte, gesalfde volgelinge wat nog op aarde is nie, want in daardie geval sal daar geen volkome oorwinning vir God se koninkryk wees nie. En wat van die “groot menigte” getroue metgeselle van die gesalfde oorblyfsel? Openbaring 7:9-15 sê duidelik dat hierdie “groot menigte” die “groot verdrukking” wat sy hoogtepunt met Armageddon bereik, sal oorleef.
KENNIS VAN DIE KOMENDE “ONHEIL” WORD GEGEE
19, 20. (a) Wie moet voor die wêreldonheil daarvan in kennis gestel word? (b) Hoe het Jehovah hierdie kennisgewing in Jeremia se dag afgebeeld?
19 ’n Wêreldonheil is voor die deur! Daardie wêreldoorheersende organisasie, Babilon die Grote, moet hiervan in kennis gestel word. Dat sy hiervan in kennis gestel sou word, is destyds in die dae van die profeet Jeremia, ja, in 614 v.G.J., afgebeeld. Hy vertel ons hieromtrent:
20 “Die woord waarmee die profeet Jeremia bevel gegee het aan Seraja, die seun van Neria, die seun van Magseja, toe hy saam met Sedekia, die koning van Juda, na Babel getrek het, in die vierde jaar van sy regering. En Seraja was laerkommandant. En Jeremia het in ’n boek geskrywe al die onheil wat oor Babel sou kom, al hierdie woorde wat oor Babel geskrywe is. En Jeremia het vir Seraja gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde; en sê: o HERE, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees. En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy ’n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring; en hulle sal afgemat wees.”—Jer. 51:59-64.
21, 22. Hoe is daardie optrede van Seraja profeties in die boek Openbaring nagedoen, en met watter woorde het dit gepaard gegaan?
21 Die dinge wat Seraja, die broer van Barug, die seun van Neria, beveel is om te doen om die omverwerping van eertydse Babilon te illustreer, is in die boek Openbaring nagedoen. Die skrywer, die Christenapostel Johannes, beskryf hierdie vernietiging van die internasionale godsdiens-“hoer”, Babilon die Grote, en sê dan:
22 “En een sterk engel het ’n klip opgetel soos ’n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ’n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie. . . . die stem van bruidegom en bruid sal nooit meer in jou gehoor word nie; want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.”—Openb. 18:21-24.
23. (a) Waarom sal die blydskap van die ateïstiese veroweraars van Babilon die Grote van korte duur wees? (b) Wat sal daardie ateïste dan probeer doen, en met watter gevolge?
23 Die blydskap waaraan die ateïstiese “konings” of politieke heersers uiting sal gee nadat hulle Babilon die Grote in die see van vernietiging gewerp het, sal van korte duur wees. Hulle sal nog te kampe hê met talle oorlewende aanbidders van die lewende God Jehovah, naamlik die gesalfde oorblyfsel van die Jeremiaklas en ook hulle lojale metgeselle, die “groot menigte” wat deur die apostel Johannes voorsien is. Daar sal met hulle afgereken moet word. Wanneer daardie politieke heersers probeer om alle aanbidding van die aarde af uit te roei deur die oorblyfsel en hulle metgeselle aan te raak sal dit wees asof hulle hulle hemelse Meester, Jesus Christus, die Grotere Kores, aanraak. Dit sal oorlog met hom te Armageddon beteken. Die oorlog wat dan sal uitbreek, sal erger wees as die radiologiese oorlogvoering wat die nasies op die oomblik onder hulself probeer voorkom, want Jesus Christus en sy leër hemelse engele sal hierdie vermetele aanvallers van Jehovah se Getuies vanuit die onsigbare ryk verwoes.
24. Wie sal die voorreg hê om ooggetuies van daardie “oorlog van daardie groot dag” te wees sonder om daaraan deel te neem, maar met watter reaksie?
24 Wat ’n groot voorreg sal dit tog wees om ’n ooggetuie van daardie “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon te wees! Met sy beskerming en sonder om aan die stryd deel te neem sal die oorblyfsel van die Jeremiaklas en hulle toegewyde metgeselle daardie voorreg reg hier op aarde, die slagveld, geniet. Hulle bekendmaking van die “dag van die wraak van onse God” sal dus dubbel en dwars beloon word; dit sou nie tevergeefs gewees het nie (Jes. 61:2). Hoe groot sal hulle blydskap en dié van al die heilige engele van die hemel onder Christus dan tog nie wees nie!
25. (a) Watter geleentheid sal die “groot menigte” oorlewendes na die “oorlog” gebied word? (b) Wat moet die vooruitsig op sulke wonderlike dinge Jehovah se volk nou aanspoor om te doen?
25 Stralend van vreugde sal hierdie lewende voorbeelde van Jehovah se beskermingsmag sy nuwe stelsel van dinge op ’n gereinigde aarde binnegaan. Dan sal hulle die geleentheid hê om ’n globale paradys te begin herbou wat die getroue “groot menigte” vir ewig en altyd sal geniet. Wat behoort die vooruitsig op al hierdie wonderlike dinge almal wat nou graag onder “my volk”, Jehovah se volk, gereken wil word aan te spoor om te doen? Dit behoort hulle aan te spoor om gehoorsaam te wees aan sy weergalmende bevel om sonder versuim uit vermetele Babilon die Grote ‘uit te gaan’ en om dan Christelike neutraliteit teenoor al haar politieke minnaars te behou deur Jehovah se koninkryk in die hande van Christus tot die heerlike oorwinningsdag onwrikbaar te ondersteun!
(Dit sluit die reeks artikels oor Jeremia se profesie af.)
[Prent op bladsy 26]
Die dier sal die godsdienshoer, Babilon die Grote, eerlank van sy rug afgooi